Название | Die AA tot OE van seks |
---|---|
Автор произведения | Riette Rust |
Жанр | Секс и семейная психология |
Серия | |
Издательство | Секс и семейная психология |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624054030 |
Ons konserwatiewe ingesteldheid het ’n lang geskiedenis. Kom ons kyk kortliks ver terug – na waar hierdie sieninge ontstaan het. As jy dít weet, sal jy sien hoekom dit so belangrik is om heeltemal nuut oor seks te dink.
WAAR KOM ONS INHIBISIES VANDAAN?
Voordat jou ouers hul negatiewe seksuele bloudruk aan jou oorgedra het, bewustelik of onbewustelik, het hulle en hul voorvaders met dieselfde voorbehoude geworstel: Seks is daar om kinders te verwek, het hulle geglo. Jy is tog sekerlik nie veronderstel om dié sondige aktiwiteit te geniet nie … Jy mag ook, groot asseblief, nie masturbeer nie, want jy kan hare op jou hande kry of blind word. En seks voor die huwelik? Dis taboe! Daar word tog van jou verwag om ’n maagd te bly tot jy trou. Trouens, jou verloofde mag nie eens aan jou borste raak nie, wat nog te sê van “daar onder” – selfs al beteken dié weerhouding dat jou wittebroodsnag katastrofies is. Want, wees realisties: Hoe kan ’n kloosterkoek in een nag in ’n sekskat ontaard as sy nie eers self geleer het hoe haar lyf werk nie?
Ons hang so maklik ons jare lange voorbehoude, mites en wanpersepsies aan die Calvinisme op. Maar eintlik is Calvyn, daardie belangrike Protestantse teoloog en hervormer van die sestiende eeu, glad nie so skuldig nie. Die oorsprong van ons negatiewe opvattinge oor seks is lank reeds voor Calvyn geleef het (1509 tot 1564) deur sommige kerkvaders en filosowe gevestig. Dink maar aan Plato en Augustinus. Calvyn se sieninge was inderwaarheid “liberaler”. Ja, sowaar! (Sien “Die tradisioneel Christelike siening van seks”.)
Pa se woord is wet
Ons kan ’n vinger wys na iets wat baie ouer as die Christendom is, naamlik die oppergesag van die man, oftewel die patriargaat (eenvoudig gestel: beheer deur die pa). Dit het die grootste invloed op baie Protestantse Christene se siening van seks gehad en is diep in die Christelike geloof gewortel.
Die Bybel word vandag nog dikwels vanuit die patriargale beskouing benader. Só word ’n streng verdeling van geslagsrolle as ’n Christelike norm voorgeskryf. Talle Christene interpreteer die tweede weergawe van die skeppingsverhaal (Genesis 2:18) – dat Eva ná Adam geskape is – as die rangorde wat God aan mans en vroue toegeken het. Die man is die hoof van die huis en die vrou sy ondergeskikte. Ons sien dikwels steeds dat die jong professionele vrou, sodra sy in ’n ernstige seksuele verhouding betrokke raak of trou en ma word, in die tradisionele vrouerol met al sy voorskrifte terugval. Sy dink: My man is die hoofbroodwinner, ek gee my loopbaan prys, hy neem die besluite, ek kook die kos.
In antieke samelewings is die vrou selfs as haar man se eiendom beskou, in so ’n mate dat verkragting as ’n oortreding van ’n man se eiendomsreg gesien is! Dit het dus glad nie oor sy vrou of haar trauma gegaan nie, maar oor sy eiendom …
As ’n getroude man seks met ’n getroude of verloofde vrou gehad het, is dit as egbreuk beskou, nie omdat die man ’n oortreding teenoor sy vrou begaan het nie, maar wel oortree het teenoor die mán (of verloofde) van die sondige vrou!
Vroue se seksualiteit is streng beheer. Sedert antieke beskawings moes hulle tot hul troue ’n maagd bly. Só was die man seker die kinders wat daarna gebore word, is syne. (Bloedtoetse was daar mos nog nie.) As haar pa se besitting, moes ’n dogter ’n maagd bly sodat hy ’n goeie bruidsprys vir haar kon kry. Die voornemende bruidegom moes sy aanstaande skoonpa vergoed vir die huishoudelike dienste van sy dogter wat hy met haar troue sou moes verbeur.
Die tradisioneel Christelike siening van seks
Vele filosowe voor Calvyn het die Protestantse Christene (asook die samelewing in die algemeen) se siening van seks beïnvloed. Die Griekse filosoof Plato (circa 427 v.C. tot 347 v.C.) se opvatting dat die mens uit liggaam én gees bestaan, en dat die liggaam eintlik niks meer is as ’n soort houer vir die gees nie, het wye aanhang geniet. Vir Plato was die gees die belangrikste element, want deur die gees kon die mens nader aan God kom. Daarteenoor het alles wat die liggaam betref, die potensiaal gehad om mense in die verderf te lei. Seks het dus baie gou verdag geraak.
