Helene de Kock Omnibus 7. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Helene de Kock Omnibus 7
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798165402



Скачать книгу

Alfons. Ek sal nie met jou in aanraking probeer kom nie en ook nie verwag dat jy met my in aanraking moet kom nie.”

      Hy het diep gesug en amper deemoedig gevra: “Sal jy volgende vakansie weer op Vuurvliegie se stoepdek gaan sit?”

      “Hm … En ek sal die dek vee ook.”

      “Dankie, Goeie Fee.”

      “Ja wel, ons is nou eenmaal met ’n sprokie besig. Snags op die strand in die maanlig en in die bosse, waar die vuurvliegies hul liggies knipper.”

      Hy was lank stil en sy het haar kop onder sy ken ingedruk, haar arms styf om sy lyf.

      “’n Sprokie,” het hy gemymer. “Maar as kind het ek nooit van sprokies gehou nie, my lief. Sommige was baie wreed. Daar was hekse en goeters. Ek onthou dat tant Fienie dit jare lank luidkeels berou het dat sy my ooit van Hansie en Grietjie vertel het. Ek het glo nagte lank by haar in die bed geklim omdat dit vir my so verskriklik was dat ouers hul twee kinders in die bos kon laat verlore raak en dit net omdat hulle nie genoeg kos gehad het nie. Hemel, kon hulle nie maar ’n ander plan bedink het nie? Nie eens die idee van die lekkergoedhuisie het my getroos nie, want ek het nooit as kind ’n vreeslike soet tand gehad nie.”

      Sy moes lag kry vir dié relaas, maar het dit ook vreemd roe­rend gevind. Sy het op haar tone gestaan en hom gesoen.

      “Vergeet van hekse en goeters en verlore kindertjies. Ek is jou Goeie Fee, onthou!”

      “Jy is, ja,” het hy gesmoord gesê en sy mond het op hare neer­gekom en in dié soen was daar verlange en drif en angs en hartseer. ’n Brandende desperaatheid het in haar posgevat. En opstand ook.

      “Luister,” het sy oplaas met ’n snak van haar asem gesê, “dit kan nie so aangaan nie. Na die duiwel met sprokies! ’n Mens het méér nodig as praatjies en voornemens en … en beloftes!”

      Maar hy was stil en geduldig, sy arms beskermend om haar. “Wat is dit dan nou …?”

      Sy het haar moed bymekaar geskraap. “Ek weet ek moet lie­wer nie vra nie. Of liewer, ek weet nie wanneer ek nie moet vra nie en nou vra ek maar: Waar is die ander dinge in jou lewe heen? Die ware, groter dinge, Alfons?”

      “Wat bedoel jy?” Sy stem was weer bedug. Stug selfs.

      “Waar was jy Sondae, pleks van in die kerk? Ek het jou nooit daar gesien nie … en dit pla my.”

      Tot haar innige verbasing het hy haar stywer vasgehou, met een hand oor haar rug gestreel asof hy iets wou meedeel wat nie woorde het nie.

      “Ek weet dit pla jou,” het hy sag gesê. “Dit pla my ook. Maar ek kan jou nie daarop antwoord nie.”

      Tog was dit antwoord genoeg. Nie vir haar kop nie, maar vir haar hart. Sy het nie verstaan nie, ook nie toe hy haar later in die skadu’s van die bosse langs hul huis tot siens gesoen het nie. Tog het sy daardie nag en baie nagte daarna geslaap in die wete dat sy hom liefhet. En hy vir haar.

      En dis ál wat sy nou nog weet.

      En soms, soos nou weer, vang dit haar. Alfons wou niks, niks van homself aan haar openbaar nie. En sy wil so graag haar liefde aan iets meer tasbaars heg. Soos om te weet hoe sy huis lyk, dié huis wat hy byna sy hele lewe lank saam met tant Fienie bewoon het. Daar moet tog ook nog spore van dié liewe ou dame lê.

      Sy probeer haar voorstel hoe sy studeerkamer lyk, en sy slaapkamer. Sou hy bedags ’n kantoor op die kampus hê? Hy het tog een aand vroeg in die vakansie vir Frans gesê hy is ’n dosentepos aangebied. Sou hy so dinamies klas gee as wat hy sy lyf pierewaaier op die strand gehou het? En hoeveel van die vroulike studente het ’n oog op hom?

      So wonder en tob sy en merk sy nie dat die son gesak het nie. Die stil tuin is reeds skemerpers en vol skadu’s. Sou hy ooit dié pos aanvaar het, kom vir laas die ou, ou vraag by haar op. En soos altyd moet haar tastende gedagtes voor ’n muur stuit. Want sy weet eenvoudig te min. Te min om ’n helder prentjie te skep. En te veel om tot rus te kom.

