Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse

Читать онлайн.
Название Wilna Adriaanse-omnibus 1
Автор произведения Wilna Adriaanse
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624050315



Скачать книгу

inkry, lyk seker soos die begroting van ’n middelslagland, maar sy wonder of dit die moeite werd is.

      Jean se stem onderbreek haar gedagtes en toe sy opkyk, beduie die dogtertjie na die bord. “Jy lê op my eiendom. Jy moet my betaal. Laat ek sien – twee hotelle …”

      Georgina sug hoorbaar. Haar stapeltjie note is besig om drasties te krimp.

      “Georgie is baie arm,” lig Bertie sy pa in, en toe sy vlugtig opkyk, kan sy net die geamuseerde blik in die grys oë sien, maar hy maak gelukkig nie ’n opmerking nie.

      Uiteindelik tree André as die wenner uit die stryd en Georgina sien weer die blik wat tussen pa en seun gewissel word.

      Georgina sit stil aan tafel en luister na die kinders en hulle pa se gesprekke rondom haar. Sy verstaan hom werklik nie. As sy haar oë toemaak, kan sy dink dis ’n pa soos Leon wat na ’n dag by die kantoor met sy kinders gesels. Hy antwoord met groot geduld hulle vrae, en vra hulle met belangstelling na hulle dag uit. Sy wonder meteens of hy dalk net nie van haar hou nie. Miskien is dit waarom hy so kortaf met haar is, want klaarblyklik het niemand anders ’n probleem met hom nie. Maar sy kan haar nie moeg maak oor sy gevoelens nie. As hy nie van haar hou nie, kan hy net so sê en sy sal met plesier haar tasse pak. Alhoewel sy nogal jammer sal wees om Bertie nie weer te sien nie. Dan ruk sy orent toe daar skielik ander stemme in die vertrek is en sy glimlag effens toe sy Mark en Harry gewaar.

      “Is jy reg?” Dis Mark wat vra.

      Georgina kyk hom vraend aan. Nie seker hy het met haar gepraat nie.

      “Chris het gesê jy kan vanaand saam met ons gaan rondloop.” Hy kyk na die donker man aan die kop van die tafel. “Het jy haar nie gesê nie?”

      Die breë skouers word opgetrek. “Ek het vergeet.” Die woorde word sonder ’n sweem van apologie gesê.

      “Georgie kan nie saam met jou uitgaan nie, sy moet met my speel!” Bertie se stem klink beslis langs haar op.

      Georgie voel hoe sy magteloos van die een gesig na die ander kyk.

      “Bertie, leen haar asseblief net vanaand vir ons. Ons sal mooi na haar kyk!” Mark en Harry kyk glimlaggend na die seuntjie wat met ’n frons die versoek oordink.

      Dan knik hy. “Net een aand, en dan moet jy môreaand twee stories lees!” Hy kyk beslis na Georgina en sy kan net knik voordat sy haastig opstaan om iets anders te gaan aantrek.

      Toe sy ’n paar minute later die sitkamer binnekom, voel sy hoe haar wange warm word toe Harry sag deur sy tande fluit en Mark sy arm om haar skouers sit. Met haar swart langbroek, swart rolnektrui en swart leerstewels, lyk sy soos duisende modieuse jong mense in die stede van die wêreld, maar die mans se oë rus nogtans waarderend op die prentjie voor hulle.

      “Ek kan nie glo dat ’n man jou nog nie aan sy bedstyl vasgegespe het nie. Jy is darem deksels mooi. En dit terwyl ek nie eens kan sien of jy grimering dra …”

      “Georgie, jy moenie laat terugkom nie.”

      Georgina kan nie help om te lag vir die uitdrukking op Mark se gesig toe Bertie hom so wreed in die rede val nie.

      “Nee, maggies, Bertie! Ek is besig om vir die vrou te vertel hoe mooi sy is! Gee my asseblief net eers kans om klaar te maak!”

      Georgina buk by die klein seuntjie en druk ’n soen teen sy wang. “Jy moet lekker slaap.”

      “Hoe laat kom jy terug? Sal ek nog wakker wees?”

      Mark skud laggend sy kop. “Ek hoop nie so nie.” Dan tel hy die klein figuurtjie op en draai hom in die rondte. “Ek het nooit gedink jy gaan my grootste kompetisie word nie.”

      “Wat is kompetisie?” Die blou oë frons vraend, maar Chris tree nader en neem die seuntjie by Mark.

      “Kom, ek sal vir jou lees.”

