Aan die einde van die reënboog. Schalkie van Wyk

Читать онлайн.
Название Aan die einde van die reënboog
Автор произведения Schalkie van Wyk
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624057413



Скачать книгу

die bagasiewaentjie af. “Dankie, meneer, ek sal my meisie se bagasie dra. Hier is ’n fooitjie,” sê hy weer in Engels, druk ’n muntstuk in die man se hand, en begin saam met Annemarie wegstap na die hek.

      “Hou aan my arm vas en praat net! Vertel van jou pa en ma … van enigiets,” fluister hy wanneer hulle die wagte by die ingang nader en glimlag verlief in haar oë. “O, liefling, ek kan nog nie glo dat jy by my kom kuier het nie.”

      “As die oorlog net verby is … Ek kan nie wag totdat ons vir altyd bymekaar is nie, John. Hoe lank moet julle nog veg?” vra Annemarie en slaag daarin om ’n tikkie verwytend te klink.

      “Totdat die koppige Boere besef hulle is verslaan. Maar dit sal binnekort, wees, glo my. Hulle het nie meer kos of klere nie, behalwe die klere wat hulle van ons soldate steel.”

      Hulle bereik die straat voor die stasie en is vir ’n oomblik lank redelik privaat.

      “Waarheen nou, meisie?” vra John gedemp.

      “My mense het my nie kom haal nie, maar ek wil na die hoek van Plein- en Kerkstraat gaan.”

      “Dis nie ver nie. Stap saam,” beveel hy.

      “Maar jy kan nie albei my koffers dra nie!” protesteer sy. “Ek sal iemand kry om jou te help.”

      “Nee!” snerp hy. “Kom net!”

      Twee Tommies kom aangestap en John glimlag weer verlief en besing Annemarie se oë en hare in ’n liriese Engels.

      Annemarie glimlag met lippe wat nie langer enige gevoel het nie, praat met hom, maar is slegs bewus van die dawerende geklop van haar hart in haar ore en die draaiende vreesgevoel op die krop van haar maag.

      “Hier is ons – en dis naby die poskantoor,” sê John enkele minute later en dra die koffers tot net binne die tuinhekkie. “Dankie, Annemarie, baie dankie. Ek glo ons sien mekaar eendag weer.”

      “Aan die einde van die oorlog?” vra sy ongelowig.

      “Aan die einde van die reënboog,” sê hy, sy glimlag tergend, maar met ’n onverwagte erns in sy oë. Hy neem haar hand en raak dit liggies met sy lippe aan. “Tot siens, Annemarie.”

      “Tot siens … John,” groet sy, verdwaas dat sy die einde van haar vreemde avontuur bereik het en tog niks oorgekom het nie.

      Hy draai om en loop lank en lenig oor die straat in die rigting van die poskantoor, trots in elke tree en in die houding van sy skouers.

      Wie is hy? Tog nie werklik John nie … Waarom is hy hier? Hy is ’n spioen, daaraan twyfel sy nie. As hy net sy werklike naam aan haar genoem het …

      Sy sug verlangend en byt half onthuts op haar onderlip; goeiste, sy is tog nie langer ’n skooldogter wat op elke aantreklike gesig verlief raak nie! Maar John … haar Boerespioen is nie sommer net ’n mooi gesig nie. Hy is ’n man van durf en daad wat moontlik selfs op hierdie oomblik sy lewe vir die vryheid van die twee Republieke waag. As die Kakies hom net nie vang nie …

      Sy sidder en draai om, loop deur die tuinhekkie en druk dit agter haar toe. Haar koffers sal seker ’n paar oomblikke lank veilig wees, besluit sy, stap na die voordeur en klop aan.

      ’n Kleurlingvrou in ’n netjiese wit uniform en ’n frilletjiesvoorskoot en -hoed maak die voordeur oomblikke later oop, maak ’n hoflike kniebuiging en vra glimlaggend:

      “Môre, juffrou. Wie moet ek sê is hier?”

      “Goeiemôre. Ek is Annemarie de Villiers en ek kom vir juffrou Lea …” begin sy en swyg wanneer ’n lang, effens gesette vrou, geklee in ’n swart, lang rok, die ontvangsportaal binnekom.

      “Goeiemôre, juffrou. Ek is jammer, maar dokter Neethling werk tans bykans voltyds in die konsentrasiekamp. Was dit dringend?” vra tant Klara Neethling met ’n verskonende glimlaggie.

      Annemarie staar haar ’n oomblik lank verdwaas aan en bloos onwillekeurig.

      “Is … is u mevrou Neethling, Lea se moeder?” aarsel sy.

