Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

wys hoeveel hy daarop kan staatmaak dat hulle presies dít sal doen wat hulle altyd doen. Adriaan – ja, Adriaan wat Jan altyd moet dra – wat dadelik opspring en sê hy het nog ’n dop nodig. Antoinette, die ewige aanhitser, wat by hom aansluit en Rika probeer aanhits om teen Rudi se wense in nog ’n glas wyn te drink, Rika wat ja sê, asof ...

      Rudi plaas sy hand vermanend op haar been. “My liefling ...”

      Rika kyk vir ’n oomblik na Rudi, buig die knie. “Weet jy, Adriaan, ek dink ek het eintlik genoeg gehad.” Sy lag verleë. “Netnou slinger ek hier rond.”

      Antoinette is dadelik gereed om te por. “Rika, die dag as ek jou sien rondslinger, is die dag dat hierdie land weer ’n wit president het.”

      Jan kom die kombuis binne met ’n groot bak vol gebraaide vleis. Maria is alleen daar, besig om opdienbakke uit te sit. Bakke vol slaai staan op die toonbank. Jan sit sy bak neer en Maria begin dadelik om dit oor te pak in die opdienbakke. Wanneer hy met haar praat, is dit in ’n sagte toon, een wat verskoning vra vir al sy ma se kwinterige opmerkings, sy liefde vir Maria onmiskenbaar. “Sal ek die pap solank uitvat?”

      “Ja. En daar’s die sous.” Sy beduie hy moet oppas vir die warm bak, gee hom ’n lap aan om sy hande te beskerm, maar gee dit ook nie aan nie, sodat hulle staan en hande vashou.

      Daar kom ’n stilte tussen hulle.

      Maria kyk op na Jan, kommer in haar oë. “Wanneer gaan jy vir Elna en Bertus sê?”

      Jan laat die sekondes verbygaan. ’n Kwelling laat sy hele gelaat versomber.

      “Ek weet nie.” Hy skraap moed bymekaar, probeer die oomblik lig maak. “Oormôre, ná my verjaarsdag.” Hy haal sy skouers op, begin wegbeweeg, wil nie sien hoe die hartseer van Maria besit neem nie. Hy glimlag. “Maar eers hou ons partytjie.”

      Jan stap uit met die sous.

      Hy laat Maria agter met hul stilte.

      — XII —

      “Nou ja, julle moet my verskoon, laat ek my battery so bietjie kan recharge.” Jan se woorde was die finale teken dat almal kan gaan doen wat hulle nou bitter graag wil doen – ’n bietjie slaap. Die gaste is weg. Ouma is in haar kamer. Neil lê al en snork op sy bed.

      Die huis is stil. Elna is bewus van die geluide van ’n briesie deur die bome buite die huis. Nou en dan ’n getoet van ver weg, daar onder, waar die naweekverkeer ’n onverbiddelike tempo handhaaf.

      Bertus en Elna het alleen agtergebly – die eerste keer dat hulle alleen is sedert hulle hul slaapkamer in Kanada verlaat het, hoeveel ure gelede? wonder Elna.

      Dis ’n oneindig lange dag. Sy het met rukke en stote tydens hul vlug geslaap. Daar is altyd vreemdelinge binne ’n meter van jou af, en al sou Bertus of Neil ook binne daardie meter beweeg, voel dit altyd so, wel, openbaar. Blootgestel.

      Elna is nie meer seker op watter dag en in watter tydsone sy haar bevind nie.

      Die enigste ding wat konstant gebly het sedert hulle uit Kanada weg is, is die spanning wat tussen haar en Bertus lê. Sy weet, sy weet – één gesprek, een goeie gesprek, en hulle sal dinge kan regmaak. Sy is seker Bertus weet dit ook, miskien in sy onderbewuste eerder as voorop in sy gedagtes, maar hy weet dit. Dis net dat goeie gesprekke gewoonlik aan die gang kom as jy die regte sinjale sien en daarop reageer. Ignoreer jy daardie tekens, beteken dit uiteindelik dat jy die goeie gesprek by wyse van ’n woordewisseling agter die rug moet probeer kry. En dan is albei agterna vir mekaar kwaad. Dit los niks op nie. Soos die ure verbygegaan en sy probeer het om ’n vrolike front aan almal by haar pa se braai voor te hou, het sy net meer bewus geword daarvan dat sy én Bertus die sinjale met minagting laat verbygaan.

      En maak nie saak hoe akuut dit nou is nie, soms moet sy op haar tande kners, of sy draai om en gee hom die klap wat hy verdien.

