Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

land se grense. Haar alleen te laat. Miskien is iets anders ook aan die uitbroei. Dalk met Elna te doen? Sy kan sien dat Jan vir Maria probeer beskerm. Die oomblik is vir haar baie groot. Praat al maande lank daarvan om by Elna in Kanada te gaan kuier. Elna het net telkens laat weet dat hulle nog nie ingeburger genoeg is nie, dat die tyd nie heeltemal geleë is nie. Wat ’n ma soos Maria haar natuurlik dadelik allerhande drog-scenario’s laat indink: Die ergste wat moontlik kan gebeur, is moontlik aan die gebeur. Of nog erger! Dan kalmeer Jan haar, Jan met sy ysere wil en sagte begrypende stem. Met dié dat Elna se Bertus die rug so ferm op Suid-Afrika gekeer het, is Jan en Maria hiperbewus van enigiets wat tipies van die negatiewe aspekte van die Suid-Afrikaanse bestaan mag wees – soos moontlik inbrekers wat helder oordag by hul sekuriteitshek kan verbykom. Verbeel jou! Skaam vir jou eie land! Iemand moet Bertus nog die waarheid vertel, kaalkop. Dalk moet sy dit sommer vandag nog doen.

      Ouma Cilliers sien die vertedering raak waarmee Jan na Maria kyk. Sy kan sien hoe die vrees in Maria se oë die wyk neem, en sy weer bewus word van haarself en hoekom die dag vir haar spesiaal is.

      Jan glimlag dadelik wanneer hy sien hoe Maria aan haar hare vat en die onvermydelike vra: “Hoe lyk ek?”

      “Soos altyd, my vrou, pragtig.” Hy sê dit soos ’n jong minnaar, en Maria bedank hom met ’n glimlag soos net sy kan, iewers tussen minnares en dankbaarheid. “Hulle gaan sien ek het ouer geword,” sê sy.

      “Ons het albei ouer geword.” Jan lag in sy keel. “En hulle’t dit lankal op Skype gesien!”

      “O ja, dis waar.”

      Alles terug na normaal.

      Jan en Maria begin beweeg na waar hulle stemme van buite hoor aankom.

      “Wil Ma saamkom?” vra Jan.

      Uiteindelik! Sy het begin wonder of sy onsigbaar is. “Moenie jou oor my bekommer nie,” sê sy egter en wuif hom met die hand weg. “Ek het my versekering.”

      Die woorde bly hang in die leë vertrek. Sy hoor hoe Maria vir Jan sê sy’s jammer hulle het Elna-hulle nie op die lughawe gaan ontmoet nie; Jan wat vir die soveelste keer verduidelik dat Bertus en Elna ’n motor moes huur omdat hulle wiele tydens hul besoek nodig sou hê. Ouma hoor die vreugdevolle uitroepe van buite kom, die blye jubeling. Sy wil nog keer, kan nie toelaat dat haar kleinkinders haar só sien nie, maar die voorbode neem van haar besit en sy begin ruk van die huil, ’n ontsteltenis wat diep uit haar hart kom, ’n beklemming dat hierdie die begin is van die groot verandering en dat geen versekering op Gods aarde genoeg is om daardie verandering te stuit nie. Dat sy agterna stoksielalleen sal sit.

      — IV —

      Daar is nagte in hul Kanadese huis – lugversorg, ondervloerse verhitting, elke denkbare voorsorg teen hitteverlies na die sneeulandskap daar buite – dat Elna voel sy is nie meer bestand teen die ander soort hitteverlies nie. Die bewus wees van liefde wat jou verlaat – die gevoelens wat jy vir jou familie gekoester het, die gehegtheid aan jou ouerhuis, die saam skree vir ’n rugbyspan wat jy self nog nooit in lewende lywe sien speel het nie, maar wat jou bloed blou gemaak het. Maar diep in die donker van ’n koue nag skrik jy wakker en jy weet, wéét, dat jy nie meer so sterk voel oor enigiets daarvan nie. Elna voel die klein oorwinnings aan. Soos wanneer haar buurvrou vriendelik met haar praat. Wanneer sy die buurkinders in die Mall raakloop en hulle woordeloos vir haar glimlag. Maar selfs in die nagte wanneer sy hierdie dinge teenoor haarself begin erken het, was daar nog altyd die een brandende gevoel: Elna wil nog een keer in haar lewe by haar ouma instap en haar groet, die son sien opkom oor die verrimpelde gelaat. Daar in die verre noorderland onthou sy gereeld haar laaste blik op haar liewe ouma, in ’n rolstoel in Pa se voorhuis, haar oë wat deur haar brilglase tuur na die verste rantjies in die noorde, anderkant Cullinan, haar knieë toe onder ’n kombersie en haar skouers effe krom na vore getrek onder die truitjie wat Elna oor haar skouers gehang het.

