Sabina's. Nadia de Wet

Читать онлайн.
Название Sabina's
Автор произведения Nadia de Wet
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624052098



Скачать книгу

gaste begin hande klap en hier en daar fluit iemand geesdriftig terwyl die twee musikante hul plekke op die verhogie inneem. Jacques, die hoofsanger, is ’n maer jong man met ’n swart langmou T-hemp aan en ’n breërandhoed op. Hy tel sy kitaar op wat langs ’n stoel staan en glimlag skamerig vir die gehoor.

      Dan kyk hy na Francois, wat besig is om sy baskitaar in te stel, sy kop skeef gedraai soos hy luister na die klanke. Jacques tel sag af, en hulle begin gelyktydig speel. Toe hy die eerste reëls sing, daal ’n stilte oor die vertrek neer. Die atmosfeer is gelaai; dit voel asof almal hul asem ophou.

      Jacques se hoed gooi skaduwees oor sy gesig. Die woorde word so weemoedig gesing dat dit voel asof die winterwind ongemerk onder die voordeur ingewaai het en die vertrek skielik yskoud gemaak het:

      Sy lyk soos ’n prentjie in haar BMW

      Maar sy ry en gaan sit alleen langs die see

      Sy staar na die skepe wat wegraak uit die baai

      Net nog ’n vrou wat wag

      vir die winterwind om op te hou waai …

      Lexi neem ’n groot sluk wyn en wonder oor die vrou in die liedjie. Sy wens Jacques wil sê wie die liedjie geskryf het, maar dis duidelik dat hy nie gaan praat nie, hy gaan net sing.

      Ná die eerste liedjie val hulle dadelik weg met die volgende een:

      Ek en jy was al oral rond

      En ons weet

      Ware liefde is ’n mite …

      Wie is só sinies? dink Lexi. Ná Eric voel sy ook nie meer heeltemal entoesiasties oor die liefde nie, maar sy beskou dit darem nog nie as ’n mite nie. Dís dalk haar probleem: sy het te veel hoop oor.

      Skielik is dit vir haar baie belangrik om te weet of Liam hierdie twee liedjies geskryf het. Sy kan nie vir Pierrie vra nie, netnou raak hy nuuskierig. Sy sal ná die vertoning ’n CD koop en kyk wie die lirieke geskryf het, besluit sy.

      Die pouse breek aan en daar heers ’n stilte voordat die gaste begin praat. Swerwer het almal, Lexi ingesluit, betower met hul musiek.

      “Ek het jou mos gesê hulle is nice,” sê Pierrie en skink vir hulle elkeen nog wyn. “Nog ’n bottel?”

      “Ja, wat,” sê Lexi. Dis darem stapafstand huis toe, sy hoef nie te bestuur nie.

      Die kelners dra borde stomende skaapvleisbredie en pampoenkoekies uit. Lexi dink sy gaan haar bord kos in drie happe opeet – die skaapvleis is murgsag en die pampoenkoekies is presies soos sy daarvan hou, nie te loperig nie en ook nie te soet nie.

      “Hallo, Lexi.”

      Dis Liam se donker stem. Sy sluk die hap pampoenkoekie wat sy pas geneem het heel in. Dis so warm dat haar oë traan.

      “Haai,” sê sy eindelik, tel haar glas op en neem ’n groot sluk wyn.

      “Hou jy van die musiek?”

      Hy trek sy regterhand vinnig deur sy lang krulkuif, ’n oorrompelende, sexy gebaar. Lexi kyk vir ’n sekonde te lank na sy hare voordat sy terugkyk na hom.

      “Ja, regtig baie. Is daar CD’s te koop? Ek wil graag weer daarna luister.” Haar stem klink vir haar vreemd.

      “Ek weet nie of hulle saamgebring het nie. Ek het niks gesien nie.”

      Hy voel in sy baadjiesak en bring ’n kitaartjie uit draad gevou te voorskyn. Hy hou dit na Lexi uit. “Jy kan hierdie solank as ’n troosprys kry,” sê hy en glimlag.

      Sy vat die kitaartjie by hom en kyk verwonderd daarna voordat sy ’n heserige “dankie” uitkry. ’n Mens sou sweer die man het so pas ’n diamantring in haar hand gedruk!

      Pierrie verlig die spanning. “Ai, maar dis te cute!” sê hy. “Waar kry jy dit? Self gemaak?”

      Liam bly glimlag en bly vir Lexi kyk. “Ja.”

      Dan verdwyn sy glimlag en sy sien ’n vlietende uitdrukking in sy oë wat haar hart ’n slag laat oorslaan. Dis ’n herkenning van iets wat gedeel word, iets net tussen hulle twee. Sy bly stil, en vir ’n wonder sê Pierrie oorkant haar ook niks.

      “Die show gaan weer begin,” sê Liam. “Geniet dit. Dis lekker om jou hier te hê, Lexi.”

      Hy knik sy kop vir haar, glimlag vir Pierrie en stap terug na die tafel waar Brenda reeds wag.

      “Well, slap me silly and call me Susan!” sê Pierrie met groot oë. “Wat was dít? Al daai sparks!” Hy glimlag sy duiwelglimlaggie wat sy oë laat toetrek en versit op sy stoel van lekkerkry.

      “Jy verbeel jou.”

      Lexi vat vervaard ’n sluk wyn en draai haar stoel om Swerwer beter te kan sien, maar sy loer eers vinnig na Liam se kant toe. Hy sit met sy rug half na haar gekeer, sy blik stip op die verhoog.

      6

      Die teetuin in Rivonia, met hoë jakarandas en eikebome, is ’n oase in die bedrywige Johannesburg. Voëls kwetter in die takke en ’n entjie weg loop ’n hadida met blouswart vere wat skitter in die sonlig op die grasperk rond en pik met sy lang snawel na goggas. Die jakarandaboom se takke steek helder teen die skerp blou lug af. Op hierdie Hoëveldse winteroggend is daar nie veel besoedeling nie, die lug voel vars en skoon.

      “Lexi, Lexi,” sê Kurt Morar en neem ’n slukkie koffie. Dis nege-uur op ’n weeksoggend en sy en Kurt is die enigste kliënte.

      Sy selfoon lui en met ’n halwe knikkie as verskoning na haar kant toe, blaf hy: “Morar!” Hy kyk in die lug in, soos een wat nou diep gaan dink en nie gesteur wil word nie.

      Lexi hou hom van agter haar sonbril dop terwyl hy praat. “Ja-nee, definitief,” sê hy terwyl hy sy kop knik. “O, vir seker, vir seker,” paai hy en kyk dan vir Lexi. Hy rol sy oë, slaan sy Robert Cavalli-sonbril van sy kaalgeskeerde kop af tot oor sy oë en kyk weer hemelwaarts.

      Lexi voel hoe haar mond op ’n geïrriteerde plooi saamtrek. Sy ruik Kurt se naskeermiddel tot waar sy sit. Vanoggend het hy ’n swart pak klere en ’n pienk das aan. Sy kan nie sy arms sien nie, maar sy weet hulle is fris, want hy gim elke dag twee keer, über-jappie wat hy is.

      Lexi weet dit alles, want sy het laas jaar vir ’n volle maand saans saam met hom gegim. Hy het gereken sy moet ’n bietjie definisie kry; haar maer lyf was seker vir hom te oninteressant. Toe moes sy al geweet het dat lywe ’n belangrike deel van die Thinking Hat-styl gaan wees, verstand is nie genoeg nie. Dit was tydens so ’n gimsessie dat sy Kurt se Sanskrit-tatoeëermerk gesien het. Toe was sy nog semi-beïndruk; vandag weet sy hy het dit laat doen sodat mense moet dink hy het ’n spirituele kant.

      Lexi hou nie van jappies nie. Sy dink hulle is almal etiketbehepte, oppervlakkige hedoniste – soos Kurt wat net Calvin Klein-onderklere dra, teen tweehonderd rand stuk (sy weet, want sy moes laas jaar vir hom ’n klomp by die Doebai-lughawe se Duty Free koop).

      Sy kan nie onthou dat Kurt altyd so was nie. Hulle ken mekaar al vyf jaar, vier daarvan het hulle saam by die bank gewerk. In daardie dae het hy ’n gewone kar gery en het hy nog nie sy kop geskeer nie. Nou ry hy ’n swart Audi TT met ’n nommerplaat wat Kurt GP sê. Sedert hy as ’n onafhanklike besigheidsanalis werk, doen hy baie goed, maar kyk wat het al daardie geld met hom gemaak, dink sy suur.

      Haar selfoon piep op die tafel voor haar – dis ’n SMS van ’n eiendomsagentskap wat haar inlig van ’n wonderlike winskopie iewers aan die Wes-Rand. Sy vee die boodskap uit sonder om verder te lees. Waar kry dié mense my nommer? wonder sy vererg.

      Uiteindelik beëindig Kurt die oproep en tik iets op sy selfoon in.

      “So ja, nou kan ons gesels,” sê hy, klap die foon toe en skuif sy sonbril op. “Wat is dit wat jou pla?”

      “Kurt, ek stem glad nie met klousule 12 saam nie. Jy het die geld om my en Daan uit te werk en daardie klousule gaan jou al die mag gee wat jy wil hê.”

      Kurt