Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux

Читать онлайн.
Название Christine le Roux Omnibus 2
Автор произведения Christine le Roux
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798153317



Скачать книгу

het onderneem om vanaand na die kinders te kyk,” sê hy saaklik. “Olivia het ’n week laas ordentlik geslaap.”

      Haar oë vernou vinnig, maar sy vly haar stewiger teen hom vas. “’n Ander aand dan,” fluister sy en knibbel aan sy oor.

      Hy ruk sy kop weg. “Kom, ek stap saam na jou motor toe.”

      Sy laat haar nie so maklik afsit nie. Hy help haar om haar jas aan te trek, stap saam na haar motor toe en sluit vir haar oop, maar sy klim nie dadelik in nie. Sy vou haar arms om sy nek en lok hom nader met ’n halfoop mond. Hy soen haar, maar haar parfuum is vir die eerste keer vir hom te sterk, hy voel hy gaan daarin verstik. Olivia het geruik na seep en sjampoe, dink hy verward. En na blomme. Iets ligs en skoons.

      “Lekker slaap,” sê Yvonne vir hom, klim in en ry weg.

      Hy sien haar hand deur die venster soos sy vir oulaas waai voor sy by die hek uitry en dit geruisloos agter haar toeskuif. Toe pluk hy sy sakdoek uit sy sak en vee hard oor sy lippe. Hy weet nie hoekom hy vanaand so anders voel nie. Yvonne was so oorweldigend, so … gróót. Hy het dit nog nooit vantevore gedink nie, maar vanaand was alles omtrent haar te groot. Sy het groot hande en daardie lang rooi naels … Hy skud sy kop en neem ’n paar diep teue van die koel, nat lug. Sterre is sigbaar tussen die laaste donker wolke wat begin opbreek en losrafel. Olivia het sulke netjiese, fyn hande. Haar naels is altyd kort en ongeverf. Alles omtrent haar is klein en fyn en netjies.

      Nicolas stap vinnig in die huis in, sluit die deur en neem die skinkbord kombuis toe. ’n Halfuur gelede was hy doodmoeg, nou is hy skielik wawyd wakker en vol ontstellende gedagtes. sy dra nie vir die kinders duur speletjies aan nie, sy bou vir hulle ’n boomhuis. Sy drapeer nie haar lyf in ’n leunstoel nie, sy gly met die trapreling af. En veral vly sy nie ’n swaar, sensuele, ooraangetrekte lyf teen hom aan nie, sy lê in ’n slap, opgekrulde bondeltjie teen sy bors …

      Hy skakel die ligte af en spring die trappe twee-twee op. By die kinders is alles rustig. Emma het al haar beddegoed afgegooi en hy maak haar weer toe. Nicky slaap soos ’n klip, sy gesiggie koel. Nicolas hou die kinders se deure oop sodat hy hulle sal kan hoor en wil net na sy kamer toe stap, maar kan homself nie keer nie en gaan loer by Olivia ook in.

      Sy lê op haar rug, een arm bokant haar kop en al die beddegoed ook afgegooi. Een been is gekrom, die ander hang halfpad van die matras af. Die pajamabaadjie het opgetrek, tussen die sweetpakbroek en die baadjie is ’n kaal, plat midrif sigbaar.

      Nicolas sluk hard, buk dan en tel die hangende been terug op die matras, trek die beddegoed netjies oor haar en druk dit onder die matras in.

      “H’m,” sê sy en draai op haar sy, een hand onder haar wang.

      “Inderdaad,” sê hy en stap vinnig uit die kamer uit.

      Hoofstuk agt

      Olivia slaap tot twaalfuur en sou heel waarskynlik langer bly lê het as sy nie so warm gekry het nie. Sy kyk verbaas na die flenniepajamabaadjie en kan nie glo dat dit die vorige nag koud genoeg was vir so ’n kledingstuk nie. Sy stort, trek haar gewone kortbroek, hempie en sandale aan en begin net wonder wat sy met haar vry dag gaan doen toe Emma by die deur inloer.

      “Pappa vra of jy nog slaap,” sê sy.

      “Nee, ek is op. Hoekom?”

      “Ons braai vleisie.”

      Olivia voel eers outomaties aan Emma se voorkop, bekyk die nog geswolle gesiggie en lyk tevrede. “Wie’s almal daar?”

