MREADZ.COM - много разных книг на любой вкус

Скачивание или чтение онлайн электронных книг.

Een nag in Vegas

Elize Mitchell

Telani is deur ’n nagmerrie-ervaring met ’n verbreekte verlowing en het gehoop om in Amerika ontvlugting – sowel as ’n nuwe baan as arbeidsterapeut – te vind. Helaas, die posisie waarvoor sy wou aansoek doen, is reeds gevul. Op haar voorlaaste aand in Las Vegas ontmoet sy ’n oorrompelende Afrikaanse man. Ná ’n paar glase sjampanje beland die twee by ’n kitskapel. Toe Telani die volgende oggend wakker word, is dit as getroude vrou, teen haar sin – sy’t gedink dis alles net speletjies! Simon oortuig haar om saam met hom huis toe te kom, as ’n blote saketransaksie tussen die twee van hulle, want hy’t ’n seuntjie tuis in Suid-Afrika wat hulp nodig het en Telani is platsak. Sy willig in en in Kaapstad gekom leer sy Simon se disleksiese kleinding liefkry. Sy tannie, Dianne, is egter ‘n ernstige vlieg in die salf. Telani weet sy moet hierdie skynhuwelik laat ontbind, en wanneer haar verlore verloofde ook weer sy opwagting maak, kom sake op die spits. Wat is Simon vir haar, buiten ‘n kamma-kamma-bruidegom?

Sluimerliefde

Susan Pienaar

Karli en Henk was aanvanklik beste maats toe sy by hom ’n kamer gehuur het. Maar skielik het hy stringe meisies begin huis toe bring, en boonop het hy en Karli stry gekry omdat hy rojaal leef en Karli gewoond is aan versigtig wees. Sy het uitgetrek en self ’n aanhangsel gekry, maar die naweek in Golden Gate was lankal beplan. Nou moet Henk se nuutste meisie, Anchen, en Karli se vatterige Maritz noodgedwonge saam op die naweek. Van die eerste sekonde maak alles wat Anchen en Maritz doen Karli heeltemal mal. Maritz klou en koer aaneen en Anchen doen dieselfde met Henk – wat sien hy tog in haar! Die naweek by Golden Gate raak ’n nagmerrie, met Maritz se vuil streke, bobbejane wat verwoesting saai en Anchen se mislikheid met Karli. En Henk vang boonop dinge met Karli aan wat haar laat dink hy moet ’n player wees, al geniet sy dit hóé. Terug in Gauteng lyk dit asof hul vriendskap gekelder sal word deur Anchen. En hoekom, hoekom kry Karli dit tog nie reg om die vreemde gedagtes en drome oor Henk uit haar kop te sit nie? Hy’s haar goeie vriend en boonop ’n rokjagter . . .

Om joune te wees

Schalkie van Wyk

Kayla se studies is afgeloop en sy keer bly terug na haar geliefde tant Annelize en hul huishoudster, ta Trynie, by Huis Kanferfoelie. Sy’s egter nie die enigste nuwe aankomeling nie: Hul nuwe bure is ’n spul hippies met ongelooflik raserige motorfietse, en onder hulle is daar een met taankleurige oë soos ’n arend . . . Kayla en haar motortjie maak abrup kennis met Briand en sy fiets, en sy ontdek dat hy, nes haar ouers op hul beesplaas, in Brasilië werk en eintlik net by die bure kuier. Kayla se hart werk dadelik oortyd, maar sal Briand se oog nie eerder val op haar sexy blonde vriendin Sunette nie? Dan is dit die een drama ná die ander: Tant Annelize verseg dat Briand ooit sy voete in haar huis mag sit, want sy “weet” kwansuis hy sal Kayla se lewe verwoes; die huis aan hul ander kant van die hippies word betrek deur ’n immer-repeterende band; en Kayla leer boonop dat Briand nooit ooit wil trou nie. Kayla begin weens al die oorverdowende geraas glo iemand wil haar en haar tantes uit die huis verdryf. Het Briand nie dalk iets daarmee te doen nie? En watter tragiese geheime skuil in haar tante se liefdeslewe?

Die AA tot OE van seks

Riette Rust

Wat is die één ding wat vroue verhoed om 'n fantastiese sekslewe te hê? Na dese hoef jy nie langer daaroor te wonder nie. Meer nog: Hierdie boek sal die sluiers voor jou oë wegtrek en jou stap vir stap wys – ja, wys! – hoe jy die heel beste seks kan geniet. Dis 'n oopkop, kaalvuis en loslittige gids tot die mees ekstatiese orgasmes onder die son.
Jy leer onder meer: • hoe om in voeling te kom met jou innerlike sekskat • wat om te maak as hy wil, maar jy wil nie • hoe om jou verbeelding aan die brand te kielie (of te piets) • hoe om veel, véél waaghalsiger te wees

Amber maan, oker son en ander verhale

Elize Parker

Amber maan, oker son en ander verhale neem die leser na uiteenlopende plekke. Die titelverhaal speel af in die oorloggeteisterde Angola waar die joernalis Esperanza Santana en haar Franse eweknie, Gerard Jobert, by mekaar skuilplek soek. In elke verhaal speel identiteit ’n sleutelrol; die vinnige pas en warm tonele sal lesers meesleur.

Elke vrou vir haarself

Elize Parker

Elke vrou vir haarself is ’n meesleurende familiesage oor die lief en leed van die drie Keet-susters. Die twee oudste susters, Nelia en Adri, werk by hul ma se ou vriendin Emmie by die Hotel Woltemade in Kaapstad. Kort hierna sterf hul ma en neem Emmie hul laatlamsussie, Carine, aan. Maar uiteindelik moet elkeen van hulle hul eie paadjie loop en talle terugslae oorkom op hul weg na vervulling in hul professionele én liefdeslewe. Daar is suksesse én teleurstellings, vreugde én hartseer. Dit sal jare wees voordat die donker geheim in die Keet-familie uitgerafel word. Sterk vroue, glorieryke liefde, ontrou, verraad, passie, wraak. Maar uiteindelik is dit tog die liefde wat seëvier.

