Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux

Читать онлайн.
Название Christine le Roux Omnibus 6
Автор произведения Christine le Roux
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798166119



Скачать книгу

      Hy breek die eiers in die pan. “Nee, seker nie. Met jou vermoë om elke mens se sleutelposisie op te som, kry jy altyd ’n onbewoonde plek waar jy intrek.”

      Sy gee ’n onbevange laggie. “Dis ’n nuwe betekenis van die woord sleutelposisie. Normaalweg beteken dit die posisie wat ’n sekere mens in ’n organisasie of gemeenskap beklee. Maar soos jy dit gebruik, gee jy die letterlike betekenis terug aan die term.”

      Hy staar na haar en spring toe die eiers skielik te kwaai begin sis. “Wel,” sê hy. “Ja.”

      Sy begin laaie ooptrek, kry die messe en vurke en sit dit vir hom op die toonbank reg. “Hier, trek sommer die hoë stoeltjie nader, dan kan jy hier eet.”

      “Dankie, ek weet waar om te eet.”

      Sy maak die broodblik oop en haal twee snye uit. “Ek vind jou handigheid verrassend, ja, maar ek dink tog dis ’n goeie plan as jy die stoofplaat afskakel. Hy gloei al rooi en die pan is reeds eenkant geskuif. Jy wil nie onnodig elektrisiteit mors nie.”

      Hy maak sy oë toe en wag vir die roosterbrood om uit te spring.

      Hoofstuk 3

      Terwyl hy eet, stap sy terug na die woonkamer en verskyn met ’n paar delikate swart steweltjies. Sy gaan sit plat op die vloer, trek die eerste een aan en begin dit toeryg.

      “Kan ek jou by die werk aflaai?” vra hy ná hy sy mond afgevee en ’n tweede beker koffie geskink het.

      “Nee dankie. Ek haal sommer die bus.”

      “Dis nie nodig nie, daar is genoeg tyd om jou eers af te laai.”

      “Ek hou van die bus.”

      “Dis koud buite,” sê hy ergerlik. “My huis het ondervloerse verhitting, mens kan jou verbeel dis nog somer en ek sien nie dat jy ’n jas of baadjie by jou het nie.”

      “Nee,” stem sy saam. Haar tweede stewel is ook nou vasgeryg en sy staan op, skud haar rok reg en druk die kragie plat.

      “Maar ek verkies nietemin die bus. Dis rustig.”

      “Nes jy wil,” sê hy.

      “Ek is nie een van jou meisies nie,” sê sy tegemoetkomend. “Jy hoef nie galant te probeer wees nie.”

      Hy suig sy asem in. “Ek begin meteens verstaan waarom Sandra jou so dikwels en sonder gewetenswroeging uit die woonstel boender,” sê hy in ’n ysige stem. “Dit kan nie maklik wees om ’n huis met jou te deel nie.”

      “Dis oor ons ma’s,” sê sy.

      “Julle ma’s?”

      “Hulle was beste vriendinne op skool. Is dit trouens nog steeds. Het gevoel dis die beste dat hulle dogters ’n woonstel deel.”

      “Maar het nie in ag geneem die hemelsbreë verskil tussen genoemde dogters nie?” vra hy effens geamuseerd.

      “O nee, ons kom baie goed klaar.” Sy vee haar hare uit haar gesig. “Maar jy is reg, ek dink ek moet vir my ’n motor koop.” Haar oë kyk in die verte. “Miskien kan ek dit sommer vandag gaan doen in my etensuur.”

      Hy weerhou homself daarvan om hardop te lag. “Hoekom nie? Wat van teetyd?”

      Sy kyk ernstig op. “Kan ’n mens dit so vinnig doen? Moet ek nie vorms invul en sulke soort goed nie – of gee hulle sommer dadelik die kar met alles in?”

      “Nee, ek twyfel ten sterkste of jy sommer net kan inloop en tien minute later uitry met die motor. Om ’n motor te koop, is nie dieselfde as om ’n brood of nuwe rok te koop nie.”

      “H’m,” sê sy, onbeïnvloed deur sy sarkasme. “Ek sal nie weet nie, ek maak my eie klere.”

      “Aanvaar dan maar my woord. Afhangende van waar jy die motor koop en of dit eers deur ’n padwaardigheidstoets moet gaan, kan dit op sy minste ’n paar dae duur.”

      “Hoekom moet dit deur so ’n toets gaan?” vra sy verbaas.

