Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse

Читать онлайн.
Название Wilna Adriaanse-omnibus 1
Автор произведения Wilna Adriaanse
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624050315



Скачать книгу

het jy dit al ooit oorweeg om die kinders ’n normale skoolopleiding te gee? Ek meen, hulle kan tog nie vir die res van hulle lewe so van land na land swerf nie. Kinders het tog maats nodig – hoe anders gaan hulle sosiale vaardighede aanleer?” En toe sy eers begin, is dit soos ’n stortvloed en sy sien nie hoe die gesig oorkant haar stil word en die grys oë kil op haar rus nie. “Hulle is slim kinders. Hoe lank gaan hulle nog tevrede wees met ’n onderwyseres wat hulle jaar na jaar deur ’n formele leerplan neem, sonder enige ekstra stimulering van ’n portuurgroep? Skool gaan tog nie net oor die kennis wat jy daar opdoen nie. Dis tog ook waar jy leer om met ander mense oor die weg te kom. Waar jy leer om op ’n gesonde wyse te kompeteer. Hulle word in ’n kunsmatige kou groot, en ek is bevrees dit gaan hulle nie voorberei op die lewe daarbuite nie.” Haar hande beduie nou lustig saam. Haar donker oë ernstig en vol emosie. Uiteindelik sak haar woorde tussen hulle neer en vir ’n oomblik is daar ’n doodse stilte.

      “En ek was al die tyd onder die indruk dat jy net prentjies teken! Waarom het jy my nie lankal op my dwalings gewys nie?” Sy stem sny deur haar. Om sy lippe huiwer ’n sardoniese glimlag, terwyl sy oë twee donker skrefies is, en Georgina voel hoe haar nek warm word onder die trui. In die helder daglig sou sy waarskynlik nooit hierdie goed vir hom gesê het nie, maar dis baie laat in die nag en hy kan dit net sowel vanaand hoor. Miskien voel sy ook daarna beter.

      “Ek mag miskien nie kinders hê nie, en ek kan miskien net prentjies teken, maar ek was ook ’n kind. En ek kan nog onthou wat belangrik en lekker vir my was.” Haar lang, skraal vingers vee deur haar hare. “Kinders moet die kans gegun word om hulleself te leer ken. Hoe kan hulle ’n selfbeeld vorm as hulle nie ’n spieël het nie? En daardie spieël is hulle portuurgroep! Hulle word omring deur uiters suksesvolle grootmense, teenoor wie hulle sekerlik baie minderwaardig moet voel.”

      “Jy sal my nou moet verskoon.” ’n Ysige klank het in sy stem kom lê. “Ek het nog werk om te doen, maar laat ek jou net gerusstel, jou verantwoordelikheid teenoor my kinders sluit beslis nie hulle opvoeding in nie.”

      Sy kan voel hoe haar mond oopgaan, maar die donker kop het reeds weer oor die dokumente gebuk en sy draai om.

      8

      Georgina staan lank onder die stort, hopende die lopende water sal die nag se slapeloosheid uit haar was. Wat het haar besiel! Alles wat sy gesê het, is sekerlik waar, maar dis sy kinders – hy kan hulle sekerlik grootmaak soos hy wil. Dis nie haar verantwoordelikheid nie. Oor twee maande is sy weg.

      Na ontbyt besluit sy dat hulle vandag die koue moet trotseer, want sy sal gek raak as sy nog ’n dag in die huis sit.

      Die winkels is in hulle mooiste Kersfeeskleed getooi en Georgina dwaal saam met die kinders van een venster en uitstalling na die volgende. Sy is bly hulle het gekom. Die koue lug doen haar goed en tot haar vreugde en groot verligting begin die oudste twee mettertyd ook gesels. Nog nie met dieselfde oorgawe as Bertie nie, maar genoeg om haar moed te gee.

      “Gee julle vir mekaar Kersgeskenke?” vra sy toe hulle later sit en kitskos eet.

      “Ons gee vir my pa ’n lys van alles wat ons wil hê, en hy koop dit vir ons,” antwoord Jean haar.

      “En wat gee julle vir hom?”

      Die drie pare oë draai onbegrypend na haar.

      “Ek sal julle help, dan soek julle vir hom iets. Of elkeen kan sy eie geskenk gee. En dan wys julle my waarvan julle hou, dan kan ek hom sê.”

      Drie gesigte begin stadig ophelder en Georgina laat haar deur hulle entoesiasme opvrolik. Die uitsoek van geskenke behoort haar gedagtes besig te hou.

