Название | Wilna Adriaanse-omnibus 1 |
---|---|
Автор произведения | Wilna Adriaanse |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624050315 |
En dan gaan die donker blik na die jong meisietjie en hy gee ’n sjarmante buiging, neem haar hand, bring dit tot teen sy lippe en kyk haar bewonderend aan. “Enchanté.”
Jean se wange verkleur dieprooi, maar om haar mond huiwer ’n klein glimlaggie.
“En dit is my vriend Etiénne Druléz,” gaan Georgina voort. “Hy het ’n groot kunswinkel …” sy beduie na die skilderye rondom hulle, “en woon net hierbo.”
“Wanneer het jy gekom?” Sy kan die verbasing in sy oë sien.
“Eergister, maar dit voel soos ’n jaar gelede.” Georgina kan sien dat hy brand om haar uit te vra, maar onder die kinders se blikke hou hy homself in.
“Waarheen is julle op pad?”
“Ons gaan vir Jean ’n rok koop.”
Hy kyk na sy horlosie. “Kan ek saamgaan? Ek sal julle al die nuutste winkels wys, en dan kan ons nog gesels ook.”
Georgina knik laggend en hy roep na die meisie in die kantoor. Toe sy om die deur loer, kondig hy aan dat hy uitgaan. Sy gooi egter haar hande in die lug en kla dat hy eers na die rekenaar moet kom kyk – van die inligting het weggeraak.
Sy hande vlieg ook omhoog en hy sug. “Dit help ook nie ek vra jou of jy iets van rekenaars weet nie, want jy was nog altyd hopeloos met sulke dinge.” Sy blik verskuif moedeloos na André wat hom net stil gadeslaan. “Julle jong mense weet mos alles van dié soort goed af – weet jy nie hoe ’n mens ’n ding kan opspoor wat skielik net weggeraak het nie?” Hy wag nie vir ’n antwoord nie, maar draai net om en stap kantoor toe. Tot Georgina se verbasing stap André huiwerig agterna en verdwyn ook om die deur om ’n paar minute later saam met ’n baie opgewonde Etiénne uit te kom.
“Hy is ’n wonderkind! Gee hom vir my!” Hy sit sy arm om die seun se skouers en glimlag van oor tot oor, terwyl André hard probeer om nie ingenome te lyk nie.
Etiénne hou sy woord en neem hulle na ’n ultramoderne winkel waar die nuutste jongmensklere vol vere en fraiings hang. Hy en die seuns maak hulle op stoele voor die aanpashokkies tuis en lewer kommentaar op al die uitrustings wat Georgina en Jean uitsoek. Dis ’n vreemd inskiklike Jean wat uitrusting na uitrusting aanpas. Toe Jean skaam uit die hokkie stap en selfbewus aan die kort rompie trek, raak Etiénne stil en kyk haar aandagtig deur. Hy beduie met sy vinger dat sy moet draai en beskou haar soos ’n wafferse modekenner. Dan knik hy en al wat Georgina moet doen, is om die blinknuwe plastiekkaart vir die winkelassistent te gee. Jean staan trots met haar aankoop en luister na Etiénne se lofredes oor hoe mooi sy met die Indiaanse rompie en veretruitjie gaan lyk. En Georgina kan net haar kop skud. Al wat Jean nodig gehad het, is ’n sjarmante Franse kunshandelaar wat met vrouens kan toor.
“Kom ons gaan drink koffie. Ek is nou dors, en ek het ’n paar vrae wat jy nog nie beantwoord het nie.”
Die kinders verkies om by hulle eie tafeltjie te sit waar hulle die televisie kan sien, en dit gee Etiénne die geleentheid om sy nuuskierigheid te bevredig.
“Wat is dit met jou en die jonge juffrou? Jy is beslis nie haar gunstelingpersoonlikheid nie.”
Georgina kyk na waar die kinders ’n entjie van hulle af sit.
“Sy is doodbang ek verlei haar pa.”
“Is daar so ’n moontlikheid?” Die ekspressiewe mond pruil ontevrede.
“Beslis nie. Ek dog jy ken my beter as dit.”
“Wie is die pa?”
“Ek weet nie of jy hom ken nie – Chris Parker. Hy is blykbaar die een of ander internasionale …” Sy bly stil toe sy oë dramaties rek en hy sag deur sy tande begin fluit.
“Kén jy hom?”
