Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

sy studies agter die rug gekry. En tussen alles deur het hy een groot waarheid geleer: Praat die waarheid. Al is dit hoe ongemaklik. “Dit was my skuld,” sê hy dadelik.

      “Hoe bedoel jy nou?” Jan kan vir die oomblik nie begryp hoe Boetjan enigiets uit te waai het met die spanning tussen sy dogter en Bertus nie.

      “Dit was my skuld,” herhaal Boetjan. “Ek het gedink sy’t die reg om te weet.”

      “Wat te weet?” vra Maria nou, besig om in te haal.

      Boetjan beduie na Jan. Maria en Jan snap onmiddellik wat hy bedoel.

      Vir die soveelste keer in haar lewe verwens Maria vir Boetman. “Jy’t nie die reg gehad om dit te doen nie!” roep sy uit en storm agter Elna aan. “Elna!” roep sy, nie geïnteresseerd in enigiets wat Boetjan nóú ter verduideliking kan sê nie.

      Jan bly stil staan, sy skouers afgerem, hande in die sakke. Sy gedagtes maal. Hy dink aan bates en laste, en hoe om uiteindelik te sorg dat sy kinders sal wen.

      “Jy’t gedink sy’t die reg om te weet?” Jan se woorde kom sag dog meedoënloos oor sy lippe. Hy staan, Boetjan het bly sit, wat Jan perfek pas vir wat hy nou wil sê: “Ek dink jy sal saamstem dat jy nou ’n paar rand geblaas het wat nie joune was om te blaas nie.”

      “As dit nie myne was nie, wie s’n was dit? Sy’s Pa se dogter, maar sy’s my suster.”

      “En jy reken dit gee jou die reg om te besluit wat sy van my lewe moet weet.”

      Boetjan kom orent. ’n Ou wrewel woel in hom. As hy dan in konfrontasie met sy pa moet staan, sal hy. Hy het al té veel verloor in die lewe. “Wanneer wil Pa dan hê sy moet uitvind? By Pa se graf?”

      “Wanneer ek reg is! Op my tyd en volgens my diskresie.”

      “Dis nie hoe dit werk nie, Pa.”

      Jan kan homself nie keer nie. “Moenie daar staan en vir my vertel hoe dit werk nie!” Sy woede ontvlam. “My magtag! Dis my dood waarvan ons praat!”

      Boetjan deins nie terug nie. “ ’n Man se dood behoort nie net aan homself nie, Pa. Iemand anders dra altyd saam. Dit het Ma met Francois se dood maar alte goed vir my geleer.”

      So vinnig as wat dit tot uitbarsting gekom het, só vinnig verdwyn Jan se woedebui. Hy weet – onverwags en baie ongemaklik – dat hy Boetjan onderskat het. Dat hy vergeet het van die diep emosionele hel waardeur sy kind is. Sy woede maak plek vir ’n goor skuldgevoel. “Ek het nog nooit Francois se dood voor jou deur gelê nie.”

      “Nee. Ma het. En Pa het haar nooit gekeer nie, nooit die waarheid vertel nie, net soos nou.”

      Jan soek uitvlug uit die gesprek. Hy het nie werklik antwoorde wat hom nie in ’n swak lig sal stel nie. “Wat weet jy van ’n leeftyd se stilgesprek tussen ’n man en sy vrou?” sê hy dan. “Jy was skaars twee jaar getroud. Wat weet jy van ’n man en vrou se gesprek oor die dood van ’n kind? Jy het nie kinders nie.”

      Daar was ’n tyd, besef Jan, dat hy dit nie sou gewaag het om Boetman met sulke gemeenhede te konfronteer nie. Tye toe Boetman baie diep in die bottel gekyk en die donker wolke van sy depressie mense van hom laat wegdeins het. Maar Boetjan het opgestaan daaruit. En nou is hy emosioneel gepantser teen sulke skrynende aanvalle en gee hy terug. Sy oë blits van woede.

      “Nee, maar ek het ’n broer gehad. En ek weet alles van sy dood. Dra my deel nog steeds. Pa wil praat oor rande wat nie myne is om te blaas nie. Maar toe ek die rande wou blaas wat myne was om te blaas, toe keer Pa my. Pa het gesê Pa sal dit doen wanneer die tyd reg is.”

      “Jy was dronk!”

      “My ma het my broer se dood voor my deur gelê! Hoe dan anders? En toe ek haar die waarheid wou vertel, toe sê Pa nee, Pa sal dit doen. Nou, dit was ’n dood wat beslis myne was om te deel, maar ek wag nog steeds. Hoekom het Pa haar nie gesê nie?”

