Helene de Kock Omnibus 7. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Helene de Kock Omnibus 7
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798165402



Скачать книгу

’n dubbelplaat en ’n elektriese braai­pan in ’n hokkie wat as kombuisie dien. Maar vanaand het Danien nie lus om vir haarself kos te maak nie. Later, besluit sy, waar sy by ’n outydse visdammetjie onder ’n groot denneboom sit, sal ek dalk honger wees. Maar nie nou nie. Nou wil ek net sit.

      En soos elke maal as sy stil word, kom die snerpende verlange na Alfons. Ál troos wat sy het, ál warmte waaruit sy krag kan put, is om elke oomblik van hul saamwees op te roep en dit stadig, stadig oor en oor te beleef. Soms, soos nou, kom sy agter dat sy stip na die silwerringetjie aan haar regterhand staar en met haar vingertoppe oor die fyn kettinkie om haar hals voel. Haar mond trek in ’n huilerige laggie toe sy onthou hoe sy dié versierinkie moes wegpraat.

      “Waar kom jy daaraan?” wou Anel weet. “Het Paul jou sowaar nóg iets gegee?”

      “Maak dit saak as hy het?” wou sy ontwykend weet.

      “Nee, natuurlik nie,” het Anel op haar nugter manier geant­woord. “Ek vind dit juis baie lief van hom as hy dit gedoen het. Dis net dat jy twee maal sal moet dink voordat jy so iets aanvaar en hom dan so koelweg behandel, Danien.”

      Waarop Danien haar net stom aangekyk het. Sy wou tog werklik nie blatant ’n leuen vertel nie. Gelukkig het Anel nie verder aangedring om daaroor te praat nie, maar aan die kyk in haar mooi, sagte oë kon Danien sien dat sy veel meer vermoed as wat sy verwoord. Dis dalk sy wat ook met Jacomien gepraat het om liefs nie na die silwergoedjies uit te vra nie, want sy het dit net bewonder en niks verder gesê nie.

      Natuurlik was dit Frans wat sy vinger sekuur op die ding gelê het. “Moenie dink jy kan ooit vir my oogklappe aansit nie, sus,” het hy een oggend op die strand gesê toe almal al in die water was, en net hulle twee nog onder die sambrele lê en lees het. Sy het haar boek versigtig toegemaak en regop gesit om die sand van haar bene af te vee.

      “Danien, praat met my,” het Frans gesê, en op sy elmboë orent gekom, sy oë geskreef teen die blinkwit oggendson.

      “Wat moet ek sê?” wou sy kamma ongeërg weet.

      “Wie het vir jou die silwerhangertjie en ring gegee?”

      “Ek het dit sommer self gekoop, jong,” het sy gladweg gejok. Te gladweg, want ongewoond daaraan om voor te gee en onge­skool in die klein intrige, het gloed op gloed oor haar gespoel. Sy het gevoel asof haar hele lyf in die effense bikini aan die brand is. En toe Frans haar met ’n fyn glimlaggie bekyk, was sy sommer lus en vlieg hom in.

      “Los my tog uit!” het sy kwaad gesê en opgestaan om te gaan swem.

      “Orraait,” het hy lakoniek geantwoord en teruggesak om ver­der in die son te bak. “Maar ek sê jou weer, sus. Ek en Anel is dáár as jy ons nodig het.”

      Dit wou haar weer laat huil, sodat sy radeloos ’n dankie ge­prewel het en kop onderstebo water toe gedraf het. Reg in Alfons vas. Natuurlik moes hy dit só bewimpel het, want die strand is immers groot en daar’s baie plek om te loop.

      Hy het haar laggend vasgegryp en hard gesê: “Kyk waar jy loop, meisie! Die Vallei het juis so baie ruimte!”

      Sy wou hom sommer doodmaak. Almal binne hoorafstand het uitgebars van die lag. Maar toe hy haar los, het hy vinnig gesê: “Vannag om twaalfuur.”

      Toe het hy fluitend verder gestap, sy bruingebrande liggaam glimmend van see en son. Sy het net ’n kort rukkie geswem. Dit was moeilik om hoegenaamd te swem, want haar hart was nie daarin nie en die gety het woes gespeel met dié wat dit daardie oggend in die see wou waag. Toe die derde golf haar wind amper uitslaan, het sy die aftog geblaas, terug na haar handdoek teen die warmgebakte duin.

      En hy het gekom. Klokslag om twaalfuur daardie nag het sy trap­af gesluip en suutjies die voordeur oopgemaak. Hy het uit die swart skadu’s getree om haar hand styf vas te vat en woordeloos met haar ’n entjie weg te stap. Onder ’n digte boom het hulle gaan staan en sy het gewag dat hy haar moet soen, haar moet vashou en opnuut verseker dat hy haar liefhet soos wat hy al sovele male be­weer het.