      “Ons,” sê Emma en loop gou ’n draai om vir Leo en Boggom te karnuffel.

      “Is Vonnie daar?”

      “Nee.”

      Olivia vat Emma se hand en stap saam met haar ondertoe en uit in die agtertuin waar die ingeboude braaivleisplek onder ’n grasdaklapa is. Rook trek uit die kole en Nicolas staan met ’n vurk in sy hand.

      “Môre,” sê hy. “Wel, middag.”

      “Ek het totaal verslaap.” Sy kyk na Nicky wat langs sy pa staan en bly opkyk toe hy haar sien. “Hoe voel jy vanoggend?”

      “Livja,” sê Nicky en omhels haar bene.

      Sy voel aan sy voorkop en kyk af na die hamster-gesiggie. “Ek hoop nie jy hardloop rond nie, want eintlik moet jy nog in die bed wees.”

      Hy skud sy koppie heftig en draai terug na die vuur toe, waar hy kole met ’n stokkie rondstoot.

      “Gaan jy uit?” vra Nicolas vir haar.

      “Nee.”

      “Wil jy saam met ons braaivleis eet?”

      “Ja dankie.”

      “Ons het alles klaargemaak,” lig Emma haar in. “Slaai en aartappels en broodjies.”

      “Julle is baie slim.” Sy gaan sit in ’n tuinstoel en Nicky, wat moeg is vir die vuur, kom klim op haar skoot. Sy kyk oor sy kop na Nicolas. “Ons het gisteraand op die bank aan die slaap geraak.”

      “Ek het so gesien, ja.”

      “Maar ek het in my eie bed wakker geword.”

      “Dis reg.” Hy begin die vleis op die rooster pak.

      “Hoe het ek daar gekom?” vra sy streng.

      “Ek het jou soontoe gedra.”

      “Gedra?” herhaal sy oorstelp.

      “Dis reg.”

      Sy staar na hom. “Dis nie deel van jou pligte nie.”

      Hy lyk geamuseerd. “Ek het nie geweet ’n werkgewer het ook pligte nie.” Hy vang haar oog en vervolg haastig: “Nie dat dit ter sake is nie, natuurlik. Jy doen veel meer as wat amptelik jou pligte is.”

      “Dis so,” erken sy.

      “Om die waarheid te sê, verbaas ek my elke dag oor hoe goed jy met die kinders is. Vir iemand wat geen ondervinding van kinders het nie, is dit verstommend.”

      Sy antwoord nie, leun net oor en haal ’n stuk rou wortel uit die slaaibak en begin dit eet.

      Hy sit die rooster oor die kole, bekyk dit ’n oomblik lank en kom sit langs haar. “Vertel my van jouself,” sê hy en skink vir hulle koeldrank.

      “Daar’s niks om te vertel nie. Ek het vantevore op ’n wildplaas gewerk.”

      “Jy kan dus ’n witrenoster van ’n swartrenoster onderskei,” gee hy toe. “Wat nog? Wat het jy voor dit gedoen?”

      “Studeer.”

      Hy bekyk haar krities en wil net verder praat toe Emma opkyk. Sy is besig met een van haar poppe, tans die gunsteling, ’n babapop met ’n slap lyf. Om haar lê kombersies en ’n bababedjie en sy is besig om die pop aan die slaap te sus.

      “Pappa,” sê sy. “Hoekom kry jy nie vir ons ’n regte baba nie? Een nes tannie Linda s’n. Een wat kan huil en alles.”

      “Moenie vir my vra nie,” sê hy beslis. “Pa’s kry nie babas nie.”

      Emma wend haar tot Olivia. “Sal jy vir ons een kry, Olivia?”

      Olivia lag. “Dit kan nie, liefie. Waar sal ek nou een vandaan kry?”

      Emma kyk na haar asof sy dom is. “Jy groei een in jou maag. Tannie Linda was baie vet.” Sy maak ’n wye boog voor haar eie maag. “En toe ons vra wat daarbinne is, het sy gesê dis ’n baba wat daar groei. Sy het ons laat voel.”

      “Is dit so?” vra Olivia belangstellend.

      Emma knik. “En hy was daar binne-in. Ek het hom voel skop.”

      “Dis wonderlik.”

      “Nou ja,” sê Emma redelik. “Hoekom laat jy nie ook een in jou maag groei nie?” Sy kyk na haar pa. “Kan Olivia ’n baba kry?”

      “O