Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

sien hom uit die hoek van sy oog en draai dadelik weg van die vuurtjie. Hy staan nader, bly oor die afleiding wat aankom in die vorm van sy forse bruingebrande seun. “Boetjan!” roep hy. “Welkom. Welkom, my seun.”

      “Dag, Pa.” Boetjan skud sy pa se hand, hou dit ’n ruk vas. Dan draai hy na Bertus. “Dag, swaer. Welkom terug. Lekker om julle weer hier te hê.”

      ’n Siel sonder bedrog, dink sy pa.

      “Dankie, man.” Bertus wou “swaer” sê, maar dit kom moeilik.

      Boetjan swaai na Neil. “Hell’s bells, jy’t gerek sedert ek jou laas gesien het.”

      Neil is die ene tande soos die volle lading van sy oom se glimlag hom tref. “Ja, Oom.”

      “Ja-nee kyk,” sê Bertus, “Elna koop skaars vir hom ’n nuwe broek, of die pype is klaar te kort. Jy lyk goed, swaer.” Boetjan se gulle reaksie op sy kind laat Bertus van sy eie vaste besluite vergeet.

      “Onkruid vergaan nie.” Boetjan grinnik half ingedagte.

      “Hoe gaan dinge daar in die wildtuin?”

      “Wild!”

      Hulle bars uit van die lag. Boetjan is daarvoor bekend dat hy nie maklik aan die gesels raak oor die dinge wat hom na aan die hart lê nie.

      “Maar nie so wild soos hier in die stad nie,” val Jan in. “ Ek sê nou die dag vir Ma ons moet saam met Boetjan daar in die wildtuin gaan bly. Jy staan daar by die braai in die nag, om jou hoor jy die leeus brul en die hiënas roep, maar nêrens in die land voel jy so veilig soos tussen daardie wilde diere nie.”

      “Dit kan ek glo.”

      Vir Boetjan voel dit of die braai nou aan die gang kom – al het sy pa nog nie eens die braaihout, wat hy sorgvuldig opgestapel het volgens sy ou, beproefde braaihout-struktuur, aan die brand gesteek nie. Elna het Boetjan van binne die huis opgemerk en kom nou met arms wyd uitgestrek op hom afgepyl.

      “Boetjan!” Elna spring in sy arms dat hy haar in die rondte moet tol om sy ewewig te behou.

      Boetjan bêre sy gesig in haar nek van vreugde. Toe hulle mekaar laas gesien het, het Elna só teruggedeins van sy drankasem dat sy dit nie kon verduur dat hy haar ’n drukkie gee nie. Hy is dankbaar – nóg ’n brug wat herstel is deur nugterheid.

      “Ooooooo, my broer, dis so goed om jou te sien!”

      “En om jou te sien, sus.”

      Sy gee hom ’n klapsoen op sy wang en staan dan terug, vee weer trane uit haar oë.

      “Sien jy, Bertus, daar huil sy al weer?” sê Maria.

      Boetjan kyk nou oor Elna se skouer na sy ma. Maria is minder gul teenoor Boetjan wanneer hy hom uiteindelik uit Elna se omhelsing losmaak. “Hallo, Ma,” sê hy eweneens stroewer.

      Maria staar hom swyend aan. Geen soentjie nie. “Hallo, Boetjan.” kom dit uiteindelik sag.

      — VIII —

      Ouma se roep het Maria verlos van die ongemaklike situasie met Boetjan. Dis iets waarmee sy sal moet saamlewe. Ouma is weer maklik te hanteer. Mens moet jou net niks persoonlik aantrek nie – al word alles persoonlik bedoel deur die ou strydvaardige vrou.

      Maria kom met Ouma in haar rolstoel in die gang af, op pad na die braaivuur.

      “Jy’t gesê jy sal my kom haal sodra die vuur beginne,” steun Ouma.

      Maria se teorie is dat ma Cilliers vas glo daarin om haar skoondogter onder die duim te hou. Haar gesprekke met ma Cilliers bestaan omtrent nét uit jammers en ek-het-vergeets – miskien maklike uitweë, maar wie wil nou elke keer met haar in ’n stryery betrokke raak? Sy sál altyd die laaste woord spreek.

      “Ja, Ma, maar toe kom Boetjan hier aan en ons begin gesels en toe ... vergeet ek.”

      “Is hy nugter?”