      “Wel, as jy ’n tweedehandse ou skedonk koop, sal jy . . .” Hy kyk haar op en af en besluit dat hy miskien beledigend was. “Die verkoopsman sal jou wel sê.”

      “Nie tweedehands nie,” sê sy mymerend. “Sweeds, dink ek.”

      Sy wenkbroue skiet op. “Waarom nie ’n Rolls Royce nie?” vra hy, sy oë vol lag.

      “Te groot,” sê sy beslis.

      Hy staan op, sit sy bord in die wasbak en tap water daaroor. Die meisiekind in haar tuisgemaakte rokkie is nie goed wys nie, besluit hy, en hy moet nou ry. “Kan jy darem bestuur?” vra hy, tel sy baadjie op en trek dit aan.

      “Jou hare,” sê sy teregwysend en wys na sy kop. “Nog nie gekam nie. Natuurlik kan ek bestuur.”

      Hy ruk ’n kam uit sy binnesak, knak sy knieë sodat hy sy weerkaatsing in die kombuiskassie kan sien en kam sy wederstrewige hare plat. Hy het nie veel sukses nie; soos hy dit kam, spring dit net weer regop.

      “Gee hier,” sê sy, vat die kam en hou dit onder die koue kraan. “Probeer weer.”

      Hy gryp omtrent die kam uit haar hande, maar sy is natuurlik reg, dit help, al is dit net tydelik.

      “Daar is sekere meisies,” merk sy op, “wie se knieë lam word ten aanskoue van ’n man wie se hare oor sy gesig val. Sandra is een, maar in my ondervinding hou die meerderheid van ’n man met netjiese hare.”

      “En jou ondervinding is enorm,” sê hy bitsig.

      Sy lag. “Nie naastenby so wyd soos joune nie. En miskien moet ek nie advies gee nie, dis heel moontlik dat die nuwe een – wat is haar naam nou weer? Jenny? – dat die nuwe een wel hou van die onversorgde voorkoms.”

      Hy druk die kam terug in sy sak en loop uit. Sy volg hom, tel haar groot drasak op en kyk hoe hy sy aktetas en sleutels kry.

      “Ek gaan die sleutels by my hou,” lig hy haar in toe hy die voordeur vir haar oophou. “Ek noem dit maar net. Die uitgeholde tarentaal word nie verder gebruik vir die sleutels nie. Sou jy weer een nag ronddwaal op soek na slaapplek, is ek bevrees my deur sal gesluit wees.”

      “Dis buitendien ’n goeie plan,” sê sy so onverstoord soos altyd. “Om in hierdie tye jou sleutels enigsins naby die voordeur weg te steek, is sotterny. Gee dit liewer vir jou meisie van die dag en laat sy dit in haar handsak hou. Dis tog om ’t ewe wie die voordeur uiteindelik oopsluit.”

      Hy kners hoorbaar op sy tande en swenk weg na sy garage om sy motor te kry. Toe hy ’n paar minute later met die straat af ry, sien hy haar naby die bushalte, maar hy oorweeg dit nie eers om stil te hou en weer aan te bied om haar op te laai nie.

      “Jy is lekker laat,” sê Kerneels vir hom toe hy ’n halfuur later op kantoor kom. “Weer ’n deurnagsessie gehad?”

      “Nee,” sê hy kortaf.

      “Het Petro se partytjie geen nuwe talent opgelewer nie?” vra sy vriend teleurgesteld. “Hoe kan jy my vertroue in jou so skok? Ek gaan vir die eerste keer ’n weddenskap verloor.”

      “Watse weddenskap?” vra Theo suur, trek sy baadjie uit en kom kyk oor sy vriend se skouer na die ontwerp op die tekenbord.

      “Ek en die sekretaresse is vennote in die weddenskappe oor jou liefdeslewe en ek moet sê, sy is hopeloos te konserwatief, want sy verloor feitlik elke week. Wil jy my sê sy is vandag die wenner?”

      “Hou op onsin praat.”

      Kerneels draai om en kyk hom takserend aan. “Moes ’n bloutjie geloop het, anders hoekom is jy so grimmig?”

      “Ek het nie ’n bloutjie geloop nie. Haar naam is Jenny.”

      “Aha. Ek het weer gewen, Lindie!” gil hy oor sy skouer en êrens op die agtergrond lag ’n meisie.

      “Mooi?”