Название | Sara |
---|---|
Автор произведения | Maretha Maartens |
Жанр | Религия: прочее |
Серия | |
Издательство | Религия: прочее |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780796320650 |
HOOFSTUK 5
“El Shaddai se spirale is daar bo in die lug, al is dit dag.” Op drie het jy God se spirale dwarsdeur die lig van die son gesien, Isak. Hier buite Kirjat-Arba onthou ek jou heuningbystemmetjie. Maar sién? Steeds sy spirale sien? Die lig anderkant die tentopening is dié tyd van die dag te skerp. En my Godsvertroue te dof.
Hoe later, hoe kwater, sou Rahel van laas nag se stemme buite die tent gesê het.
Haar gedagtes was so deurmekaar soos die ou Amoritiese vroue se hare: gekoek, wild en onmoontlik om met die vingers te ontstrengel.
Roep die Amoriete die Baäls aan vir reën?
Vaar die maangod vannag in hierdie gure weer oor Hebron?
Hoe wild was die lug net voor die skuddings. Hoe wild was dit bokant my terwyl ek op die skouers van reuse hierheen gedra is.
Nee, dit kan nie ’n fees vir Sin wees nie, het sy gedink. Eergisteraand was die maan reeds byna vol. Daar is geen boot vir hom om in te vaar nie. Maar ek hoor sy naam, die naam waarop die Amoriete hom aanroep: “Yara, Yara …”
Abi-Yatum het weer tussen ’n klomp ander kinders gaan inkruip. Een van die ander het die vaal geweefde kombers wat hulle moes deel driftig teruggeruk. Hulle het baklei soos die Amoriete oral baklei. Soos hulle gevaarlike honde oor bloederige vleis baklei.
Die twee bejaarde vroue het hulle vete laat vaar en eenstemmig met hulle geraas.
Een van hulle het oor die kinders geklim en getrap soos oor boomstompe, die kombers uit albei kinders se hande geruk en hulle albei daarmee toegegooi. “Salālu!”
In Kanaän duur die aanvang van Lente elke dag net van sonsopkoms tot sononder. Snags keer Winter terug en word die verste ruimtes in die hemelruim sigbaar: sterspirale anderkant sterspirale anderkant sterspirale.
Spirale.
Dié woord wat sy onderwysers hom geleer het, het Abraham aan die seuns oorgedra: eers aan Ismael en toe aan Isak.
“Wat is ’n spiraal?” vra die skoolmeesters van Ur-Ma immers vir die seuns van die rykes wat na die edubbas – die tablethuise – gebring word om deur onderrig méns te word. “Waar is die spirale van die gode?”
“In die lug, Meneer, waar Sin vaar, die god wat Ur en Haran beskerm.”
“Só,” het Abraham haar vertel, “het ook ek hulle geantwoord. Ek was ’n ywerige leerling. Ek het gou en luidkeels geantwoord, ek wou een van hulle gunstelinge wees.”
“Al het jy toe van tyd tot tyd saam met abum Tera na jou groot-groot-grootjiegroot Noag gegaan? Al het jy hom met abum Tera en met jou oor God se groot openbarings aan Henog, die Oue, hoor praat?”
“My vader het die gesprekke met abum Noag ongemaklik gevind,” het Abraham daardie dag vir haar gesê. “Ons het min besoeke aan hom afgelê. Die keer ná ons troue, toe al drie van ons na hom is, was abum Tera se guns aan my en jou. En ’n bittere opoffering vir hom.”
Abum Tera wou hê dat Abraham ’n skribent kon word, een van dié wat die geskiedenis van die land tussen die riviere, die veldslae en die handelsooreenkomste van Sumer kon neerskryf, sodat dié wat ná hulle kom, sou weet wie hulle is en waar hulle vandaan kom. Maar bo alles ’n priester, ’n priesterskrywer. Ja, gedurende sy twaalf jaar in een van die grootste edubbas van Ur moes hy toegewyd genoeg studeer om toegelaat te word om ook in sterrekunde, medisyne of Sumeriese regspraak onderrig te word.
Maar die belangrikste was dat hy hom vir die priesterskap in diens van die maangod Sin moes bekwaam, vir die posisie van alle beheer oor grond en water en handel.
En toe gebeur wat gebeur het.
