Selma en Louise. Susan Coetzer

Читать онлайн.
Название Selma en Louise
Автор произведения Susan Coetzer
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780798176576



Скачать книгу

hoe dit die koue binne-in haar effens verdryf. Is hierdie reis na Indië dalk reeds vooraf beplan deur ’n Hoër Hand? Dit kan tog sekerlik nie toeval wees nie? Sy wens sy kon die saak in diepte met iemand bespreek.

      Sy besluit om haar kinders in Thailand te whatsapp.

      Hoe gaan dit? Hou julle nog lekker vakansie? Ek oorweeg ’n alleenreis na Indië saam met ’n toergids. Hoe voel julle daaroor as ek nie in Johannesburg is wanneer julle van Thailand terugkeer nie?

      Jacques antwoord eerste. Dis cool, Ma. Ons is mos darem al lankal uit die huis. Ons gaan anyway besig wees met ons studies.

      Tania vra meer besorg uit. Is Ma okay? Ons is einde Januarie terug . . . Moet ek Mamma gou bel met ’n whatsapp call?

      Selma se hart klop in haar borskas. Sy het nie die moed om hulle te bel nie. Netnou bars sy in trane uit as sy hulle stemme hoor. Beter om te whatsapp. Nee, dis glad nie nodig nie, Tania. Ek is okay dankie. En ek is nog nie eers seker of ek wel Indië toe gaan nie. Ek dink nog daaroor. Sy tik ’n Smiling_Face_Emoji_large.jpg.

      Sy het nou afstand nodig. Sy het nie die emosionele stamina om hulle in te laat in die skokkende gebeure nie. En sy wil nie hulle pret in Thailand bederf nie. Hulle is al deur genoeg.

      Go for it! laat Jacques van hom hoor. Daar is ’n thumbs_up.jpg. Tania stuur colouredhearts.jpgEmojiKiss.jpg EmojiKiss.jpg EmojiKiss.jpg.

      Dankie. Geniet die res van julle vakansie. Hou julle op hoogte. Selma tik twee EmojiKiss.jpg EmojiKiss.jpg by.

      Sy skink nog ’n glas pinotage.

      “Ek wens ek kon Louise se opinie kry,” sê sy vir Boelie en Bella. Die honde sug en gaan lê terneergedruk met hul koppe op hulle pote. “Okay, ek weet die vriendskap gaan deur ’n dip . . . maar sy wás darem veertig jaar lank my beste vriendin.”

      Selma besluit om Louise ook eerder nie te bel nie, maar te whats­app. Hulle het mekaar twee weke gelede soos katwyfies oor die lyn tussen Johannesburg en Kaapstad verskreeu. Nie een kon ’n behoor­like sin inkry nie. Sy het die foon in Louise se oor neergeplak en haar foon vir dae afgesit. Sedertdien hang daar ’n swaar stilte tussen hulle.

      Net gedink ek laat weet jou – ek oorweeg ’n alleentrip na Indië met die toergids Mohamed Singh wat ek ’n jaar gelede op ’n vlug van Kaapstad ontmoet het. Ek het jou van hom vertel. Indië sal my hopelik help om die afgelope ruk se ontwrigtende gebeure te verwerk.

      Die pinotage-bottel is leeg toe Louise uiteindelik van haar laat hoor.

      Jy is fokken mal, Selma.

      5 JANUARIE 2017

      Selma parkeer weer haar motor in Rosebank Mall se parkeerter­rein en luister weer met toe oë na Abba wat deur haar klanksisteem weerklink. The winner takes it all . . . Haar hande bewe liggies op die stuurwiel.

      Sy stap weer by dieselfde Flight Centre in Rosebank in. Hierdie keer het sy nie ’n Wimpy-servet nodig vir haar trane nie.

      “Good to see you,” sê Adesha en beduie sy moet sit. “I have already looked at flights.”

