Aan die einde van die reënboog. Schalkie van Wyk

Читать онлайн.
Название Aan die einde van die reënboog
Автор произведения Schalkie van Wyk
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624057413



Скачать книгу

met die suster van ’n gehate National Scout en ’n hensopper sal wil trou nie, selfs al het hy haar ook lief?

      “Maar die meisie lyk kwaad,” begroet Dewald se stem haar laggend uit die gangdeur, en dan kom hy die kombuis binne en bly voor haar staan. “Middag, Annemarie. Gaan dit goed?” vra hy en sy glimlag wankel toe sy hom met ongewone erns aanstaar.

      “Dag, Dewald. Ek sal graag alleen met jou wil praat,” sê sy ingehoue.

      “Gaaf,” kom dit tegemoetkomend van Elsabé, wat reeds by Dewald verbygeskuur het op pad na die gangdeur. “Ek gaan solank koffie en koek soek.”

      “Jou ouma het reeds ons koffie ingeskink,” sê Dewald ongemaklik en vat-vat aan sy ken.

      Annemarie kyk hom opsommend aan, laat haar blik oor sy kort, donkerbruin hare, sy donkerbruin, effens ruie wenkbroue, lang reguit neus en breë ken dwaal en hou dan haar oë op die wankelrige lyn van sy lippe. Dan kyk sy op in die groenbruin dieptes van sy oë en sien die onsekerheid van sy glimlag in sy kykers weerkaats.

      Sy glimlag innerlik, kan raai waarom hy liewer sal wil gaan koffie drink: Dewald is bang sy praat oor hulle verhouding. Dink jy werklik sy sal hom vra om met haar te trou? Nee, dan liewer ’n oujongnooi vir die res van haar lewe wees! En tog maak dit seer: sy het so vas geglo dat Dewald haar liefhet.

      “E … jy wou sê?” verbreek hy aarselend haar gedagtegang en ontwyk haar blik.

      “Ek het gewonder of jy my sal kan help, Dewald,” begin sy pleitend. “Ek besef julle is baie besig hierdie tyd van die jaar en vanaf volgende maand wanneer die druiwe ryp word, sal julle nog besiger wees, maar … Sal jy nie dalk Kroonstad toe kan gaan en net gaan uitvind wat van Jean geword het nie? Asseblief, Dewald, ons is almal so bitter bekommerd oor hom, want dis nou al byna twee jaar dat ons niks van hom gehoor het nie. Dewald?”

      Sy sien die halsstarrige weiering in sy oë en draai teleurgesteld weg. “Dan … wil jy nie gaan nie?” verwyt sy sag.

      “Genugtig, Annemarie, jy besef nie wat jy my vra nie! Ek is ’n Kolonialer en as die Engelse my vang, word ek as ’n rebel doodgeskiet! Is dit wat jy van my vra?” bars hy grimmig uit.

      “Onsin!” sê sy bitsig. “Jy gaan nie gewapen of te perd nie; jy gaan per trein na Kroonstad om ’n ou vriend te besoek. Mense reis tog nog heen en weer sonder om gemolesteer te word?” vra sy onthuts.

      “Jy weet dis onmoontlik vir my. My pa se rumatiek keil hom deesdae baie op en die oestyd is om die draai. Ek kan onmoontlik nou die plaas net so los en Vrystaat toe gaan. Jy kan seker tog aan jou neef skryf?” vra hy nors.

      “Kleinneef. Ek het herhaalde kere aan hom geskryf, maar tot dusver het ek nog nooit ’n brief van hom ontvang nie. Maar dis nie ’n brief wat ek wil hê nie: ek wil persoonlik weet wat van Jean geword het, en ek gaan dit nie uitvind as ek honderde myle van hom af bly sit nie. Dankie, Dewald, vir jou tyd wat jy aan my afgestaan het. Jy kan nou maar jou koffie gaan drink voordat dit te koud word,” antwoord sy met ysige minagting in haar stem.

      ’n Donker gloed van ergernis kruip oor sy nek en gesig.

      “Dis vandat jy ’n onderwyseres geword het dat jy ons almal behandel asof ons onnosele plaasjapies is, Annemarie. My ma het gelyk: ’n geleerde vrou hoort op die dorp, nie op ’n boereplaas nie,” sê hy beskuldigend.

      Annemarie verstyf onder sy woorde en sy lig haar ken, ’n trotse gloed in haar oë.

      “Sal ek jou help om dit te sê, Dewald? Jou ma verkies Antoinette Duvenhage as haar aanstaande skoondogter omdat sy heel waarskynlik makliker oor Antoinette sal kan baasspeel. Trou dan met haar, want ek glo nie ek kan ’n man bewonder wat nie omgee wat van my broer geword het nie,” sê sy met kille finaliteit.

