Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

besig om te lieg, maar Vlooi besluit om vir eers te retireer. “Sekere katte kan.” Vlooi wys waarskuwend met sy voorvinger na Elisabeth. “Ek watch jou.”

      Hy stap by die kamer uit.

      Elisabeth glimlag agter sy rug ingenome vir haarself.

      Hierdie keer het sy gewen.

      — XIV —

      Die klein jakkalsies in die wingerd – Elna weet dis waarmee sy nou besig is. Sy het Bertus belowe sy is op pad slaapkamer toe, maar sy kom net nie sover nie. Sy wil nie gaan nie. Sy is te kwaad om nou, terwyl sy so tot die dood toe moeg is, nog met hom te gesels asof niks verkeerd is nie. Sekerlik ook in Engels, as Bertus sy sin sou kry. Nou sit sy in die sitkamer op haar ouers se groot leerbank, ’n bank wat al jare lank deel is van hul gesin se geskiedenis. Het sy en Bertus nie op daardie einste bank hul eerste soentjie gesteel nie? Hy het haar nogal onverhoeds betrap, maar ja, dit was hier. ’n Heimwee pak haar, ’n gevoel dat sy iets verloor het wat sy nooit weer terug sal kry nie. Is sake so desperaat tussen haar en Bertus? Hoeveel plesier put sy nou daaruit om hom te soen? Kan daarsonder. Is dit jou allerbeste antwoord, Elna? vra sy haar af. Jou laaste antwoord? Sy leun teen die rug aan, blaai deur ’n Afrikaanse tydskrif. Die huis is stil, Pretoria se naweekgeluide kom nou en dan by die rustige suising van die dag verby. Klanke wat eweneens herinneringe wakker maak.

      Sy hoor Boetjan aangedrentel kom, lank voordat hy naderby kom en vra: “En as jy nou hier alleen sit?”

      ’n Ou warm herinnering kom in haar gedagtes op. Sy, Boetjan en Francois laataande hier, in hierdie vertrek, ná ’n aand se ravot. Die lekker rustige geselsies van die broers met hul ouer suster. “My lyf se horlosie is nou so deurmekaar ek weet nie of dit dag of nag is nie,” sê sy.

      Boetjan gaan sit langs sy sus op die bank.

      “Ek wou nog sê: veels geluk met jou diploma,” sê Elna.

      “Dankie. Teen wil en drank het Boetjan uiteindelik ’n kwalifikasie gekry, al is dit nou net as wildbewaarder.”

      “Ek sou nie sê ‘net’ nie. Dis ’n belangrike werk.”

      “Probeer dit vir Ma vertel.”

      Elna begryp presies wat Boetjan probeer sê. Hier is ou geskiedenis. Sy weet Boetjan het reg en kyk weg.

      Boetjan tob nie te lank daaroor nie. “Maar ek het gereken as ek iets gaan doen, kan dit maar net sowel iets wees wat die lewe bewaar, nie vernietig nie.”

      Op hierdie oomblik besef Boetjan hoe lief hy sy sus het en dat hy werklik baie bly is om haar naby te hê – dit bevestig vir hom iets van homself. Hy is steeds háár Boetjan. “Dis goed om jou te sien, Elna.”

      “En om jou te sien, boetie. Ek wens ons kon langer bly ...”

      “Ja, dis donners ver, en dit vir so ’n kort rukkie.”

      “Ek wou al verlede jaar kom, maar dinge het ’n bietjie moeilik gegaan met Bertus se besigheid. Mens besef nie hoe sterk jy op jou netwerk van vriende en kennisse steun nie, tot jy hulle nie meer het nie.”

      Boetjan vermoed Elna sou meer kon sê. Vriende en netwerke is nie al wat sy mis nie, daarvan is hy seker. Familie was maar altyd vir haar belangriker as enigiets anders.

      Hul gesprek swaai heen en weer oor die dinge wat sy nog vir niemand, die minste van almal Bertus, kon uitspel. Die diepe pyn wat emigrasie bring, die wete dat jou familie wat jy agterlaat almal van die soort stoffasie is wat sal meebring dat hulle die land nooit sal verlaat nie – lief vir die plek, lief vir die mense. Sy erken teenoor Boetjan dat die reis amper haar huwelik gekos het. Hoe maklik kom sulke woorde nie op ander se lippe nie, maar so traag oor hare. Die een wat betrokke is. Bertus se afkeer van die land wat hom verwerp het – ja, dís hoe hy dit beskryf – is so allesoorheersend dat dit vir hom omtrent ’n geloofsdaad is om te sê hy weier om weer sy voete hier te sit. Maar toe Jan haar bel en vra dat sy haar gesin Suid-Afrika toe moet bring vir sy verjaarsdag, kon sy aan sy stem hoor dis vir hom belangrik. Het selfs vir hul vliegkaartjies betaal. Bertus was dae lank dikbek daaroor. Dit het gelyk of perdebye hom agter die ore gesteek en die gif wange toe gesak het.