      Maar hy was lank stil sodat sy oplaas angstig gevra het: “Is daar fout?”

      “Jy weet mos daar is.” Hy het gesug. “As daar nie was nie, was ek en jy nou iewers waar dit lig is en het ons planne vir die toe­koms beraam.”

      Haar hart het swaar en seer in haar bors geklop.

      “Waarom klink jy nou so morbied?” het sy gefluister.

      “Ek het alle rede om morbied te wees, Danien. Môre gaan ek terug en die hemel alleen weet wanneer ek jou ooit weer sien.”

      ’n Swart voorwete het haar gesig laat vertrek soos iemand wat wil huil, en sy was bly dat dit so donker is.

      “Waarom,” het sy nietemin beheers gevra, “moet jy môre terug­gaan? Dis Nuwejaarsdag …”

      “Omdat ek moet,” het hy bot geantwoord. En toe ontstemd: “Ek dag ons het ooreengekom dat jy my nie sal uitvra nie?”

      “Ek kan nie anders nie!” het sy opeens driftig teëgekap. “Ek is ’n mens, Alfons! ’n Vrou! En ek het jou lief! Ek wil weet van jou! Alles weet …”

      “Dit kan nie, in hemelsnaam!” het hy gedemp uitgeroep en sy hande het op haar skouers neergekom, net om weer teruggepluk te word asof hy dit nie kan verdra om haar aan te raak nie. Sy het yskoud van skrik en ellende geword. Sou hy van plan … of nee, van hart verander het? het sy wildweg gewonder. Maar hy het haar gou gerusgestel. Nie met sy woorde nie, maar met die wee­moedige hunkering wat in sy stem deurgeslaan het.

      “Luister, Danien, ek wil hê jy moet weer dink. Moenie hierdie verhouding een oomblik langer voortsit as jy dink die eise daarvan gaan vir jou te swaar word nie.”

      “Nee!” het sy begin, maar hy het ’n hand opgehou om haar stil te maak.

      “Wag. Ek dink nou nie meer jy weet waarvoor jy jou inlaat nie, meisietjie. Ek wil jou hê, glo my. Tot elke prys wil ek jou hê. Maar ek kan vir jou niks beteken nie … tot wanneer eendag. Jy sal my iewers in jou hart moet bêre en baie aan my moet dink, want sien sal jy my nie.”

      “Maar ons kan mos met mekaar praat … of skryf …” het sy magteloos gesê, gevoel hoe ’n lamheid in haar oopkol, sodat sy onwillekeurig haar hande oor haar bors gekruis het.

      “Nee … Nee, ons mag nie vir mekaar skryf nie en ons mag mekaar op geen manier kontak nie. Nie per e-pos nie, nie per sel­foon nie. Nie eers ’n SMS nie! Nooit nie. Dit, Danien, is van die allergrootste belang. Trouens, dis noodsaaklik.”

      Hy het koel geklink. Professioneel. Hy kon net sowel ’n stywe praatjie voor ’n klomp studente staan en afsteek het, het sy ge­dink, en ’n mislikheid het op haar maag begin draai. Sy het haar asem diep ingetrek.

      “Alfons, is dit jou manier om ’n vakansieromanse te beëindig? Deur vir my te sê dat ons, wat alle praktiese doeleindes betref, van mekaar moet vergeet?”

      Haar stem het tot haar verligting net so koel soos syne geklink, maar iets in sy algehele stroefheid het haar tot besinning gebring. Hulle is nie besig met ’n spel nie, het sy opnuut besef. Wat tussen hulle is, is onteenseglik eg, bo en verby enige flirtasie. Maar wat hulle skei, is groter selfs as dit.

      “Ek is jammer …” het sy gefluister en, tot haar konsternasie, gevoel hoe warm trane oor haar wange loop.

      Toe het hy haar op sy óú passievolle manier vasgegryp en in sy sterk arms gesus tot sy bedaar het. Want ’n hartseer wat lank­al in haar gewoed het, het in snikke en trane uitgekom. Sy was bang. Banger as wat sy nog ooit was. En dit omdat sy liefgekry het. Teen die tyd dat sy besef het dat hy besig is om haar gesig met sy sakdoek af te vee, kon sy weer haar stem be­heer.

      “Ek sal nooit weer so iets sê nie,” het sy afgemete gesê.

      “Ek weet,” het hy getroos. “Ek weet … Dis eintlik my skuld dat ek jou nou só belas. Maar, Danien, ek moes kom om seker te maak dat die droommeisie van my lewe werklik is … En sy is. Jy is … Ek weet nou dat ek jou net so min aan Paul of enigiemand anders sal kan afstaan