Название | Wilna Adriaanse-omnibus 1 |
---|---|
Автор произведения | Wilna Adriaanse |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624050315 |
Georgina is dankbaar vir Leon se arm waaraan sy kan vashou. Al is hierdie ’n ietwat ongewone huwelik, is sy dankbaar dat Leon, Magriet en die seuns vanaand by haar is.
Jean stap voor hulle uit. Regop en stralend. André en Bertie staan voor by hulle pa, deftig in hulle donker broeke, wit hemde en ryklik versierde groen onderbaadjies en wynrooi strikdasse.
En dan kyk sy na die donker man wat baie stil langs sy seuns staan. Hy het ’n donker pak en wynrooi strikdas aan en die wit hemp lyk uiters vleiend teen sy effe sonbruin gesig en donkergrys oë.
Mark en Harry knipoog stout vir haar toe sy en Leon by hulle verbystap. Georgina het nie nodig gehad om Mark in te lig nie, blykbaar het Chris hom self vertel, want sy het net ’n telefoonoproep gekry en vir die eerste paar minute kon sy net luister hoe hy sy ewige liefde aan haar verklaar en dat sy hart ongeneeslik gebreek is en dat hy geweet het hy moes hulle nooit Kersfees alleen gelaat het nie. En toe het sy stem ongekend ernstig geword.
“Ek is baie bly vir julle twee. Hy sal baie goed vir jou wees, Georgie.” Dan klink sy bekende lag weer in haar ore op. “En ek hoop van harte nou sal hy bedaar. Jy het hom die afgelope maand baie onrustig gemaak. Hy het beslis nie gedink hy sal ooit so hard vir ’n vrou val nie en jy het dit nie juis vir hom maklik gemaak nie!”
Georgina wou hom so graag reghelp, sy wou nie hê die mense na aan haar moes so in ’n leuen leef nie. Maar sy het Chris belowe.
Sy kyk weer na die man wat stil vir haar staan en wag en die ander gesigte verdwyn uit haar gesigsveld. Toe sy voor hom tot stilstand kom, sien sy die spiertjie wat in sy wang spring, en sy besef dat hy ook nie so kalm is as wat hy wil voorgee nie.
Om een of ander rede kan sy tog die predikant se stem hoor toe hy begin praat en iets in sy rustige woorde raak haar en laat die ergste bewing bedaar. Sy moet egter kug voordat sy haar troubeloftes kan herhaal. En dan voel sy hoe haar binnekant vasknoop toe hulle die ringe aan mekaar moet oorhandig. Vir die seremonie het sy vir hom ’n troupand van witgoud gekoop en vir ’n oomblik wonder sy of hy dit ooit sal dra. Sy hou eerste haar vinger na hom uit en kyk hoe hy ’n eenvoudige halfronde troupand van witgoud aan haar vinger steek. Hy was nie baie beïndruk met haar keuse nie, maar sy wou beslis nie hê hy moes vir haar ’n duur ring koop nie. Maar toe sy haar hand uit syne wil trek, hou André nog ’n ring na hom uit en met totale verbystering moet sy toekyk hoe hy ’n uitsonderlike ring met ’n groot, wit diamant aan haar vinger steek. Die groot, traanvormige steen is in witgoud geset en bedek haar ringvinger se lid tot by die kneukel. Haar oë gaan vervaard na die gesig wat oor haar hand gebuk is, maar toe hy opkyk, is sy oë niksseggend en hou hy net sy hand in stilte na haar uit. Met bewende vingers probeer sy die ring aan sy vinger steek, maar moet later toelaat dat hy haar help, tot vermaak van die gaste. Met hulle hande in die predikant se hand, hoor sy hoe hy hulle tot man en vrou verklaar en dan sien sy hoe Jean na haar pa kyk. Toe hy blykbaar nie verstaan nie, kom haar stem fluisterend: “Jy moet haar soen!”
Die kerkie is klein genoeg vir almal om die fluistering te hoor en onder gelag sak die donker kop en hulle lippe raak vir ’n vlietende oomblik aan mekaar.
