In Vrou van formaat is die hoofkarakter, Danika, vies vir mans: ’n vrou moet mos mediamodelmooi wees,of sy is niks in hul oë nie.Van kleins af stry sy teen dié onregverdigheid. En sedert daardie traumatiese aand in Frankryk, het “mooi” vir haar finaal ’n vloekwoord geword!
Man van kaliber is die verhaal van professor Jessica. Sy ontmoet vir Karel en Kiewiet, sien weer haar ou liefde, Daniël, en leer ook vir Loek de Jager ken, ’n man met vele fasette. Maar watter een het werklik “kaliber”?
Op vlerke van die wind: Agter Emma se streng skooljuffrou-uiterlike skuil ’n menseliewende, sprankelende persoonlikheid. Op ’n skeepsreis na Europa leer sy ’n paar interessante mans ken. Watter een uiteindelik ’n blywende plek in haar lewe sal inneem, bly tot die end in die weegskaal.
Donkerpoort: Ansie woon ’n kunsuitstalling saam met haar ryk stiefvader, Jacob Lessing, ryk nyweraar en kunsversamelaar, by. Haar ontmoeting met John Stevens, die begaafde jong kunstenaar, sien sy later as die begin van ’n reeks noodlottige gebeure op Donkerpoort, die spoglandgoed van die ryk Lessings.
Eensaam op Wegdraai ’n Skaduwee skuif oor Bokkie en Tokkie se sorgelose kaalvoetlewe, waarin sokkerspel saam met die dorpseuns die hoogtepunt van pret is. En die rede? Ontluikende vroulikheid . . . ’n vloekwoord en blykbaar ’n ongeneeslike siekte. Dis veral juffrou Estelle Huizeman se arendsoog wat dié dinge opmerk. Nog meer, daardie fyn oog bespeur ook die manlikheid van hul wewenaar-pa en skoolhoof, Henk Beukes.
Die tweeling besef gou hulle sal ’n blink plan moet smee as hulle nie juffrou Huizeman as hul nuwe ma wil hê nie. Want dis duidelik sy het haar visier ingestel op dié aantreklike wewenaar van Jagershoek. Die oplossing: hulle soek eerder self ’n moeder so na hul hart. En die aangewese plek is Soek en Vind, tydskrifhoekie vir eensames.
So word Eensaam op Wegdraai geskep – eensame, aantreklike wewenaar van sewe en dertig, op soek na ’n vrou wat raad kan gee met dertienjarige tweelingdogters.
Al wat Bokkie en Tokkie nou moet doen, is om uit al die aansoeke die régte een te vind. Iemand wat ’n eie ma vir hulle kan wees. Want só ’n vrou sal tog hul pa se hart ook steel, of hoe?
Verworpe silwer Op sy eerste huweliksnag fuif Louis Mocke saam met sy vriende in die hotelkroeg. Was sy erfporsie tog die lokaas vir sy blitshuwelik met Santie Marais? Jaag sy broer, Darius, net spoke op wanneer hy haar waarsku om haar goed te vat en te loop?
Wanneer Dottie Willemse, Louis se eertydse liefde, terugkeer met ’n seuntjie aan die hand, ruik Eloffsdal nog ’n Mocke-skandaal waaroor hulle die mond kan uitspoel. Want Darius waarsku Louis: “As ek jou naby haar vang, breek ek jou nek.”
Uit flardes skinderstories en dreigemente probeer Santie sin maak uit die Mocke-raaisel. Waar pas Tanja, Darius se gewese vrou, in? Wat het van haar en Ferdi, haar minnaar en Dottie se broer, geword? Wie is die pa van Dottie se kind? Sy ontken dat dit Louis is . . .
Maar voor Santie al die legkaartstukkies sorgvuldig inmekaar kan skuif, tref ’n ramp die Eloffdallers wat geen mens se lewe onaangeraak laat nie. Ook nie haar en Louis s’n nie . . .
Wag-’n-bietjiebos van die liefde ’n Nuwe geval in Keerboomstraat, H.A. Van der Merwe, keer Lisbe Erwee se geordende bestaan as maatskaplike werker omver.
Hoekom groef daar soveel harde, bitter lyne op die man se gesig? Hoekom moes ’n jong ma sterf en tweelingseuntjies wees agterlaat?
