Название | Sabina's |
---|---|
Автор произведения | Nadia de Wet |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624052098 |
Hy kyk rond en beduie met sy kop na die melktert. “Waar kan ek dié neersit?”
“Kom ons sit sommer in die kombuis. Dis lekker warm daar, die koolstoof is al die hele dag aan.”
Terwyl sy die perkoleerder aanskakel en koppies uithaal, stap Pierrie terug na die ingangsportaal.
“Jy het divine skilderye, nè!” roep hy en Lexi volg hom na die sitkamer.
“Dis nie myne nie, dis Christine s’n. My ma se suster.”
“Jy het nou die oggend gesê jy kom terug om te bly. Gaan jy hier intrek?”
Lexi glimlag net.
“O, ek sien! Jy het net die heks se siel versondig,” sê Pierrie.
“Nee, ek gaan inderdaad hier kom bly. Ons gaan ’n gastehuis begin – ek en Christine.”
Pierrie se oë glinster. “Nooit! Dis great. Ek sal eerder by jou kom werk voordat ek by die heks bly. As dit nie vir Liam was nie …”
“Hokaai! Ek kan mysélf skaars aan die lewe hou!”
Moenie sulke goed sê nie, betig Lexi haarself. Dis nou tyd vir positiewe denke en woorde. Sy moet eenvoudig sorg dat sy haar kapitaalbelegging van Thinking Hat terugkry.
Hulle loop terug kombuis toe en Pierrie gaan sit by die tafel. Terwyl sy die koffie skink, draai hy haar boek om sodat hy die titel kan lees.
“Jislaaik, maar jy’s diep, nè! Ek het die DVD gesien. Daniel Day-Lewis is to die for.”
“Hy’s bietjie maer,” sê Lexi en sit ’n beker voor hom neer. “So, vertel my van die dorp.”
Sy kry twee koekbordjies uit die blou kas bo die wasbak en sny vir hulle elkeen ’n behoorlike stuk van die warm melktert. “Ek het ’n vermoede dat as daar iemand is wat álles van die dorp sal weet, is dit jy.”
“Nie regtig nie, hoor,” sê Pierrie. “Ek is ook maar net passing through – ek het twee weke gelede eers hier aangekom. Ek werk net by die heks totdat ek genoeg geld het vir ’n buskaartjie Jo’burg toe.”
“Wat gaan jy in Johannesburg doen?”
“Weet nog nie. Ek het baie ondervinding van guest houses. Sal seker weer iewers regkom.”
“Vertel my van Liam,” vra Lexi so nonchalant as wat sy kan. Sy wil nie té nuuskierig klink nie.
“ ’n Dark horse, as jy my vra.” Hy vat nog ’n hap melktert en vee die laaste bietjie met sy teelepel uit die bordjie op.
“Hoekom sê jy so?”
“Want ’n mens weet niks van hom nie, my darling. Behalwe,” hy leun eers oor om nog ’n sny melktert te vat, “dat hy songs skryf vir baie gewilde ouens. Ouens soos Wikus de Wet en daai band wat Vrydagaand by Die Ateljee sing: Swerwer.”
“Die feit dat jy nie veel van hom weet nie, beteken nie hy’s ’n dark horse nie, Pierrie.”
“Is seker so. Maar hy hou hom maar eenkant. Kom kuier so drie keer ’n week by die heks, bly tot laat – as hy ooit huis toe gaan.”
Lexi voel ’n belaglike stekie jaloesie in haar hart. Miskien is ek jaloers op hulle situasie, verweer sy haar. Twee mense wat op ’n mooi plek liefde gevind het.
“Bly hy op die dorp?” vra sy.
“Ja, sy huis is onder naby die rivier. Kom jy Vrydagaand Ateljee toe?” vra Pierre en neem nog ’n groot hap melktert.
“Ek dag julle is vol.”
“As Swerwer sing, dra die heks ekstra stoele en tafels in. Ek het een vir ons gegryp.”
“Ek wil graag, maar Brenda is nie baie …” Lexi kan nie ’n gepaste woord kry nie.
Pierrie knik. “Nie baie welcoming nie. Moenie daaroor stres nie, sy is so behep met die musikante op Vrydagaande dat sy jou nie eens sal raaksien nie. Of nee wag, dit sal moeilik wees. Jy is soveel mooier as sy, sy sal jou definitief as kompetisie sien.”
