Christine le Roux Omnibus 4. Christine le Roux

Читать онлайн.
Название Christine le Roux Omnibus 4
Автор произведения Christine le Roux
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798156172



Скачать книгу

raak tevrede aan die slaap – ’n rustige, droomlose slaap.

      Hoofstuk vier

      Twee weke later gaan dit al heelwat beter. Elize raak die pas gewoond en alhoewel sy nog elke aand tot die dood toe moeg is, is die rolprentmakery nie meer vir haar so vreemd nie. Sy het nog een aand na die dag se proewe gaan kyk, maar toe nie weer nie. Dit laat haar net ongemaklik voel om haarself so groot op ’n doek te sien. Tussen haar en Robert heers ’n wapenstilstand. Sy het gesorg dat sy nie weer alleen saam met hom aan tafel beland nie en terwyl hulle repeteer of skiet, is hulle koel en hoflik teenoor mekaar. Hulle houding teenoor mekaar is iets waaroor sy nie heeltemal duidelikheid kan kry nie. Waarom is hulle so op hulle hoede vir mekaar? Waarom staan sy skepties teenoor sy mees onskuldige opmerking? En tog werk hulle goed saam – verbasend goed. Dis asof hulle kan aanvoel wat die ander een wil bereik of uitbeeld en dan is daar hoegenaamd geen wrywing of jaloesie nie . . .

      Toe die gedagte deur Elize se kop flits, moet sy lag. Waaroor kan sy jaloers wees? Die feit dat hy ’n baie goeie akteur is? Sy wil glad nie ’n aktrise wees nie en jaloesie is dus onnodig.

      Maar dis ’n warm somer en daar is dae dat sy wil doodgaan van benoudheid onder die warm ligte. Dan is sy bly wanneer daar ’n blaaskansie is en sy ver deur die dorp kan gaan stap. Daar is ’n rivier wat deur die dorp vloei en al met die walle langs is ’n groen, boomryke park. Dis haar geliefkoosde wandelplek en hier stap sy en Noag elke oomblik wanneer hulle kans kry. Soms kyk mense haar nuuskierig aan en sy weet dit is bloot omdat sy met die rolprentspan gemoeid is, en nie omdat hulle regtig weet wie sy is nie. Sy wil nie deur mense herken word nie. Sy wil nie ’n gesig word wat deur fotograwe gejaag word nie.

      Een middag terwyl ’n toneel tussen die hospita van die ou huis en een van die ander spelers geskiet word, vat Elize haar swemklere en haas haar na die rivier. Op haar wandeltogte het sy ’n lieflike poel onder oorhangende bome ontdek en alhoewel daar soms kinders swem, is dit ’n stil, afgesonderde plekkie. Daar is verkleehokkies op die wal en hier trek sy gou uit en duik in die koel water in. Sy draai op haar rug en dryf terwyl sy na die patrone wat die oorhangende takke teen die blou lug vorm, kyk. Stemme van kinders wat laer af in die vlak water speel, is die enigste geluid wat die stilte versteur.

      Dis heerlik, dink sy verwonderd. Sy kan haar amper verbeel dat sy in Nanette-hulle se plaasdam swem. Sy draai om en begin met lang hale na die oorkantste oewer swem, maar dis verder as wat sy gedink het en sy word moeg. Gelukkig is sy ’n sterk swemmer en draai net weer op haar rug om te dryf totdat sy uitgerus het. Skielik hoor sy ’n geskop van water en meteens duik Robert se kop langs haar uit die water op.

      “Is jy in die moeilikheid?” vra hy.

      Sy is so kwaad dat sy sommer ’n mond vol water stuk.

      “Natuurlik nie!”

      “Waarheen is jy dan op pad?” terg hy.

      “Na die oorkantste oewer,” probeer sy waardig sê, draai om en begin met mening swem.

      Hy bly by haar en saam swem hulle totdat hulle teen die groen oewer uitkruip. Teësinnig moet sy erken dat sy nogal uitasem is en sy gaan lê op haar maag met haar kop op haar arms, sodat die son haar warm kan bak.

      “Dis verder as wat dit lyk,” merk hy op, maar hy is glad nie kortasem nie.

      Sy antwoord nie.

      “Kom swem jy dikwels hier?” vra hy lui. Hy lê op sy rug en kyk na die blou lug en die paar yl vlieswolkies.

      “Nee. Dis die eerste keer.”

      “Ek swem elke aand hier,” sê hy.

      Sy antwoord nie. Moet sy hom bewonder of wat?

      “Jy is ’n goeie swemmer,” sê hy weer. “’n Mens sou dit nie dink nie.”

