Название | Selma en Louise |
---|---|
Автор произведения | Susan Coetzer |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798176576 |
“Ek sien jy like my skoene?” sê hy in sy noppies. “Ek like hulle ook kwaai.”
“Wel, dis beslis veeldoelig,” sê sy diskreet. “Die punte kan baie goeie selfverdedigingswapens wees in ’n gevaarlike stad soos Johannesburg.”
“Dis die eerste ding waarna ek kyk wanneer ek ’n vrou ontmoet: haar skoene. Dadelik jou wedgies gesien.”
“O, jy het?” Selma loer na haar Nine West-skoene onder die tafel. Haar voete is netjies teenmekaar geparkeer soos haar ma haar geleer het.
“Ja . . . Kyk, ek is eintlik meer ’n fan van fyn, hoë hakkies.” Ronald skandeer die koffiekroeg met sy oë. “Soos daai jong dingetjie met die ferm, gespierde kuitjies. Kyk hoe mooi loop sy op haar dun hakkies. Dit maak my sommer klaar warm agter my kraag, net van kyk.”
“Sy het mooi beentjies,” sê Selma gul.
“Jy kan sekerlik nie meer op jou ouderdom daardie tipe hakke dra nie. Veels te riskant vir ’n ouer vrou. As julle val en iets breek, groei dit mos nie sommer weer aan nie.” Hy gooi weer sy kop agteroor en verloor byna sy balans gedurende die lagbui.
Selma voel hoe sy ’n diep, donker gly in Ronald vang. Sy kan nie glo hy is so onsensitief om haar as ’n ouer vrou te klassifiseer wat net kwalifiseer vir wighakke, en seker Crocs en Green Cross-gesondheidskoene nie.
Jou kort vetgat, dink sy by haarself en plak ’n glimlag op haar mond.
“So, Lana sê jy is ’n skrywer,” sê hy. “Wat skryf jy als?”
“Ek skryf meestal reisverhale,” sê sy uit die hoogte.
“O, soos oor trips wildtuin toe?”
“Nee, soos oor eksotiese reise na plekke oorsee. Was jy al ooit landuit, Ronald?” vra sy ysig.
“Net in Namibië en Botswana. Ek was ’n recce in my army-dae.”
“So geraai,” sê sy net-net hoorbaar.
“Ek skryf ook,” sê hy en trek sy selfoon nader. “Dis als hier op my foon. Meestal gedigte. Ek wil dit vir ’n uitgewer stuur dat hulle dit publiseer. Lees bietjie hier.” Ronald druk die foon onder haar neus. “Seker jy gaan dié een baie waardeer. Ek het dit nou die aand op my facebook gepost en die girls is mal daaroor. Soveel likes gekry.”
“Lees jy dit maar voor. Ek sien jy het reeds jou bril op – ek is nie nou lus om myne in my handsak te soek nie.”
Ronald laat hom nie twee keer nooi nie. Hy begin sy gedig passievol voorlees. Selma neem nie veel in nie. Haar aandag is by die bruin bobbejaanspinnekop-oë aan weerskante van die massiewe neus. Oë wat te na aan mekaar sit, was nog nooit vir haar ’n goeie teken nie.
“Diep, nè,” sê hy toe hy klaar is. “Ek is ’n diep mens, Selma.”
“Self,” sê sy.
“Weet jy hoeveel keer het ek al seergekry in die liefde?”
“Self.”
“Ek wil regtig nooit weer ’n vaste verhouding hê nie, net vriendskap.” Ronald kry ’n trek van pyn om sy mondhoeke asof hy pas deur ’n koeël getref is.
“Self.”
Ronald se gesig helder op. Hy sink sy vingers in die sagte vleis van haar boarm. “Regtig? Just friends – with maybe a few benefits?” Hy knipoog.
“Ongelukkig met min byvoordele, Ronald. Ek soek glad nie ’n seksuele verhouding nie. Ek is al vyf jaar selibaat en baie gelukkig sonder ’n man in my bed.”
“Jy speel seker,” sê Ronald onkant betrap.
“Met my hand op my hart.”
“Hoe refreshing is jy nie, Selmatjie. Al die single vroue wat Lana aan my voorstel, is . . . hoe sal ek dit stel?”
“Agter jou lyf aan?”