      Nou weer. Elna huiwer op die rand van ’n uitbarsting. Wat besiel Bertus om ewe kameraadskaplik vir haar te vra wat dit met mense is wat altyd aan hulle wat geëmigreer het vra of hulle dit oorweeg om terug te kom?

      Is die vent só afgestomp vir sy vrou se gevoelens? Is hy blind!

      Elna staan ’n ruk met die laaste skinkbord vol vuil glase in haar hande en sit dit dan stadig, berekend sag, op die kombuis se werktafel neer. “Waarskynlik omdat hulle dink oor hoe hulle sou voel as hulle nie meer in die land van hulle geboorte leef nie,” sê sy.

      “It irritates me,” antwoord Bertus, terug in sy Kanadese skedelspasie, “I’m going to lie down.” Hy kom staan agter haar, sit sy arms om haar lyf en laat sy slaap sag teen haar agterkop rus. “If I’m not mistaken it’s five or six o’clock in the morning for us. Neil has passed out.”

      Elna hou hom terug: “Hoekom Engels met my, maar nie as my ma of pa by is nie?”

      Bertus hou haar steeds vas. “Ek wil nie ’n issue daarvan maak nie.”

      Elna draai haar kop skuins en sien hom die kamer uit met: “Ek’s nou daar.”

      En tog rek die middag vir haar nog langer uit soos sy die kombuis aan die kant bly maak – uit gewoonte, soos ’n dogter in die huis van haar ouers maar doen, maar ook omdat daar ’n woede in haar kook wat sy liewer gesluk wil kry voordat sy by haar man in hul slaapkamer aansluit.

      Oorweeg sy dit om terug te kom?

      Elke dag, elke dag ...

      — XIII —

      Vlooi, die onrustige dwaler. Vandat hulle van oom Jan-hulle teruggekeer het, kan hy nie sy sit kry nie. Soek iets te peusel in die kombuis, maar trek sy neus op vir alles in sy ma se yskas en spens. Gaan staan voor die spieël in die badkamer en vind dat niks, maar absoluut niks, aan sy gesig verander het sedert hy dit die oggend goed in dieselfde spieël bekyk het nie. Iets hap aan sy skene en hy kan nie agterkom watse gedierte dit is nie. Maar hoe meer hy dwaal, hoe helderder sien hy die saak, en uiteindelik kan dit nie anders nie. Hy stap na Elisabeth se kamer, waar die deur soos gebruiklik toe is. Hy stap in sonder om te klop en gaan sit in die groot gemakstoel waarin Elisabeth haar gewoonlik drapeer. Vanmiddag lê sy egter plat op haar maag op haar bed en blaai deur ’n modetydskrif.

      “Excuse me,” kom dit van die bed af, “wie’t gesê jy mag inkom?”

      “Moenie dink ek weet nie waarmee jy besig is nie.”

      Elisabeth blaai nog verbete deur die tydskrif. “Besig met wat?”

      Sy draai nie na Vlooi nie. Hierdie manier van haar, om met hom te praat terwyl sy alewig met iets anders besig is, irriteer die hel uit hom uit.

      As hy haar gesig kon sien, sou hy sien hoe sy haar frons oefen.

      Vlooi staan op en stap nader, leun met uitgestrekte arms op die bed, en nou eers verwerdig Elisabeth haar dit om na hom te draai.

      “Ek het gesien hoe jy met ou Neiltjie flirt.”

      “Ag asseblief, man.”

      Hy sal haar sewe uit tien gee vir verontwaardiging. ’n Bietjie meer woede, en dit kon nege uit tien gewees het vir ingehoue verontwaardiging. “Lyk ek vir jou soos ’n poephol? Huh?”

      Elisabeth staan van die bed af op. Die verontwaardiging op haar gelaat voer ’n stryd met ’n trotse, skalkse glimlag, en die glimlag is besig om te wen. “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

      “O, jy weet nie waarvan ek praat nie. Soos in wat het jy in die badkamer saam met hom gesoek? Huh?”

      Elisabeth se masker wil-wil glip. Terwyl sy praat, sukkel Vlooi om te verstaan hoekom sy so glimlag, terwyl sy kliphard probeer om te klink asof sy haarself glo. “Ek het per ongeluk ingestap toe hy daar binne was, dis al.”

      “Per ongeluk?”

      “Oom Jan-hulle het nie Men- en Ladies-toilette nie, oukei?”

      “En