      Dis so lekker om almal te sien, sê sy. Boetjan glimlag net begrypend. Dis só lekker.

      Terwyl sy praat, neem Boetjan ’n besluit. Daar is dinge wat hy vir Elna moet sê voordat die naweek verder vorder. Dinge wat sy móét weet. Anders gaan die pyn later groter wees. En pyn is nie wat sy nou nodig het nie. Maar hoe om die nuus pynloos oor te dra? Onmoontlik.

      Maar as hy stilbly, is hy moontlik nie die enigste een wat stilbly nie. Dan kyk hy op na sy sus, besluit dat sy die waarheid verdien. “Pa het kanker,” sê hy.

      Elna verstyf van die skok. Sy staar Boetjan oopmond aan.

      “Pankreas-karsinoom. Die dokters gee hom vier maande, mak­simum ses.”

      Elna gryp na haar mond, asof sy wil keer dat die groot skok deur haar oë uitspoel.

      Sy hou haar hand voor haar mond wanneer Bertus onverwags agter haar rug in die gangetjie praat: “Nee, o hel. Ek lê op daai bed maar ek kan wragtag nie aan die slaap raak nie. My lyf is in overdrive. Ons moes gedink het om slaappille saam te bring.”

      Elna hou haar rug na hom gekeer. Sy wil nie hê dat Bertus haar oë nou so vol trane moet sien nie.

      “Kry vir jou ’n whisky,” sê Boetjan. “Miskien help dit.”

      Elna ontspan ’n bietjie wanneer sy hoor dat Bertus gaan sit het waar hy haar gesig nie kan sien nie. Sy laat sak haar hand tot op haar skoot.

      Dan staan Bertus op om vir hom ’n dop te skink. “What the hell,” sê hy. “Eat, drink and be merry, for tomorrow we die.”

      “Bertus!”

      Hy ruk tot stilstand soos Elna se kreet deur hom sny. “Wat?” vra hy oorbluf.

      Elna staan op, beweeg op Bertus af, oorstelp van woede en bitter, bitter hartseer. “Jy kan partykeer so kras wees!”

      “Wat? Wat het ek nou gedoen?”

      “Het iemand jou al ooit gesê dat die hele wêreld nie om jou draai nie?”

      Onder ander omstandighede sou Elna haar woorde versigtiger gekies het. Maar iets dryf haar aan – dalk die wete, verworwe in soveel diepnag-gesprekke met haar man, dat hy sensitief is oor die manier waarop ander mense hom sien. Dat hy dit haat om gebrandmerk te wees as iemand wat nie omgee vir sy naaste nie. Sy kan sien aan die manier waarop die kleur sy wange verlaat dat hy besig is om woedend te word, maar sy gee nie om nie. Laat hom smeul.

      “Ek’s jammer, skat,” sê hy met groot selfbeheersing, maar heelwat luider as sy normale geselstrant, “ek weet nie waarvan jy nou praat nie. Miskien moet jy ’n bietjie gaan lê.”

      “Moenie vir my sê om te gaan lê nie!”

      Elna is byna histeries, besef hy. Hoekom? Die onsekerheid en insinuasies laat hom nog harder praat: “Ek ‘sê’ nie vir jou om te gaan lê nie, Elna. Ek het net gedink ...”

      “Ek kan vir myself dink!” skree Elna. “Ek’s jou vrou, nie jou kind nie!”

      Dis ’n ou roof wat hy afgekrap het – Elna se opstand teen sy patroniserende houding.

      “Nee, o hel,” roep hy uit, ”met wie dink jy praat jy?”

      “Met wie dink jy praat jý?”

      Elna se gil galm nog in die vertrek wanneer Jan en Maria ingestorm kom. Die woordewisseling het die ore van almal in die huis bereik.

      “Is alles oukei hier?” vra Maria. Wat ’n dom vraag, dink sy by haarself.

      Elna draai om. Sy kyk na haar ouers. Maria, liewe ma Maria, maar wanneer haar oë dié van haar pa vang, bars die dam van haar emosies. Sy hardloop uit die kamer.

      “Ek’s