Hy wat Hom as El Shaddai aan Abraham bekend gestel het, het alle bedoelings wat Tera met Abraham se twaalf jaar in die edubba gehad het, ongedaan gemaak. Abraham sou sy seuns anders as die Sumeriërs onderrig, eers vir Ismael, toe vir Isak. En hy sou sy seuns onderrig in ’n ver land waarin hy hoogstens oor die aankoop van ’n grot as grafkelder sou kon onderhandel. Niks meer nie, nie die grootte van sy handpalm as eie grondgebied nie.
“Wat is ’n spiraal, Ismael, Isak?”
Isak was skaars drie jaar oud toe hy die spiraalvorm met die middelvingers en duime van sy twee seunshandjies vir Abraham gemaak het: “Dit lyk só, Abum. Maar dit moenie naels hê nie.”
“Jy is reg. Jou naels is baie vuil. Was jy dan nie jou hande nie?”
Hoe het hulle saam gelag wanneer Isak Abraham se hand tussen sy twee handjies gevat en op sy bobeen laat lê het, palm ondertoe, elke brokkelrige ou vingernael oop en bloot. “My naels lyk soos my abum s’n.”
Dan het hulle daar gesit, haar ouman, met Isak teen hom, so dig teen hom asof hy soos ’n kuiken onder die ouer se vlerk ingekruip sit, met net ’n voëlpootjie wat uitsteek.
Hoe sag het Abraham gepraat, hy wat volgens hierdie Amoriete ’n stem het wat in die tyd toe hulle hier gewoon het, tot bo in die rante gehoor kan word: “Jy antwoord reg. Jy maak ’n mooi spiraal met jou vingers. Maar waar is die spirale wat El Shaddai gemaak het, my seun?”
Isak het nie sommer net geantwoord nie, altyd eers boontoe gekyk. Alles word mos van kleins af stil deurdink.
“Die spirale is nie nou daar nie, Abum.”
“Maar jy dink dit is daar, al kan jy dit nie in die dag sien nie, nè?”
“Ek dink nie, Abum. Ek weet.”
“Vertel mooi vir my wat jy weet?”
Hy het so ’n soet stemmetjie gehad, Isak. Soos die soet gezoem van heuningbye waar soet nektar in oorvloed te vind is.
Sara het dikwels op haar tone van agter af nadergegaan om te luister.
“Ek weet ons familie gaan so baie wees soos … soos al die sterre in al die spirale.”
“En so baie soos …”
“… die sand van die see.”
“Jy sê reg, my seun,” het sy Abraham hoor sê. “Hoekom is jy so seker dat dit sal gebeur?”
Dan raak Isak stil en nestel die vingertjies met die vuil vingernaels maar net tussen Abraham se oumansvingers in, asof hy hom aan sy vader vasknoop.
Abraham was nog altyd so; maak tiendubbeld seker van alles. Oor en oor. Hoe moedeloos maak hy sy manne nie, maar só is hy. Hamer alles in, oor en oor. Só was hy al die jare met Isak en ook met Ismael.
“Meneer Abraham is soos Tamâm wat Amira se sieklike enetjie drie mantels oormekaar laat aantrek sodat hy tog net nie koud moet kry nie,” het Rahel eenkeer gesê. “Daar is nou vir jou ’n bemoeisieke ouma, Mevrou.”
Dus, die drie-mantel-seker-maak-vraag aan die vierjarige Isak vir wie die besnydenis van elke pasgebore seuntjie in die nawûm nog maar net op een ingenome asemstootjie uitloop: “Nou is hy ook die Here s’n!”
Dít het Abraham hom geleer, en dit kon hy verstaan. “Soos wat Abum die bokkies en lammertjies merk, so het Here gesê dat Pappa sy mense vir Hom moet merk, my seun.”
Die belofte van die seesand het Isak die moeilikste van alles verstaan. Hy wou weet wat die see is, of die sand van die see anders as die sand van Berseba en die klipwoestyn is. Dan het Abraham vir hom gesê dat hy hom eendag na die groot see sou neem, sodat hy seesand kan opskep en na die korreltjies kan kyk. Maar dat hy tog die belangrikste vraag moes beantwoord: “Hoekom is jy so seker dat ons familie so baie sal word soos al die sterre in al die spirale in die naghemel? So baie soos die sand van die see wat Pappa nog vir jou sal gaan wys, my seun?”
Die heuningbystemmetjie, in salige onwetendheid dat dié ontsaglike menigte uit sy lendene verwek sou word: