Victoriavalle van liefde. Lizet Engelbrecht

Читать онлайн.
Название Victoriavalle van liefde
Автор произведения Lizet Engelbrecht
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624051749



Скачать книгу

uit haar dupleks in Gordonsbaai kan sy byna onmiddellik ruik wanneer die berg brand. Sy haat die reuk van brand. Net die gedagte daaraan laat trek haar maagspiere saam.

      Wel, ongeag wat sy nou ruik of nié ruik nie, sy moet gereed wees, waarsku sy haarself en krap in haar handsak rond. Sy vind haar pa se sakdoek wat hy vanmôre op die lughawe vir haar geleen het en bind die punte agter haar kop vas. Dan skuif sy die sakdoek op tot net haar oë uitsteek.

      “Wat maak jy nou?” vra Deon, en dit lyk kompleet of hy wil uitbars van die lag.

      “Dit sal help vir die ergste rook,” sê sy en begin haar juwele afstroop. “Hoe minder goed ek aanhet wat my kan hinder, hoe beter. Daar’s ’n man daar binne, ek moet hom red,” mompel sy en probeer die rook sien. Maar hulle moet nou reg onder die rookwolk wees, want sy kan dit nie meer sien nie.

      “Hoe ver nog?” vra sy.

      “Waarheen?”

      “Waarheen dink jy? Kan jy nie die …” sê sy vererg, maar die geamuseerde glimlag om sy mond laat haar verward stilbly. Wat is dit met die man? Miskien is hy ’n psigopaat wat ’n sadistiese vreugde daaruit put om ander te sien doodbrand …

      Net na die volgende kronkel lê die hotel voor hulle, skaars honderd en vyftig meter weg, en hy verminder spoed. So moedswillig, dink sy. Dit voel asof hulle nooit by die hotel gaan uitkom nie. Nie betyds nie, in elk geval.

      Sy druk haar kop teen die voorste ruit en kyk in die lug op. Vreemd, sy sien nie die grysswart doodskleur wat normaalweg soos ’n kombers in die lug hang tydens ’n brand nie. En moes die reuk haar nie al oorweldig het nie?

      Dit kan net een van twee dinge beteken: óf sy’s te laat en die vuur het reeds uitgebrand óf sy is betyds en die vlamme het nog nie versprei nie. Sy het ’n belofte gemaak – sy moet die Fransman ontmoet, al beteken dit dat sy hom vandag uit die vuur moet sleep.

      Sy kyk na die spoedmeter: twintig kilometer per uur. Die man is mal om so stadig te ry, of wil hy haar senuwees uitmergel? Sy gaan dit nie maak nie, nes in haar nagmerrie. Sy móét iets doen!

      “Is jy aspris of is jy besig om te parkeer? Want die vet weet, jy’s nie besig om te ry nie!”

      “Die spoedgrens is twintig kilometer per uur.”

      “Nonsens, man,” sis sy en ruk die deur oop.

      “Hi, wat vang jy aan?” hoor sy Deon se uitroep. Maar dis te laat, sy is reeds aan die uitspring.

      Die motor ry ietwat vinniger as wat sy verwag het, besef sy die oomblik wat haar voete die teerpad raak. Sy sukkel om haar balans te hou en rek haar treë al groter, maar haar voete kan nie byhou nie. Vervaard gryp sy weer na die motordeur. In ’n vlugtige oomblik sien sy die drywer se geskokte uitdrukking, hoe sy wenkbroue saamtrek, hoe hy die stuurwiel los en oor die sitplek na haar gryp.

      Hy is selfs meer aantreklik wanneer hy ontsteld is, is haar laaste gedagte voor haar voete nie meer kan byhou nie en sy deur die lug trek. Asof in ’n droom sien sy hoe die drywer vloek en rem. Sy sien hoe die hotel se deur oopgaan en ’n portier uitstap, en voor sy die teerpad tref, wonder sy nog hoekom die portier by die deur uitstap as die hotel besig is om af te brand.

      Dan tref sy die teerpad. Sy hoor hoe haar liggaam snak en sy voel hoe die wind letterlik uit haar longe gepers word. Sy baklei vir lug, net soos in haar droom. Sy wil asemhaal, maar sy kan nie. Dis asof sy dit nie regkry om in te asem nie, asof daar ’n onsigbare hand is wat stadig maar seker die suurstof uit haar pers.

      Sy rol om en staar na die rookwolk wat nou reg bokant haar hang. Deur die vlokkies wat besig is om haar te oorweldig, staar sy hulpeloos na die digte gryswit wolk. Die wolkbank is dikker as ’n misstorm op die bergpas na Kaappunt, en vaagweg hoor sy iets dreun. Maar die groot ronde klos rook suig die lewe uit haar uit.