Hy skud sy kop, sy oë nog steeds oopgerek. “Ek sal myself nie aanmatig om te sê ek ken hom nie, maar ek was darem al in sy kantoor.”
“Wat het jy dáár gaan maak?”
“Hy het twee skilderye by my gekoop en ek het die voorreg gehad om hulle te gaan hang. Daardie yskoningin van ’n sekretaresse het my laat kom.” Sy stem raak vir ’n oomblik weg terwyl hy sy kop skud. “Hoe op áárde het jy by hom beland? Ek sou dink die man sal net opgeleide mense gebruik om na sy kosbare kinders te kyk.”
“Wat is verkeerd met my? Ek is gekwalifiseerd!”
“Van wanneer af maak ’n meestersgraad in kuns jou bevoeg om na kinders te kyk? En nie wie se kinders nie – Chris Parker s’n! My skat, ek weet nie hoe jy dit gedoen het nie, maar ek is beïndruk!”
“Etiénne, wat weet jy van hom af?” onderbreek Georgina die stortvloed woorde.
Die donker oë trek nadenkend saam. “Net wat die koerante oor hom skryf.”
Georgina speel met haar teelepel. “Wat sê hulle alles?”
“Hmmm, laat ek dink. Ag en dertig jaar oud, dodelik aantreklik, maar dit weet jy seker. Uiters suksesvol – seker ook nie nuus vir jou nie. Blykbaar briljante brein … dis seker waar daardie kind sy kop vandaan kry.” Hy kyk na André voordat hy weer vervat. “Huwelik was blykbaar nie so gelukkig nie … vrou toe dood in motorongeluk. En volgens die skinderblaaie is al wat vrou is natuurlik agter sy bloed aan en is hy ’n uiters gesogte gas by enige sosiale geleentheid … seker omdat hy baie selde iets bywoon. En waar hy wel opdaag, maak die pers seker hulle neem genoeg foto’s van hom en ’n verskeidenheid vrouens sodat die helfte van die land se skoonhede al romanties aan hom verbind is.”
Georgina lyk teleurgesteld. “Is daar niks verder nie – vreemde gedrag, miskien ’n geskiedenis van geestelike versteuring?”
Etiénne kyk haar onbegrypend aan.
“Ek dink nie die man is reg nie. Geen mens lewe so nie. Of moet ek liewer sê, geen normale mens nie.”
“Georgie, die man ís nie ’n normale mens nie. Mense wat in sy liga speel en werk, maak hulle eie reëls.”
Voordat Georgina kan antwoord, lui die telefoon in haar skouersak en sy buk haastig om dit te antwoord.
“Juffrou Walters?”
“Ja, wie praat nou?” Sy verskuif die klein instrument na haar ander oor.
“Dis Chris Parker. Ek het net gewonder of jy nog van plan is om my kinders vanaand huis toe te bring?”
Georgina se wange verkleur ’n dieprooi en haar stem is aansienlik kouer toe sy antwoord. “Ons het net gou iets gedrink en sal binne ’n halfuur by die huis wees … of wil u hulle by die kantoor sien?”
“Nee, dis al oor ses, ek is reeds by die huis soos wat ek gesê het ek sal wees.”
“Ek is jammer.” Sy kyk vinnig op die groot polshorlosie aan haar arm. “Ek het nie besef dis al so laat nie. Ons kom dadelik.” Die woorde is uiters beleefd, maar haar stem kan deur metaal sny, en toe sy die instrument in haar sak teruggooi, kyk sy op in Etiénne se laggende oë.
“Die man maak jou kwaad. Dís ’n eerste! Dis meer as wat enige van ons nog ooit kon regkry. Jy weet wat ons sê van liefde en haat?”
Sy gee hom ’n vernietigende kyk. “Nee, en ek is nie nou lus vir jou wyshede nie.”
Sy staan vererg op en roep na die kinders.
Buite groet Etiénne haar steeds laggend en hy buk weer oor die blosende Jean se hand en nooi die kinders om asseblief gou weer te kom kuier. Toe die huurmotor wegtrek, beduie hy met sy hand teen sy oor dat Georgina hom moet bel.
6
Na die besige dag is Bertie vroeg vaak, en nadat Georgina hom in die bed gesit en vir die ander twee nag gesê het, is sy dankbaar om ook kamer toe te kan gaan.
In die portaal huiwer sy ’n oomblik. Daar skyn lig uit