Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

      “Pa ...?” Boetjan kyk na sy ma se rug, dan na sy pa wat moedeloos op die rusbank sit, sy ken in sy hand gesteun. Hy spring op van waar hy gesit het, sy gesig vertrek van ’n pyn wat in die murg van sy gebeentes sit. “Pa, sê dit nou, of ek stap by daardie deur uit en kom nooit weer terug nie.”

      Jan huiwer ’n oomblik.

      Maria hoor wat Boetjan sê, maar begryp nie wat hy bedoel nie. Sy draai verskrik om, sien hoe Boetjan begin beweeg – en oor sy skouer hoe Elna en Bertus hand om die lyf die vertrek binnekom, ewe tortelduifies, verbaas oor die woorde wat hulle pas moes aanhoor.

      Boetjan skuur teen sy ma verby.

      Jan spring op hierdie oomblik orent. “Francois ...” Hy voel skielik dis nodig om behoorlik asem te haal om te kan sê wat hy moet, “... se dood was nie soos jy dink dit was nie.”

      Boetjan hou op loop, draai om. Terwyl sy pa praat, sien Elna en Bertus hoe die verligting op sy gelaat merkbaar raak.

      “Ek weet wat jy wil doen en ek sal dit nie toelaat nie.” Maria se stem is ferm, maar alles in haar gelaat smeek om versagting.

      “Daar was nie ’n veldslag nie ...”

      Maria skud haar kop, onwillig om te luister, wens sy kan die woorde vind om hierdie nuus dood te praat. “Nee!”

      “... en Francois was nie op patrollie nie.”

      “Nee.” Sy kan nie meer weerstand teen die nuus bied nie.

      “Hy was in ’n tydelike basis, besig om ’n tent op te slaan ...”

      Maria swaai verwoed na Boetjan, snou hom toe: “Dis jou skuld. Dis alles jou skuld!”

      Boetjan kyk haar net strak aan.

      “... die sersant het hom aangejaag,” sê Jan, amper uitasem, “maar hy’t nie ’n hamer gehad om die tentpenne mee in te slaan nie.”

      Jan verstar, haal diep asem en gaan dan voort, verslae en vir die soveelste keer deur dieselfde skokkende nuus tot oorgawe gedwing, sodat die fut uit sy stem is. “En toe sien hy die vinne van ’n mortierdowwerd naby hom in die sand ... dis nou ’n mortier wat gevuur is maar nooit ontplof het nie ...”

      “Ek het die brief.”

      “... toe trek hy die mortierbom uit die sand om as hamer te gebruik om die tentpenne mee in te slaan ...”

      “Ek het die brief! Ek het die kapelaan se brief!”

      “En toe ontplof die bom.”

      Maria syg op haar knieë neer, oorstelp van emosie. “Nee-neenee-nee-nee!”

      Die wond word weer oopgeruk. Sy moet weer aanvaar wat sy nooit kon aanvaar nie.

      “Dis hoekom hulle ons nooit sy liggaam gewys het nie.”

      Maria ween en wieg heen en weer op haar knieë.

      Jan kom kniel langs haar, sy arm om haar skouer.

      Boetjan staan vasgenael op sy plek, onseker oor hoe hy nou moet reageer. Maar uiteindelik sak hy ook op sy knieë neer, skuins agter Maria. Sy hand op haar skouer.

      Maria se huil versag tot ’n stil kerm.

      “Ek’s jammer, Ma,” sê Boetjan.

      Maar Maria se gedagtes bly besoedel deur die leuen. Sy het ’n sondaar nodig wat sy kan verkla, iemand wat die blaam kan dra, en Boetjan bly dit steeds vir haar. “Hoekom het jy hom nie gekeer nie?”

      Maria besef opeens dat Boetjan besig is om te huil wanneer hy haar antwoord: “Ek was besig om sandsakke te dra.”

      Nóú weet sy hoe dit gebeur het. En saam met hierdie besef kom ook die gedagte dat sy op die nippertjie haar ander seun ook verloor het – deur hom weg te stoot.

      Jan help vir Maria om op te staan en op die bank te gaan sit. “Nou ja toe,” sê hy. “Daar is dit nou uiteindelik uit.” Hy kyk na sy seun, maak ’n gebaar. Jammer.

      Maar Jan weet, daardie een woord is nie genoeg nie, en die enigste blydskap wat hy kan hê, dié is oor Boetjan, wat geen wrok dra nie.

      Boetjan stap stadig nader aan sy ma, tot hy langs haar staan waar sy op die bank sit. “Ek mis hom ook, Ma. Ek mis hom ook.”