      “Wat bedoel jy?” Sy lig haar kop op en kyk koel na hom.

      “Niks nie. Net wat ek gesê het.”

      Sy wens sy het haar handdoek by haar gehad. Sy voel ontbloot voor hom en hy moet dit agtergekom het, want hy lag geamuseerd.

      “Kry jy koud?” vra hy.

      “Nee. Maar ek dink ek moet nou terugswem en gaan aantrek.”

      “Hoekom? Dis mos lekker hier op die gras.”

      “Ek wil my gesig afdroog,” sê sy dom.

      Voordat sy hom kan keer, lig hy sy hand op en vee oor haar gesig. “So ja! Jou gesig is glad nie so nat nie. Ontspan nou. Dis die hele doel van so ’n vry middag. Jy moet rus en ontspan.”

      “Ek is glad nie gespanne nie, dankie,” sê sy koud.

      “Hoe oud is jy?” vra hy skielik en lig hom op sy elmboog om na haar te kyk.

      “Agt-en-twintig.” Sy wonder waarom op aarde hy dit wil weet.

      “Geskei?” vra hy.

      “Nee!”

      “Nog nooit getroud nie,” mymer hy half tot homself. “Mag ek vra waarom nie?”

      “Dis my eie saak en het niks met jou te doen nie.”

      “Dis waar,” gee hy toe. “Ek het net gewonder.”

      “Ek ly nie aan die troumanie wat almal blykbaar onder lede het nie,” sê sy toe. “Ek sal trou wanneer ek die dag voel ek kan nie langer alleen bly nie, en wanneer ek die regte man ontmoet het. Op die oomblik het ek geen behoefte daaraan nie. Ek hou van my eie geselskap.”

      “Dis duidelik, ja.”

      Hulle lê weer ’n ruk lank in stilte. Sy voel hoe sy vaak word van die son se hitte en die lekker gevoel van moegheid na die swem.

      “En jy?” vra sy. “Waarom is jy nog nie getroud nie?”

      “Basies seker om dieselfde rede. Ek hou van my eie geselskap.”

      “En al die mooi meisies wat aan jou vasklou? Was daar nog nie een met wie jy wou trou nie?”

      Hy lag effens. “Nee.”

      Sy ontspan al hoe meer. Hy is nie vanmiddag so beterweterig soos gewoonlik nie. Hy is amper iemand met wie sy sou kon gesels.

      “Jy sien,” vertel sy hom en sit regop met haar arms om haar opgetrekte bene gevou, “ek het anders grootgeword. Baie konserwatief, sou jy seker sê. Ek glo nie aan ’n trouery en skeiery nie. Ek glo dat ’n mens wag totdat jy die regte mens ontmoet het en dan bly julle getroud. Dis vir my ’n onding dat mense deesdae so maklik tou opgooi. Wanneer ’n mens iemand van die begin af liefgehad het, moet iets daarvan tog oorbly? Dan moet jy tog deur die moeilike tye ook saamspan. Ek weet dis ’n outydse siening, maar dit is hoe ek voel. Ons het ’n gesegde in ons taal wat lui dat trou nie perdekoop is nie. Ek het nog nooit ’n perd gekoop nie en sou nie kon sê hoe moeilik dit is nie, maar ek glo wel dat trou iets is waaroor ’n mens goed moet nadink.”

      Hy kyk na haar met sy oë vernou teen die son. “Ja,” stem hy toe ernstig saam. “Ek is geneig om met jou saam te stem. En jy is nie eers in dieselfde situasie as ek nie.”

      “Watse situasie?” vra sy belangstellend.

      Hy lyk ongemaklik en probeer glimlag. “Ek is ’n rolprentster,” sê hy spottend. “Meisies hou van my omdat ek ’n rolprentster is. Hulle weet nie watter soort mens ek is nie, hulle sien net die gesig en voel die aura van beroemdheid aan en . . . ag, jy weet wat ek bedoel.”

      Sy knik stadig. “Ja. Ek het dit nooit vantevore besef nie, maar dit moet natuurlik so wees. Ek dink nie veel van rolprentsterre nie, maar daar is seker duisende meisies wat enigiets sal gee om saam met jou gesien te word.” Sy besef dat haar laaste sin darem baie beledigend kan klink en bloos effens. “Ek bedoel dit nie persoonlik nie,” maak sy verskoning.

      Hy buig sy kop om te wys dat hy verstaan en staan toe op. Sy moet teen wil en dank na hom kyk en sy kan nie help om op te merk hoe mooi hy gebou is nie: lank en skraal en bruin gebrand. Hy hou sy hand na haar uit en trek haar van die gras