Название | Sara |
---|---|
Автор произведения | Maretha Maartens |
Жанр | Религия: прочее |
Серия | |
Издательство | Религия: прочее |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780796320650 |
HOOFSTUK 9
“Hoekom raas hulle met jou?” het ek so pas vir Abi-Yatum gevra.
“Hulle sê kyk waar sit die son en ek doen nie my werk nie en een van die dae is ek veertien, en hoe dink ek gaan ek ’n kind grootkry?” het sy geantwoord. “Maar ek wil nie kinders grootkry nie. In die nag wil ek slaap. Ek is abātu ná laas nag met jou en alles, Ummu- šību. Verwoes, ’n wrak. En ek het nog koud gekry ook.”
“Dan moet jy nog nie ’n ma word nie,” het ek vir Abi-Yatum gesê, Rahel.
“Maar ek sal,” het die kind haar onderlip uitgestoot. “Mens kan dit mos nie keer nie.”
Die ou vrou het onverwags weer hande-viervoet opgestaan, ’n kierie in die hande gekry en mompelend met die lamp oor Sara gelig. Sy het by haarself tong geklap en oor die nanagkoue gemompel. “Tsjik-tsjik. Kasû. Tsjik.” En skielik: “Abram. Tsjik.”
Het sy Abraham se naam genoem? Hy en Isak is hier verby; dit was die afleiding wat Sara gemaak het nadat die Apiru die nuus klaar oorgedra, hulle beloning gekry en weer die pad gevat het.
Soos ’n kind wat in die nag na sy ma roep, het sy na die bejaarde vrou geroep: “My man en seun!”
Die ou vrou het geaarsel en haar kop geknik.
Sy weet, sy het al die tyd geweet! Hoekom het sy die hele tyd dan niks gesê nie?
“Is hulle Jebus se kant toe? Padlangs? Die pad … xūlu. Verstaan jy: die pad? Xūlu.”
Die ou vrou het haar stip aangekyk, begrypend geknik, in die lig van haar lampie by die tent uitgeskuifel en met twee roosterkoeke teruggekom. Die een het sy na Sara toe uitgehou. “Akalu.” Eet dan.
Die kloof tussen hulle was te wyd. “Ek het nie kos gevra nie.”
Die ou Amoritiese vrou het gesug, die roosterkoek teruggevat en dit op haar skoot laat lê terwyl sy een na die ander stukkie van die brood wat sy vir haarself gehou het, met die tande afskeur en self tydsaam opkou.
Sara het begin hoes. Dit was asof haar skouer uitmekaarskeur. “Asseblief. Help my tog.”
Die ou vrou het aan haar voorkop gevoel, na buite beduie en haar kop gerusstellend geskud. Jy is nie te erg koorsig nie, ummu- šību, moes dit beteken.
Dalk wou sy haar laat verstaan dat Winter in die nanag ’n goeie doel dien: dit laat koorsige liggame afkoel.
“Nee, my skouer.”
Weer die agterkant van die ou hand teen haar voorkop, weer die teenspraak: “Ummu- šību, jy is nie meer so warm nie. Imittu. Jy is imittu.”
Ek is nie beter of gesond of reg nie.
Hoe het sy nie gekreun nie. Die kreune het uit haar ingewande gekom; sy het self haar noodkrete gehoor.
Maar die ou vrou het haar kop bly skud. Jy is beter, jou koors is weg. Slaap nou. “Salālu.”
Toe is sy terug na haar eie matras.
’n Oue saam met ’n oue. Een oue sorg vir ’n ander oue. Dié wat nie meer buite in die nag saam met die jong Amoriete hoort nie, dié wat oor klippe en stompe val omdat hulle dit nie meer goed kan sien nie, bly in die tent. Hier lê ek, die ander oue. Ons is saamgegooi, ek nou nog erger as sy beskadig. Sy sorg vir my; sy sien iets van haarself in my. In die ouderdom word alle vroue susters.
Is ons ewe oud? Dink ek sy is ouer as ek omdat ’n mens jouself nie in jou ouderdom sien nie, jy voel jouself maar net? Binnekant voel jy tog maar net soos jy, oral waar jy was. In werklikheid lewe jy tog mos maar binne-in jouself; verlamdes lag binne-in hulleself, al is hulle lippe onbeweeglik skeefgetrek. Blindes sien van binne af, hulle sien geluide, en daarvoor het hulle nie sig nodig nie. Soms kon ek van rugpyn skaars opstaan van my opmekaargestapelde slaapmatte af, maar wanneer Abraham veilig by die tent aankom, het ek hom tegemoetgehardloop, hom by voorbaat omhels, alles binnekant.