      Elna se hart begin wild klop wanneer sy ingehaak by haar ma die sitkamer binnekom. Daar sit Ouma, sonder truitjie, geklee in ’n bruin somersrokkie met wit blompatrone, en ’n geruite wolkombers oor haar knieë. Elna gooi haar reisjas en grimeertassie op die tafeltjie voor Ouma neer en swaai om, arms uitgestrek. Elna glimlag breed, ’n kreet wat onderdruk word, trane wat in haar oë opwel. “Hallo, Ouma!”

      Elna wil Ouma op haar wang soengroet, maar haar Ouma hou haar lippe.

      Ek is tuis, juig dit binne Elna.

      “So, julle’t toe kom kuier,” sê Ouma afgetrokke.

      Elna is vir ’n oomblik uit die veld geslaan – sy het vergeet hoe die ouderdom haar ouma ingehaal het. Elna begin skielik energiek praat, en dit is moeilik om te bepaal of sy op die punt is om te begin huil en of sy bly is. Op die nippertjie besef sy dis blydskap hierdie keer, en beantwoord haar ouma se opmerking met ’n pragtige breë glimlag: “Ja, Ouma.”

      “Wanneer gaan julle terug?”

      Die vraag is só onverwags, dit veeg die glimlag van Elna se gesig.

      “Mens vra nie sulke goed nie, Ma,” maan Maria.

      Ouma is in ’n vreemde vrolike luim, kom Elna gou agter.

      “Kinders vra nie sulke goed nie,” sê Ouma ferm, maar met ’n sweempie humor daarby. “Oumense vra wat hulle wil!”

      “Ons is net vir ’n paar dae hier, Ouma,” antwoord Elna. Sy wil byvoeg dat Bertus nie te lank van die kantoor af kan wegbly nie, maar besluit die verduideliking kan later kom. Maar dit is ook nie nodig nie. Ouma het duidelik net een persoon wat sy bitter graag wil sien.

      “Waar’s Neil?” vra Ouma, gemaak ongeduldig.

      “Die manne dra die tasse in,” val Maria gou in. “Hulle sal nou kom groet.”

      Ouma bekyk Elna goed. Ou herinneringe wat opgeweeg word teen nuwe inligting. “Ek sien jy’t bietjie lyf gekry.”

      “Spekvet en gesond, Ouma.”

      Wat is dit, wonder Elna, met haar ouma? Hoe kry sy dit reg om met mense te praat en te sorg dat die gesprek so in ’n opmerking in smoor? So asof haar mening só swaar weeg dat alle ander moontlikhede verdamp, almal met hul monde vol tande sit? Wat anders antwoord mens, spekvet en gesond?

      “Ek’s moeg,” sê Ouma. “Ek wil gaan lê.”

      Elna merk dat haar ma geïrriteerd is met Ouma. Die verloopte dogter keer ná ’n lang afwesigheid terug en Ouma raak ná drie sinne moeg? Dinge het nie verander nie.

      Maria het die rolstoel al aan die swaai. “Goed so. Ek sal Ma kamer toe vat. Elna ...”

      Elna maak haar jas en tassie bymekaar.

      “Ek wil nie die braai mis nie,” kla Ouma oor haar skouer.

      “Ek sal Ma kom wakker maak wanneer Jan die vuur begin,” sê Maria. Hierdie temerige stemmetjie met sy neulende toon begin Maria uit haar goeie maniere uit irriteer.

      “Ek het nie gesê ek wil gaan slaap nie. Ek het gesê ek wil gaan lê.”

      Ouma laat die laaste klanke soos skapies se geblêr oor die vlakte klink, dink Maria.

      Elna sien hoe dun Maria se lippe trek. Sy wonder, effe weemoedig, of sy ooit die kans sal hê om Maria só te versorg.

      “Gaaf,” sê Maria, heel beheersd. “Ek sal Ma kom haal wanneer Jan die vuur begin.”

      En dadelik sak haar moed in haar skoene. Bertus, Neil en Jan kom die kamer ingestap, Bertus asof hy nie amper ’n dag lank op die vliegtuie deurgebring het nie, Jan die ene tande en Neil skaam agteraan.

      Maria swaai die rolstoel terug na waar dit vandaan gekom het. Ouma se plekkie voor die kaggel, van waar sy haar aardse koninkryk kan sien ...

      “Ouma!” roep Bertus hartlik uit. “ Dis goed om Ouma weer te sien.”

      “As dit so goed is, hoekom het julle in die eerste plek ge–”

      Elna