      “Hou jy van die donker?” vra ’n manstem vlak langs haar, en sy wip van die skrik.

      Dis Henk de Jager, die advokaat.

      “Net partykeer,” sê sy en glimlag verleë. En toe, omdat sy bly is iemand het met haar kom praat: “Soms kom ek nie agter dit word donker nie.”

      Hy gooi sy ligte kop agteroor en lag lekker. “Ek sien so, ja. Ek het jou nou al twee maal uit my kamervenster gesien, dat jy so klipstil hier by die visdam sit en diep goed dink.”

      “Regtig? Dan maak jy my nou verleë.”

      “Ag nee wat, jong. Ons het maar almal so ’n soort dinkplek. Ek sit weer graag sommer op die vensterbank en kyk uit oor die stad. Noorde toe.”

      Sy betrag hom nadenkend. Sy hou van hom. Hy is gaaf sonder om in die minste opdringerig te wees. En hy het deernisvolle oë. Só asof hy dikwels ver verlang.

      “Is daar iemand in die noorde?” vra sy skerpsinnig.

      Hy lag weer. Dié slag klink hy verleë. “Ja … Ek is ’n beloofde man. Haar naam is Hantie Louw en ek verlang my gek na haar.”

      “Ek weet hoe jy voel,” sê sy spontaan, byt haar lip toe sy besef wat sy gesê het.

      “Ek het so gedink,” sê hy rustig. “’n Mens sit nie verniet ure lank só stil as ’n mens bloedjonk is soos jy nie. Ek sê jou wat, kom ons twee en Hilda gaan eet vanaand uit. Sy het netnou al blasend en sugtend ingekom. Moes glo hokkie gee vanmiddag, en nou’s sy nie lus om iets vir haarself gaar te maak nie.”

      “Nou ja, kom ons red haar daarvan!” Vir die eerste maal sedert haar aankoms by mevrou Breda se losieshuis voel sy volkome tuis.

      Dit word ’n lekker aand. Oplaas het hulle mevrou Breda ook saamgevra en hulle vier het die stad op horings geneem. By een restaurant het hulle ’n voorgereg geëet en gestap na ’n volgende om ’n spesiale visdis te geniet. By die laaste restaurant in Lang­straat was hul keuse die geurige biefstuk.

      Hulle gesels en lag só baie dat mevrou Breda haar gesig met ’n servet koel waai.

      “Ek weet nie wanneer laas ek so baie geëet en ten spyte daarvan nog so goed gevoel het nie!” sê sy toe hulle tuiskom. “Ons moet weer eendag so maak.”

      Dis eers toe Danien al in die bed lê dat sy besef dat daar ’n paar uur omgegaan het wat sy nie aan Alfons gedink het nie. En die aand se gesellige en stimulerende gesprek is nog voorop in haar gemoed, sodat sy vir eers met ’n goeie hart haar verlangens ’n bietjie wegskuif. Dit was lekker om haar twee medeloseerders ’n bietjie beter te leer ken.

      Hilda Gouws is ’n gawe, prettige soort mens en dié Henk de Jager het ’n eerlike, ouwêreldse hoflikheid wat ’n mens gerus maak.

      Hy het gemoedelik uitgewei oor sy lewe as advokaat en met gedempte verlange in sy stem vertel van sy meisie in Gauteng. En net toe hy té ernstig wou raak, het Hilda hulle almal laat skater met haar ervarings in die onderwys. Soos wat sy gepraat het, het dit effens onguur en verskriklik snaaks geklink dat ’n mens kan dink om vir ander mense se kinders iets te probeer leer.

      “Nee kyk,” het sy beduie en telkens ’n wilde haarlok van haar voorkop teruggevee, “ek verduur dit nou al nege jaar. Oorspronk­lik het ek net gedink dit sal my liggies besig hou terwyl ek vir my ridder op die wit perd wag. Maar moenie glo nie, hulle het my die heel moeilikste klasse gegee. Eiewyse klomp goed. Opsetlik dom ook. Kyk heeldag na my asof ek hulle ’n vreeslike onreg aandoen om geskiedenis in hul koppe te probeer prop. En boonop moet ek elke middag kwansuis hokkie gee. Dáár moet ek hulle dit darem ter ere nagee. My ou spannetjies presteer nogal op eie stoom. Want ek self het geen balvernuf hoegenaamd nie. Ek is maar te dankbaar vir elke oefening wat ek lewend van die veld kom. Hulle het my al eenkeer skoon kinds geslaan met ’n stok. Gesê ek was in die pad, verbeel jou!”

      Mevrou Breda het net haar kop geskud, gewoond aan Hilda se oordrywery. Maar Danien het haar geskok en heeltemal geamu­seerd aangekyk totdat Henk ewe besadig gesê het: “Hilda hou daarvan