Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

dit?” Adriaan se kreet kom hoog, maar nie heeltemal so hoog as wat dit sou wees as hy nie so totaal stomgeslaan was nie.

      “En dit wat, Pa?” Die ene onskuld.

      Adriaan besluit hy moet hom op ’n hoër gesag beroep. Hy draai na Antoinette: “Sy gaan tog sekerlik nie in daardie klere na die braai toe nie?”

      “Get with the times, Pa. Al my vriende dra hierdie soort klere.”

      “Ons gaan nie by jou vriende kuier nie, meisie, ons gaan by jou oom en tannie en jou ouma kuier.” Toe hy dit sê, weet hy dat hy Antoinette as bondgenoot verloor het.

      “Los haar! Laat sy dra wat sy wil.” Antoinette wil nie korswil daaroor nie.

      Adriaan maak hom met sy bril doenig. Sou hy op hierdie oomblik opgekyk het, sou hy die vinnige oorwinningsglimlag oor Elisabeth se gesig sien beweeg het, vinnig, in sy rigting, voordat sy haar oë weer ernstig op haar ma rig.

      Antoinette vra: “Het jy in jou linkerkantse kas gekyk?”

      “Hoekom sal hy daar wees?”

      “Want dis waar sy hom al vantevore gehang het.”

      Antoinette laat haar self ’n glimlag toe wanneer Elisabeth vinnig uitstap – bly dat die kind nog nie soos haar ma op haar voete dink nie en dadelik vra hoe sy wat Antoinette is so goed weet wat gereeld in Elisabeth se kaste gebeur.

      Adriaan sien wel die glimlag raak. “Ek kan nie glo dat jy ...”

      “Sy’s nie meer ’n kind nie. Probeer haar nou vasbind, en sy sal net harder skop. Jy weet hoe sy is.”

      “Ja-nee, ons weet wie se kind sy is.”

      “Ek kan nie onthou dat jy gekla het oor die skimpy rokkie wat ek gedra het toe ons op ons eerste date gegaan het nie ...” Sy staan naby Adriaan, trek hom aan die hemp nader sodat hy nie anders kan as om baie bewus te wees van haar nie, van die eau de toilette wat sy rojaal aan haar nek en borste ingedamp het.

      “Dis anders.”

      Haar heup raak nou aan Adriaan s’n. “O, en hoe’s dit anders?”

      Adriaan verloor al sy stoom. In die oomblik van aarseling lê ’n lewe van kapitulasie. “Man, dis net anders.”

      Hy stap uit, maar kom dadelik terug, asof hy iets vergeet en weer onthou het. “Dis ’n familiebyeenkoms. Nie ’n date nie,” sê hy.

      “Vir ’n meisie van haar ouderdom is elke geleentheid ’n date.”

      Adriaan skud net sy kop. Hy is reeds buite hoorafstand wanneer Antoinette haar eie oog in die spieël vang en saggies lag voordat sy haar lipstiffie finaal optel. In hierdie huis, weet sy, is alles soos ’n lang uitgerekte militêre kampanje. Beplanning en teenbeplanning, strategiese skuiwe en voorspelbare reaksies. Daarom dat sy die alewige braaie by Jan en Maria so haat. Dit is asof sy momenteel haar mag oor Adriaan verloor. Hy luister na ander mense wat die sweep klap. Beur in ’n ander rigting as die een waarin sy wil hê hy moet beweeg. Jan die touleier, Adriaan die vooros. En dan piekel almal maar agter Adriaan aan, wat agter Jan aanpiekel.

      Té veel van ’n piekelry, wat haar betref. Hoe gaan sy Adriaan sover kry om skei te breek?

      Sy lag nie meer wanneer sy die huis se deur agter haar toetrek en sluit nie. “Waar is Vlooi?” vra sy wanneer sy by die motor kom.

      Antoinette kan nie glo dat ná al die geneul en gedreig van die oggend Vlooi steeds só draai dat hy nog nie saam met sy pa en suster gereed is vir die uittog na Jan en Maria nie. Sy gooi haar handsak op die voorste sitplek neer en stap terug huis toe. Adriaan kan hoor hoe sy sag probeer praat met haarself terwyl sy wegstap, tande styf op mekaar geklem. Hy kan die “... die klein stront ...” uitmaak, maar dan verdwyn sy die huis in.

      Vlooi is in sy kamer. Sy heiligdom. Sy ouers dink hulle ken hom, maar as sy ma nou oor sy skouer kon geloer het, sou sy sy ander sy gesien het, die ware punt van sy hart.

      “Vlooi,” roep Antoinette in die gang af, “as jy nie nou kom nie, moet jy self daar uitkom.”

      “Ek kom, Ma,” antwoord hy.

