Название | Christine le Roux Omnibus 2 |
---|---|
Автор произведения | Christine le Roux |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798153317 |
“Met wie? Yvonne?” Hy lyk onthuts. “Ons het nog nie … ek bedoel, sy begin nou in daardie rigting praat, want ons … dis darem al ’n paar jaar wat ons uitgaan en …”
Linda geniet dit om haar gewoonlik selfversekerde broer so te sien rondval. “Olivia sal dit nie toelaat nie.”
“Wat het sy met die saak te maak?” vra hy vies. “Sy het geen sê nie! Sy is aangestel om na die kinders om te sien, dis al.”
“Dis juis oor die kinders dat sy so voel. Sy wil hê hulle moet ’n goeie ma kry. Die regte een.”
“Dis nie vir haar om daaroor te besluit nie,” herhaal hy.
Sy gaap en druk haar hand voor haar mond. “Ekskuus tog. Mens kry maar min slaap met ’n baba.” Sy staan op. “Ek dink ek moet gaan lê, maar as ek jy is, boet, trou ek met Olivia.”
Hy staar na haar. “Trou met Olivia! Weet jy wat jy sê? Sy is nog ’n kind, jong! Weet jy dat sy op eie houtjie ’n boomhuis begin bou het en toe uit die boom geval het?”
“Sy’t my vertel, ja,” sê sy kalm. “Maar dit was glo jou skuld, jy het haar verskree sodat sy –”
“Ek het haar nié verskree nie,” sê hy kwaad. “En sy seil met die trapreling af en jy moet haar sien as sy die middag besluit om modderkoekies saam met die kinders te bak. Van kop tot tone besmeer van die grond. Ek kom by die huis en hier staan die drie van hulle op die grasperk, besig om hulle met die tuinslang skoon te spuit. Jy sou sweer sy is ook ses jaar oud, staan daar druipnat op die grasperk en die drie lag dat jy hulle wie weet waar kan hoor.”
Sy lig haar wenkbroue. “En jy beskou dit as iets wat téén haar tel?” vra sy.
Hy lyk ongemaklik. “Wel nee, nie noodwendig nie, maar sy is so ’n rabbedoe, ’n mens weet net nooit wat sy gaan aanvang nie.”
Sy glimlag. “Lekker slaap. Soos ek vir haar ook gesê het, ek gaan met ’n geruste hart weg. Jy en jou kinders is in goeie hande.”
“Gmf,” snork hy en drink sy konjak klaar.
Hoofstuk sewe
Omtrent ’n week na Linda se kuier, val al twee kinders in met pampoentjies. Emma kry dit nie baie erg nie, behalwe ’n nag of twee van koorsigheid en toe ’n opgeswelde gesiggie. Daarna sukkel Olivia om haar in die bed of ten minste in die huis te hou. Nicky kry dit erger; hy is baie koorsig, sy keel is so seer dat hy niks wil eet of drink nie en Olivia moet dag en nag by hom bly omdat hy na haar roep nes sy ’n oomblik lank uit die kamer gaan.
Ongelukkig val hierdie siekte saam met ’n baie belangrike saak waarby Nicolas betrokke is, sodat hy feitlik nooit tuis is nie en nie veel kan help nie. Hy voel skuldig hieroor, maar terselfdertyd diep dankbaar teenoor Olivia wat daar is en sonder klagtes voortgaan.
Teen die Saterdagaand voel Nicky effens beter en Olivia, wat gehoop het Nicolas kan oor die naweek bietjie oorneem en haar kans gee om te rus, word weer teleurgestel.
“Ek kan nie hierdie ete kanselleer nie,” sê hy vir haar voor hy die aand uitgaan. “Dis regter Henning en dis weke gelede al gereël en bevestig.”
“Natuurlik,” sê sy. “Toe maar, dis in orde. Ek en die kinders gaan almal vroeg slaap.” Sy vee oor haar taai voorkop. Die weer is baie drukkend, ’n seker teken dat ’n donderstorm op pad is.
“Wou jy uitgegaan het?” vra hy bekommerd.
“Nee!” Sy lag wild. “Dis die laaste ding waarvoor ek kans sien.” Sy hoor ’n motor buite en kyk vinnig deur die venster. “Daar’s Yvonne,” sê sy en draai weg. “Jy beter gaan.”