      Sy baklei teen die vlokkies wat haar wil-wil verswelg. Sy moet opstaan, nader gaan. Sy gaan nie betyds wees nie, sy gaan nie haar ander helfte kan red nie en sy het Sandra belowe!

      3

      “Rex, middag,” antwoord hy die internasionale oproep wat sy ontvangsdame na hom deurgesit het.

      Noudat hy bevestig het dat Emesia veilig geland en saam met sy broer op pad is hierheen, kan hy aan dringender sake aandag gee. Hy brand al heeldag om met hierdie sakeman te praat, maar hy moes hom noodgedwonge aan ’n lyntjie hou tot hy seker was dat Emesia hier is.

      “Hallo, Rex, my naam is Ettienne le Roux. Ek is deur Shain, jou makelaar, na jou verwys. Hy het my jou kontaknommer gegee, ek hoop nie jy gee om nie.”

      “Glad nie, Ettienne. Waarmee kan ek help?” vra Rex en besluit om nie vir Ettienne te noem dat hy die oproep te wagte was nie.

      “Ek skakel in verband met die hotel wat jy moontlik wil verkoop.”

      “O ja, Shain het nou die dag so iets genoem. Ek’s bly jy het my gebel.” Rex probeer sy opgewondenheid beteuel. “Stel jy belang?”

      “Ja, ek is ’n geruime tyd reeds op die uitkyk na nuwe besighede – ek is geïnteresseerd daarin om my bestaande toerismebesigheid uit te brei na Afrika. Volgens wat Shain my vertel het en wat op julle webwerf gewys word, kan hierdie hotel dalk net wees waarna ek soek.”

      “Dit klink goed. Wat kan ek doen om jou te oortuig dat hierdie ’n besondere besigheid en ’n uitstekende belegging sal wees?”

      “Niks, ek het reeds deur al die beskikbare syfers gewerk.”

      “En?”

      “Ek stel belang. Ek wil volgende week die hotel besoek. Sal volgende week geskik wees?”

      “So vinnig?”

      “Wel, ek het van Shain verstaan dat jy haastig is om te verkoop en terug te keer na Frankryk, maar sê gerus as ek verkeerd is.”

      “Nee, nee, jy’s glad nie verkeerd nie. Ek wil so spoedig as moontlik dinge hier afhandel.”

      “Nou dan staan daar mos niks in ons pad nie. Ek ken ’n goeie besigheid wanneer ek een sien, en jy is haastig om te verkoop.”

      “Dankie, en glo my, hierdie is definitief ’n florerende besigheid. Met al die probleme in Zimbabwe is die toerismebedryf in Zambië besig om te ontplof. Jy sal nie ’n fout maak nie.”

      “Ek weet. Zambië se ekonomie het die laaste paar jaar versterk en die kwacha verstewig konstant teen die dollar. Ek is opgewonde om my belange daarheen uit te brei. Jou ander vennote, kan ek aanvaar dat hulle ook wil verkoop?”

      Rex se glimlag vries. Sy enigste kans om sy vennoot te oortuig om te verkoop, is om die koper hier by die hotel te kry.

      “Julle is mos twee of drie vennote, dan nie?” vervolg Ettienne.

      “Twee. Ons is net twee vennote.”

      “Hoekom wil julle verkoop?”

      “Ek is moeg vir Afrika, my ma se familie is van Frankryk. Ek wil daar ’n besigheid begin – closer to home, jy verstaan?”

      “Natuurlik. Jou vennoot, voel hy dieselfde?”

      “Definitief.”

      “So hy wil ook verkoop?” dring Ettienne aan op ’n reguit antwoord.

      Rex swets onderlangs en sê: “Hy byt-byt nog aan die idee om te verkoop, maar ek sal hom oortuig indien julle ernstig is. Hy sal nie ’n probleem wees nie.”

      “Is jy seker? Ek sal nie daarvan hou om halfpad om die aarde te vlieg net om uit te vind die een vennoot wil geensins verkoop nie. Miskien moet ek eers met hom ook gesels.”

      “Néé,” sê Rex vinnig en te hard. Met ’n meer beheerste stemtoon herhaal hy: “Nee, dis nie nodig dat jy met hom gesels nie. Ek is ook ’n besigheidsman en ek sal nie jou tyd mors nie. Boeta sal verkoop.”

      “Goed, solank ons mekaar verstaan.”

      “Natuurlik. Ek sal graag die hotel aan jou wil wys,