      Die waarheid, dink Jan. Die waarheid is sulke sterke doepa, mens kan dit net slukkie vir slukkie inneem. Hy gaan sit op die bank, presies waar Boetjan gesit en sy suster van Jan se komende dood vertel het.

      “Ek wou haar sê.” Hy dwing sy gedagtes om terug te keer na die dag toe hy sy seun verraai het. “Ek het haar een Sondag, kort na jy my die waarheid van sy dood vertel het, in die slaapkamer gekry. Sy’t op die kant van die bed gesit met die brief wat die kapelaan gebring het in haar hande. Ek het langs haar gaan sit. Nou’s my kans, het ek gedink. En toe kyk sy na my en sê: ‘Ten minste het hy op die slagveld gesneuwel, soos dit ’n soldaat betaam.’ ”

      Boetjan kan hom die toneeltjie voorstel. Dit ontstel hom baie – alles ten koste van die waarheid, alles ten koste van hom. “Al hierdie jare, Pa,” sê hy. “Al hierdie jare.”

      “Ek’s jammer, my seun. Ek’s so jammer.”

      Albei voel gedreineer van krag. Hul bloed word nie meer deur adrenalien aangejaag nie. En vir Jan is daar ’n gewaarwording wat hy nooit verwag het syne sou wees nie: dié van sy skuld aan Boetjan se jare lange stryd om liefde en erkenning by sy ma te kry, en hoe hy dit verhinder het.

      Sy skuldlas, sy eie, só kort voor sy dood.

      “En wanneer was Pa van plan om vir Elna te vertel?”

      “Oormôre, ná my verjaarsdag.”

      “Pa ken vir Elna. As sy dit dan eers uitvind, sal sy Pa verwyt oor sy vrolik partytjie gehou en ‘veels geluk liewe maatjie’ gesing het terwyl Pa besig was om die dood in die oë te staar. Inderdaad, soos ek Elna ken, sal Pa nogtans mooi moet verduidelik.”

      “Dis nou gaaf,” sê Jan. “Ek’s die een wat vrek, maar ek’s die een wat moet verduidelik.”

      Maar hy weet ook, Boetman wen hierdie argument loshande, want hy het reg: ’n Man se dood behoort nie net aan homself nie.

      * * *

      Boetjan se woorde loei nog in Jan se ore: “’n Man se dood behoort nie net aan homself nie.”

      Jan sit in die sitkamer. Almal het gaan slaap. Hy is diep ingedagte.

      Hoe meer jy het, dink hy, hoe banger is jy vir die risiko van minder hê. Hoe minder jy het, hoe minder bang is jy vir die risiko van nog minder hê.

      Daarom dat ’n man met min bereid is om meer te waag as ’n man met meer – die man met min het klaar verloor, en die bykomende pyn van verdere verlies is marginaal. Daarom dat, wanneer ’n onderneming oorweeg word, die moontlikheid van profyt soveel meer moet wees as die moontlikheid van verlies. Want een dag van ongeluk kan sy man teen tien dae van geluk staan. ’n Enkele dag by ’n graf word langer onthou as honderd dae by ’n partytjie, en die duisende dae van jou lewe word uitgekanselleer deur die enkele dag van jou dood.

      Ons almal verloor op die ou end.

      Dis die las van bestaan. Maar daar is g’n las sonder ’n bate nie.

      En mens kan die lewe slegs verloor omdat jy dit gehad het.

      Maria

      Maria staan in haar kombuis, vroetel met die vuil skottelgoed, maar kry nie orde geskep nie. Haar gedagtes is by Elna en die sluimerende hartseer by haar dogter. En natuurlik by Jan, wat sy geheim steeds probeer vertroetel.

      ’n Ou flarde musiek kom in haar gedagtes op, woorde wat sy só goed ken: Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see ...

      Sy raak stil, haar gedagtes ver weg. Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see. Sy lewe al lank genoeg om te weet dat hoe die wêreld is en hoe jy wens dit moet wees, altyd twee verskillende dinge is. Sy weet ook dat die vooruitgang van ’n volk in sy mans sit en die oorlewing van ’n volk in sy vrouens lê.

      Op die primitiefste vlak is dit ’n feit dat een man in nege maande soveel vrouens kan bevrug as wat daar dae in daardie nege maande is. Sy saad gesaai, is die man dan vry om te gaan kyk wat anderkant