Hy het op my neergekyk, gebuk, ook maar stram op een knie langs my slaapstapel gekniel: “Lê. Jy het seer. Jy moes nie wakker gebly het nie.” Hy kon my nie so moeiteloos na hom sien hardloop nie. En hy het ook maar stuk-stuk opgestaan, veral in Winter, wanneer ledemate so styf soos rypoortrekte takke word.
En Idra van Gasael-hulle. Sy het haar mond nie oopgemaak nie, maar sy het diep in haarself gesing.
By dié mense is daar net twee dinge wat van hoë ouderdom getuig: ’n kraak in die stem en dit wat in die oë gebeur. Die koue blou van die Amoritiese oogkleur – eenders by oud en jonk, man en vrou – word deur ouderdom verbleik en verdof. Baie van hulle word blind. Dis die kleur van hulle oë, sê Abraham. Blouheid word blindheid. Kyk maar. Wanneer dit lyk of daar ’n vaal vlies oor die kykers lê, word blouheid blindheid.
Oor ’n jaar of twee gaan hierdie ou vrou blind wees. Sonlig, vuurlig, lamplig – haar oë weerkaats geen lig meer nie. Die vlies van blindheid is soos ’n doek wat oor die glans en die helderheid, die trane en die droefheid van die siel gegooi word.
Soos wat die Amoriete Eskol, Aner en Mamre lyk, so lyk die mense van dié staning ook, van die oudste tot die jongste. Vaalblonde hare, ligte vel, adelaarsneuse, van die dag van hulle geboorte af.
Amura, noem die Akkadiërs hierdie mense wat anders lyk, anders as die Semiete loop en anders praat.
Hoe anders is hulle taal en gode.
“Yantin-Dagan.” Dagon gee.
“Raṣa-Dagan.” Dagon was tevrede.
“Yabanni-Il.” El skep.
Die godheid wat hulle El noem, is nie die God wat aan Abraham verskyn het nie, dit is ’n ander god.
Senir is hierdie mense se naam vir Hermon, die berg van swaar dou, een van die berge wat eendag aan die nageslag van Isak sal behoort.
Die Amoriete steek vure op die bergtoppe aan, veral op die berg Senir, want die gode is baie ver en baie vergeetagtig. Wanneer hulle die vure op die bergtoppe sien brand, onthou hulle hopelik weer van dié wat hulle dien.
Senir was een van die berge wat Abraham gaan klim het om dit af te tree, om dit vir die nageslag van Isak te merk. Hy het Isak, klein soos hy was, met hom saamgeneem.
Hagar was skaars weg met Ismael; Isak was ontroosbaar. Abraham moes wegkom met hom, Isak teen sy eie lyf vashou, dae lank op die rug van ’n esel. Hy was immers gespeen. Hy kon vleis en brood, dadels en rosyne eet.
Hulle seun se smal voetjies het die berg waar die leeus hulle lêplekke in die grotte het en die luiperds hoog in die kranse skuil, saam met Abraham as grondgebied vir sy nageslag gaan aftree. Maar die aftree en die aanhoor van die belofte het sy grootste begeerte nie gestil nie. Hy wou Ismael weer by hom hê. Nie in herinneringe nie. By Berseba.
“Wat het jy alles gesien?” het sy ná hulle terugkeer vir hom gevra. “Vertel vir Eema?”
“Almal is só hoog.” Hy het sy arm hoog gelig, opgekyk. Hy het van die Amoriete se lengte gepraat.
“En nog?”
“Ag, sommer berge. Wanneer kom my ahum Ismael terug?”
Op die kruin van Senir doen die Amoriete wat die Sumeriërs doen, wat abum Tera as priester by die tempel hoog bo die Etemenniguru – die ziggoerat van Sin in Ur – gedoen het. Hulle maak nagvuur soos wat abum Tera nagvure by Sin se tempel hoog bo Ur gemaak het.
Hoe vreemd beklemd het sy pas na haar aankoms in Ur van Maniksum af naby die ziggoerat gevoel. Sy moes daarheen gaan, sy moes haar aan Sin gaan wy. Sy en Abram kon haar tak-pir-tú – haar suiwering