'n Ver plek vir Zilla. Margaret Bakkes

Читать онлайн.
Название 'n Ver plek vir Zilla
Автор произведения Margaret Bakkes
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798154345



Скачать книгу

Geen wonder dat sy pa steeds soos ’n verliefde seun reageer nie. Hy dink dat hy daarin na sy pa aard: toe sy pa uiteindelik sy hart verloor het, hoe onwaarskynlik en onprakties die keuse ook al was, was dit vir ’n leeftyd.

      “Piero, caro. Waar was jy?”

      “Weg vir die naweek, Mamma.” Hy antwoord in die vloeiende Italiaans wat hy van kleintyd af by haar gehoor het. “En Pa?”

      Hy sien hoe haar gesig versomber. “Hy slaap. Dis waarom ons vanoggend gekom het. Pa is nie gesond nie. Ek het heelpad bestuur.”

      Hy kyk verbaas na haar. Gewoonlik is dit sy wat met haar gesondheid sukkel.

      “Ons het môre ’n afspraak by ’n internis. Ek het jou gister gebel, maar kon jou nie kry nie.”

      “Ek was weg.”

      “Ja.” Sy kyk skerp na hom. “Ken ons haar, Piero?”

      Hy lag. “Mamma maak wilde afleidings. Vertel my eers van Pa.”

      “Hy voel al die hele week nie lekker nie. Narigheid en pyne in sy bors en arm.”

      “Daarvan hou ek nie.”

      “Ek ook nie. Daarom is ons hier, hy natuurlik onder protes. Daar is môre ’n direksievergadering op die dorp.”

      “Daar is altyd direksievergaderings.”

      “Presies.”

      “Ek sal hom môre neem. Ek het net die middag prakties.”

      “Dis goed. Ek het jou nodig. Ek is bly jy is terug, Piero – ek het verlang.”

      Hy dink daaraan dat sy die woorde op so ’n manier sê dat dit hom glad nie hinder nie. Haar liefde vir hom was nog altyd van so ’n aard dat dit hom vry maar tog geborge laat voel het. Hy het altyd gedink dat die meisie wat hy uiteindelik sou kies soos sy ma sou wees. En hoe heel anders is Zilla nie met haar aardsheid, wat so vreemd verweef is met haar intense skoonheidsbelewing en skeppingsdrang nie. Amalia Basson se skeppende vermoë is toegespits op haar verhouding met haar man en seun. Zilla moet nog leer om haar skeppende vermoë wyer te kanaliseer. En wie kan haar beter leer as Amalia self?

      Piero kom die volgende dag glad nie by die universiteit nie. Die internis is nie tevrede voordat allerlei toetse gedoen is nie en Piero bly die hele dag by sy ouers, ook nadat hulle gehoor het dat sy pa se hart baie verswak is. By die woonstel aangekom, gaan sy pa dadelik bed toe, maar sy ma het klaarblyklik ná die ontstellende dag ’n behoefte aan gesels.

      “Pappa sal sy lewe voortaan anders moet inrig, Piero. Jy moet ook met hom praat. Hy durf nie iets oorkom nie.”

      Hy sien die vrees in haar oë en dink dat dit eintlik ironies is: sy was altyd die brose een. Nou is die bordjies sonder waarskuwing verhang. Albei sy ouers sal hulle in hierdie omstandighede meer op hom verlaat. Hy besluit om voorlopig niks van Zilla te sê nie.

      Dis laataand voordat hy by haar kamer aanklop.

      “Naand, vreemdeling.” Sy laat nie blyk dat die dag vir haar eindeloos was omdat sy hom nie gesien het nie.

      “Jammer, Zilla. My ouers het onverwags stad toe gekom. Ek moes my pa vandag dokter toe neem.”

      “Ernstig?”

      “Redelik.”

      Die eindeloosheid van die dag vervloei toe hy haar in sy arms neem. “Ek sal my ma moet sê van jou,” fluister hy teen haar oor.

      Iets in sy stem laat haar terugstaan. “Jy sê dit asof dit ’n berg is waaroor jy moet kom.”

      “Is dit nie? Dis dieselfde as vir jou met jou pa. Vir my ma is ek wat jy vir jou pa is. As dit net ek en jy was, sou dit baie eenvoudiger gewees het. As ek aan die einde van die jaar weggaan, moet jy saam. Daar anderkant kan niemand eise aan ons stel en ons van mekaar probeer weghou nie.”

      “As dit maar so maklik was.”

      “Jy dink nie ek is ernstig nie.”

      “Maar dit kan mos nie, Piero. Ek moet minstens my graad voltooi.”