Die wag-’n-bietjiebos by die voorhekkie van Helm se huis is vir hom simbool van sy lewe. Bid dat jou eie lewe nie in ’n wag-’n-bietjiebos vasgevang word nie, waarsku Helm vir Lisbe. ’n Mens het altyd raad vir ander totdat jou eie lewe skielik in die dorings van hoekoms en waaroms verstrengel raak. Wanneer Lisbe op ’n dag self letterlik verstrik raak in daardie bos, word dit ook simbool van die vangtakke waaruit sy haar nie kan ontwar nie. Want êrens langs die pad het sy haar hart verloor. En nes Helm, weet sy nie hóé om te ontsnap uit die takke van die wag-’n-bietjiebos van die lewe nie
Slavin van La Liberté Toe Leia as jong skipbreukeling aan die ooskus van Afrika uitspoel, het Tembisa, ’n inboorlingvrou, haar gevind en grootgemaak. Net voor Tembisa se dood het sy vir Leia ’n kosbare goue hangertjie met ’n vreemde embleem daarop gegee. Dit was om haar nek toe sy gevind is. “Jy moet die pad loop waarheen dit jou neem,” het Tembisa gesê. “Jy hoort waar die hangertjie vandaan kom . . .”
Leia se lewe slaan dan ook onherroeplik ’n nuwe rigting in wanneer sy gevange geneem word deur ’n slawehandelaar, Lantini, en verkoop word aan die aantreklike graaf Jacques de la Fontaine. Die beeldskone wit slavin se koms op La Liberté veroorsaak ’n beroering. Sy is glad nie gedienstig nie, en haat haar ingeperkte vryheid en die mense wat dit veroorsaak intens. Haar sonderlinge skoonheid en ingebore adellikheid val mense op en bring komplikasies mee. Lantini wil haar graag terughê om teen ’n hoër prys van die hand te sit, en Beatrice de Boudelaire, die graaf se toekomstige vrou, wil haar tot elke prys weg hê van La Liberté.
Intussen is daar nog die goue hangertjie met die vreemde embleem wat die enigste sleutel is tot Leia se vergete verlede . . .
Gister se verlange Na twintig jaar in ’n klooster in Frankryk, hoor Rozanne de Savoye dat haar moeder nog leef en waarskynlik iewers aan die Kaap de Goede Hoop woon. Bykans ekstaties van vreugde en opwinding reis Rozanne na die Kaap – om sommer uit die staanspoor met teleurstellings en teenslae te doen te kry. Boonop raak sy vergeefs verlief op Armand le Riche, ’n aantreklike jong avonturier wat haar leer dat die liefde maar net ’n speletjie is.
Rozanne se teenwoordigheid aan die Kaap skep spanning in die lewens van baie mense: Armand se ouers wat haar as ’n klein fortuinsoekster sien; die bekoorlike Angélique wat vier jaar lank op Armand se tuiskoms gewag het; Jacques le Riche, wat haar vir sy eie geldsugtige doeleindes wil gebruik; en Armand se tante wat met vrees en bewing verneem het van die jong “non” wat gekom het om die verlede oop te krap . . . Die spanning tril later snaarstyf, want ’n gemaskerde boosdoener probeer boonop telkens om Rozanne uit die weg te ruim.
Geliefde banneling Vir Theresa Verhoef, die vaal dogter van Barnard Verhoef vir wie hy geen liefde het nie, lyk die toekoms baie duister. As deel van ’n saketransaksie moet sy met die losbol-buurman Sias Beneke trou, en sy het haar pa se wense nog altyd gehoorsaam. Maar wat moet sy doen as sy die buurman verfoei? Toe Theresa Sias kort voor hulle huweliksbekendmaking met sy vorige meisie in ’n omhelsing betrap, weet sy vir seker dat sy nié met die klugspel kan voortgaan nie. Sy jaag die veld koersloos op haar perd in en loop haar trompop vas in die gevreesde El Toro en sy bendelede, wat reeds tien jaar lank ’n skrikbewind voer op Pelgrimsrus en die omliggende delwerye.
Toe hulle uitvind wie haar pa is, besluit hulle dadelik dat dit hulle lang verwagte kans is om terug Europa toe te gaan, en hulle eis ’n losprys van tienduisend pond van haar pa. Maar wat gaan hulle doen wanneer hulle uitvind dat Barnard Verhoef nie bereid is om ’n pennie vir sy lelike dogter te betaal nie? En gaan haar jongmeisiedrome van jare gelede bewaarheid word?
Talmende tuiskoms Toe Irma de Wet die huis verlaat om van haar onhoudbare stiefma Matilda weg te kom, het sy nie gedink dat enigiets haar ooit terug sal laat keer nie. Sy is immers nou tuis in Johannesburg, het ’n goeie werk en eie woonstel en is verloof aan ’n man op wie sy baie verlief is. Sy probeer nie te veel dink aan haar pa en stiefsussie Tillie wat dit nog op die plaas met Matilda moet uithou nie. Dan, egter, is daar een oggend op kantoor ’n oproep wat al haar opgeboude sekerhede omverwerp. Dis Deon wat bel . . . daar het iets gebeur, en dis so ernstig dat hy dadelik ry om haar te kom haal. Min kon Irma weet dat die terugkeer nie gou sou wees nie, en dan onder veel ander omstandighede.
