Louisa du Toit Omnibus 8. Louisa du Toit

Читать онлайн.
Название Louisa du Toit Omnibus 8
Автор произведения Louisa du Toit
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624068259



Скачать книгу

sprong Rensdal toe waag.”

      “Doen dit, ja,” sê die immer onblusbare Annalien, met dieselfde drif as waarmee sy ’n reis om die wêreld sou aanraai. “Dan kan ek vir jou daar kom kuier. Soek solank vir my ’n lekker vet skaapboer uit, ek bedoel ’n boer met lekker vet skape.”

      “Wat laat jou dink ek sal hom nie vir my vat as ek een kry nie?” lag Berna.

      “Wel, as daar een met maer skape vir my oorbly, sal ek ook maar tevrede wees. Jy weet mos ek gun vir jou net die beste, goeie vriendin.”

      “Ek weet, Annalien. En vir jou sal ek mis. Jy was altyd ’n vars bries tussen daardie klomp op kantoor, en my kinders se tweede ma.”

      “Hoe dink jy moet ek voel, om hier agter te bly? En om sonder my twee goetertjies te wees?” Sy versmoor hulle halfpad met soene dwarsoor hulle mollige gevreetjies, en hulle laat hulle dit welgeval met skaam glimlaggies. “En op kantoor, moenie praat nie! Almal staan vandag in bondeltjies en skinder en Hartogh is so bot, jy kan met hom toor.”

      Nog steeds vertel Berna haar nie van gisteraand nie. Laat wat verby is, verby wees. En laat wat moet kom, dan tog maar vinnig kom.

      “Ek het vir my woonstel nog ’n kontrak vir amper twee maande, Annalien. Jy kan dit erwe, dis ’n bietjie groter en front noord. Vir die twee maande kan jy verniet bly. Ons meubels sal voorlopig saam hier kan inpas, tot ek weet of ek myne Rensdal toe moet laat kom.”

      “Moet nooit sê ou Annalien bedank die krummels wat na haar kant toe kom nie, hoor.”

      Dit klink lughartig genoeg, maar Berna sien onvermydelik hoe haar vriendin trane in Mientjie se krulle wegvrywe.

      3

      Op die laaste bultjie duskant Rensdal hou Berna stil om haar en die kinders ’n bietjie netjies te maak. Hulle bevind hulle tussen groen landerye, panne veldwater en weiende beeste. Sy het hierdie idilliese prentjie hoogs nodig. Sy is moeg, nie gewoond daaraan om ver ente te bestuur nie. Oor die algemeen is sy baie plekgebonde, en dit voel vir haar of sy besig is om ’n vreemde planeet te besoek.

      Vakansies in die verlede was beperk tot ’n besoek aan haar ma (waartydens sy haar pal vererg het vir haar stiefpa wat so oor die muurtjie sit en spoeg en wat al haar ma se spaargeld uitgee op sakke vol patente-medisyne vir sy ipekonders), ’n uitstappie dieretuin toe, een of twee keer Suidkus toe saam met Annalien.

      In die enkele jare van hulle huwelik het sy en Ronald ook nie danig rondgerits nie, behalwe in die stad self. Daar was een keer, voor haar swangerskap nog, wel sprake van ’n seevakansie, maar toe dit blyk dat Julia en Ron heel vanselfsprekend sou saamgaan, het sy kop uitgetrek. Die jaar daarna was dit in elk geval chaos, met twee babas op hande.

      By die vorige stilhouplek het Berna vir elk van die kleintjies ’n pakkie lekkergoed gegee; jelliemannetjies, wat hulle nie te erg sou besmeer nie. Dit het hulle besig gehou. Nou sien sy wat gebeur het, en waarom hulle so ekstra stil was: Mientjie het gekou en gespoeg tot sy aan die slaap geraak het, en Ronnie sit nou ernstig die halfverorberde lekkergoed van sy sussie se rokkie en afpluk, so tevrede asof hy ’n hele lekkergoedboom net vir hom het.

      Berna kam hare, vee gesiggies af en pak reg. Die kar is bitter vol. Benewens persoonlike besittings, het sy ook haar mikrogolfoond en persoonlike rekenaar ingepers. Sy het gereken dat sy dit sal kan gebruik in haar toekomstige pos.

      Wel, as daar so iets is. Annalien het gesê sy is stapelgek om nie weer te bel en presies vas te stel wat is wat nie. Totdat Berna moes erken: “Ek is bang, Annalien. Ek is bang ek bel en dit blyk ek is vir die gek gehou … of dat De Vries se vrou my nie daar wil hê nie, of dat die kamtige winkeltjie nie eens bestaan nie.”

      “Bang se voet. Jy kan nie jou kinders in die kar pak en daar anderkant voor dooimansdeur aankom nie. Wat doen jy in so ’n geval?”

      “Ek sal iewers op daardie dorp ’n gaatjie kry waar ek kan afpak, en ’n los werkie om brood vir my kinders te koop.” Sy sal Hartogh se geld rek en rek.

