.

Читать онлайн.
Название
Автор произведения
Жанр
Серия
Издательство
Год выпуска
isbn



Скачать книгу

wanneer jy my oor Friedrich gaan uitvra,” sê Hanna, gooi vir haar ’n bekertjie koffie in en neem by die tafel plas. “Haai, waar is my maniere, Gretha? Wat van ’n koppie koffie vir jou?”

      “Ek is so nuuskierig dat ek sal stik as ek nou iets moet drink, tant Hanna. Friedrich … Hoekom weet hy nie wie sy eie ouers is nie? En hoekom noem hy sy aangenome ouers oom en tannie? Hoekom haat sy aangenome ma hom so?”

      Hanna lag goedig. “As ek geweet het wie Friedrich se ouers was, was hy nou ’n gelukkig getroude man. Of nee, nou jok ek: Ek het nooit ooghare vir Alexandra Combrinck gehad nie. Daar is meisies wat mooi en goed is, maar daar is meisies wat hulle skoonheid gebruik om sonde te doen. Alexandra was een van hulle.”

      “Maar was Friedrich lief vir haar?” vra Gretha en ervaar ’n onverklaarbare prikkie van teleurstelling. Sy glo sy sal Friedrich nooit kan liefkry nie, maar net die gedagte dat hy iemand anders kan liefhê, vervul haar met ’n gevoel van verlies.

      “Dis wat hy vir my gesê het, en omdat hy nie ’n man is wat ligtelik oor sy gevoelens praat nie, het ek hom geglo. Hy wou dolgraag met haar trou, maar hy is ’n aangenome kind. Ek onthou nog hoe hy by Otto gepleit het om hom die waarheid oor sy eie ouers te vertel. Maar Otto het hom afgejak en Dieter het hom uitgejou … Henriëtte het gesorg dat Dieter nooit vergeet dat hý ’n Falkenstein in murg en bloed en boonop die kroonprins van Kaiserburg is nie,” vertel Hanna grimmig.

      “Maar as Alexandra vir Friedrich liefgehad het …”

      “Sy het nie. Sy het geld liefgehad, daarom is sy getroud met ’n man wat byna dertig jaar ouers as sy was. Friedrich was gebroke, maar hy het een troos gehad: hy het Alexandra nooit gevra om sy vrou te word nie.”

      “Omdat hy nie geweet het wie sy eie ouers is nie?”

      “Juistement, liefie. Hy was ’n jaar of wat oud toe Otto hom op ’n dag na Kaiserburg toe gebring het – dis nou nege en twintig jaar gelede. Henriëtte was buite haarself van woede, want sy het aanvanklik geglo Friedrich is Otto se buite-egtelike kind. Ek weet nie wat Otto aan haar gesê het nie, maar sy het eindelik tot bedaring gekom en sy en Otto het Friedrich aangeneem.” Hanna skud haar kop onbegrypend. “Dis iets wat ek nooit kon verstaan nie: Henriëtte kon Friedrich nie voor haar oë verdra nie; nogtans was sy bereid om hom aan te neem.”

      “En tant Helga, oom Otto se ma? Het sy nie die waarheid geweet nie?”

      “Nee, ou kindjie, sy was in die duister, soos ek. Maar ek en sy het toe al saam hier in Blumenstrauss gewoon en ons het gereeld klein Friedrich by ons laat kuier.” ’n Glimlag laat liefde in Hanna se oë blom. “Dit was gelukkige dae daardie. Ons lewe het om Friedrich se besoekies gedraai, want met hom hier, kon ons albei vergeet dat ons nie meer jonk was nie.”

      “Maar het tant Helga nie vir oom Otto oor Friedrich uitgevra nie?” hou Gretha haar ondervraging vol.

      “Vanselfsprekend. Ons het almal vrae oor Friedrich gehad en toe het Otto aan ons vertel Friedrich is die kind van twee van sy ou studentemaats. Maar hy het volstrek geweier om te sê wie hulle was, want hy was van voorneme om Friedrich soos ’n eie seun groot te maak.”

      “Het tannie hom geglo? Tant Helga was tog sy eie ma. Het sy hom geglo?”

      Hanna glimlag skuldig. “Hoe sal ek sê, Gretha? Ons wou Otto se storie glo, maar hy was ’n haantjie onder die meisies. Ek het nog al die jare die vermoede dat Friedrich wel Otto se seun is.”

      “En is Dieter jonger as Friedrich?” vra Gretha gretig.

      “Twee jaar jonger, ja.”

      “Maar dan is Friedrich die kroonprins van Kaiserburg, tant Hanna! Ek wed dis waarom tant Henriëtte hom so haat, want haar seun kan nie Kaiserburg erf as hy ’n ouer halfbroer het nie.”

