Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

“Waar’s my agterkleinseun?”

      Neil skuur verby sy pa en Jan. “Ek sal nie ook die fout maak om te sê dis goed om Ouma te sien nie,” sê hy, buk af en gee sy geliefde ouma ’n soen, “maar ek’s bly om hier te wees.”

      “Die kind het ’n sin vir humor, nes sy oupagrootjie.” Ouma se krakerige stem is skielik vol trots en liefde. “As daar meer van jou op hierdie aarde was, kind, dan was dit ’n beter plek.”

      Maria het genoeg gehad. “Ma het gesê sy’s moeg. Sy wil gaan lê.” Sy begin dadelik om die rolstoel uit te stoot. “Kom, Elna, ek wys jou waar jy kan uitpak.”

      Vir Jan is dit ’n teken, sy braai begin op hierdie oomblik. “En terwyl julle dit doen, skink ek vir almal ’n dop,” sê hy.

      Hier voor Maria slinger die krakerige stemmetjie van Ouma ’n laaste vermaning na die mans: “Julle drink te veel.”

      “Beslis, Ma,” sê Jan, sy ma nou omtrent buite hoorafstand. Hy draai na Bertus. “Maar soos die groot Uys Krige eenkeer gesê het: “Die lewe is alleen draaglik as ’n mens ’n bietjie dronk is. Bertus, ná jou lang reis verdien jy ’n dubbel!” Jan stap na sy drankkabinet, wink Neil om saam te kom. “En jy, jong man, ’n bier,” sê hy vir Neil. “En dan gaan pak ons daai vuur.”

      “Ek’s nou eers agtien, Oupa.” Neil kyk vlugtig na sy pa. “In Kanada mag ons eers drink as ons een-en-twintig is.”

      “Wel, gelukkig is jy nie nou in Kanada nie.”

      Bertus gee skoorvoetend bes. “Net een.”

      Deur die venster sien Elna hoe afgehaal Bertus skielik lyk. Moes iets wees wat haar pa gesê het. Wat het Bertus verwag? Dat Jan Cilliers nie iewers in die loop van hul besoek gaan praat oor die lewe in Kanada nie? Nie gaan wens dat hulle moet terugkom nie?

      Sy voel hoe trek haar maag op ’n knop. Die gesprek oor Kanada is sover dit Bertus betref, lank reeds afgehandel.

      As hy net die gewoonte kan aanleer om te luister, regtig te luister, sal hy dalk agterkom hoe sy daaroor voel. Vraag is net, hoe gaan sy hom leer luister?

      — V —

      Dominee Rudi Naudé se huis is wat mens kan verwag van ’n godvresende man wat geen erg het aan uiterlike vertoon nie – eenvoudig dog smaakvol gemeubileer. In die leefvertrek val die klem op ’n groot skildery teen die een muur waarin ’n prediker en ’n engel prominent is. In die middel van die vertrek is die eettafel met sy Persiese tafelkleed en ’n rottangmandjie in die vorm van ’n kruis, met rivierklippies daarin gepak.

      Die predikantsgesin sit op hierdie naweeksoggend by die tafel aan – dominee Rudi aan die hoof, geklee in dit wat hy as informele drag gerade ag vir die alledaagse omgang met sy gesin en gemeente: langmouhemp, baadjie, krawat en chino’s. As mens hom op sy eie in die Mall sien stap, met hierdie klere aan, sal min mense twee keer na hom kyk. Hy lyk skadeloos, iemand wat nie werklik op enige plek spesifiek wil wees nie, en jy stap by hom verby terwyl jy anderpad kyk en opwindender dinge raaksien. As Rika aan Rudi se sy sou wees, is dit ’n ander storie. Mans sien selde haar konserwatiewe kleredrag raak. Hulle is dadelik bewus van die sensualiteit wat sy hard probeer wegsteek, onsuksesvol. Daardie mond, onnutsig soos ’n jong Britney Spears s’n, haar wangbene klassiek en prominent soos mens jou voorstel die godin van liefde s’n sal lyk. O, ’n smeulende vulkaan, sonder twyfel, net jammer van daardie kardoes langs haar ...

      Rika sit aan die dominee se linkerkant, eenvoudig en na haar kinders se smaak té vaal aangetrek, maar Rudi sê altyd dat haar aanvoeling by die kies van stemmige drag onverbeterlik is. Haar hare is teruggetrek en in ’n bolla agter haar kop vasgemaak.

      “Kry jy daai bolla ooit losgeskud?” het haar ma haar jare gelede al gevra, op ’n dag dat Rudi vir Ouma weer só geïrriteer het met sy ie-ie-righeid.

      “Elke ding op sy tyd, Ma,” het sy geantwoord. “Elke ding op sy tyd.”

