Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

Amerika, en jy sou nie sê sy kom van Benoni nie.

      Dis hoekom sy haar gesigoefeninge opvolg met stemprosedures. Soos sy dit noem. Een vir Ma, ’n ander vir Pa. Neutraal vir wanneer hulle albei daar is. Goed, dit kos nog werk.

      Sy wip op die stoel voor haar spieëltafel neer.

      Kyk haarself ernstig in die oë.

      Fokus op ’n afstand.

      “Ken julle my?” vra sy en lig haar linkerwenkbrou so hoog moontlik. Sy kraak oop in ’n groot glimlag. “Julle sal nog, sweeties.” Sy knipoog vir haarself.

      Dan werk sy haar stem. Ma-stem. ’n Mengsel van kameraderie en reine onskuld. Die leerling wat die mentor aanspreek. Die bewonderaar wat met die ster praat.

      Min tyd aan haar Pa-stem, wat sy as baie natuurlik beskou: iewers tussen nimf en reine onskuld, die babatjie wat skielik soos ’n grootmens praat. Sy weet sy soek skoor met ’n element van die verleidster in haar stem, maar let’s face it, dis wat aan die gang is, al weet almal dit word nooit iets goors nie.

      Sy hou woes baie daarvan om met haar pa te praat.

      Elisabeth sit vertroulik nader aan haar spieëlbeeld.

      Nou vir die killer. Sy kyk skalks onder haar wimpers deur na die wêreld. Sy draai haar kop effens teen die skuinste in. Sy is ’n student, moeg geleer aan allerhande groot teorieë. Ure lank. Baie uitgeput. Sy sluit haar oë, maak hulle stadig en doelbewus oop.

      Sy knipoog vir haarself in die spieëltjie. “Neil, ou kid,” prewel sy, “is jy man genoeg vir klein Lizzy?”

      Sy is gereed.

      Skuifel nederig kombuis toe. Madonna met ’n mission.

      Antoinette en Adriaan is doenig met slaaigoed.

      “Ma ... kan ek vir Neil oornooi om vanaand hier by ons te kom kuier?”

      Antoinette staan by die yskas met ’n pakkie tamaties in die hand. Pure agterdog. “Vanaand?”

      Haar ma ken die tekens, lees die liggaamstaal. Vir haar ou bekendes. Been there, done that.

      Tyd vir neutraal ... “Ja Ma, hulle’s so ’n kort tydjie hier ... as ek nie nou met my nefie kuier nie, wanneer gaan ek?”

      “Jong, ek weet nie of ...”

      Sodat Pa die besluit kan neem ...

      “Man, los die kinders. Laat hulle mekaar sien.” Vanmiddag se baie dop het Adriaan in ’n gawe bui. “Dit sal waarskynlik nog vyf jaar wees voor hulle weer hulle voete in Suid-Afrika sit ... indien nie langer nie.”

      Elisabeth sien die gaping en glip daardeur. “Kan hy hier slaap vanaand?” vra sy. Aan haar pa gerig. Sy kyk sameswerend na haar ma.

      “Nou maar gaaf, ja,” sê Antoinette, “natuurlik kan hy, maar ek gaan hom nie haal nie.”

      Pappie tot die redding, soos verwag. “Ek sal.”

      “Dankie, Pa. Pa is ’n koning.”

      Sy is weer die klein dogtertjie.

      “Ook maar net as ek jou gee wat jy wil hê.”

      En hy die gemaak strenge vader.

      “Natuurlik. Dis hoekom dogters pa’s het.”

      Antoinette keer Elisabeth voor voordat sy kan uitstap. “En onthou ... en sê vir daai broer van jou ook, asseblief: Ek verwag dat julle albei môre middagete hier sal wees. Ouma en Oupa kom kuier.”

      “Maar ons het nou net vandag ’n braai by hulle gehad.”

      “Ouma en Oupa Venter, Elisabeth, of het jy vergeet dat ek ook ’n ma en pa het?”

      “Oukei, oukei, jammer.”

      Elisabeth lyk nie jammer nie, dit weet sy. Voel ook nie so nie. Sy’s besig met ander gedagtes. Lekker gedagtes. Sy hoor haar ouers nog in die kombuis gesels. Haar ma gee ’n gilletjie. Elisabeth weet dat haar pa in een van daai buie is.