Plato se idees was invloedryk, maar dis eintlik die kerkvader Augustinus (354 tot 430) wie se sieninge die psige van die Christendom en alle ander Westerse samelewings beïnvloed het. (Dié teoloog en filosoof, wat algemeen gereken word as een van die grootste Christelike denkers, is in Noord-Afrika gebore, maar het sy middeljare in Italië deurgebring waar sy filosofie lank ná Plato sy beslag gekry het.)
Voor die sondeval was daar nie iets soos seksuele genot nie, het Augustinus geglo. Sperma het op ’n soortgelyke manier by ’n vrou se uterus ingevloei as wat menstruele bloed daaruit vloei, het hy beweer. Dalk het die verskynsel dat seks vandag nog deur soveel vroue as ’n plig gesien word, uit hierdie beskouing ontstaan.
Augustinus het gereken dis weens die sondeval – Adam en Eva se opstand teen God – dat mense die eerste keer bewus geword het van seksuele impulse, wat hulle tot “onbevredigbare wellus” verdoem het. Dié kerkvader het ook geglo dat alle genetiese materiaal in sperma gesetel is, terwyl ’n vrou se liggaam net ’n broeikas is. As die fetus nie voldoende warm gehou is in haar uterus nie, sou ’n baba gebore word wat fisiek swakker, intellektueel minderwaardig en moreel verdag was. Hierdie soort skepsel was ’n vrou!
Calvyn se rol
Streng gesproke was Calvyn nie negatief oor seks nie. Calvyn en Martin Luther, die bekende Duitse teoloog en hervormer (1483 tot 1546), het teen die vroeë kerk se lering van selibaatskap kapsie gemaak. Hulle het ook geglo dat seks nie net vir voortplanting is nie, maar ook as ’n vorm van intimiteit binne die huwelik geniet kan word. Maar nét binne die huwelik. Sommige geloofsgemeenskappe het verkeerdelik uit hierdie siening afgelei dat Calvyn negatief oor seks was.
Die Calvinisme het wél betaamlike optrede en beheerstheid sterk beklemtoon en as die Christelike norm voorgehou, maar dié filosoof het ook, anders as die meeste patriarge, die vrou as lewenslange vennoot van die man beskou. Sy was dus nie net die “broeikas” van sy kinders nie.
Die huwelik is as ’n sosiale instelling tot voordeel van man én vrou gesien. Seksuele plesier binne dié instelling was moreel en ordentlik, solank dit net nie oorgegaan het in oordrewe passie of pure lus nie!
En vandag?
Eeue later sien ons steeds die uitwerking van die sieninge van die filosowe van die antieke tyd. As jy een van baie is wat nou nog die negatiewe seksuele bloudruk aan jou lyf voel, is dit haas tyd om jou seksualiteit terug te eis. Daar is ander, meer bevryde maniere om na seks te kyk en dit sonder skuldgevoelens uit te leef en te geniet.
Gooi net eers daardie seksuele inhibisies oorboord!
RAAK SÓ VAN SEKSUELE INHIBISIES ONTSLAE
1. Maak ’n kopskuif
Een van die groot probleme waarmee baie van ons op seksuele gebied worstel, is ons ingesteldheid. Seks is nog te veel kere ’n plig – swaar, moeite of werk. Dít terwyl ons eerder op seksuele vervulling én plesier ingestel behoort te wees.
In Health24 se sekspeiling, wat in 2010 onder 10 000 Suid-Afrikaners gedoen is, het sowat 19 persent van die vroue, dit wil sê amper een uit vyf, laat blyk hul genieting van seks is net “gemiddeld”. ’n Mens sou kon aflei dat ingesteldheid ’n rol speel by die vroue vir wie seks so min bekoring inhou. Daarby het 16 persent van die vroulike deelnemers gesê hulle het die voorafgaande maand “glad nie” seks gehad nie.
Sien tog jou vagina vir wat dit is: ’n poort tot liefde en geluk. Sonder hierdie besonderse deel van jou lyf sou jy nie kinders – of veelvuldige orgasmes – kon kry nie. Dis voorregte, beslis nie iets om oor skaam te wees nie.
2. Praat en praat reg
Seks hoort lankal nie meer (net) in die donker nie. As jy ’n onderwerp verswyg, word dit ’n taboe – ’n monster. Dis ook waar die stigma aan seks vandaan kom. Praat eerder daaroor. En praat reg.