Aan die einde van die reënboog. Schalkie van Wyk

Читать онлайн.
Название Aan die einde van die reënboog
Автор произведения Schalkie van Wyk
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624057413



Скачать книгу

die Engelse daaroor kan inlig nie, maar dat hy die Engelse ook voorsien van slagvee … vee wat hy op die plase gebuit het wat deur die Engelse soldate afgebrand is.”

      Annemarie swyg en byt hard op haar onderlip. Sy kan haar trane egter nie langer keer nie. Sy kyk op na tant Gertruida wat roerloos teenoor haar staan en merk die uitdrukking van volslae ongeloof en pyn op haar ouma se gelaat.

      “Nie Jean nie, Annemarie, nie my kleinseun nie …” fluister tant Gertruida skor, en skud haar kop heen en weer asof sy daardeur die werklikheid wil afskud.

      “Ek is bly Ouma glo dit ook nie!” roep Annemarie opstandig uit, maar haar sin eindig in ’n rou snik. Sy kom orent en storm blind van trane in tant Gertruida se arms. “O, Ouma, dit mag nie waar wees nie! Jean is … is spandabel en … en ek weet hy het Oupa teleurgestel, maar hy sal nooit ’n hanskakie word nie! Ek weet hy sal nie,” snik sy gesmoord teen tant Gertruida se bors.

      “Toe nou maar, hartjie, ek glo dit ook nie … en jou oupa glo dit ook nie diep in sy hart nie. Maar wat Braam kon besiel om so iets in ’n brief te skryf … Nee, ek verstaan dit nie.”

      Annemarie se snikke kom vinnig tot bedaring. Sy tree agteruit en kyk tant Gertruida bekommerd aan.

      “Dis wat ons moet uitvind, Ouma: waarom het Braam so ’n gemene brief aan Oupa geskryf? Wat het regtig van Jean geword? Hoekom het Jean die afgelope twee jaar nooit van hom laat hoor nie? Ek wonder soms of hy nog … nog leef, Ouma. Ek weet hy hou nie van briewe skryf nie, maar twee jaar …! Iets is nie pluis nie, en ek gaan uitvind wat presies aan die gang is,” sê sy vasbeslote.

      “Daar is baie Kolonialers wat onder generaal Hertzog en kommandant Wynand Malan die Boeremagte help, hartjie. Ons kan neef Klasie du Preez vra om te probeer uitvind …” begin tant Gertruida behulpsaam.

      Annemarie maak ’n afwerende handgebaar.

      “Nee, Ouma,” val sy haar beslis in die rede. “Ek wil die volle waarheid weet en as dit nodig is, sal ek dit self gaan uitvind. Ek is reeds mondig en het genoeg geld om my eie treinkaartjie te betaal. Boonop het Lea Neethling saam met my op Wellington gestudeer, en haar pa is ’n dokter daar op Kroonstad. Ek sal by haar gaan kuier en terselfdertyd die volle waarheid oor Jean uitvind.”

      “Maar my kind …!” kreun tant Gertruida en sak op die naaste stoel neer, haar oë verbysterd op Annemarie wat uitdagend voor haar staan. “Jy … alleen? In hierdie verskriklike tye? Nee, Annemarie, ek en jou oupa sal dit nooit toelaat nie! En wat sal Dewald daarvan sê? Julle twee is so te sê verloof.”

      Annemarie trek haar asem skerp in en draai vinnig weg, bang dat haar ouma die hartseer in haar oë sal lees.

      “Ek en Dewald is nog nie getroud nie, Ouma, en soms wonder ek of ons ooit sal trou. Elsabé vertel my dat hy deesdae dikwels op Zandfontein kuier, en ons weet almal dat Antoinette Duvenhage enige man om haar pinkie kan draai. Ek sal nie verbaas wees as Dewald met Antoinette trou nie – hulle plase grens aanmekaar,” sê sy stroef.

      “En wat van jou plase?” vra tant Getruida strydlustig. “Jy erf nie net Nooitgedacht nie, maar boonop Heimat, die plaas wat ons van die Von Wiellighs gekoop het. Daar is nie ’n ryker erfgename as jy in die kontrei nie, kind, glo my maar. Dewald Kirsten sal hom wat verbeel as hy so ’n mooi en ryk en boonop geleerde meisie sy bruid kan maak.”

      “Dalk is dit juis my geleerdheid wat Dewald afskrik,” sê Annemarie met ’n glimlaggie om haar vol lippe en begin wegdraai. “As Ouma my nie nou nodig het nie, sal ek graag weer Braam se brief wil lees.”

      “Loop maar, hartjie. Katryn sal my met die middagete help,” sê tant Gertruida tegemoetkomend en stap na die stoof waar die kospotte dof glim in die halfskemer onder die groot skoorsteen.

      Laatmiddag sit Annemarie op ’n ou wynvaatjie voor die kelder, Braam se brief oopgestryk op haar skoot, en lees die woorde wat sy byna reeds van buite ken. Êrens moet daar ’n misverstand wees, maar sy soek tevergeefs tussen die geskrewe woorde daarna. Braam draai nie doekies om nie: sy beskuldigings wat Jean betref, is reguit en op die man af. Moet sy sonder meer aanvaar dat haar broer ’n verraaier en ’n hanskakie is?

