Victoriavalle van liefde. Lizet Engelbrecht

Читать онлайн.
Название Victoriavalle van liefde
Автор произведения Lizet Engelbrecht
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624051749



Скачать книгу

hierheen op pad is nie.

      Nog beset. Hy druk die foon dood. Swets nogmaals, trek ’n vuurhoutjie uit die dosie langs hom en kou aan die vuurhoutjiekop – hy hou van die swaelsmaak. Dit herinner hom elke keer daaraan dat hy op ’n plek is waar hy nie wil wees nie.

      Sy broer is op die lughawe, maar dié is so kort van draad omdat Amanda besluit het sy sien nie langer kans vir ’n verhouding met hom nie. Vanmôre toe Amanda bevestig dat haar vlug vanmiddag is, het die broertjie van hom omtrent die stuipe gekry.

      Wel, dink Rex, hy het nou wel vir Amanda ’n hupstootjie gegee om haar ry te kry, maar daar is net geen manier waarop sy plan met Emesia sal werk solank Amanda hier sou rondhang nie. Dit het hom ’n hele paar rand gekos om seker te maak dat sy vandag vertrek, en vanoggend het hy persoonlik haar bagasie in die motor gelaai. Sy broer sal hom nog eendag bedank; Amanda is nie die vrou vir hom nie.

      Hy druk weer die lughawe se nommer en luister gefrustreerd na die besettoon.

      “Ek moet uit hierdie godverlate plek kom,” mompel hy vererg.

      “Ekskuus, meneer?” vra Ted die kroegman.

      “Lyk dit of ek met jou praat?” vra Rex.

      “Jammer, meneer,” mompel Ted.

      Rex klap sy tong. “Ek dink sommer hardop, man. Moet jou nie aan my steur nie, doen maar net jou werk.” Hy kyk op sy horlosie. “Miskien moes ek self lughawe toe gery het. As Emesia se vlug laat is, sal my broer haar net daar los. Hy sal nie eens vyf minute wag nie.”

      “Nee, meneer, hy sal wag. Hy’s jou pa se kind,” stry Ted terwyl hy die olienhout-kroegtoonbank poleer tot hy homself daarin kan sien.

      Rex ignoreer sy aanmerking. Hy’t belangriker dinge om oor bekommerd te voel as ’n kroegman se siening. Livingstone is géén plek vir ’n welgestelde wit vrou wat nog nooit op haar eie voete gestaan het nie. Dis nie die Zambiërs oor wie hy bekommerd voel nie, hulle is ’n vredeliewende nasie. Dis die Zimbabwiërs wat oor die grenspos stap en dan hier kom droogmaak. Hulle sal haar op ’n afstand raaksien: ryk, wit vrou wat almal jammer kry en vertrou. Hulle sal haar …

      Hy swets, en dié keer is daar ’n paar ekstra woorde by. Miskien moes hy nie die minibus van die hotel gesaboteer het voordat hy seker was dat sy broer haar by die lughawe gekry het en hotel toe bring nie. Hy laat val sy kop in sy hande. Hy ken haar van geen kant af nie, hy gee nie vir haar om nie, maar sy’s ’n belangrike skakel in sy ketting. Sonder haar sal sy plan nooit slaag nie.

      Sy ander belangrike skakel is doeane. Hulle werk mooi saam – teen ’n vergoeding, natuurlik.

      Hy sug. Alle goeie dinge kos geld. Emesia ook, maar hy het haar nodig, dink Rex en trek nogmaals sy selfoon nader.

      Deon lig sy hand; die lem weerkaats in die son.

      “Maak los,” sê hy met ’n gedempte stemtoon.

      Emesia ruk haar asem in. “Vergeet dit, jou maniak! Ek maak vir niemand los nie, mes ofte nie.”

      “Wat?”

      “Jy’t reg gehoor. As jy my knope of broek wil los hê, sal jy my eers moet doodmaak.”

      Haar stem bewe en sy besef haar manhaftige toneelspel is nie oortuigend nie, maar sy moet tyd wen. Sy moet sy aandag aflei sodat sy haar veiligheidsgordel kan losmaak en uitspring. Sy moet genoeg tyd hê om weg te kom. Hy’s groot, lank en lenig. Maar die omgewing is ruig; as sy net ’n voorsprong het, kan sy moontlik tussen die plante verdwyn.

      Sy hou hom dop. Oorgehaal. Sy gesigsuitdrukking wissel by die aanhoor van haar woorde, maar sy kan die verandering nie peil nie. Wanneer haar voete grondvat, sal sy moet nael soos sy nog nooit in haar lewe genael het nie, die bosse in.

      Sy rem aan die gordel, maar haal nie haar oë vir ’n oomblik van die mes af nie. Haar skouersak lê by haar voete, buite bereik. Sy sal alles moet los: geld, paspoort, vliegkaartjie en …

      Klik. Die gordel is los.