      “Wel … as jy dit so verkies.” Dewald swyg en lek oor sy lippe, merkbaar verlig. “Ons was tog nie verloof of so iets nie, Annemarie, en boonop is ek skaars drie maande ouer as jy. Ek meen nou maar: Antoinette is nou eers agttien, en dis beter as ’n man ’n paar jaar ouer as ’n vrou is, want dan … e … jy weet wat ek bedoel.”

      O ja, ek weet, dink Annemarie terwyl sy die ongemaklike Dewald in stilte betrag. Dewald is nog ’n seun, die speelmaat wat sy van jongs af geken het, maar sy het ouer, meer volwasse geword. Nogtans skroei die wete dat hy iemand anders bo haar verkies in haar binneste.

      “Gaan drink jou koffie, Dewald,” sê sy gesmoord, draai om en stap haastig by die agterdeur uit om in eensaamheid haar nuwe seer te verwerk.

      Oom Jacob sit op ’n riempiesbank op die voorstoep van die ou Kaaps-Hollandse woning en teug aan sy kromsteelpyp, sy oë geskreef teen die grysblou bondels rook wat hy kort-kort uitblaas voordat hy verder rook.

      “Oupa …?” Annemarie huiwer in die oopstaande voordeur, kom nader en neem op die punt van die riempiesbank plaas. “Pla ek, Oupa, of kan ons ’n bietjie gesels?” versoek sy.

      “Tja,” kom dit niksseggend van oom Jacob terwyl hy sy pyp uit sy mond pluk en beskuldigend met die pypsteel na haar wys. “Ek wag al langer as ’n week dat jy met my kom praat, Annemarie. Dan het jy en Dewald rusie gehad?”

      “Nie rusie nie, Oupa,” antwoord sy met nadruk. “Ek en Dewald was net eerlik teenoor mekaar. Hy het Antoinette lief en sy ma verkies ook ’n skoondogter wat nie te veel boekgeleerdheid het nie.”

      “Sulke bog! Wat weet ou Betta van geleerdheid? Ek wonder soms of sy haar eie naam kan skryf. Skinder en baasspeel, dis al waarvoor sy goed is … en eet, natuurlik. Ek kry die arme Joos bitter jammer as ek dink aan wat dit hom deur die jare gekos het om haar so vet te voer!” bars oom Jacob driftig uit en stamp met sy kierie hard op die stoepvloer.

      Annemarie glimlag goedig.

      “Toe nou maar, Oupa, dit help nie om nou daaroor kwaad te word nie. Dewald en Antoinette het reeds besluit om Saterdagaand verloof te raak. Ons is ook uitgenooi na die verlowingspartytjie,” vertel Annemarie beheers.

      Oom Jacob kyk haar fronsend aan.

      “Jy wil dit nie erken nie, kind, maar Dewald se verraad maak jou seer. Jy gaan tog nie na die verlowingspartytjie toe nie?” vra hy half dreigend.

      “As ek nie gaan nie, sal almal sê dis suur druiwe. Maar Oupa het gelyk: dit maak seer, en ek sal liewer ’n goeie verskoning wil hê om weg te bly. Ek … ek het gewonder of ek nie vir rukkie by die Groenewalds in Kaapstad kan gaan kuier nie?”

      “Die Groenewalds?” vra oom Jacob.

      “Ja, Oupa. Oupa het oom Gideon en tant Helena al ontmoet, want ek het saam met Petro Groenewald op Wellington gestudeer en …”

      “Ja, ja, ek onthou nou,” val oom Jacob haar in die rede, “maar dit gaan nie help as jy nou eers aan hulle skryf en hoor of jy welkom is nie. Die verlowingspartytjie is oor twee dae.”

      “Ek het reeds geskryf en ’n uitnodiging ontvang, Oupa,” antwoord Annemarie met ’n skalkse glimlaggie. “As Oupa my net môre met die kapkar Stellenbosch toe kan neem, sal ek daar die trein haal na Kaapstad. Dan kan ek maar gaan, Oupa?”

      “Natuurlik kan jy, maar ek sal jou persoonlik by die Groenewalds besorg. Nee a, geen kleindogter van my ry sommer so alleen per trein die wêreld vol nie. Toe, gaan pak jy nou maar en kry jou portmanto’tjies gereed,” sê oom Jacob, sy stemtoon ineens goedig, byna troetelend. “En, kind, onthou my tog om jou ’n geldjie in die hand te stop. Jou ouma kla juis heeldag dat jy ’n paar nuwe rokke nodig het.”

      “Ek sal dankie, Oupa,” antwoord Annemarie en stap die vinnig binne, haastig om by tant Gertruida te kom.

      “En wat sê hy, hartjie?” vra tant Gertruida toe Annemarie oomblikke later haar kamer binnestap waar haar ouma besig is om haar klere in ’n ligbruin trommel te pak.

      “Hy het ingestem, Ouma, … dat ek by die Groenewalds kan gaan kuier,” antwoord Annemarie en slaan haar blik skuldig neer.

      “En van Kroonstad?” vra tant Gertruida vinnig.

      Annemarie byt op