Liefie Ná die dood van haar moeder, wat reeds etlike jare weduwee was, besluit die twintigjarige Liefie Hugo om haar lewe te wy aan die grootmaak van die drie jongeres: Sjimmie, Lettie en Laurie. Sy gee hulle kleinhoewe vlak buite die dorp die naam Die Drie, en kry ’n padstal aan die gang om die begroting te laat klop. Deur die jare word sy die onwrikbare steunpilaar van haar suster en broers. Soos hulle volwasse raak en pynlike probleme op die lyf loop, probeer sy hulle daarteen beskerm. Dan breek die dag aan dat die ou bestel begin wankel. Sal hulle die storms oorleef, en sal een of meer van hulle ooit werklik geluk vind?
Waar is die kleure heen? “Die lewe . . . soms is alles so mooi. Net reg. Tot jy op ’n dag ontwaak en wonder: waar is die kleure heen?” Hierdie vraag teister nie net vir Fiona Collins nie, maar ook vir Meyer Bronkhorst en vir Laura. Sedert die verraad van Laura en sy broer Piet, het Meyer nog nooit weer in ’n vrou belang gestel nie. Hy wy sy lewe aan sy eksentrieke ma by wie hy inwoon, en ook aan sy statusbewuste suster met haar gesin. Maar slegs een ding in die lewe is seker: dat niks ooit dieselfde bly nie. Nie vir Fiona, vir Laura of Meyer, ook nie vir die vreemdeling wat onverwags op Sederburg opdaag nie. Die leser raak intens betrokke by die wel en wee van ’n aantal mense op die skynbaar vreedsame dorpie.
Op vlerke van die wind: Agter Emma se streng skooljuffrou-uiterlike skuil ’n menseliewende, sprankelende persoonlikheid. Op ’n skeepsreis na Europa leer sy ’n paar interessante mans ken. Watter een uiteindelik ’n blywende plek in haar lewe sal inneem, bly tot die end in die weegskaal.
Donkerpoort: Ansie woon ’n kunsuitstalling saam met haar ryk stiefvader, Jacob Lessing, ryk nyweraar en kunsversamelaar, by. Haar ontmoeting met John Stevens, die begaafde jong kunstenaar, sien sy later as die begin van ’n reeks noodlottige gebeure op Donkerpoort, die spoglandgoed van die ryk Lessings.
Duwweltjiepad Rudolf Mulder, jongste multimiljoenêr in die Kaap, se lewe bestaan uit sport, meisies en partytjies. Totdat die noodlot sonder genade ingryp.
Die prys vir ’n oomblik van hartstog met die wulpse, blonde Julia Saunders in sy voortsnellende motor is bitter duur: Wanneer hy sy bewussyn in die Conradie Hospitaal herwin, is sy onderlyf verlam. Nou duik ’n skim op uit sy verlede: die mooi swartkopgeitjie met die blitsende groen oë – suster Jo. Hy kan haar nie plaas nie. Sy verwar hom met uitsprake soos: “Julle ryk mans gee my ’n pyn. Natuurlik het ek al my sprankel verloor. Ek het dit ses jaar gelede al verloor toe jy . . . Julle mans is almal verraaiers!” Verraad? Hy kan nie onthou nie . . .
Hier in die hospitaal kom Rudolf agter hoe die Here vooruitloop om die dorings uit die pad te vee. Daarom kan hy weer ja sê vir die lewe.
Om Jo span die vangnet van die verlede egter al hoe digter. Klein Anton se pleegouers pers haar af om hom vir aanneming aan hulle af te staan; die nuuskierige tant Betta dryf haar in ’n hoek oor die foto in haar huis wat so sprekend na een van Rudolf as kind lyk, en ’n tweede, identiese Rudolf Mulder verskyn op die toneel . . .
Klopdans van die liefde Wanneer dokter Pennie de Villiers haar Anton in ’n vurige omhelsing met ’n ander vrou betrap, is sy verward en verdwaas. Daarom dat sy nie die aanstormende motor sien totdat dit amper te laat is nie. Die bestuurder is arrogant en verwaand, dink sy.
