Telani is deur ’n nagmerrie-ervaring met ’n verbreekte verlowing en het gehoop om in Amerika ontvlugting – sowel as ’n nuwe baan as arbeidsterapeut – te vind. Helaas, die posisie waarvoor sy wou aansoek doen, is reeds gevul. Op haar voorlaaste aand in Las Vegas ontmoet sy ’n oorrompelende Afrikaanse man. Ná ’n paar glase sjampanje beland die twee by ’n kitskapel. Toe Telani die volgende oggend wakker word, is dit as getroude vrou, teen haar sin – sy’t gedink dis alles net speletjies! Simon oortuig haar om saam met hom huis toe te kom, as ’n blote saketransaksie tussen die twee van hulle, want hy’t ’n seuntjie tuis in Suid-Afrika wat hulp nodig het en Telani is platsak. Sy willig in en in Kaapstad gekom leer sy Simon se disleksiese kleinding liefkry. Sy tannie, Dianne, is egter ‘n ernstige vlieg in die salf. Telani weet sy moet hierdie skynhuwelik laat ontbind, en wanneer haar verlore verloofde ook weer sy opwagting maak, kom sake op die spits. Wat is Simon vir haar, buiten ‘n kamma-kamma-bruidegom?
Karina het haar wêreldreisiger-tante Katriena skaars geken. Nou moet sy hoor dat sy nie net ’n nalatenskap kry ná haar tante se dood nie, maar sommer etlike eiendomme – insluitend verblyfreg op ’n paradys van ’n tropiese eiland!Daar aangekom saam met haar vriendin Liesl wil Karina net salig die natuurskoon geniet en uitvind of sy op die eiland sou kon aard. Maar daar’s ’n vlieg in die salf: ’n half onbeskofte Westerling-man wat haar tante kwansuis daar versorg het deur ’n siekte. Hy ontstig die twee vriendinne, bring onmin tussen hulle, maak alles deurmekaar . . .En dan is daar nog die inheemse stam op die eiland, en al Katriena se projekte saam met hulle – hoe gaan Karina ooit haar skoene vol staan? Wanneer sy die kis wat Katriena vir haar agtergelaat het, oopmaak en uitpak, raak alles nóg meer gekompliseerd. Om nie te praat van die onheilspellende geslaan van tromme deur die eilandbewoners nie . . .
Toe vryskutjoernalis Tanya van Heerden na die Richtersveld op ʼn werksprojek gestuur word, het sy nooit kon droom hoe ingrypend haar hele lewe sou verander nie. In die Richtersveld verloor sy haar hart aan ‘n blonde, bruingebrande “veewagter”, en terug in die stad kom sy tot haar ontsteltenis agter dat sy swanger is. Stadig maar seker bou sy vir haarself ʼn nuwe lewe, bêre sy haar Richtersveld-man diep in haar hart. Maar dan verskyn die aantreklike ekoloog professor Jean-Pierre de Ville een aand op die toneel en keer haar nuutgevonde lewe vierkantig op sy kop. Want Pierre is allesbehalwe veewagter, maar die einste een aan wie sy haar hart verloor het! Nou is hy egter verloof aan die beeldskone Alexa en Tanya moet fyn trap om haar geheim – en haar hart – te bewaar.
Die nag toe Nina Immelman se man in ʼn motorongeluk sterf, kom nie net haar veelbewoë huwelik tot ʼn einde nie, maar vind sy ook uit dat die boedel bankrot is en sy alles verloor het – ook haar huis. Toe sy dus die kans gebied word om op ʼn luukse landgoed aan die Mosambiekse kus die huishouding waar te neem, gryp sy dit met albei hande aan.Maar op dié idilliese, sub-tropiese landgoed waar die soel, romantiese aande swaar belaai is met die geur van rose en frangipani, spat die vonke uit die staanspoor tussen Nina en haar werkgewer, Charl Beaumont. Sy buurman gooi ook sy flikkers vir Nina en boonop probeer Charl se seun ook haar guns wen. Toe Nina net mooi genoeg gehad het en besluit om Charl en sy plaas vaarwel te roep, gryp die noodlot in en dryf alles op die spits . . .