Sy gaan boontoe, spons die kinders af, laat hulle op haar bed lê en televisie kyk en gaan lees uiteindelik vir hulle ’n storie. Nicky drink sy medisyne gedwee en sy sit ’n ruk by hom tot hy aan die slaap is. Haar hart voel week wanneer sy na hom kyk: die opgeswelde gesiggie en die wangetjies wat nog rooierig gloei. Dis steeds warm en sy maak al die vensters oop sodat ’n luggie kan inkom. Toe sy seker is albei kinders slaap vas, loop sy sleepvoet na haar badkamer toe en tap die bad vol. Haar lyf voel seer en lam van die week se min slaap en sy lê byna ’n uur lank in die bad, haar oë toe.
Teen die tyd dat sy uitklim, is die storm bokant die huis. In al die kamers klap en wapper die gordyne soos die wind hulle heen en weer ruk en sy hardloop van die een kamer na die ander om toe te maak. Dit het ook onverwags koud geword, besef sy, veral omdat sy nog steeds net toegedraai in ’n nat handdoek rondloop. Terwyl sy in haar kas soek na iets om aan te trek, dreun die eerste donderslag. Sy bly staan, haar kop skeef gedraai, want sy verbeel haar sy het iemand hoor roep. Maar dis stil afgesien van die gedruis van die wind buite. Sy gryp haar sweetpakbroek en ’n pajamabaadjie en koes toe die kamer blou verlig word deur ’n weerligstraal. Haar voete voel koud en sy pluk ’n paar sokkies uit die laai, maar toe sy dit aantrek, sien sy dis nie hare nie. Dit lyk na Nicolas se tennissokkies wat Katie seker per ongeluk in haar laai gesit het. Nie dat sy haar nou daaroor kan kwel nie, sy trek dit aan al is dit myle te groot.
’n Donderslag kraak deur die lug, so hard dat sy ’n klein gilletjie onderdruk. Dit voel of die huis in twee geslaan is en sy haas haar na die kinders se kamers toe om te kyk of hulle nie geskrik het nie. Emma slaap rustig, maar Nicky is nie in sy kamer nie.
“Nicky?” roep sy en hardloop terug na haar kamer toe.
Hy is nie daar nie en in die kort stilte voor die volgende slag, verbeel sy haar sy hoor hom huil êrens onder in die huis. Sy spring die trappe twee-twee af en kry hom inderdaad in die deur van die sitkamer. Die hele huis is donker behalwe ’n paar leeslampe in die sitkamer wat bly brand tot Nicolas by die huis kom.
“Pappa,” sê Nicky betraand.
Sy kniel langs hom. “Pappa is uit, maar hy kom nou-nou terug. Wil jy nie maar kom slaap nie?”
Hy sidder toe die volgende slag soos ’n sweepklap bo die huis slaan en die volgende oomblik begin dit hael. “Livja?” kerm hy en klou aan haar vas soos ’n beangste diertjie.
“Toe maar, toe maar,” sus sy. “Dis net die reën. Dit sal nou minder word. Kom ons gaan slaap maar. Jy kan by my kom lê as jy wil.”
Hy wys na die sitkamer. “Wag vir Pappa.”
“Ons kan nie hier wag nie,” sê sy redelik. “Hoekom gaan wag ons nie bo in jou kamer nie?”
Hy skud sy kop. “Hier vir Pappa wag.”
Sy sug. “Goed, ons kan hier vir Pappa wag. Sal ek gou vir ons bietjie Milo gaan maak?”
Sy oë kry lewe. “Bietjie lekker Milo.”
“Nou toe,” lag sy en wys na die groot rusbank met sy vet, sagte kussings waarop byna niemand ooit sit nie. “Gaan lê jy solank daar, ek bring die Milo.”
Teen die tyd dat sy terugkom en hulle kruisbeen op die bank sit en drink, is die ergste storm verby. Die kamer word nog nou en dan verlig deur ’n laaste weerligstraal, maar die donderweer rammel al verder weg en al wat nou hoorbaar is, is die gesuis van die reën.
“Lekker reën,” sê sy vir hom. “Nou gaan al die plantjies groei en groot word.”
Hy drink net ’n sluk of twee van sy Milo voor sy oë begin verlep en sy vat die koppie by hom, sit dit op die tafeltjie neer en wys hy moet lê. Sy skik die kussings almal aan die een kant en wys hom waar hy moet lê.
“Livja ook lê,” sê hy beslis.
Sy gaan lê langs hom. Sy sal wag tot hy slaap, dink sy, en hom dan boontoe dra, maar sy onderskat haar eie uitputting. Hy krul sy lyfie teen hare vas en hulle wriemel tot hulle hulle lê kry, en dit is die laaste wat sy onthou.
Nicolas sluit die voordeur so teen middernag oop en Yvonne stap voor hom uit. “Sal ek vir ons gaan koffie maak?” vra sy.
Ja,” sê hy. “Ek wil gou by die kinders gaan inloer.”