Trompie Omnibus 2

Topsy Smith

In hierdie omnibus, wat nóg drie gewilde Trompie-stories bevat, word die sproetgesig Grootkaptein en die Boksombende se avonture voortgesit! In Trompie die hoërskoolseun begin die nuwe skooljaar en Trompie, Blikkies, Dawie en Rooie gaan hoërskool toe. Die vier moet gewoond raak aan nuwe reëls, nuwe onderwysers en ouer boelies wat poetse op hulle bak. Die Boksombende maak ook ’n plan om geld in te samel om vir Rooie ’n fiets te koop. In Trompie die dromer word die bende bedreig – deur ’n meisie¬kind! Trompie, die Grootkaptein en meesterlike planmaker, is smoorverlief en sit heeldag net en droom. Die bende belê ’n spesiale vergadering om hierdie saak te bespreek – hoe durf Trompie ’n meisie se geselskap bo hulle s’n verkies? In Trompie die speurder kom Trompie en Rooie op skelms af wat fietse steel. Trompie agtervolg die diewe en beland in ’n groot penarie. Sal Trompie hierdie gevaarlike avontuur oorleef sodat hy weer saam met sy manskappe onder die blou hemel kan vergader? Die ondeunde Trompie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Trompie en die Boksombende se avonture meegevoer word!

Trompie Omnibus 1

Topsy Smith

Hierdie omnibus bevat die eerste drie boeke van die gewilde Trompie-reeks. In Trompie ontmoet ons die elfjarige sproetgesig Grootkaptein van die Boksombende. Hy en sy vriende Rooie, Blikkies en klein Dawie maak die lewe interessant (en soms taamlik moeilik!) vir die inwoners van hul tuisdorp, Kwaggaberg. Hul avontuur met die dominee se bobbejaan ruk handuit en Trompie se poging om vir sy suster Anna ’n kêrel te kry, loop lelik skeef. Trompie wil ook baie graag ’n hond hê en het sy oog op ’n basterbrak genaamd Boesman. In Trompie die stouterd trek Trompie vir die nuwe seun wat al die onderwysers se witbroodjie is, ’n lelike streep. Hy lees van ’n dorpie in Brittanje waar ’n klipgooiende spook amok maak en besluit net daar dis tyd om sy tuisdorp te laat regop sit. In Trompie die soet seun besluit Trompie hy is moeg daarvoor om altyd in almal se slegte boekies te wees. Die Boksombende se Grootkaptein kondig aan dat dit tyd geword het om goeie dade te doen, maar dis glad nie so maklik soos wat dit klink nie! Die ondeunde Trompie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Trompie en die Boksombende se avonture meegevoer word!

Saartjie Omnibus 2

Bettie Naudé

In hierdie omnibus, wat nóg drie gewilde Saartjie-stories bevat, word Saartjie Baumann, die langbeenmeisie met die wipneus, kuiltjies in die wange en duisende duiweltjies in haar oë, se avonture voortgesit! In Saartjie se donkie besluit sy om vir die dorp se seuns te bewys sy kan beter as enigeen van hulle donkie ry. Sy gaan maak die donkie in haar ouers se agterplaas vas, maar dan besluit Langoor om die omgewing te verken en daar kom groot moleste. In Saartjie se nuwe maat maak die Drie Muskiete kennis met die parmantige Gail Smith wat spog dat sy alles net so goed soos Saartjie kan doen – en selfs nog beter! Ons heldin laat haar nie so beledig nie en dit lei tot ’n kragmeting met ’n verrassende einde. En in Saartjie se slim plan besluit Saartjie sy wil darem ook voel hoe dit is om ’n modepop te wees. Die Drie Muskiete kry haar ma se grimering beet en dan klop Galpil aan die deur. Saartjie is seker sy gaan sy voete onder hom uitslaan, maar sy reaksie is nie wat sy verwag het nie . . . Soos haar ouer broer tereg sê: Waar Saartjie is, gebeur daar altyd iets! Saartjie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Saartjie en die Drie Muskiete se avonture meegevoer word!

Saartjie Omnibus 1

Bettie Naudé

Hierdie omnibus bevat die eerste drie boeke van die gewilde Saartjie-reeks. In Saartjie ontmoet ons vir Saartjie Baumann, die langbeenmeisie met die wipneus, kuiltjies in die wange en duisende duiweltjies in haar oë. Hierdie rabbedoe en haar twee maats staan bekend as die Drie Muskiete en al wat hulle lewe versuur, is seuns en ’n klein niksnuts genaamd Muggie. In Saartjie se vakansie tref ’n orkaan ’n Johannesburgse woonbuurt en Saartjie kom af op ’n tweeling wie se ouers albei in die hospitaal is. Sy kry hulle jammer en steek hulle tuis in haar kamer weg. In Saartjie se geheim laat Saartjie se ondeundheid haar soos gewoonlik weer in die moeilikheid beland. Galpil-hulle is net mooi gereed om vrugte vas te lê wanneer ’n vreesaanjaende spook sy verskyning maak. En dan is daar nog die kwessie van Saartjie se geheim wat haar beste vriende, Anna en Lina, en natuurlik ook vir Galpil en haar boetie, Apie, tot raserny dryf. Saartjie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Saartjie en die Drie Muskiete se avonture meegevoer word!