Maar dié man, Pieter Wasserman, is baie aantreklik – digte swart hare, lang syagtige wimpers, die effense skynsel van baardstoppels op sy sonbruin wange, sensuele lippe . . . Al ís sy baie aangetrokke tot Pieter, weet sy nie of sy hom kan vertrou nie – hy lyk gevaarlik. Hét hy ’n skadukant, of is dit bloot haar verbeelding?
En steeds sukkel sy om ontslae te raak van die knaende Anton; hulle was destyds nog op die punt om verloof te raak. En moet sy hom werklik glo wanneer hy beweer die “ander vrou” is bloot ’n vriendin, ’n aktrise, en dat hy haar gehelp het om ’n rol in te studeer?
’n Stukkie van jou hart Dokter Lara Strydom is aanvanklik verslae wanneer sy sien hoe klein Darlingsdrift is, maar haar boesemvriendin Riekie is sterwend en het haar gevra om met haar en Janus se praktyk te kom help. Kort voor lank is sy egter glad nie meer so seker dat sy wil teruggaan stad toe nie, want die dorpie en sy mense begin al hoe meer in haar hart kruip. Veral wanneer sy die aantreklike Paul Sauerman met sy gitswart hare en sy kruppel been beter leer ken.
Maar Paul dra ’n bitterheid in hom wat hulle albei se geluk op die spel plaas. Waarom sien hy nog steeds die beeldskone Jessica, die vrou wat hom kort ná sy ongeluk vir sy broer verruil het?
En die klippe sal uitroep Emile de Jongh, kroonprins en hartebreker van die modelplaas La Rhône, is op dertig ’n gesogte vangs onder die skoner geslag.
Maar in Miempie Rust, die nuwe verpleegsuster vir die distrik, loop hy egter sy rieme styf. Want Miempie is nie beïndruk met Emile se sjarme nie. Sy verlang eerder na reg en geregtigheid – veral teenoor die plaaswerkers. Dié vurige kampvegter vir menseregte het ’n hart wat onstilbaar klop . . . Vir Martha wat al vergeet het van boontoe beur en wegbreek na ’n beter lewe. Vir Maria, haar mooi dogter met die droom om dokter te word.
“Daar is geen reënboog vir ons nie. God het dit vir die ander mense gestuur en die rykes kry die pot goud daarby – van ons hier op die plase en in die strooise het Hy vergeet . . .” refrein Martha se bitter klag in Miempie se hart.
Wat is jy werd as jy nie meer ideale en ’n gewete het nie? Hoe moet die wêreld ’n beter plek word as almal net stilbly? Miempie rus nie voordat sy nie die klippe laat uitroep nie . . .
Die tonnel Tot dusver het die lewe nog geen droomsterre vir die sensitiewe Ilse Rademeyer laat verskiet nie. Sy is op eenjarige ouderdom verlam weens ’n motorongeluk waarin haar ma sterf. Haar pa is ’n briljante wetenskaplike wat in sy eie afgeslote wêreld leef, en haar stiefbroer, Mynhardt, is ’n losbol en ’n rokjagter . . .
Toe Markus Rademeyer op sy sterfbed lê, skroei die skuldgevoelens deur sy hart. Wat gaan van sy verlamde dogter word? Want Mynhardt, sy stiefseun, het so ’n reusebedrag geld by hom geleen dat daar geen sprake is van ’n goeie erfporsie aan Ilse nie.
Maar dan bedink hy ’n oplossing. Nóg Ilse nóg Mynhardt sou ooit uit hul eie tot iets so waansinnigs ingestem het, maar diep in sy hart weet hy dit is die regte besluit . . .
Danksy haar vader se testament word Ilse verplig om langs vele kronkelpaaie te reis voor sy die eindpunt van die lang, duister tonnel kan bereik en haar droomster kan gryp. Gelukkig ken die liefde sy eie tyd.
Keerkring van die hart Faan Dempers neem ou dronk Joop Burger van die onderdorp se seun in diens as prokureursklerk. Hoe sou hy ooit kon raai dat Kasper nog eendag sý redder sou word – meer nog, sy ydele dogter, Liesel, s’n? Kasper kan nie dink aan ’n tyd in sy lewe wat hy nie ’n vergeefse droom oor die hooghartige Liesel Dempers, op agtien al ’n ryp jong vrou, in sy hart probeer smoor het nie.
Maar Liesel leef net vir swierbol Rob Rabe. Wanneer sy teen haar pa se sin met dié jakkals trou, begin die wiel van die lewe draai. Skielik is dit die trotse Liesel wat aan die verloorkant staan. En dan kry oom Faan ’n hartaanval en smeek hy Kasper om in te gryp. Want hy ken Kasper se geheim, en weet dat dié skugter man miskien Liesel se laaste redding kan wees.