Christine le Roux Omnibus 4. Christine le Roux

Читать онлайн.
Название Christine le Roux Omnibus 4
Автор произведения Christine le Roux
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798156172



Скачать книгу

nie?”

      Robert sê niks nie en Elize draai ook weg en stap na haar mobiele kleedkamer. Nou is sy nie meer haastig nie en toe een van die meisies wat ’n kleiner rol speel, by haar kom sit en gesels, geniet sy dit asof sy nou vir die eerste keer die hele rolprentmakery in perspektief sien. Helen, die jong meisie, geniet alles en haar enigste grief is dat haar man nie by haar is nie. Hy moet aangaan met sy werk en sy moet maar alleen hier bly.

      “Ek kon nie so ’n kans laat verbygaan nie,” vertel sy vertroulik. “Ek het al heelwat kleiner rolletjies gespeel, maar dit was in onbelangrike rolprente. Enigiets wat deur Henri gedoen word, trek aandag en miskien sal ek nou raakgesien word en ’n groot rol aangebied word.”

      “Is dit wat jy wil hê?” vra Elize terwyl sy haar hare borsel.

      “O ja!”

      “En wat sê jou man daarvan?”

      “Hy ondersteun my.”

      “Sal hy dit bly doen wanneer jy ’n beroemde rolprentster is?”

      Helen vee ’n hopie gestorte poeier bymekaar en druk haar vinger daarin. “Ek hoop so. Ja, ek weet wat jy dink. Soveel huwelike gaan ten gronde wanneer een beroemd word. Jy is gelukkig dat jy nie getroud is nie.”

      “Dink jy so?” vra Elize geamuseerd.

      Sy wens die meisie wil haar nie so horingoud en wys laat voel nie.

      “O ja. Jy hoef niemand in ag te neem nie. Jy kan jou ten volle op jou loopbaan toelê.”

      “Jy het dit mis. Ek wil geen loopbaan hiervan maak nie. Ek sal nooit weer ’n rolprent maak nie. Hierdie een was ’n uitsondering.”

      “Jy speel!” sê Helen ongelowig. “Jy is dan so goed.”

      “Dankie, hoor, maar ek bedoel wat ek sê. Dit is my eerste en laaste poging.”

      “Ek kan dit nie glo nie,” sê Helen en staan op. Sy rek haar uit en gee ’n gaap. “Ek dink ek sal sommer nou gaan slaap. As dit so warm is, wil ek net heeltyd slaap. Ek weet ook nie waarom Henri nie die prent in die herfs of winter kon maak nie. Dis so aaklig om heeldag onder warm ligte te sit wanneer dit buitendien so warm is.”

      “Dis belangrik dat die storie in die somer moet speel,” herinner Elize haar. “Die groen, vrugbare geilheid van die somer moet ’n kontras vorm met die steriele, hopelose verhouding tussen die hoofkarakters.”

      “Regtig?” vra Helen naïef.

      Elize voel al weer oud en begin klaarmaak nadat Helen gegroet en geloop het. Toe sy die woonwadeur agter haar toemaak, sien sy dat die meeste mense reeds weg is, maar haar bestuurder staan nader.

      “Die motor is gereed,” sê hy beleef.

      Sy glimlag vir hom. “Gee jy om as ek liewer terugstap? Dis tog nie so ver nie.”

      Hy lyk huiwerig, maar toe sy daarop aandring, raak hy aan sy pet en vertrek. Sy gooi haar handsak oor haar skouer en druk haar hande diep in die sakke van haar slenterbroek. Die son is byna onder en oor die chaotiese toneel van vroeër het nou ’n ongewone kalmte gedaal. Net die platgetrapte gras en die woonwaens wat nog rondstaan, getuig van die dag se aktiwiteit. Die ergste hitte is ook verby en dis asof sy weer vry kan asemhaal. Sy begin onder die groot bome deurstap na die rivier en besluit om al langs die rivier terug te stap na die dorp en haar hotel. Sy het nie ver gestap nie, toe hoor sy ’n stem agter haar.

      “Mag ek maar saamstap, of wil jy alleen wees?”

      Dit is Robert. Sy hare is nog nat van sy stortbad en hy lyk ook uitgerus en koeler.

      “Wat maak jy nog hier?” vra sy verras.

      “Ek het vir jou gewag.”

      Sy weet nie wat om hierop te sê nie en stap maar aan terwyl hy langs haar inval. “En gestel ek het met die motor teruggery?”

