Selma en Louise. Susan Coetzer

Читать онлайн.
Название Selma en Louise
Автор произведения Susan Coetzer
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780798176576



Скачать книгу

“Kom ons gaan speelkamer toe.”

      Selma stap agter haar aan in die lang gang af. Een van die deure is toe. Dis seker waar Louise se ma met haar hoofpyn lê, dink Selma.

      Die speelkamer is die laaste vertrek in die gang. Dit wemel van poppe en sagte speelgoed. Teen die een muur is rakke waarop allerlei bordspeletjies, boeke, verf en tekenkryt uitgepak is. In die verste hoek is ’n klavier met ’n stoeltjie wat met ’n pers fluweelbekleedsel oorgetrek is.

      “Sjoe!” sê Selma. “Jy het baie speelgoed.”

      “Maar my favourite goed is in hierdie kis,” sê Louise. Sy lig die deksel van die groot houtkis versigtig op. Dis vol kleurvolle kostuums, hoede, skoene en fantasieklere. Louise krap in die kis rond en trek dan ’n pienk prinsesrok uit die bondel.

      “Trek jy die pienke aan,” gebied sy. “Ek gaan vandag die goue een dra.”

      Selma neem die pienk net-aandrok en vryf die materiaal tussen haar vingers. “Waar is julle badkamer?” vra sy skaam.

      “Ons het twee af in die gang, maar vir wat wil jy daar gaan aan­trek? Jy hou mos jou vest en jou pantie aan.”

      Selma gaan hurk langs die klavier en probeer die feetjierok oor haar kop kry. Sy lees die naam op die stuk bladmusiek: Jingle Bells.

      “Jy moet eers die zip aftrek, stupid,” sê Louise en help haar om die rok aan te kry.

      “Die materiaal is hard,” sê Selma. “Dit krap my rugvel.”

      “Dis oor jy nog nie die kroon en die vlerke ophet nie, silly. As jy dit eers ophet, voel die rok sag soos sy.”

      Louise grawe met nuwe ywer in die kis rond. Sy gooi ’n verskeiden­heid items oor haar skouer. Dan draai sy om en glimlag asof sy die lotery gewen het.

      “Sit die silwer kroon op jou kop – en jy kan die staffie ook leen.”

      Selma sit die kroon op en hou die towerstaf in haar hand vas.

      “Hoe voel die rok nou?”

      “Nog steeds of ’n kat my krap.”

      “Moenie so ’n sissie wees nie!” skel Louise. “Anders kom jy nooit weer vir ’n sleepover nie.”

      Selma knik gedwee. Sy wil graag weer plaas toe genooi word. By hulle huis op die dorp het sy nie ’n speelkamer met ’n houtkis vol fantasiekostuums nie.

      “Okay, nou kort jy net die vlerke en smarter skoene. Jou skool­skoene gaan nie werk nie. Trek aan, dan sal jou vel ophou krap.” Louise help Selma om die silwer feetjievlerke oor haar skouers te trek.

      “En hoe lyk ek?” Louise sirkel ’n paar keer verby haar op hoë hakke. Sy het ’n goue aandrok met ’n bypassende kroon, towerstaffie en vlerke aan.

      “Mooi,” sê Selma.

      “Nou is ons fairies. Ek is die fairy queen en jy die fairy-prinses. Ons kan vlieg en magic doen. Kom ons gaan haal eiers uit,” sê Louise. “Ek kry altyd meer eiers wanneer ek die goue rok aantrek.”

      Die twee meisies loop met hulle feetjierokke en vlerke hoenderhok toe.

      “Die een wat die meeste eiers kry, wen ’n prys,” sê Louise.

      Selma ploeter op die hoëhakskoene deur die hoenderhok. Die hoen­ders pik-pik in die grond en sprei hulle stertvere soos Spaanse waai­ers oop wanneer sy nader kom om eiers te soek.

      “Ek weet tog waar al hulle wegsteekplekkies is,” spog Louise. Sy krap ’n paar stukkies strooi langs die ogiesdraad weg en haal ’n eier uit. “A, my eerste een! Voel, dis nog louwarm.” Louise druk die hoen­dereier teen Selma se wang.

      “Ek wens ek kan ook een kry,” kla Selma.

      Louise krap nog strooi weg. “A, my tweede een!”