      Adesha se vingers dartel oor die klawerbord van haar rekenaar asof sy een van Mozart se klavierconcerto’s uitvoer.

      “Don’t book my ticket . . . just yet,” sê Selma met ’n droë mond. Haar hart bons soos ’n vasgekeerde budjie rond in haar ribbekas. “I am still thinking about it.”

      Adesha stop haar Mozart-uitvoering summier. Haar hande bly hang soos kraaie in vlug bo die klawerbord.

      “What is there to think about?” vra sy, haar groot donker oë nog groter oopgerek. “I sent you the number of Mohamed Singh, my cousin who is a guide for small groups . . .”

      “Yes.”

      “And you phoned him and discovered that you two had met before.”

      “Yes. On a flight back from Cape Town a year ago.”

      Adesha laat rus haar twee kraaie op die klawerbord. “Do you think that was a coincidence or divine timing?” vra sy.

      “I’m not sure,” antwoord Selma. “It just feels so crazy, so . . . unsafe to go to India, on my own as a female . . .”

      “Don’t think too much. Just do it like you would bungy jump.”

      “I wouldn’t bungy jump. I have a fear of heights,” sê Selma en vee die haartjies op haar arm plat met haar voorvinger.

      “You will have a safe landing. Mohamed will be at Mumbai Airport to meet you.”

      Selma voel hoe die budjie in haar ribbekas rondspartel om lug te kry. Sy weet nie of sy die moed het om op daardie vliegtuig te klim nie. Selfdood voel skielik weer na ’n beter opsie as om op haar eie Mumbai toe te vlieg en haar aan die genade van ’n onbekende toer­gids oor te laat om haar deur die land te vergesel.

      Wat as die man ’n kroek is? Of erger nog – ’n psigopaat wat hom voordoen as ’n weldoener? Sy sal nie nóg ’n aanslag van geestelike terreur oorleef nie.

      “Okay, you’re booked. Check the times. Leaving from Oliver Tambo the afternoon of 15th January 2017, arriving in Mumbai early the next morning, 16th January 2017. That gives you ten days to get your visa approved. It normally takes less than a week – you can do it online. Just go to Travelstart Blog,” sê Adesha met ’n breë glimlag.

      “In ten days? No, I need more time . . .” sê Selma. Dit voel of die budjie enige oomblik uit haar borskas gaan ontsnap en die twee kraaie op die klawerbord se vere gaan uitpik.

      “To do what?” Adesha kyk verontwaardig op. “Mohamed might not be available if you wait too long. He is in big demand.”

      “I just need to gather my thoughts . . . to think about all that happened to me to bring me to this specific point in my life.”

      “But that is exactly what you will be doing in India,” sê Adesha vies. “You will gather your thoughts and get a new perspective as you journey with Mohamed.”

      “You are right,” sê Selma. Sy stoot haar kredietkaart met ’n bewende vinger oor die tafel. “Let’s do it.”

      Adesha tel die kaart behendig op en voltooi die Mozart-concerto met nuwe uitbundigheid.

      Selma stap verdwaas terug na haar motor. Haar hele lyf bewe asof dit winter is. Sy krap haar selfoon uit haar handsak. My enkelkaartjie na Mumbai is geboek. Ek vertrek 15 Januarie.

      Hierdie keer antwoord Louise glad nie.

      Hoofstuk 2

      Man’s creative struggle, his search for wisdom

      and truth, is a love story.

      – Iris Murdoch

      ’N JAAR GELEDE: 12 JANUARIE 2016

      Selma bekyk haar gesig in die badkamerspieël. Hoe het sy hier beland – op die rand van die lewe waar sy desperaat met haar French tips aan ’n klein sprietjie lewe vasklou om nie oor die afgrond te stort nie?

      Haar vel bly die kleur van pannekoekdeeg ná Zander se verlies. Hoe lank is dit nou al? ’n Volle vyf jaar? Als is nog so vars in haar geheue