Daarna kan Georgina nie veel onthou nie. Voor die kerkie het die gaste wit roosblare op hulle gestrooi en daarna is sy vinnig uit die ysige aandlug in ’n motor gehelp en het hulle vooruit na die hotel gery waar hulle aandete sou nuttig.
Georgina moet keer om nie hardop te sug toe die helikopter Sondagmiddag voor die huis neerstryk nie. Hulle het die nag na die troue in vriende van hom se luukse houthuis langs ’n meer gaan slaap. Toe sy hom daaroor uitgevra het, het hy spottend gesê ’n mens slaap nie die eerste nag saam met familie en kinders in dieselfde huis nie. En toe het hy na die sleutel in haar kamerdeur gewys en gesê sy kan maar die deur toesluit as sy onveilig voel.
Op pad teen die trappe op om haar handsak te gaan neersit, praat hy skielik agter haar.
“Betsy het reeds jou klere en besittings na my kamer toe geskuif,” en toe sy hom net onbegrypend aankyk, neem hy haar aan die arm en stap met haar die breë gang af.
Georgina se toer van die huis het nooit hierdie vertrek ingesluit nie en sy kan net stomgeslaan in die deur gaan staan. As sy gedink het die bed in die wit kamer is groot, is die swaar ou hemelbed in hierdie kamer nog groter. Die kamer lyk soos die kamers van die ou paleise in Europa. Teen die een muur is ’n groot vuurherd, daar is vier gemakstoele om ’n koffietafel, twee groot laaikaste weerskante van die bed, en ’n pragtige ou Franse skryfburo en stoel voor een van die vensters. Die vensterbanke is uitgebou en die vensters kyk ook op die voortuin uit. Die gordyne, bekleedsel en beddeken is ’n mengsel van ’n diep roomkoffie kleur, Afrika-ontwerpe, ou antieke patrone in bottelgroen en wynrooi, en op die een of ander manier smelt alles saam tot die mees ongewone kamer wat sy nog gesien het. Wie ook al hierdie kamer versier het, het baie goeie smaak en sy kan nogal dink dat die man langs haar hier sal tuis voel. Daar is iets onmiskenbaar manliks aan die ryk stowwe en donker hout, maar die sagter roomkleur hier en daar sorg vir ’n sagter, amper vrouliker gevoel.
Hy verdwyn by ’n deur in en roep na haar toe sy hom nie dadelik volg nie. Sy stap ’n groot aantrekkamer binne, omtrent die grootte van haar slaapkamer in Kaapstad. Haar paar stukke klere hang yl versprei in die een kas en al haar skoene is in een van die skoenrakke uitgepak. Teen die ander muur hang ry op ry pakke, hemde, dasse, en laat Georgina aan ’n deftige manswinkel dink. Uit die aantrekkamer loop ’n badkamer. Georgina loop soos ’n slaapwandelaar agter hom aan. Terug in die aantrekkamer, maak hy nog ’n deur oop en stap in ’n kleiner kamer in. Daar is ’n enkelbed, bedkassie, twee gemakstoele voor die vensters en ’n skryfburo. Alles van ’n mooi ligte hout. Die gordyne en bekleedsels is verskillende skakerings en ontwerpe van groen en wit. Hy maak nog ’n deur oop en sy loer by ’n netjiese badkamertjie in. Dan kyk sy vir die eerste keer vraend op in die grys oë.
“Dit is die babakamer. Ek sal hier slaap wanneer ek by die huis is.” Hy beduie na nog ’n deur. “Daardie deur lei na die agterste trap, so ek sal nie deur jou kamer hoef te loop nie.”
“Ek gaan nie in jou kamer intrek nie.” Sy wil eintlik nog byvoeg … en jou vrou se kamer, maar sy bedink haar.
Hy kyk op sy horlosie en draai na die aantrekkamer terug. In die middel van sy slaapkamer, gaan hy staan en sy oë is niksseggend toe hy praat. “Al hierdie vertrekke is na Alexa se dood oorgedoen, so hier is geen spoke van vorige vrouens nie en ook nie herinneringe nie. En verder sal dit redelik snaaks lyk as ons in twee verskillende dele van die huis slaap.” En daarmee maak hy die deur oop en stap in die breë gang uit, terwyl sy in die vreemde vertrek agterbly.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.