      Hy kyk na die rekenaarskerm voor hom. Dis oop by die 777-webblad. Boeremag, krygers van die Suiderland. Vlae: variasies op die ou Transvaalse vierkleur, variasies uitgedink deur Boere-milisie.

      Dáár, dink Vlooi, dáár lê my toekoms. Sy bloed bruis van die sien van al die dinge wat vir hom net een ding uitspel: opstand.

      Voordat hy uitstap, kyk hy ’n laaste maal in sy spieël en glimlag begrypend vir homself.

      In die spieël is alles agterstevoor, maar hy ken die spreuk wat op sy T-hemp sy sentimente uitbulder heeltemal uit die kop: Boer met ’n roer. Dít is wie hy is, dink Vlooi.

      Adriaan en Antoinette sien dadelik die T-hemp raak.

      Laat die kind sy geloof só uitdra, dink Adriaan. Dalk maak hy vriende.

      Antoinette sug weer van verligting. Sy was so bang Vlooi dra sy ander T-hemp, die een waarop staan: Ek doen alles net vir my Mammie.

      — III —

      Ouma Cilliers sit net waar Jan haar gelaat het en staar oor die huise en bome in die verte. Haar gedagtes is by tye en mense wat fleurig was toe die klippe onder hierdie sitkamer nog bloot onder die hemele gelê het. Hul plasie, haar geliefde. Hy wat nie meer hier is nie, hulle wat weggeraak het in haar gedagtes. Die grond wat seker nou gereed lê vir die ploegskaar. Die melkkoeie, die verpesting in Kleinjan se lewe, voordat hy groot Jan geword het en skoonheidsdrome aan die land se vrouens verkoop het. Dink hy soms nog terug aan die vroeë oggende, met die spene wat deur sy vingers glip, die melk wat teen die emmer se wande girts-girts? Die paadjie terug opstal toe, sy wat met hom raas as hy koeimis in die huis in trap? Die koffie wat op die Aga staan en moer trek? Sy sien hom nog sit by die tafeltjie in die kombuis, geduldig en wag dat die beskuit sag word in die swart koffie. En Kleinjan wat sy enemmelbeker vinnig by die wasbak uitspoel, nog koffie ingooi, en verkas, stalle toe, waar hy om die hoekie met die plaasvolk om die konka gaan sit, ’n beker koffie ruil vir ’n mielie wat hulle vir hom in die konka gereed gemaak het, die pitte plek-plek swart gebrand, sodat hy dit met opset en vernuf moet kou. Kleinjan, altyd die geselligheid vanself, selfs op oggende wanneer die son nog nie die ryp van die gras weggebrand het nie. Nie omgegee het met wie hy gesels nie, solank hy net kon gesels. Kry dit seker maar van haar. Sy was nooit op haar bek geval nie. Mense het haar daarvoor kwalik geneem. Wat maak dit saak? Mens moet die waarheid dien – sê wat jy sien. Nou nog. Maria, die klein merrie, wip haar daarvoor. Maar terugpraat? Nooit, té bang die ou vrou sal haar nog meer van dieselfde gee. Jan maak beswaar, maar o so beleefd beswaar. Kan die kind dan nie sy ma aanvat nie? Soos sy pa gedoen het. O, dit was dae daai! Hulle het mekaar goed gesê, maar met respekte altyd. En agterna, wanneer die toorn gesak het, was hulle steeds nog so lief vir mekaar soos altyd. Wanneer Elna die slag vir haar uit Kanada skryf, is dit tog te ordentlik. Maar sy weet, dít wat nie gesê word nie, spreek luider as selfs ’n rugbyskare se gebulder. Wag maar, hulle is op pad en hulle sal die kwaadgeit nie kan wegsteek nie. Daarvan is sy seker. Sal seker die vroomheid vanself wees, maar sy het ore en sy het oge en sy sal weet, bitter gou weet. Hulle kan dit nie vir haar wegsteek nie. Boetjan het probeer, maar sy het hom in die oë gekyk en sy het die drankduiwel sien terugkyk. Hulle mag dink sy’s oud en seniel, maar hulle weet nie hoeke groot fout hulle maak nie.

      Sy hoor nie die motor buite toet nie, drie keer, feestelik.

      Maria kom ingehardloop met ’n uitbundige “Jan! Ma! Hulle’s hier! Hulle’s hier!” Sy onthou skielik hul sekuriteitshek en -stelsel. “Hoe’t hulle ingekom?”

      Sy praat met Jan. Asof sy nie hier is nie.

      “Wat vra jy, my skat?” Jan aard op dié manier darem na sy pa. Stel gerus wanneer hy die angs in Maria se stem hoor. “Ek het hulle naam voor by die sekuriteit gelos.”

      Sy is trots op Jan se bedagsaamheid. Maar sy is eintlik baie geïrriteerd