      “Koe-ie! Annemarie, jou ou dromer! Ek en Dewald het vir jou kom kuier!” roep Elsabé Kirsten uit die oopstaande agterdeur en kom vinnig oor die agterplaas aangedraf, ’n vrolike prentjie in haar ligpienk katoenrok met die hoë kraag en valletjies om die skouerstrook van haar lang rok.

      Annemarie vou die brief vinnig toe en dwing haarself om vir Elsabé te glimlag. Sy kom orent en wag die blonde meisie in.

      “Dag, mens! Jammer dat ek sommer in my huisdrarokkie kom kuier, maar Dewald was so haastig dat ek nie tyd gehad het om te verklee nie. Sjoe, maar dis warm,” borrel Elsabé, stoot haar kappie effens uit haar gesig, en soen Annemarie op die wang.

      “Hallo, Elsabé,” groet Annemarie bedees. “Jy lyk pragtig in die rok. Is dit ’n nuwe een?”

      “Ja, Antoinette het my gehelp om dit te maak. My ma sê die nuwe mode met die rokke wat glad oor ’n mens se heupe sit en die valletjie wat eers by die knieë begin, pas my baie goed. Te veel plooitjies om my middel laat my net vetter lyk as wat ek is.” Elsabé sug diep en kyk met ’n tikkie afguns na Annemarie se slanke figuur. “As ek maar net soos jy kon lyk … maar Antoinette sê mans hou van ’n meisie wat darem ’n bietjie mollig is. Antoinette is ook nie so maer soos jy nie,” vervolg sy verontskuldigend, haar glimlag weer selfversekerd.

      “Ek aard maar na die De Villiers’s,” sê Annemarie ligweg en begin stadig saam met Elsabé na die agterdeur aanstryk. “Dan kuier Antoinette nog baie by julle?” vra sy onwillig.

      Elsabé haal haar skouers sorgeloos op. “Ag, jy weet hoe gaan dit met bure: ons kuier die heeldag oor en weer. Soms kom sy met die perdekar, maar meestal gaan haal Dewald haar met ons kapkar.” Sy swyg en kyk vinnig, half sku na Annemarie. “Jy en Dewald is mos nog nie verloof nie?”

      “Nog nie,” antwoord Annemarie en voel ’n skerp pyn van teleurstelling deur haar binneste skroei. Sy onderdruk dit met geweld. Sedert sy sestien geword het, was daar ’n woordelose verstandhouding tussen haar grootouers en Dewald se ouers dat sy en Dewald eendag sou trou. Sy glo dat Dewald soos sy gevoel het; dit het hulle albei gepas en omdat hulle van mekaar gehou het, het hulle dit aanvaar. Dewald het haar selfs al paar keer verseker van sy liefde vir haar, maar omdat sy die afgelope jare op Wellington skoolgegaan en later gestudeer het, was daar nie baie tyd vir romanse nie.

      En toe, ses maande gelede, het Antoinette Duvenhage op die toneel verskyn nadat oom Albertus Duvenhage die plaas, Zandfontein, gekoop het. Het Antoinette in dié kort tydjie reeds daarin geslaag om haar plek in Dewald se hart te verower? Annemarie sug onwillekeurig en kyk verskonend na Elsabé wat haar vraend aankyk.

      “Ek sien jy het ’n brief gekry. Wie het geskryf? Nie dalk Jean nie?” vra Elsabé gretig. “En om te dink ek het eenkeer geglo Jean gee om vir my … dis waarom ek op vier en twintig nog ongetroud is!” voeg sy verwytend by.

      “Nee, dis my kleinneef, Braam Liebenberg van Kroonstad, wat geskryf het,” antwoord Annemarie afgetrokke.

      “Braam Liebenberg?” vra Elsabé gretig en gryp Annemarie aan die arm, ’n helder lig in haar oë. “Is hy al getroud? Wat skryf hy? O, ek was maande lank dolverlief op hom toe hy twee, drie jaar gelede hier by julle gekuier het. Hoe oud is hy nou? Seker omtrent so oud soos Jean, of ouer.”

      “Hy is nou vyf en dertig, vyf jaar ouer as Jean,” antwoord Annemarie en glimlag geforseerd. “Ek veronderstel hy is nog ongetroud, want hy skryf niks oor ’n vrou en kinders nie. Maar hoe kry jy dit om op Jean én Braam verlief te wees?”

      “Mens, as jy binne ’n jaar op die rak gaan sit, raak jy op enigiemand verlief! Jy is nou maar eers mondig, maar as jy oor ’n paar jaar nog ongetroud is, sal jy weet waarvan ek praat.” Elsabé bly voor die agterdeur staan, haar hand op die onderdeur. “Jy is … e … nog baie lief vir Dewald, nè, Annemarie?”

      “Sal dit help?” vra Annemarie met ’n skewe glimlaggie. “Sedert ek teruggekom het van Wellington, berei jy my voor vir