Короткие любовные романы

Различные книги в жанре Короткие любовные романы

Gister se verlange

Annelize Morgan

Na twintig jaar in ’n klooster in Frankryk, hoor Rozanne de Savoye dat haar moeder nog leef en waarskynlik iewers aan die Kaap de Goede Hoop woon. Bykans ekstaties van vreugde en opwinding reis Rozanne na die Kaap – om sommer uit die staanspoor met teleurstellings en teenslae te doen te kry. Boonop raak sy vergeefs verlief op Armand le Riche, ’n aantreklike jong avonturier wat haar leer dat die liefde maar net ’n speletjie is. Rozanne se teenwoordigheid aan die Kaap skep spanning in die lewens van baie mense: Armand se ouers wat haar as ’n klein fortuinsoekster sien; die bekoorlike Angélique wat vier jaar lank op Armand se tuiskoms gewag het; Jacques le Riche, wat haar vir sy eie geldsugtige doeleindes wil gebruik; en Armand se tante wat met vrees en bewing verneem het van die jong “non” wat gekom het om die verlede oop te krap . . . Die spanning tril later snaarstyf, want ’n gemaskerde boosdoener probeer boonop telkens om Rozanne uit die weg te ruim.

Slavin van La Liberté

Annelize Morgan

Toe Leia as jong skipbreukeling aan die ooskus van Afrika uitspoel, het Tembisa, ’n inboorlingvrou, haar gevind en grootgemaak. Net voor Tembisa se dood het sy vir Leia ’n kosbare goue hangertjie met ’n vreemde embleem daarop gegee. Dit was om haar nek toe sy gevind is. “Jy moet die pad loop waarheen dit jou neem,” het Tembisa gesê. “Jy hoort waar die hangertjie vandaan kom . . .” Leia se lewe slaan dan ook onherroeplik ’n nuwe rigting in wanneer sy gevange geneem word deur ’n slawehandelaar, Lantini, en verkoop word aan die aantreklike graaf Jacques de la Fontaine. Die beeldskone wit slavin se koms op La Liberté veroorsaak ’n beroering. Sy is glad nie gedienstig nie, en haat haar ingeperkte vryheid en die mense wat dit veroorsaak intens. Haar sonderlinge skoonheid en ingebore adellikheid val mense op en bring komplikasies mee. Lantini wil haar graag terughê om teen ’n hoër prys van die hand te sit, en Beatrice de Boudelaire, die graaf se toekomstige vrou, wil haar tot elke prys weg hê van La Liberté. Intussen is daar nog die goue hangertjie met die vreemde embleem wat die enigste sleutel is tot Leia se vergete verlede . . .

'n Stukkie van jou hart

Elza Rademeyer

Dokter Lara Strydom is aanvanklik verslae wanneer sy sien hoe klein Darlingsdrift is, maar haar boesemvriendin Riekie is sterwend en het haar gevra om met haar en Janus se praktyk te kom help. Kort voor lank is sy egter glad nie meer so seker dat sy wil teruggaan stad toe nie, want die dorpie en sy mense begin al hoe meer in haar hart kruip. Veral wanneer sy die aantreklike Paul Sauerman met sy gitswart hare en sy kruppel been beter leer ken. Maar Paul dra ’n bitterheid in hom wat hulle albei se geluk op die spel plaas. Waarom sien hy nog steeds die beeldskone Jessica, die vrou wat hom kort ná sy ongeluk vir sy broer verruil het?

Klopdans van die liefde

Elza Rademeyer

Wanneer dokter Pennie de Villiers haar Anton in ’n vurige omhelsing met ’n ander vrou betrap, is sy verward en verdwaas. Daarom dat sy nie die aanstormende motor sien totdat dit amper te laat is nie. Die bestuurder is arrogant en verwaand, dink sy. Maar dié man, Pieter Wasserman, is baie aantreklik – digte swart hare, lang syagtige wimpers, die effense skynsel van baardstoppels op sy sonbruin wange, sensuele lippe . . . Al ís sy baie aangetrokke tot Pieter, weet sy nie of sy hom kan vertrou nie – hy lyk gevaarlik. Hét hy ’n skadukant, of is dit bloot haar verbeelding? En steeds sukkel sy om ontslae te raak van die knaende Anton; hulle was destyds nog op die punt om verloof te raak. En moet sy hom werklik glo wanneer hy beweer die “ander vrou” is bloot ’n vriendin, ’n aktrise, en dat hy haar gehelp het om ’n rol in te studeer?

Engel van my hart

Kristel Loots

In Engel van my hart moet brildraende Breggie Bruwer vir die beroemde oftalmoloog dokter Graham Condor gaan werk, in Londen. In sý oë veral wil sy mooi wees, maar ai, sy weet hoe onsinnig haar verliefdheid is: dokter Condor weet nie van haar verskroeide vlerke nie en het die wêreld se mooistes aan sy voete . . .