      “Ek het nog niks,” sê Selma bekaf.

      “Weet jy wat is ’n penis?” vra Louise terwyl sy verder eiers soek.

      “Nee. Wat is dit?”

      Louise maak ’n simpatieke klikgeluid met haar tong en skud haar kop. “Dis die tool wat ’n seun in sy broek het.”

      Selma staar na Louise. “Tool?”

      “Ja, ’n tool om mee te piepie. En babas mee te maak. A, my derde eier!”

      Selma gril. “Waar hoor jy dit?”

      “Afgeluister by Pieter se kamerdeur. Hy’s vyftien en weet baie ongeskikte goed.” Sy krap nog twee eiers agter ’n ou wynvat uit. “Jy beter opskud. Ek is jou ver voor.” Louise maak ’n wiegie van haar aandrok se materiaal en lê die eiers versigtig neer.

      Selma krap en soek in die hoenderhok rond, maar kry geen eiers nie. “Ek kry niks,” sê sy huilerig.

      “Kyk agter daai waterbak,” sê Louise.

      Selma krap tussen die strooi en haal ’n eier uit. “Ek het my eerste eier gekry!” juig sy. Sy vee met haar vinger oor die dop. “Kyk, daar’s ’n bietjie hoendermis aan.” Sy maak haar hand oop en wys die eier vir Louise.

      “Ja, hulle druk mos die eiers uit hulle boude. Daar sal hoendermis aan wees,” sê Louise uit die hoogte.

      * * *

      Die aand is daar vyf gedekte plekke aan die swaar eetkamertafel. Selma en Louise gaan sit in hulle feetjierokke op dieselfde stoele as die middag. Pieter kom ingeslof en gaan sit oorkant hulle sonder om te groet.

      Selma bestudeer hom onderlangs. Hy lyk soos die wrede soldaat wat sy ’n keer in ’n oorlogboek gesien het. Sy silwerwit hare is tot op die kopbeen afgeskeer. Hy kyk onverwags op.

      “Wat kyk jy so?” vra hy. “Nog nooit ’n mens gesien nie?”

      Sy blou oë sit diep in hulle oogkasse. Sy’t nog nooit sulke oë gesien nie. Dit lyk of die gleufies blou met ’n groenteskiller langs sy neus uitgekerf is.

      Louise se ma kom ingestap en gaan sit op die stoel langs die koppenent. Haar gesig lyk teleurgesteld asof sy steeds hoofpyn het.

      “Jy kan maar die kos bring, Johanna,” sê sy op een noot. “Meneer gaan laat wees.”

      Hulle eet in stilte. Selma wonder of hulle haar kan hoor kou. Sy probeer die hardgebraaide vetrandjie om die varktjop eet sonder dat dit onder haar tande kraak.

      “Ek het vandag ses eiers uitgehaal,” onderbreek Louise die stilte. “En Selma-kepelma net drie.”

      “Mmm,” sê Louise se ma asof sy aan iets anders dink.

      “Daar is ’n party by Japie-hulle,” sê Pieter. “Ek gaan sommer daar kiep. Kan ek verskoon word?”

      Louise se ma knik. “Jy kan maar die borde kom afdek, Johanna,” sê sy weer op een noot. Sy staar na die blou eetservies binne die vertoonkas asof sy haar oë nie daarvan kan weggeskeur kry nie.

      “Is tannie se hoofpyn al beter?” waag Selma dit.

      “Hoofpyn . . .?”

      “Het tannie al ’n Disprin probeer?”

      Louise se ma kyk haar met ’n afwesige blik aan. Dan staan sy stok­kerig op. Selma kyk hoe sy by die deurkosyn struikel en met moeite haar balans herwin. Sy beweeg stadig en onseker in die gang af en verdwyn by een van die sydeure in.

      “Is sy orraait?” vra Selma.

      “Moenie worry nie,” sê Louise. “Sy’t ’n Valium in. Kom ons gaan speelkamer toe.”

      Die meisies is verdiep in ’n bordspeletjie toe ’n motor voor die plaashuis stilhou. Die twee hoofligte skyn soos soekende flitse by die venster in. ’n Deur word hard toegeklap. Die klank van hardesool­skoene weerklink oor die gruis.

      “Dis my pa,” sê Louise. “Hy is terug van die gholfklub.”

      Selma