Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

na my kar toe stap, was daar ’n vreemde vrou naby my kar. Sy het oorkant die straat gestaan en na my gestaar, toe stap ek oor na haar.”

      Rudi spring op, stem wat bulder. “My magtag, Gerhard!” Hy gryp sy bril wild voor sy oë weg. “Jy’s nie meer ’n kind nie. Watter deel van ‘ek is besig’ verstaan jy nie?”

      Gerhard is geskok – absoluut verstom deur sy pa se uitbarsting. Só ken hy hom nie. “Jammer, Pa ... ek het nie gedink ...”

      “Wel, miskien is dit tyd dat jy begin dink!”

      Skoorvoetend beweeg Gerhard na die deur, ’n laaste verbaasde blik op sy pa, wat reeds hard aan die werk is.

      Rudi bedaar, vee met sy hande oor sy gesig. Hy voel miserabel oor sy uitbarsting. Sy gewete pak nog ’n vrag op sy geboë skouers.

      Wat sal Rika daarvan dink? wonder hy.

      Wat maak dit saak wat sy dink? Sy kan hom nie help nie.

      Hy wag.

      Só ken hy haar: ’n minuut of wat vir hom om te bedaar, dan sal daar ’n klop aan die deur wees.

      Rudi kyk op sy horlosie, staar die sekondewyser deur twee minute.

      Hy het hom met een ding misgis.

      Rika klop nie aan die deur nie.

      Sy stap die studeerkamer binne, druk die deur ferm agter haar toe. “As jy my nie nou vertel wat aangaan nie, gaan daar moeilikheid wees.”

      Rudi sit sy pen voor hom neer op die slagveld van gemeentelike administrasie. Hy staar nikssiende voor hom uit, sy gedagtes versplinter deur die uitbarsting. Dan hef hy sy moeë oë op na sy vrou.

      Hulle het al dikwels daaroor gepraat – daardie punt wat in die verhouding tussen twee mense bereik word wanneer dit vir albei duidelik is dat niks ooit weer soos vantevore sal wees nie. Iets het verander wat albei partye laat verander het.

      Altyd ander mense se probleem. By sommige van hul gemeentelede was dit motorongelukke, by ander owerspelige verhoudings of ander vorme van ontug.

      Rudi en Rika kon in die veilige domein van hul kombuis oor ’n koppie tee ander se lewe in oënskou neem. Hulle kon besluit in watter mate hulle kon ingryp in die lewe van ander. Voorbidding en gesprek sou deug, mits die gekweldes behoefte het aan sulke dinge. Soms is die lewe so onderstebo gekeer dat mense oogklappe wil aansit, nie bewus wil wees van die res van die mensdom nie. Hulle wil alleen wees. Oorgelaat aan hul eie gedagtes. Omdat hulle weet hulle is verby die punt waar hulle nog kon omgedraai het.

      Wat Rika die meeste skok van Rudi se verhaal, is dat die punt van omdraai so lank gelede verby is. Dit ís vir hom ’n verleentheid, maar hy het nie verwag dat sy só onmiddellik daarop sou fokus nie. Dat dit ’n sonde is wat ouer is as hul huwelik.

      Hy was kapelaan, besig met grensdiens vir sy land. Sy lewe daarna? Hy het altyd gesê dat hy wandel in God se Ewige Lig. Maar nou weet hy – én sy – dat dit ’n lewe was wat onder ’n wolk koers gekry het. ’n Wolk waarvan hy nie self bewus was nie. Hannes het dit aan hom kom openbaar. ’n Gewetenswolk wat ontstaan het uit woorde en dade wat behoort aan ’n ander, vroeër lewe.

      Rudi spaar Rika niks nie. Wat sou dit hom help om te swyg oor die dinge wat hom nou so kwel?

      Hy staan agter sy lessenaar – ’n plat kateder vir die herder wat wonder of hy nog ’n kudde verdien. Rika sit oorkant hom, hewig ontstel deur die onchristelike stommiteit van haar man se dade.

      Hy verseker haar dat hy spyt het oor sy dade, maar dit is nou eenmaal dit. Hy beweeg rondom die tafel terwyl sy haar ergerlikheid uitspu in ’n verwyt: “Hoe kon jý ooit sulke dinge aan ’n jong man gesê het?”

      Daar is ’n moegheid wat Rudi se gepraat onderlê. By Rika wel die woede weer op. Weer en weer en weer.