      By Vlooi se deur onthou sy van die boodskap wat sy moet gee. Sy wil sommer inbars in die kamer in sonder om te klop. Maak soos hy altyd by haar kamer maak. Ongepoetste buffel.

      Dan hoor sy hom praat.

      Versigtig draai sy die deurknop en stoot dit sag, bitter sag, op ’n skrefie oop. Deur die groter wordende spasie van die deur kan sy hom in die spieël op die bed sien sit.

      Vlooi is soos in far gone. Fantasieland.

      Hy is daai Travis-dude in die fliek Taxi Driver wat sy en Vlooi ’n paar aande gelede op DVD gekyk het. Vlooi is die Boere-Travis.

      “Praat jy met my? Praat jy met mý?” Hy pluk ’n denkbeeldige pistool langs sy sy uit en rig dit op ’n denkbeeldige aanvaller. “Wat sê jy nou? Huh? Wat sê jy nou?”

      Vlooi lyk genadeloos, dít kan Elisabeth sien. Enige idioot sal dit kan sien, dink sy. Vlooi is só obvious. Hy plaas die denkbeeldige pistool terug in sy skede. “Praat jy met my? Praat jy met my?” Hy herhaal die uitplukproses. “Wat sê jy nou? Huh? Moenie dink jy kan in my huis kom en my familie aanrand nie.”

      Ag, boring! Sy stoot Vlooi se deur sonder seremonie oop. “Ma sê sy verwag dat jy môre vir middagete hier sal wees. Ouma en Oupa Venter kom kuier.”

      “Klop jy nie?”

      “Sê hy wat nog nooit in sy lewe geklop het nie.” En sy maak haar vinnig uit die voete.

      Elisabeth maak haar kamer aan die kant. Neil kyk toe. Hy weet nie wat anders hy kan doen nie. Mens kan tog nie ’n bloes sommer optel waar dit oor ’n stoel gedrapeer is nie – wie sal weet of Elisabeth dit wel wegsit? Of in die wasgoedmandjie wil prop? Nou staan hy maar, lê eintlik half op die rugkant van die stoel voor Elisabeth se spieëltafel. Sy tel op, sit weg, dra dingetjies aan na die spieëltafel, besig soos ’n mier. Maar hy kan nie help om te sien hoe sy dit doen nie – die een hand wat sensueel langs haar lyf af streel wanneer sy orent kom, die regtrek van haar broekie onder haar rok, doelbewus sodat hy dit moet sien. En wanneer sy iets op die spieëltafel neersit, beweeg sy nie dadelik weg nie. Sy bly staan, te naby om haar te ignoreer. Neil voel ongemaklik. ’n Lekker ongemaklik.

      Dit was omtrent ’n mission om Neil alleen in haar kamer te kry.

      Pa het hom soos ’n seremoniemeester gedra en Ma was die Perfekte Gasvrou.

      Neil het lekker gesels met hulle. Al die vrae oor Kanada beantwoord. Wanneer gaan hulle terugkom en hoekom nie?

      En Vlooi wat heeltyd wisecracks maak oor swartes en politiek. Asof hy enigiets weet.

      Sy het besluit om nie te baie te praat nie, en toe Adriaan en Antoinette se Irish coffees klaar was en Neil se roomys en sjokoladesous by die laaste skeppie, het sy as uitnooier haar regte opgeëis. Sy en haar nefie wil ’n hond uit ’n bos uit gaan gesels.

      En hier is hulle!

      “My ma wil natuurlik hê dat ek nou dadelik met ’n graad moet begin,” sê sy en neem sy hand in hare, skynbaar ingedagte, en los dit langsaam terwyl sy haar ma se stem naboots: “Kyk na Esmé, sy het direk ná skool varsity toe gegaan, en kyk waar trek sy nou ... doen nou haar honneurs.”

      Neil smile só cute!

      “As jy nie gaan swot nie, wat wil jy doen?”

      “Ag, ek weet nie ... die lewe ’n bietjie geniet, veral ná twaalf jaar op skool. Ek sou graag in Europa wil gaan backpack, maar om dit by my pa verby te kry. Hallo!” Sy draai dramaties weg van hom en gaan sit aan die voetenent van die bed. Sy kruis haar bene kamma kuis, maar Neil kan die lyne van haar bobene mooi raaksien terwyl hy langs haar gaan sit. “Ek sal water uit ’n rots slaan voor hy dit goedkeur.”

      “Jy kan altyd vir ’n ruk by ons kom kuier.”

      ’n Magiese oomblik.