      Tot Georgina se verligting werk haar werkgewer daardie aand laat en sien sy hom nie. Die volgende aand, nadat sy vir Bertie in die bed gesit het, gaan sit sy saam met André en Jean voor die televisie. Na ’n ruk word sy bewus van Jean wat kort-kort na haar kyk.

      “Jy wil régtig nie met my pa trou nie.”

      Georgina wil eers lag, maar bedink haar, maar voordat sy kan antwoord, gaan Jean ernsig voort: “Jy kyk nooit in die spieël as hy by die huis kom nie en jy het nie eens omgegee dat hy jou die dag by die swembad met nat hare gesien het nie.”

      “Jean!” kry Georgina oplaas haar asem terug. “Ek gaan beslis nie met jou pa trou nie. Jy mors vreeslik energie om so kwaad vir my te wees.”

      “Ek is bly dis dan opgeklaar.” Die stem in die deur laat die drie van hulle opkyk en Georgina sit regop. Skielik is die knoop binne-in haar weer terug. Nadat hy die kinders gegroet het, maak hy hom langs Jean tuis en begin deur een van die koerante blaai.

      “Speel jy skaak?” Dis André se stem wat haar warboel van gedagtes onderbreek, en sy knik. “Sal jy saam met my speel?”

      Georgina het geen begeerte om nou skaak of enige ander speletjie te speel nie, maar sy kan dit nie oor haar hart kry om die moedige versoek te weier nie. “As jy nie te goed is nie! Ek het lanklaas gespeel.”

      Hy staan op en kom met ’n pragtige stel van swart ebbehout en ivoor terug.

      Jean tel weer haar boek op en die enigste ander geluid, naas die televisie se sagte gedreun, is die koerantbladsye wat kort-kort kraak.

      Georgina vind dit moeilik om te konsentreer, maar André is ’n baie goeie opponent en sy dwing haar gedagtes na die bord voor haar. En gelukkig maak haar verskerpte konsentrasie dat sy na ’n uur die gaping sien en dan kyk sy selfvoldaan na André wat fronsend sy magtelose koning bekyk.

      “Jy speel goed. Dis nie almal wat my fout sou agtergekom het nie.” Die kompliment is so eerlik dat sy haar kop laag buig.

      “Dankie. As ek geweet het hoe goed jy speel, het ek waarskynlik nooit ingewillig nie. My brein wil nie meer so konsentreer nie.” Dan kyk sy op haar horlosie. “Nou is dit gelukkig eers slaaptyd.”

      Die twee staan traag op en groet hulle pa wat agter die koerant uitloer. Toe Georgina seker is hulle is in hulle kamers, draai sy terug en sluk moeisaam aan die knop in haar keel. Dis nou of nooit.

      “Doktor Parker?” Sy wag totdat die koerant op sy skoot sak. “Ek is jammer oor my ongevraagde opinie van nou die aand. Ek het geen reg gehad om u kinders se opvoeding te kritiseer nie. Hulle is oulike kinders.”

      “Ondanks die omstandighede waarin hulle grootword?” Die grys oë kyk stip na haar.

      “Dis nie wat ek gesê het nie.” Sy begin weer warm word.

      “Maar dis wat jy dink.” Nou is daar openlike spot in die donker oë.

      Sy keer haarself voordat sy die aas gryp. Dis nie in die middel van die nag nie. Haar brein funksioneer nog helder. Sy gaan nie weer in so ’n gesprek betrokke raak nie. Daarom trek sy net haar skouers op. “Dit maak nie saak wat ek dink nie.”

      “Nou die aand was dit vir jou belangrik genoeg om jou mening sonder ’n omhaal van woorde te gee.”

      “En ek hét om verskoning gevra.”

      “Maar dis steeds jou mening.” Sy blik daag haar om die stelling te ontken en sy vee ergerlik met haar vingers deur haar hare.

      “As u my sal verskoon, gaan ek ook nou slaap.” Sy voeg die daad by die woord en draai om.

      “Jy het my nog nie geantwoord nie!” Sy stem keer haar by die deur.

      “U het ’n stelling gemaak, nie ’n vraag gevra nie. Goeienag.” Sy probeer om met soveel waardigheid as moontlik die vertrek te verlaat.

      “Ek het nog altyd respek vir mense gehad wat by hulle standpunt bly, hoe moeilik die teenstand ook al.”

      Georgina draai weer in die deur om. “Doktor Parker, ek het nie van standpunt verander nie, ek is net nie weer bereid om dit te bespreek nie.” En dan sien sy die oorwinning agterin die grys oë en sy draai haastig om. Hy soek wragtig ’n argument met haar! Sy kan dit nie glo nie!

      New York is ook koud en grys toe hulle tien dae later daar afklim, maar die feestelike Kersversierings en miljoene liggies