Название | Victoriavalle van liefde |
---|---|
Автор произведения | Lizet Engelbrecht |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624051749 |
Adrenalien ruk deur haar. Sy het sowaar nie een keer die kamera se knoppie gedruk nie! Sy spring regsom om die laaste twee kleiner bulle deur die drywer se venster af te neem voor hulle ook saam met die trop verdwyn. Hulle is spelerig en stamp-stamp teen mekaar.
Sy moet hulle kry! Opgewonde en oorangstig spring sy letterlik van die een kant van haar sitplek na die ander kant om die jong bulle in fokus te kry. Sy leun vorentoe, agtertoe en weer vorentoe. Sy het hulle in fokus. Pragtig! Net ’n bietjie meer regs en verder weg.
Opgewonde swaai sy in die rondte. Haar kamera tref iets met ’n slag. Iemand swets. Die impak ruk die kamera uit haar hande en sy gryp verward daarna.
Dan kyk sy vas in Deon se ontstoke gesig.
“Ek’s jammer, ek … verskoon my, ek is jammer,” stotter sy en sien hoe hy sy neus vashou terwyl bloed tussen sy vingers deursyfer.
Hy ruk ’n sakdoek uit sy broeksak en plaas dit oor sy neus.
“Ek’s regtig jammer, hoor. Laat ek –”
“Los, ek’s reg.”
“Jy is nie, ek het jou neus afgeslaan. Laat ek sien.”
“Ek is reg! Maak jou vas,” sê hy en skakel die voertuig aan.
Die Pajero skiet met so ’n vaart vorentoe dat sy agtertoe val en die res van haar woorde insluk. Behendig bestuur hy met die een hand terwyl hy sy neus afvee met die ander.
Sy draai haar kamera om en om en probeer vasstel wat so hard is dat dit sy vel stukkend gemaak het. Die impak was hard en onverwags, dit besef sy. Sy sug. Sy kan hom help, sy het al die nodige goed in haar mediese tas, maar néé, hy’s mos hardegat.
Sy hou hom uit die hoek van haar oog dop. Sy neus lyk of dit nou minder bloei, maar sy lippe is nog op ’n ferm lyn getrek. Sy wens die man wil haar slegsê of net ’n opmerking maak. Sy kan sien hy brand om dit te doen. As hy haar slegsê, kan sy weer om verskoning vra, maar nou bly hy net stil.
Ná ’n minuut of twee dwing sy haarself om te kalmeer en die insident uit haar gedagtes te weer. Sy trek haar moue op. Dit was ’n ongeluk. Vandat sy vroegmôre opgestaan het, loop alles nog net verkeerd. Sy is heeltemal oorspanne, en sy wou maar net ’n foto neem.
Sy kyk by die venster uit en probeer haar aandag op die natuur om haar vestig. Sy kan skaars glo dat sy nou net so naby aan ’n trop olifante was. Sy skuif weer aan haar moue. Die oomblik wat sy by die hotel kom, gaan sy onmiddellik stort en verklee, sy vrek van die hitte.
Dan ruk haar hart en sy slaan haar hand oor haar mond. Dis onmoontlik! Dis nié besig om te gebeur nie, sy is weer besig om spoke op te jaag.
Sy buig vooroor om beter te sien wat in die lug aangaan. Dit was net ’n aaklige nagmerrie wat sy verlede nag gehad het, dis al wat dit was – ’n nagmerrie. Sy sluit haar oë. ’n Rilling hardloop oor haar ruggraat.
Haar nagmerrie is meteens so werklik: Sy’s uitasem en sukkel om suurstof in haar longe op te trek. Sy hardloop. Sy stoei in haar slaap, want sy kry al haar beddegoed op die mat. In haar droom is sy stokflou, haar longe brand, maar sy hou aan met hardloop. Sy hardloop bergop en bergaf op soek. Op soek na haar beloofde ander helfte.
In haar nagmerrie bereik sy doodmoeg en bewerig die Rhodes Inn. Sy kyk op, vol hoop om haar enigste te sien. Maar al wat sy sien, is rook. Rook en rook. Sy stik, sy kry nie asem nie. Die hotel is in ligte laaie en haar beloofde is daar binne. Sandra roep op die agtergrond: “Belowe my, belowe my!”
Sy wil nader hardloop, maar haar bene weier. Sy probeer haar een been voor die ander sit, maar hulle is te swaar – loodswaar. Sy steek haar hand uit om die vuur te keer. Dit help niks. Alles – die hotel, haar beloofde en Sandra – veras voor haar oë.