      “Dis reg, meisie. Dan is jy ’n vriendin van Lea? Is julle nuwe intrekkers?” vra tant Klara belangstellend, haar blik goedkeurend op Annemarie se organdiebloese wat met kant versier is, en die bypassende romp met die breë, versierde gordel.

      Annemarie kyk selfbewus na die hoededoos en sambreel in haar regterhand.

      “Ek het reeds Vrydag getelegrafeer dat ek vir ’n paar dae by Lea kom kuier, mevrou Neethling. Ek en Lea was saam op Wellington sy het my herhaalde kere uitgenooi om te kom kuier. Het sy nie my telegram ontvang nie?”

      “My liewe kind, dan is jý Annemarie de Villiers? Nee, meisie, ons het nie so ’n telegram gekry nie, maar dis niks buitengewoon gedurende die oorlogstye nie. Maar waar is jou ander bagasie? Nog op die stasie? Jy woon tog op ’n plaas naby Stellenbosch? Jou arme kind, jy is seker doodmoeg ná die lang treinrit,” gesels tant Klara borrelend en kyk met moederlike besorgdheid na Annemarie.

      “My koffers is net binnekant die tuinhekkie, mevrou,” beduie Annemarie en wys met haar hand na haar bagasie.

      “Noem my tant Klara, Annemarie,” versoek die ouer vrou en draai na die diensmeisie. “Jessica, laat Alfons jou help om die koffers in die vrykamer te kry.”

      “Goed, mevrou. Maar gaan mevrou nie vandag weer terug na die kamp toe nie? Mevrou het mos gesê mevrou kom net skoon klere vir juffrou Lea en meneer Nicolaas haal,” kom dit verwonderd van Jessica.

      Annemarie kyk vinnig na tant Klara, sien haar ongemaklike glimlaggie en praat gretig: “Moenie ter wille van my onnodige moeite doen nie, tant Klara. Ek … ek het ander familie op ’n plaas hier naby Kroonstad, en ek kan by hulle tuisgaan totdat ek … e … my broer gesien het. Tante weet nie dalk hoe ver is Braam Liebenberg van Swartland, se plaas van die dorp af nie?”

      “Braam Liebenberg?” Tant Klara frons en Annemarie kan haar vyandigheid aanvoel. “Is Braam familie van jou?”

      “Sy moeder en my pa was niggie en neef, tante. Hy is my kleinneef en my broer, Jean de Villiers, was glo sy voorman,” verduidelik Annemarie onwillig. “Tante het nie dalk gehoor wat van Jean geword het nie? Dis ter wille van hom dat ek hierheen gekom het, want ons het byna twee jaar lank nooit enige taal of tyding van hom gehad nie.”

      “My liewe kind, hoe kon jou ouers so iets toelaat? Of het Lea iets gesê van …”

      “My oupa en ouma Malan het my grootgemaak, tante, en op die oomblik weet net my ouma dat ek hierheen gekom het. Ek moes dit doen, want Jean is al wat ek het. Weet tante dalk iets van hom af?”

      Tant Klara kyk na die pleitende uitdrukking op Annemarie se gesiggie, laat haar lippe ’n woord begin vorm, maar besluit dan daarteen.

      “As jy my nie sal verkwalik dat ek so bitter ongasvry is nie, sal ek Alfons vra om jou sommer nog vanmiddag na jou kleinneef se plaas te neem, Annemarie. Swartland is skaars twee myl suid van die dorp, op die pad na Vredefort en Parys. Ek moet ongelukkig eers weer teruggaan na die kamp, want Lea help ook daar, en sy het skoon klere en goeie kos nodig. Daar is soveel siekes, soveel ellende, maar veels te min hande wat kan help.”

      “Ek wens ek kon help,” sê Annemarie medelydend.

      “Ek dink jy sal eers met jou kleinneef daaroor moet praat. Maar kom saam, dan wys ek jou solank jou kamer. Sodra jy jouself opgeknap het, sal ons saam tee drink in die voorkamer,” besluit tant Klara en stap vooruit na ’n deur wat na die gang lei.

      Aangesien sy kort voor haar aankoms op Kroonstad ’n skoon rok aangetrek het, besluit Annemarie om nie weer te verklee nie. Sy borsel haar lang hare uit en vat dit liggies bo-op haar kop saam. Nadat sy haar hande en gesig gewas het, sprinkel sy ’n bietjie van Riogaud se wit viooltjie-ekstrak op haar sakdoekie. Tevrede met die beeld wat die ovaalvormige spieël van die hangkas weerkaats, haas sy haar na die voorkamer.

      Het sy haar net verbeel, of wou tant Klara iets omtrent Jean aan haar vertel? Tant Klara het haar betyds bedink, daarom moet sy aanvaar dat