      Haar rug is snaarstyf. Het hy die geluid gehoor? Verwag hy dat sy gaan uitspring? Of sal sy hom onkant betrap? Sal sy genoeg tyd hê? Sy oë is uitdrukkingloos en sy liggaamstaal verraai nie sy volgende beweging nie.

      Sy moet uitkom, wegkom. Sy moet hom onverhoeds betrap. Haar hande voel-voel na die deur.

      “Jy bluf jouself,” ruk sy stem deur haar en haar hand stol op die deurknop. “Jy bluf jouself as jy dink ek stel in jou belang. Ek het bedoel maak los jou veiligheidsgordel.”

      Terwyl sy hom verbouereerd aanstaar, buk hy vooroor. Slaan-slaan met die agterkant van die mes se breë hef op die voorste paneel van die motor. ’n Plaatjie kom los en val oop. Versigtig trek hy iets by die agterkant van die mes se hefboom uit.

      Sy staar na die apparaatjie in sy hand. Dit lyk soos ’n baie dik pen, een van daai wat jy vir die snaaksigheid koop om vir iemand op die eerste April te gee. Die mes verdwyn net so vinnig soos wat hy dit te voorskyn gebring het. Dan draai hy na sy oop venster en bring die apparaat soos ’n verkyker of teleskoop tot voor sy oë.

      Sy sit steeds op die punt van haar sitplek met haar vingers op die deurknop. Haar knieë klap teen mekaar, maar die lewe is besig om na haar bene terug te keer.

      Wat is die man besig om te doen? Moet sy sit of uitspring?

      ’n Beweging buite die motor trek haar aandag. Sy kantel haar kop. En vir die tweede keer binne drie of vier minute ruk sy haar asem hoorbaar in. Sy voel hoe verbystering deur haar ruk en hoe adrenalien haar bene lam laat. Sy knyp haar oë toe, maak hulle oop en verwag om te sien dat sy besig is om te hallusineer. Maar nee, ’n trop olifante ís besig om hier vlak voor haar oor die pad te stap.

      “Goeie genade,” kreun sy en kan nie besluit of sy bang of opgewonde moet wees nie. Dan is dít hoekom Deon stilgehou het. Hy is steeds besig met sy apparaat en steur hom duidelik nie aan haar teenwoordigheid nie.

      ’n Jong olifant trompetter so hard dat haar ore toeslaan. Die geluid blaas lewe in haar. Sy buk af, raap haar skouersak op en rits dit oop. Haar oë bly vasgenael op die logge grys liggame wat reg voor haar oor die pad stap. Kamera, kamera, flits dit deur haar brein terwyl haar vingers naarstig tussen paspoort, vliegkaartjie, grimering, geld en nog los goed soek na haar kamera. Hoekom is haar sak so deurmekaar? Sy is so perfeksionisties in haar beroep, maar haar persoonlike goed is altyd ’n deurmekaarspul.

      Eindelik vat sy haar kamera raak, rits die sakkie oop en haal haar Phillips uit. Sonder om asem te haal probeer sy fokus. Die trop is duidelik haastig en stamp-stamp teen mekaar. Deur haar venster val die sonstrale net te sleg om ’n foto te neem. Sy skuif, probeer hulle deur die voorruit afneem. Dié posisie wil nie werk nie, want die ruit is vuil, taai en vol goggas.

      Sy móét hierdie reusediere afneem voor hulle tussen die bome verdwyn, niemand sal haar storie glo nie! Dis ongelooflik. Hulle stap vlak voor haar verby. Só naby, sy kan die hare stokstyf soos spelde op die ou bul se bene sien staan. Sy hoor hoe die bul se mis in die pad plof. Sy verbeel haar sy kan die reuk van herkoude gras en blare ruik. Sy leun regs, skuif vorentoe, maar kry hulle net nie deur haar venster afgeneem nie. Sy is ooropgewonde en sy weet as sy net ’n slag diep asemhaal en weer probeer, sal dit beter gaan, maar sy is te bang sy mis die hele gedoente.

      Sy leun vorentoe. Dis haar enigste kans: sy moet hulle deur die voorruit afneem. Meteens stop die reusebul vierpoot in sy spore – reg voor haar. Hy swaai sy kop stadig heen en weer. Dan draai hy half skuins en kyk reguit vir haar. Sy vries. Sy wil ’n foto neem, sy moet nou ’n foto neem – die oomblik is absoluut perfek – en tog is sy te bang om die knoppie te druk. Sê nou die flits van die kamera krap hom om?

      Sonder om haar blik van die logge liggaam af te haal voel-voel sy na haar deur. Haar hartklop tamboer in haar ore. Hy staar nog na haar; sy skrefiesoë is omring deur dik ooghare. Hy lig sy slurp. Hy gaan storm. Sy het al gelees olifante waarsku jou voor hulle storm!

      Dan rammel die ou grote se maag. Só duidelik, sy kan selfs sy maagsappe hoor skommel. Vir die eerste keer besef sy hoe naby die bul werklik aan hulle voertuig is. As hy storm, sal sy nie tyd hê om te koes nie,