      Hanna skud haar kop, haar uitdrukking stroef. “Dit hang alles van Otto se testament af en daarby … Friedrich lyk nie soos ’n Falkenstein nie. Die Falkenstein-broers, Kurt en Otto, was albei blonde mans. Dieter is donker soos Henriëtte, maar hy het tog sy pa se gelaatstrekke geërf. Friedrich is die randeier … eie een wat nooit ingepas het nie.” Sy merk die teleurstelling op Gretha se gesig en vervolg simpatiek: “Glo my, liefie, ek sou wat wou gee om Friedrich in Kaiserburg te sien, maar ons het geen bewys dat daar ’n druppel Falkenstein-bloed in Friedrich se are vloei nie.”

      “’n Geitjie en ’n agie,” kom dit onvergenoegd van Friedrich wat in die agterdeur verskyn het. Hy kom nader, die bekende spotglans in sy oë. “Vanwaar jou belangstelling in my, klein Grietjie? Gaan jy my vra om jou bruidegom te word sodra jy vasgestel het dat ek die kroonprins van Kaiserburg is?”

      “Nee, ek gaan jou sommer nou dadelik vra om te trou. Pas Saterdag jou?” kap sy terug.

      Hanna lag met genoegdoening. “Sê hom, liefie! Vandat die seun so geleerd is, is dit moeilik om hom op sy plek te sit.”

      Friedrich stap swygend na die yskas toe en haal vir hom ’n koue bier uit, voordat hy by die kombuistafel plaasneem.

      “Jy sê niks nie, boet,” kwel Hanna. “Moenie vir my sê Henriëtte het vermoed dat jy met Otto praat nie.”

      “Ek was ’n paar minute lank alleen saam met hom, maar tant Henriëtte het spoedig ’n einde aan ons geselsie gemaak.”

      Friedrich neem ’n slukkie bier en vra met gespanne erns: “Weet tannie iets van ’n skuilplek? Oom Otto het gesê daar is iets in die skuilplek – al die bewyse, alles wat ek wil weet. Na watter skuilplek het hy verwys?”

      Hanna frons nadenkend en skud dan haar kop ontkennend. “Ek weet eerlikwaar nie, Friedrich.” Sy trek haar asem stadig in. “Ja wag, iets het my bygeval.”

      “Ja, tannie?” vra hy intens.

      “Wyle Kurt en Otto het as kinders ’n geheime skuilplek gehad, maar waar dit was, kon nie een van ons ooit vasstel nie,” antwoord sy.

      “Êrens in Kaiserburg?” vra hy dringend.

      “Ek glo so, boet.”

      “’n Verpleegster … oom Otto het ’n voltydse verpleegster nodig. Dis nou as die verpleegster sal inwillig om na die skuilplek te soek …”

      “Ek is ’n verpleegster,” sê Gretha en kyk hom uitdagend aan.

      3

      Friedrich plaas sy blikkie bier stadig op die kombuistafel neer, sy blik grimmig op Gretha wat hom afwagtend aankyk. “Daar is ’n tyd en ’n plek vir alles, Gretha. Ek geniet ons argumente, want jy amuseer my. Maar my afkoms is vir my ’n saak van erns. Wie ook al as oom Otto se verpleegster aangestel word, moet ’n verantwoordelike persoon wees, want sy sal my toekomstige geluk in haar hande hou,” sê hy met kille nadruk.

      “En?” vra sy skouerophalend. “Dink jy nie ek is bekwaam genoeg om ’n sterwende ou oom te verpleeg nie?”

      “Wat weet jy van verpleging?” vra hy bars. “Jy kan nie veel ouer as agttien wees nie. Glo jy vir een oomblik ek sal my hele toekoms in die hande van ’n ligsinnige student plaas?”

      “Jou … jou beledigende, chauvinistiese … e … . vent!” krys sy verwoed en spring orent. “Dis tipies van julle mans: julle kyk na ’n meisie en maak julle eie gevolgtrekkings. Jy het na my gekyk en besluit ek is ’n agttienjarige snip met ’n mooi gesiggie en niks tussen die ore nie – en dít, dokter Falkenstein, is net ’n bewys van hoe min jy tussen jou ore het!”

      “Dis ’n groot verbetering, Grietjie-kind,” sê Amalia wat uit die gang die kombuis binnekom. “Ek is innig dankbaar jy het Friedrich ’n vent in plaas van ’n vark genoem.”

      “As tannie weet wat ek hom in my gedagtes noem, sal ek én tannie bloos,” sê Gretha nydig en gluur Friedrich met onverbloemde vyandigheid aan.

      “Jy is gou terug, Amalia,” sê Hanna rustig. “Ek het jou gewaarsku die weer was ’n bietjie winderig. Maar jy weet tog self; die oggende is gewoonlik aangenaam, maar hier teen