      “Ja, Ma, hy’s nugter.”

      “O. Ons praat weer so oor ’n uur of twee. Francois sou nooit só gemaak het nie.”

      “Ons praat nie vandag oor Francois nie, Ma.”

      Soos hulle nader kom aan die lapa en die braai daar buite, sien hulle dat Jan se suster, Rika, pas saam met haar man en kinders aangekom het. Dis ’n heen-en-weer-groetery, hartlik, soos net Jan kan wees, en stywerig, soos net Rudi kan wees. Maar hulle het mekaar deur die jare só leer ken en leer verduur, en sou dit vreemd gevind het as dit nie anders was nie. Jan laat hom nie deur Rudi intimideer nie, en Rudi laat hom nie deur Jan van stryk bring nie. Daar is baie wedersydse respek.

      Jan en Antoinette groet mekaar soos ’n broer en suster wat kwaad is vir mekaar, maar deur hul ouers gedwing word om mekaar te soen. Dit verbaas Maria nie. Die twee hou nie van mekaar nie, maar ter wille van haar wat in die rolstoel sit, hou hulle maar ’n aangename front voor.

      “Mense,” roep Jan, arms swaaiend, sodat hy almal se aandag trek, “die drankies is dáár, die ys is dáár en die glase is dóér. Manne, help julleself. Ek sal vir die dames sorg.” Hy swaai na Rika: “My sussie, wat kan ek vir jou kry?”

      Rika kyk verleë na Rudi. Hy staar haar streng aan.

      “Weet jy, ek sal sommer ’n sappie vat.”

      Jan staan nader aan Rika, sy arm vertroulik om haar skouers. Rudi is heeltemal uit hierdie familiale intimiteit gesluit. “’n Sappie?” Jan se verontwaardiging is eintlik op Rudi gemik. “Ingeval niemand jou gesê het nie, sus, hierdie is ’n partytjie.”

      “Nou maar in daardie geval sal ek ’n glasie wyn drink, dankie!” Haar glimlag verstar wanneer sy sien hoe Rudi se streng vermanende blik op haar rus. “Maar net ’n kleintjie!” roep sy Jan agterna, en dan keer haar blik terug na Rudi. Hy frons. Hy is nie besig is om toornig te raak nie, maar bekommerd. In Rika se blik het hy die eerste keer iets gemerk wat hom totaal oorbluf laat. Verset.

      Boetjan staan nader aan Ouma om haar te groet, glas in die hand. Hy buk af, piksoen haar op die wang.

      “Wat drink jy daar?”

      “Sodawater, Ouma.” Die duiweltjies speel in sy oë wanneer hy haar antwoord – hy weet dat sy geen idee het dat hy sy drankduiwel finaal getem het nie. Wat haar betref, slaan hy nog die bottel skelm.

      “Van wanneer af drink jy sodawater?”

      “Die laaste vier maande al, Ouma.”

      Sy wil nog antwoord, maar Boetjan gee pad, maak plek vir Rudi en Rika wat kom dagsê. Maria kom ook by, die hoflikheid vanself, maar iets beters trek haar aandag. “Zweli!” roep sy en storm weg na Jan se vennoot wat pas aangekom het.

      Ouma, Rika en Rudi kyk haar agterna, sien hoe sy die swart man wangsoen en dan ’n druk gee. Hulle sê niks, bly net kyk, pynlik bewus van die grade van hartlikheid hier in die Cilliers-vesting.

      “Ek hoop nie ek is laat nie,” sê Zweli.

      “Glad nie.”

      “Tannie weet mos hoe’t my pa oor African time gevoel.”

      Eenkant snork Antoinette agter haar hand. Liewe Jesus! Het jy dit gehoor? “Tannie” nogal ...

      “Presies dieselfde as wat Jan oor Boere-time voel,” sê Maria.

      Hulle lag saam – hulle ken die grap reeds lank genoeg dat dit hul eie geword het.

      “Kom, sê hallo.” Maria lei Zweli na die ander gaste, wat op hierdie oomblik verder aangesuiwer word met die aankoms van Adriaan en sy gesin.

      Tussen die groetery deur tree Jan vir Vlooi aan om te sorg dat sy ouers drankies in hul hande kry. Antoinette hoor die instruksie en vermaan haar oudste om nie te veel ys in haar glas te sit nie. Elisabeth is ook tussenby en gee dadelik