Ná die eerste nagmerrie het sy ’n glas water gedrink, teruggeklim in die bed en onmiddellik aan die slaap geraak. Net om weer te sien hoe die man met wie sy die res van haar lewe gelukkig moes saamleef deur vlamme verswelg word. Sy gil, skreeu, vloek, maar niks help nie. Die hotel en almal daarbinne vat vlam en brand tot daar net ’n hopie as op die grond lê.
Sy was so ontsteld toe sy presies dieselfde snert vir die derde keer droom dat sy geweier het om weer te slaap. Dit was drieuur vanoggend. Sy het gaan stort, koffie gemaak en toe haar roman nader getrek.
Maar nou … Sy kyk in die lug op – daar is ’n rookwolk!
Nou is daar nie uitkomkans nie! Daardie magtelose gevoel van haar droom oorweldig haar. Haar knieë raak lam, haar hartklop verdubbel en sy steek haar hand uit. “Nee, nee,” prewel sy terwyl ’n rilling haar skouers laat skud.
“Ekskuus? Is jy naar?” dring Deon se stem tot haar deur.
“Daardie … daardie rookwolk, waar kom dit vandaan?” vra sy, maar wil nie sy antwoord hoor nie.
“Van die hotel af.”
“Néé, néé.” Sy voel desperaat. “Ry, man, ry!”
“Ek ry mos! Jy lyk bleek, voel jy siek? Ek gaan stilhou.”
“Nee! Maak net gou, ons kan die hotel nog red. Ek het nie al die pad van Kaapstad af na Zambië gevlieg om te sien hoe die hotel afbrand en my toekoms vernietig word nie! En dit terwyl ek vooraf geweet het so iets gaan gebeur. Ek het dit sien kom!”
“Wat het jy sien kom?”
“Die brand, man, is jy blind? Ek het verlede nag daarvan gedroom, maar ons kan dit stop. Ek sal nie toekyk hoe my toekoms voor my oë verwoes word nie.”
“Jou toekoms?”
“Maak gou, asseblief tog, maak net gou! Ons moet die brand keer.”
“Watse brand?”
’n Oomblik stol haar histerie. Iets voel nie reg nie. Hoe kan sy die brand so duidelik sien, maar die drywer sien kwansuis niks? Tog het hy nou net gesê die rookwolk kom van die hotel af.
Onseker loer sy deur haar venster in die lug op. “Daar! Die rookwolk, kan jy dit nie sien nie? Dis so groot soos ’n rugbyveld. Ag, aardetjie, ons gaan dit nie maak nie.” Sy slaan haar hande inmekaar.
“Daardie rook is nie as gevolg van –”
“Hou op met ginnegaap en trap die petrol! Kan jy nie sien dat ons hulle moet red nie? Brandblussers? Waar sal ek die hotel se brandblussers kry? Ag, hemel, jy’s seker die laaste mens wat sal weet.”
Sy wens sy kon uitspring en hardloop.
Sonder om haar te antwoord begin Deon vinniger ry. Die motor skiet vorentoe. Dan het hy darem ook nou die rook gesien, dink sy verlig.
“Demmit,” swets hy toe hy uitswaai vir ’n gat in die pad, maar deur die volgende een jaag. Die motor stamp hard en sy wip in die lug op.
Sy sit op die punt van haar sitplek en slaan haar vingers in die voorste paneel terwyl sy sien hoe die rookwolk nader kom. Sy wil haar naels kou, maar pleks daarvan klou sy net stywer aan die paneel voor haar vas.
“Pasop!” roep sy uit, maar dis te laat. Hulle is met die linkerwiel deur ’n gat so groot soos ’n krater.
Iemand toet onophoudelik.
Dis Deon, besef sy. Hy ry stadiger en toet dat ’n hek aan haar regterkant oopgeskuif moet word. Asof in stadige aksie sien sy die enorme naambord in die vorm van ’n olifant met die woorde Rhodes Inn daarop uitgekerf. ’n Hekwag in kakie geklee kom uit ’n hut met ’n boek onder sy arm en skuif die hek oop.
“Daar’s nie tyd vir inteken nie, ek sal terugkom,” sê sy en skuif nog vorentoe op haar sitplek.
Deon klap sy tong en skud sy kop, maar sonder om tyd te mors is hulle deur die hek en in ’n kronkelpad af. Nog ’n draai en nog ’n kronkel in die pad.