Lexi lag verleë, maar Pierrie vryf sy hande met groot gebaar teen mekaar. “It’s showtime! Dis tyd dat sy ’n bietjie kompetisie kry.”
“Jy’s laf. Ek is nie van plan om met enigiemand te kompeteer nie,” sê sy beslis.
Dis die waarheid; sy het genoeg probleme soos dit is.
5
Toe Lexi Vrydagaand net na sewe by Die Ateljee instap, sien sy Pierrie dadelik raak. Hy wuif en kom na haar aangestap.
“Haai,” sê hy en gee haar ’n drukkie. “Kom ek wys jou waar ons gaan sit.”
Hy neem haar na ’n klein tafel heel agter in die vertrek.
“Ek is nou hier, dan kan ons ontspan,” sê hy en vat Lexi se jas by haar. “Ek help net gou vir Brenda inskep.”
Sy kyk om haar rond. ’n Vuur brand in die kaggel. Die plek is volgepak en elke keer as ’n kelner die swaaideur tussen die kombuis en woonvertrek oopmaak, waai die heerlike geur van skaapvleis saam.
Ná omtrent vyftien minute kom sit Pierrie by haar.
“Hoeveel mense dink jy is hier?” vra Lexi.
“Ons kan sestig mense seat, twee-en-sewentig met die ekstra stoele. Maar Brenda druk gewoonlik op die laaste nippertjie nóg mense in. Swerwer is baie gewild.”
“Hulle kan nie vreeslik geld maak as hier net tagtig mense is nie.”
“Dit betaal darem die petrol en kos vir ’n week,” sê Pierrie en maak die wynlys oop wat die kelner so pas voor hulle neergesit het. “Rooi of wit?”
“Enige shiraz as julle het, dankie.”
Hy wink ’n kelner nader en terwyl hy die bestelling plaas, kyk Lexi na die mense om hulle. Sy ken natuurlik niemand nie. “Is dit mense van Kaapstad af of dorpenaars wat hierheen kom?”
“Maar meesal mense van die dorp. Mind you, daar is heelwat jappies van die Kaap wat huise op die dorp besit en kom uitspan vir die naweek. Baie huise staan gedurende die week leeg.”
Dan sien sy vir Liam raak. Hy sit voor, naby die verhogie, met Brenda langs hom. Dié het ’n dieppers bloes en donkergroen fluweelromp aan. In haar reguit blonde hare pryk ’n diepgroen band met ’n groot rooi fluweelroos op. As sy nie so mooi was nie, sou sy soos ’n Kersboom gelyk het, dink Lexi. Nou lyk sy soos ’n gekoesterde eksotiese voëltjie, een wat bedags vry in die woud rondvlieg, maar saans na die goue koutjie terugkeer.
Pierrie volg haar blik. “Al dra ’n aap ’n goue ring …” sê hy en rol sy oë.
Hy leun effens vooroor, sodat Lexi nie meer vir Brenda kan sien nie. “Ek het jou mos gesê Liam skryf vir Swerwer ook songs, nè? Nice goed. Ek dink hy moet self sing, hy het ’n wonderlike stem.”
Lexi hoor Liam se diep, rokerige stem in haar kop en knik instemmend.
“Kan jy jou voorstel watse hit hy sal wees met daai stem en daai looks?” sê Pierrie. “Maar hy weier om voor enigeen te sing, selfs nie voor –”
Voordat hy sy sin kan voltooi, gaan Brenda op die verhoog staan en tik teen die mikrofoon. Sy wag vir ’n oomblik dat almal stilbly en begin dan met die verwelkoming. Die ligte verdoof geleidelik en die kelners loop nog ’n laaste vinnige draai deur die vertrek en maak seker dat al die kerse aangesteek is en die glase vol is.
“Soos altyd is dit heerlik om Jacques en Francois, oftewel Swerwer, weer hier te hê, al die pad van die Karoo af,” sê Brenda. “Ons is geëerd dat julle so gereeld so ver hierheen ry. En te oordeel na die tempo waarteen die kaartjies vir die vertoning gevlieg het, is dit duidelik dat julle nóg meer gereeld hierheen