“Jip. Ek het my hande vol met vroumense. Hulle maak of hulle vriendskap soek, maar eintlik soek hulle baie meer. Hulle raak verlief op my en stalk my op facebook. Seker maar oor my digkuns en naakte beeldhouwerk tot hul diepste, stoutste gedagtes spreek . . .”
“Seker maar,” sê Selma. “Maar jy kan ontspan, Ronald. Ek soek regtig niks van jou nie.”
“Dis goed om te weet. Want ek wil niemand seermaak nie.” Hy gooi sy kop agtertoe en blaas dan ’n oordrewe sug van verligting uit. Selma kyk hoe die twee skape in sy pens onder sy T-hemp beweeg.
U2 se “With or without you” speel in die agtergrond. Dit was haar en Zander se liedjie. Sy is skielik haastig om uit Buzz 9 te kom.
“Sal ons die rekening kry?” vra sy.
“Seker.” Ronald maak sy beursie oop en dan weer toe. “Ek het ongelukkig net R20 by my. Skuus, man.”
“Dan moet jy maar met jou kaart betaal. Verskoon my, ek moet wikkel – ek het ’n ander afspraak.” Sy voel sy oë op haar wighakke brand toe sy uitstap. Sy stap vinniger en vinniger. Die lirieke volg haar soos ’n donker skaduwee tot by haar motor. With or without you . . . With or without you. I can’t live . . .
* * *
Selma hou met haar BMW voor Lana se spoghuis in Rivonia stil. Sy druk die interkomknoppie asof dit Lana se oog is wat sy probeer uitdruk, wag ongeduldig dat die hekke van die paleis oopskuif en ry dan stomend in.
Die blonde Lana kom die ene glimlaggies en kuiltjies uitgesweef oor die grasperk wat byna die grootte van ’n gholfbaan is. Sy dra ’n koel Peppermint Crisp-groen linnepak.
Selma wonder of sy haar uitrusting doelbewus gekies het om by die gras te pas. Lana was sedert hul laerskooldae op Moorreesburg altyd die beauty queen – dun soos ’n breipen en vars soos die groen blaartjie wat die duif teruggebring het na Noag se ark. Lana is steeds nie ’n groot eter nie en verkies om haar kalorieë te spaar vir haar kwota gin en tonic per dag.
“En?” vra Lana en steier effens op haar ingevoerde lemmetjiegroen stiletto’s. “Het ons ’n match?”
“Wat besiel jou om my uit te lewer aan die moroon? Is dit jou idee van ’n Aprilgrap?” Selma gooi die motordeur met ’n kragtige beweging toe.
“Jy weet dis my eerste date in vyf jaar sedert Zander se . . .” Sy byt haar woorde af asof sy ’n deurstop voor haar mond geplaas het. Dan onthou sy weer hoe kwaad sy is. “Was daar niks beter nie? Nie eers by Zoo Lake se dieretuin nie? Ek dink ’n gorilla sou beter date-materiaal gewees het as jou Ronald.”
“Sjoe, jy is deesdae so touchy wat mans betref,” sê Lana bedees. “Stap saam met my patio toe en chill ’n oomblik. Ek sal vir Grace vra om vir ons rooibos-ystee te maak. Met ’n knertsie gin.”
“Laat ek net eers my gesig gaan afspoel,” sê Selma en stap verby haar na die gastebadkamer.
Sy betrag haarself in die spieël met die swaar goue renaissance-raam. Haar gesig is weer dieselfde uitgestresde deegbeige van vroeër die dag. Die rosige blos en wynrooi lipstiffie het als afgesmelt in die hitte. Of was dit Ronald wat haar kleur binne ’n oogwink laat vervaag het?
Sy probeer haar gedagtes saam met haar hare herrangskik. Die doughnut, merk sy, het afgesak en die vorm van ’n pizza aangeneem. Sy wend vars lipstiffie aan en probeer haarself transformeer tot iets wat beter by haar vriendin se vyfster-omgewing pas.
Lana wag in twee skrapse mentblaartjies onder ’n sonsambreel. Sy skink met ’n kennershand twee lang glase gin. ’n Rapsie ystee word by die alkohol gegooi – soos ’n mens ’n lekkie melk by koffie sou voeg.
“Cheers! Ek is regtig jammer. Ron het baie nice gelyk op sy facebook,” sê Lana met oppervlakkige berou.
“So jy’t hom nog nie persoonlik