      Maria wonder hoe sy haar seun ooit weer in die oë sal kan kyk. Sy het hom só lank verstoot. Sonder rede!

      Sy lig haar hand, sonder om op te kyk. Sy neem Boetjan se hand in hare en druk dit styf vas. Dan lig sy haar kop en streel albei sy wange. Haar oë smeek om vergifnis. In sy oë sien sy hoe hy dit gee, mildelik, verlos van sy demone. Maria trek hom nader, soen hom teer op die voorhoof.

      Nie een van die twee kan praat nie. Hulle het mekaar jare lank verloor en nou weer teruggevind.

      In die deur staan Elna en Bertus steeds roerloos. Hulle het soos tortelduifies die kamer ingekom, onthou Jan nou – mens kan maar net raai oor die soort versoening wat daar moes gewees het – en nou staan hulle daar, oorbluf deur alles wat hulle gehoor het. Hulle hou mekaar vas, albei seker dat hulle pas ’n klein wonderwerk sien gebeur het.

      — III —

      Ouma het eenkeer gesê, een van daardie opmerkings wat sy uit die lug en ’n leeftyd se ondervinding saamgeslaan het, dat Elisabeth meer streke het as ’n boom vol bobbejane. Sy het aan haarself gedink as ’n klein blouapie. Cute.

      Klein Elisabeth het vir haar ouma gegiggel. Ouma het met haar lang kakebeen geantwoord. Elisabeth het al blouapies in die wildtuin gesien. Sy het geweet hoe afknouerig hulle is. Bobbejane is seker net ’n rapsie erger. Sou een van hulle wou wees. Vol sports. Net wanneer almal dink dis veilig, sou sy toeslaan.

      Vanmiddag, nè, toe sy vir Neil daar in die aantrekkamertjie sien staan, toe het sy geweet. Hier’s ’n dag wat eers diep in die aand in gaan eindig. Ouma was toe reg.

      Gee haar net ’n kans. Lizzy die meester sal haar ding doen.

      Dit werk toe só: Hulle het by die huis gekom en sy’s reguit kamer toe. Vlooi seker ook, who cares?

      In haar kamer het sy so ’n bietjie die tyd omgekry. Hier’s hoekom: Haar pa het sy laaste dop so ’n uur vantevore gehad. Haar ma ook in daai omgewing. Dis nog somer. As haar pa nie voor die TV gaan sit nie, sal dit hom so ’n halfuur neem voordat hy vir hom en Antoinette elk ’n dop skink, ’n whiskytjie op die klippers. Min of meer dán sal sy haar gesig gaan wys en die chat doen. Intussen het sy so ’n bietjie orde gebring in haar gedagtes. Op die bed se rand gesit en strategie bou. Diep gedink. So tussendeur ook gewerk aan haar kuns. Elisabeth is ’n teaterlegende van die toekoms. Die harde werk het reeds begin – die oefeninge aan gesigsuitdrukkings, maniere van praat. Sy kan spring van onskuldige, reine dogtertjie tot ’n Madonna-lookalike met ’n vuur in haar lende, vinniger as wat ’n traffic cop sy oë kan knip.

      Sy het haar lang hare oor haar skouer gegooi. Oor en oor, terwyl sy in die spieël seker maak dat sy haar ken vorentoe hou terwyl sy dit doen. ’n Dubbelken pop so maklik uit wanneer jy jou hare gooi.

      Sy’t haar bewegings in die spieël bekyk. Uiteindelik tevrede met die manier waarop haar borste opgedruk word om so ’n bietjie cleavage te wys as sy op ’n spesifieke manier staan. Maar sy kan hulle ook meer kuis laat sak. Dit help om daardie ene gereed te hê wanneer Adriaan in een van sy goor buie is. As sy in die spieël teen die anderkantste muur kyk, sien sy haarself soos ’n vreemde hunk haar sal sien. Die lyn van haar borste is versag. Dit lyk of haar borste wegkruip. Goed so. “Maar mission ’n bietjie hierdie, Lizzy,” sê sy vir haarself, terwyl sy haar borste effe opdruk, iets wat hulle nie werklik nodig het nie. “Daddy Cool moet hulle nog kan sien.” Sy hou haar handspieëltjie op, pruil haar lippe. As hy die twee dingetjies nie kan sien nie, raak hy nie ongemaklik nie. En as hy ongemaklik is, kan sy haar moves maak. Hom reg rondom haar pinkie draai.

      En dan die stem. Elisabeth se rolmodel is Charlize.