      Dít is wat verander het.

      Hulle weet dit en kan niks daaraan doen nie.

      Rudi se gesag verdamp met elke asemhaling. Rika groei, eens die veroordeelde vaal vrou, nou die veroordelaar.

      “Ek was self jonk,” probeer hy verduidelik.

      Haar woorde, wanneer dit kom, eggo die verdoemende stem van sy gewete. “Ja, maar jy was reeds geletterd en geleerd. Jy was sy dominee, die een wat daardie jong soldate se siele moes koester as hulle na jou uitgereik het.”

      Dit was ’n ander tyd, fluister hy.

      “My magtag, Rudi ...”

      “My vrou, jou taal asseblief.” Rudi val terug op ou gewoontes, vergeefs.

      Rika dink reeds in ’n ander sleutel. “Moenie met my oor taal praat nie. ’n Ander tyd? In die sake van die siel is daar nie ‘’n ander tyd’ nie. Dis ewig en dieselfde ...”

      Rika beweeg om die tafel, gaan staan waar Rudi sy hele geskiedenis van agter sy platgevalle kateder aan haar openbaar het. “Was dit nie jou eie woorde ’n paar weke gelede in die kerk nie?” Haar stem raak dieper, afgemete. Dit is ’n stem wat Rudi nie ken nie. “Verander die Here sy wet en gebod van tyd tot tyd? Die tien gebooie staan soos hulle staan sedert Moses hulle van die berg afgedra het. Hulle verander nie ‘van tyd tot tyd’ nie. God is liefde – verander dit van tyd tot tyd?”

      “Ek kan nie met jou praat as jy histeries is nie.”

      “Histeries? Jy’t my getug omdat ek gister by Jan en Maria se braai ’n tweede glasie wyn wou hê, maar jy sê vir ’n agtienjarige seun om ’n krygsgevangene in die naam van God te martel!”

      “Dit was in negentien twee-en-tagtig, my magtag!”

      “Taal, my man.”

      Rudi besef nou in watter mate die balans in hul huwelik verskuif het. “Ek’s jammer.”

      Rika is bewus dat haar ore begin suis, ’n vreemde stilte wat die oomblik lank laat voel. Daar was dae, nog voor hul troue, dat hulle by hierdie woorde sou uitgebars het van die lag – of liewer, haar geskater, en Rudi se beleefde kuggies, of wat hy ook al as lag beskou.

      Sy kom ’n fraksie nader, sodat hy geen illusies kan hê oor haar gevoelens nie. “Al hierdie jare het ek jou en jou gemeente gedien, maar om jou die eerlike waarheid te sê, Rudi, ek is nou nie seker wat ek gedien het nie.”

      Sy draai weg van hom en begin uitstap.

      “Rika ... Rika ek ...”

      Voor die deur draai sy terug. “Die vraag is: Sal jy die bloed van sy hande kan afwas? Om nie eers te praat van die bloed op joune nie.”

      Rudi antwoord nie. In haar woorde herken hy die presiese kwelling wat hom sedert Hannes se koms afrem.

      Ek het gedoen wat ek moes doen, dink hy. Ek het nie ’n keuse gehad nie.

      Rudi bly staar na die deur. Dis wat Pontius Pilatus ook gesê het, kom dit by hom op.

      Lank bly hy só staan, verslane.

      — VIII —

      Dis niks minder as reg nie dat die naweek uiteindelik die familiale swaartepunt na Antoinette se kant oorhel. Enige besoek aan Jan en Maria is genoeg om haar moer stadigaan bitter te laat trek. Selfs vinnig só, met haar skoonma op haar onbeskofte beste. Maar vandag is haar pa-hulle op besoek. Haar gemoed lig, genoeg om die knaende gedagtes oor die manier waarop Adriaan se familie hom aan die agterste speen laat suig, so effens op die agtergrond te skuif. Adriaan is mal oor die twee Venters en sien selfs uit na hul maandelikse besoek op ’n Sondagmiddag.

      Dis wel so dat sy en Adriaan selde albei die stelle skoonouers binne twee dae te sien kry. Maar daar’s darem ’n hengse verskil tussen die bedonnerde ouma Cilliers met haar gifbek en haar goedige, mensliewende ma. Dit werk ’n bietjie op haar tieties dat haar ma so edel van inbors is, maar dit is ’n welkome lafenis ná ma Cilliers se kartetse selfbejammering en haatlike nydigheid.