      Hul kinders, Gerhard en Esmé, sit soos hulle deur die jare geleer het om te sit: Gerhard aan sy pa se regterkant en Esmé langs Rika, met die rottangbakkie-kruis amper tussen Gerhard en Esmé aan die ander punt van die tafel. Gerhard dra ’n gholfhemp en Esmé is ’n skadu van Rika, met net ’n raps meer groen in haar somersrok.

      Die kinders is hul gesamentlike prestasie, sê Rudi altyd. Hy is baie trots daarop dat hy deur sy voorbeeld vir Gerhard kon inspireer om ook sy lewe af te staan aan die verkondiging van Gods Woord. Gerhard is in sy laaste jaar van studies voor hy gelegitimeer sal word. ’n Ernstige jong man, nie gewoond aan grappies maak nie. Christelle, sy vorige vriendin, het hom afgesê omdat hy so swaar dra aan sy sombere lewenstaak.

      Esmé self het nog nie ’n vaste “vriend” in haar lewe nie. Daar was al ’n hele paar, maar sy is besig met nagraadse studie in kommunikasiekunde nadat sy reeds as maatskaplike werker bekwaam is. Sy het nie tyd vir pollevink nie.

      En hier sit hulle weer, Bybel op die tafel en haar pa gereed om almal te herinner hoe diep dankbaar hulle vir alles moet wees.

      Rudi het die pragtige leergebonde Bybel met sy vergulde bladeindes voor hom oopgeslaan by die Ou-Testamentiese hoofstuk Job. Hy rig hom tot sy gesin, rustig, sy stem vol gesag maar kalm, so sonder enige aggressie. “Aangesien ons nie ná die maal by oom Jan-hulle boeke sal kan vat nie,” sê hy, “het ek gereken ons doen dit sommer nou, voor ons gaan.”

      Sy gesin aanvaar sy besluit sonder teenspraak, Rika stil en met ’n uitdrukkinglose gesig, Gerhard en Esmé met geboë hoofde.

      “Boesman, open jy vir ons met gebed,” vra Rudi en kyk na sy seun.

      Almal neem hande – die kring van gelowiges voltooi.

      “Onse Hemelse Vader,” bid Gerhard, sy hoof geboë en oë gesluit, “ons dank U vir hierdie dag wat uit u genade vir ons gegee is en ons vra u seën oor die lees en hoor van u Heilige Woord. Amen.”

      “Dankie, seun. Jy gaan eendag ’n baie beter dominee wees as wat ek ooit was.”

      Gerhard glimlag beskeie.

      Rudi sit sy leesbril op en wend hom tot die Heilige Woord. “Ons lees uit Job 3, vers 23 tot 26,” sê hy met sy oë net-net bokant die Bybel verby. “Job wonder hoekom God weier dat ’n ellendige man doodgaan.” Dan begin hy lees: “Waarom gee Hy lig aan ’n man wie se weg verborge is, ’n man wat deur God aan alle kante ingesluit is? Want soos my brood kom my gesug, en my gebrul word uitgestoot soos water. As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe. Ek het geen kalmte en geen stilte en geen rus nie, of daar kom die onrus.” Hy slaan sy oë op. “Tot so ver,” sê hy, pouseer en hervat dan in die effens hoër stemtoon wat die aanvang van sy betoog aandui: “Nou hoekom sou ek hierdie droewige verse gekies het?”

      Rika, Gerhard en Esmé kyk stil na Rudi. Hulle ken sy manier van retoriese vrae vra, die skaam glimlaggie waarmee hy dit beklemtoon.

      “Omdat ons vanaand by oom Jan en tannie Maria gaan kuier om oom Jan se verjaarsdag môre te vier en om Elna en Bertus en Neil te verwelkom. En ek wil hê dat ons almal, terwyl ons lekker kuier en eet, sal onthou om dankbaar te wees vir God se genade teenoor ons en ons geliefdes. Ons lewe almal, ons is gesond, en ons is gelukkig ... ons is almal inderdaad geseënd. En dat ons, as ons ooit soos Job in ons geloof deur die Vader getoets word, sal sterk staan omdat ons weet dat die Here sy kinders toets net omdat hy hulle liefhet. Amen.”

      Die Naudé-gesin staan op van die tafel, gereed om na hul familie te vertrek. In net een van hulle se gedagtes bly die teksvers maal. Wat in die wye wêreld, wonder Rudi, vrees hy die meeste? Moeilik om te sê. Niks groots nie. Wat enige mens maar vrees. Wat enige getroude man met kinders maar vrees.

      — VI —

      Daar was ’n aand, eintlik ’n nag, hul eerste winter in Vancouver, toe Bertus, met die naglampie agter sy skouers wat veroorsaak dat sy gesig in donkerte gehul is en sy haar oë effens op skrefies moet trek,