      Georgina knik na die ander twee wat intussen ook ingekom het. “Goeienag, en dankie vir die lekker dag.”

      Albei paar oë hou haar net stil dop.

      “Ek dog julle werk dag en nag?” Georgina sit tussen die twee mans agterin ’n swart huurmotor.

      “Ons kan vanaand niks verder doen nie. Ons moet eers wag totdat die Japannese afvaardiging môre hier aankom. So, sit terug en geniet ’n lekker aand uit in Londen.”

      “Waar woon julle hier in Londen?”

      “Net langs julle. Chris het ’n paar jaar gelede die twee aangrensende huise gekoop omdat ons so dikwels hier is. Dit is eintlik sy hoofkwartier as hy in Europa moet werk.”

      Georgina knik. “Waarheen gaan ons?”

      “Sommer net rondloop en ’n lekker aand hê. Ek hoop nie jy het ’n inkomtyd nie.”

      “Ek het nie, maar ek kan beslis ook nie môre lê en slaap nie. En julle moet sekerlik ook môre fris en vars wees, anders het julle dalk ook nie meer ’n werk nie!”

      Mark trek haar laggend nader. “Juffrou Walters, jy gaan so ’n lekker aand hê dat jy nie eers sal omgee of een van ons môre nog ’n werk het nie.”

      En dit was nie ydel beloftes nie. Sy kan sien hulle kom dikwels in die stad. In elke kuierplek is daar mense wat kom groet en so groei die groep deur die aand net groter en groter. Tot Georgina se blydskap loop sy self ’n paar kennisse raak en almal wil verbaas weet waarom sy hulle nog nie gekontak het nie. Niemand kan glo as hulle hoor wat sy daar maak nie en dit word een van die onderwerpe waaroor sy baie deur die loop van die aand gespot word.

      Mark en Harry waak soos twee jaloerse broers oor haar. Sy weet ook nie of broederskap eintlik die gevoel is wat hulle teenoor haar voel nie, maar sy laat hulle begaan. Hulle is albei sulke lekker geselskap en sy kan voel hoe die afgelope week se spanning begin verdwyn. Dit raak twee-uur in die oggend voordat sy haar twee metgeselle oortuig kry dat sy huis toe moet gaan. Die groep neem met baie uitroepe van mekaar afskeid en almal belowe oor en weer om te bel.

      Georgina kyk verbaas na die lig wat uit die studeerkamer skyn toe sy die voordeur agter haar toetrek. Miskien het hulle vergeet om dit af te skakel. Sy stap die vertrek binne en steek dan vas. Die donker kop sit gebukkend oor die lessenaar, terwyl ’n pen oor die papiere voor hom gly.

      Hy kyk vlugtig op. “ ’n Lekker aand gehad?” Hy vryf oor sy oë.

      Sy knik. “Ja. Dankie. Ek is jammer ek het u gesteur. Ek het gedink John het vergeet om die lig af te skakel.” Sy weet nie waarom sy verduidelik nie.

      “Hoe gaan dit met jou en die kinders?” Die vraag betrap haar so onverhoeds dat sy vir ’n lang ruk net na hom kan kyk. Dan trek sy haar skouers op.

      “Miskien moet u húlle die vraag vra,” probeer sy ’n direkte antwoord omseil.

      “Ek het.”

      Georgina vou haar arms voor haar bors. Asof sy haarself teen sy volgende woorde wil beskerm.

      “Ek dink nie hulle weet mooi hoe om jou te hanteer nie. Jy is nie juis die tipiese onderwyseres wat hulle ken nie.”

      “Miskien omdat ek nie een is nie.” Georgina kan haarself nie keer nie. Sy weet nie waarom hy in die middel van die nag met haar oor haar en die kinders praat nie.

      “Ek is bevrees André is besig om die geveg te verloor. Ek dink hy sal op die oomblik saam met Bertie drake vir jou doodmaak.”

      Georgina kan nie die uitdrukking agter die donker wimpers lees nie.

      “Hulle is oulike kinders.” Sy weet nie wat om verder te sê nie.

      “Jy sal maar geduldig met Jean moet wees. Sy is nie so kwaai soos wat sy wil voorgee nie.”

      “Sy is maar net baie beskermend teenoor haar pa. Dis normaal.” Die lang aand en die nagure maak haar tong skielik losser. “Elke jong meisie is maar bang daar kom ’n ander vrou in haar pa se lewe.”

      “Sy voel egter baie beter nadat jy haar blykbaar verseker het