      Annalien, wat aanvanklik die entoesias was, het nou met bedenking na Berna gestaar. “Jy het twee bloedjies op jou hande, weet jy. Belowe my jy sal hulle nie laat hongerly nie. Werk sal jy kry, dit weet ek, met jou kwalifikasies en ervaring. Maar … daar? ’n Klein plekkie het ook maar net soveel werkgeleenthede voor hy versadig is. En jy moet weet dat families en hulle erfgename alle poste volsit en dit dalk nog in hulle lywige testamente aan mekaar bemaak.”

      “Dan maak ek my eie besigheid oop,” het Berna beslis gesê. “Al moet ek my trots in my sak steek en geld by my skoonpa leen. Ron is nie te sleg nie, en ek sal sorg dat daar ’n behoorlike kontrak is.”

      Blote mondpraatjies. Dinge sal regtig baie sleg moet lyk voor sy hulp by haar skoonouers soek. En tog, is dit so vergesog? Het hulle nie ook ’n verpligting teenoor hulle bloedeie kleinkinders nie? Maar dink net aan die bohaai wat Julia en haar twee dogters sal opskop. Dat Berna haar werk gaan staan en wegsmyt het … aangejaag, seker. Hoe onverantwoordelik van haar, en nou verwag sy dat Ronald se familie haar finansieel moet dra. Sy kan hulle al hoor; die dogters is meer Julia as Julia self.

      Dalk is sy wel ’n driedubbele dwaas om die vreemde in te vaar op grond van ’n paar koppies gedeelde koffie in ’n stadskafee. Wie sê sy kan ooit daardie mansmens vertrou, al lyk hy soos ’n liewe omie? Net omdat hy behulpsaam en verdwaald was, en oënskynlik opregte meegevoel met haar situasie gehad het? Tog bly haar vroulike instink haar wysmaak dat Dawie de Vries en sy uitnodiging onvervals opreg was.

      Daar onder lê Rensdal, ’n stil wit dorp soos ’n nes vol eiers tussen die rante, vreedsaam onder die namiddagson wat ’n geel, onwerklike waas oor alles sprei. Dit lyk nie of daar ook probleme, behoeftes en botsings kan wees nie. Verkeerd, natuurlik. Maar op hierdie oomblik wil sy dit graag glo. Sy wil een gekke oomblik lank veilig voel in ’n nuwe, skoon oord waar niks of niemand haar kan bykom en verder beseer nie. Want sy is ’n beseerde mens, dit moet sy erken.

      Daar is die gebeure van die afgelope paar weke sedert sy by Hartogh weg is. Voor dit was daar die kwellinge en sorge van ’n onvolkome huwelik, met slegs stippels geluk. Daar was, verder terug, haar onvolkome kinderjare. ’n Dromende, vaderlose dogtertjie op die buitestoepie van ’n koshuiswoonstel waarbuite die volle lewe verbygestroom het.

      Dis veral haar huweliksjare wat sterk by haar spook. Het sy van haar kant af alles ingesit? Sou sy vir Ronald kon verander, sy emosionele onvolwassenheid, sy moederhaat oor sy moederafhanklikheid … wat hy op sy vrou uitgehaal het? Alles wat verkeerd loop was háár skuld, en het hom die reg gegee om haar te verskree. Die kinders sou hy ’n rukkie lank vashou en dan na haar kant toe stoot as hulle oulikheid wyk voor ’n vuil doek of ’n wind of kramp. Hulle het sy vryheid en sy nagslaap aan bande gelê. Hy het kort-kort nuwe “uitdagings” gesoek en sy werk daarvoor laat staan, sodat Berna haar salaris alkante toe moes rek. Sy dors na plesier en vergetelheid het net groter en groter geword en, toe sy hom nie meer kon vergesel nie, het hy alleen gegaan. Hy was gedurig op soek na iets, aan ’t vlug voor iets.

      En tog is dit na hom wat Berna op hierdie oomblik verlang, na die Ronald wat sorgvry saam met haar by die tegnikon was, wat met haar kon jil en speel, haar bemin. En al het dit so suur tussen hulle geword, wie sê dit sou nie tussen hulle kon herstel en groei nie, veral met die tweeling wat al hoe ouliker word en wat hom sou aanhang en omhels, mollige armpies om sy nek?

      Vir haar voel dit steeds, na agtien maande, of hy maar nog iewers moet wees. Dalk is dit omdat sy nie by die begrafnis was nie. Toe sy uit haar bewusteloosheid herstel, moes sy hoor dat haar man dood en begrawe is in die ongeluk waarin sy beseer is, deur ’n voertuig wat die rooi lig verontagsaam het. Vader dank dat die babas daardie aand by Julia en Ron gebly het. Die duur grafsteen met Ronald se naam en die datum van sy geboorte en sterfte, kon niks doen om die saak vir haar werkliker te maak nie.

      Dit was een van Julia se afskeidsverwyte gister: “En nou, sal die kinders nooit hulle pa se graf kan besoek nie? Wie sal sorg dat hulle hom onthou, as ek dit nie doen nie?” Moenie stout wees nie, julle pappa sou nie daarvan gehou het nie. Dis so ver soos wat Julia se onthousessies ooit gestrek het.

      “Ek sorg