      “Waarom? Watter waarde het ’n graad? Jy sal daar oorkant baie meer leer as wat jy ooit hier sal kan leer. Dis maar net om my pa en ma se ontwil dat ek vier jaar hier bly.”

      “En dink jy nie ek behoort om dieselfde rede hier te bly nie?”

      “Nie as jy my liefhet nie. Ek het gebly omdat ek jou nog nie gekry het nie. Nou is alles anders.”

      Sy weet dat sy woorde net gedeeltelik waar is. Vir haar pa en sy ouers het niks verander nie. Die gedagte aan Piero se ma is meteens ’n bedreiging. Sal hierdie vreemde vrou van haar hou?

      Die slaap ontwyk Zilla dié nag. Piero is ernstig. Sy weet hy sal dit nie daar laat nie. En dis onmoontlik.

      As hy gaan, sal dit die einde van ’n unieke verbintenis in haar lewe wees. Want sy sal nie kan saamgaan nie. En oor duisende kilometers en baie jare heen kan geen verhouding hou nie. Sy sal daaroor kom, soos sy oor haar ma se dood gekom het, met net diep binne-in haar die seer naklank van ’n verlange wat nooit heeltemal uitgewis kan word nie.

      Zilla sien Piero die volgende dag ook glad nie, en in ’n mate verwelkom sy dit, anders as die vorige dag. Sy het die saak in die nag met haarself uitgemaak. Daar is nie vir haar ’n toekoms by Piero nie. Dan moet die losmaakproses liewer dadelik begin. Maar sy is tog verbaas toe hy nie die aand opdaag nie. Sy ouers neem blykbaar al sy tyd in beslag, sodat hy nie eens by sy klasse uitkom nie.

      Sy sien dadelik die rooi Fiat toe sy die volgende oggend klas toe stap. Dit hou met skreeuende bande langs haar stil. Toe sy na Piero se gesig kyk, skrik sy. Sy kleur is grys en die donker oë sit diep in sy kop.

      “Klim in, Zilla.”

      Sy gehoorsaam en hy trek dadelik weg. Eers toe hulle uit die oggendverkeer en buite die stad is, hou hy stil.

      “My pa is oorlede. Gisteraand. Ek kon my ma nie los nie, maar sy slaap op die oomblik. Ek moet dadelik terug, want ek moet daar wees as sy wakker word. Ek neem my ma vanmiddag huis toe en jy moet saamkom. Ons begrawe my pa op die plaas.”

      Hoofstuk 2

      Van die agterste sitplek in die luukse motor hou Zilla die twee mense voor haar dop. Daar word nie veel gepraat nie, net af en toe ’n enkele sin. As die twee profiele dan na mekaar gedraai word, val die ooreenkoms Zilla telkens op: fynbesnede, donker, smeulend. Amalia het ondanks haar ouderdom ’n sagte, roomkleurige vel wat styf om hoë wangbene span. Die digte swart hare is los en laag in haar nek saamgevat. Met hulle ontmoeting vroeër vanmiddag het die ouer vrou haar ingetoë gegroet en in korrekte maar geaksentueerde Afrikaans gepraat.

      “Piero sê hy het jou nodig, Zilla. Dankie dat jy bereid is om saam te gaan. Alles is vir ons baie, baie swaar.”

      Sy kon nie anders as om ’n diepe bewondering en jammerte vir Piero se ma te voel nie. Sy het geweet die vrou voor haar is in alle opsigte ’n besonderse mens, iemand om mee rekening te hou.

      Dis skemer toe hulle die Wes-Transvaalse dorp binnery. Dis ’n dorp soos die meeste klein dorpe: kerktoring prominent in die middel van die dorp, toiingrige sakegeboue met ’n paar hoërige nuwe geboue wat die onvermydelike supermark of kettingwinkel huisves. Hulle ry deur die dorp na wat duidelik ’n nuwer uitleg is met groot, mooi huise en tuine.

      Zilla is egter totaal onvoorbereid op wat haar inwag.

      Piero swaai by ’n ysterhek in wat verwelkomend oopstaan. Voor hulle strek ’n rylaan tussen rye formele bome deur. Aan weerskante sien Zilla groen grasperke, roostuine, struike wat gedissiplineerd hulle plek vol staan, marmerwit beelde, pilare en priële, kleurryke beddings wat sonder kurwes of kronkelings bydra tot die klassieke uitleg van die tuin. ’n Lang dubbelverdiepinghuis, met vensters en pilare reëlmatig gespasieer aan weerskante van die massiewe houtvoordeur, bevestig die indruk van weelde en welvaart.

      Toe die motor stilhou voor die treetjies wat oploop na die wye stoep, gaan die voordeur