      “Dan het ek alleen geloop. Ek was lus vir stap.”

      “Ja. Ek ook.”

      ’n Hele ruk lank stap hulle in stilte en sy luister na die dolle gedruis van die voëls in die hoë bome.

      “Ek kry die gevoel dat dit nou beter gaan,” merk hy op.

      “Dat wat beter gaan?” vra sy behoedsaam.

      “Ek bedoel eintlik dat jy jou nou in die rol begin tuis voel.”

      “Dis seker waar,” sê sy en wonder wat hy impliseer.

      “Die groot geheim is dat jy moet weet dat jy ’n rol speel,” vertel hy gesellig. “Ek het ook aanvanklik daarmee gesukkel. ’n Mens kan nie help om te reageer soos jyself sou nie. Dis tog bloot menslik. Jy kom eers reg wanneer jy jouself totaal onderdruk en die persoonlikheid van die karakter aanneem. Jy moet dink en voel soos die fiktiewe persoon. Dan is dit maklik. Dan kan jy enigiets doen.”

      Sy loop en tob oor sy woorde. Is dit ’n bedekte waarskuwing? Het hy agtergekom hoe sy vroeër die dag op sy soene gereageer het? Waarsku hy haar nou dat dit alles bloot toneelspel is?

      “Ek dink ek verstaan dit nou,” sê sy versigtig. “Dit is waar wat jy sê.”

      Hulle loop weer in stilte totdat hy skielik vra: “Vertel my van Charles – of wil jy liewer nie daaroor praat nie?”

      Die noem van Charles se naam skok haar teen haar sin.

      “Nee, ek gee nie om nie. Die hartseer is lankal verby. Maar wat sal dit tog help om daaroor te praat? Hy is dood.”

      “Was jy baie lief vir hom?” vra hy sag.

      “Ek dink so ja. Hy was my beste vriend en dit is belangrik. Ek dink dit is sy vriendskap wat ek die meeste mis. ’n Mens kan maklik verlief raak, maar jy kry nie sommer weer so ’n goeie vriend nie.”

      Hy kyk haar onleesbaar aan. “Raak jy maklik verlief?”

      Sy lag vinnig. “Nee, glad nie. Ek het dit seker swak gestel. Ek wou maar net sê dat dit moeiliker is om ’n goeie vriend te kry as ’n geliefde.”

      “Ek verstaan, ja. En na sy dood was daar nooit weer iemand anders nie?”

      “Nee,” sê sy stil. “Ek het sulke dinge ontgroei.”

      “Ek sien,” sê hy geamuseerd.

      Sy struikel effens oor ’n ongelyke stuk grond en hy stap nader en slaan sy arm om haar skouer asof dit die natuurlikste ding is om te doen. Sy is so verbaas dat sy niks sê nie.

      “Waarom wou jy van Charles weet?” vra sy na ’n ruk.

      Dit word nou vinnig donker en hulle stap onder die ligte wat langs die rivier aangebring is.

      “Ek wil nie soos ’n wysneus klink nie,” maak hy verskoning. “Sal jy dit so aanvaar? Maar wat ek by jou wil tuisbring, is dat ’n mens die swaarkry in jou lewe positief kan gebruik in jou kuns,

      of in hierdie geval in jou uitbeelding van ander mense se swaarkry.”

      “Ek weet,” erken sy. “Ek kan dit in my skryfwerk doen, maar ek vind dit moeiliker in rolprentwerk. Moet ek dan nie juis my eie gevoelens onderdruk en soos Anne reageer nie?”

      “Dit is so, ja. Toneelspel is eintlik ’n baie subtiele interpretasie van jou eie gevoelens en ervarings.”

      Sy knik net. Sy voel gelukkig en sy weet nie waarom nie. Is dit omdat sy hier onder die donker bome stap saam met die man wat teen haar sin en wense vir haar meer beteken as wat goed is vir haar? Sy probeer dit afmaak as skone verspottigheid, maar sy het ’n nare gevoel dat dit nie so maklik gaan wees nie. Sy kan aan geen enkele rede dink waarom sy skielik soveel van Robert hou nie, maar sy kan die gevoel ook nie ontken nie. En dit moet onderdruk word as sy hierdie rolprent wil voltooi. Sy kan in geen omstandighede saam met ’n man speel teenoor wie sy so voel nie; veral die heel laaste toneel sal buite die kwessie wees. Dit sal net gedoen kan word as sy hom as ’n vreemdeling beskou en as daar geen gevoel by betrokke is nie.

      “Vertel