Duwweltjiepad

Elza Rademeyer

Rudolf Mulder, jongste multimiljoenêr in die Kaap, se lewe bestaan uit sport, meisies en partytjies. Totdat die noodlot sonder genade ingryp. Die prys vir ’n oomblik van hartstog met die wulpse, blonde Julia Saunders in sy voortsnellende motor is bitter duur: Wanneer hy sy bewussyn in die Conradie Hospitaal herwin, is sy onderlyf verlam. Nou duik ’n skim op uit sy verlede: die mooi swartkopgeitjie met die blitsende groen oë – suster Jo. Hy kan haar nie plaas nie. Sy verwar hom met uitsprake soos: “Julle ryk mans gee my ’n pyn. Natuurlik het ek al my sprankel verloor. Ek het dit ses jaar gelede al verloor toe jy . . . Julle mans is almal verraaiers!” Verraad? Hy kan nie onthou nie . . . Hier in die hospitaal kom Rudolf agter hoe die Here vooruitloop om die dorings uit die pad te vee. Daarom kan hy weer ja sê vir die lewe. Om Jo span die vangnet van die verlede egter al hoe digter. Klein Anton se pleegouers pers haar af om hom vir aanneming aan hulle af te staan; die nuuskierige tant Betta dryf haar in ’n hoek oor die foto in haar huis wat so sprekend na een van Rudolf as kind lyk, en ’n tweede, identiese Rudolf Mulder verskyn op die toneel . . .

Waar is die kleure heen?

Louisa du Toit

“Die lewe . . . soms is alles so mooi. Net reg. Tot jy op ’n dag ontwaak en wonder: waar is die kleure heen?” Hierdie vraag teister nie net vir Fiona Collins nie, maar ook vir Meyer Bronkhorst en vir Laura. Sedert die verraad van Laura en sy broer Piet, het Meyer nog nooit weer in ’n vrou belang gestel nie. Hy wy sy lewe aan sy eksentrieke ma by wie hy inwoon, en ook aan sy statusbewuste suster met haar gesin. Maar slegs een ding in die lewe is seker: dat niks ooit dieselfde bly nie. Nie vir Fiona, vir Laura of Meyer, ook nie vir die vreemdeling wat onverwags op Sederburg opdaag nie. Die leser raak intens betrokke by die wel en wee van ’n aantal mense op die skynbaar vreedsame dorpie.

Liefie

Louisa du Toit

Ná die dood van haar moeder, wat reeds etlike jare weduwee was, besluit die twintigjarige Liefie Hugo om haar lewe te wy aan die grootmaak van die drie jongeres: Sjimmie, Lettie en Laurie. Sy gee hulle kleinhoewe vlak buite die dorp die naam Die Drie, en kry ’n padstal aan die gang om die begroting te laat klop. Deur die jare word sy die onwrikbare steunpilaar van haar suster en broers. Soos hulle volwasse raak en pynlike probleme op die lyf loop, prober sy hulle daarteen beskerm. Dan breek die dag aan dat die ou bestel begin wankel. Sal hulle die storms oorleef, en sal een of meer van hulle ooit werklik geluk vind?

Talmende tuiskoms

Louisa du Toit

Toe Irma de Wet die huis verlaat om van haar onhoudbare stiefma Matilda weg te kom, het sy nie gedink dat enigiets haar ooit terug sal laat keer nie. Sy is immers nou tuis in Johannesburg, het ’n goeie werk en eie woonstel en is verloof aan ’n man op wie sy baie verlief is. Sy probeer nie te veel dink aan haar pa en stiefsussie Tillie wat dit nog op die plaas met Matilda moet uithou nie. Dan, egter, is daar een oggend op kantoor ’n oproep wat al haar opgeboude sekerhede omverwerp. Dis Deon wat bel . . . daar het iets gebeur, en dis so ernstig dat hy dadelik ry om haar te kom haal. Min kon Irma weet dat die terugkeer nie gou sou wees nie, en dan onder veel ander omstandighede.

Geliefde banneling

Annelize Morgan

Vir Theresa Verhoef, die vaal dogter van Barnard Verhoef vir wie hy geen liefde het nie, lyk die toekoms baie duister. As deel van ’n saketransaksie moet sy met die losbol-buurman Sias Beneke trou, en sy het haar pa se wense nog altyd gehoorsaam. Maar wat moet sy doen as sy die buurman verfoei? Toe Theresa Sias kort voor hulle huweliksbekendmaking met sy vorige meisie in ’n omhelsing betrap, weet sy vir seker dat sy nié met die klugspel kan voortgaan nie. Sy jaag die veld koersloos op haar perd in en loop haar trompop vas in die gevreesde El Toro en sy bendelede, wat reeds tien jaar lank ’n skrikbewind voer op Pelgrimsrus en die omliggende delwerye. Toe hulle uitvind wie haar pa is, besluit hulle dadelik dat dit hulle lang verwagte kans is om terug Europa toe te gaan, en hulle eis ’n losprys van tienduisend pond van haar pa. Maar wat gaan hulle doen wanneer hulle uitvind dat Barnard Verhoef nie bereid is om ’n pennie vir sy lelike dogter te betaal nie? En gaan haar jongmeisiedrome van jare gelede bewaarheid word?