Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux

Читать онлайн.
Название Christine le Roux Omnibus 6
Автор произведения Christine le Roux
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798166119



Скачать книгу

vra Jenny vir hom terwyl sy delikaat aan ’n hoenderboudjie knaag.

      “Ek’s ’n argitek. En jy?”

      “Assistent by ’n fotograaf.” Sy kyk sydelings na hom. Met sy kop vooroorgebuig oor sy bord het ’n dik plak hare vorentoe geval sodat sy net sy mooi reguit neus en wangbene kan sien.

      “En is jy gekoppel aan iemand?” vra sy skalks.

      Hy kyk op, maar hy kan Alfrieda nêrens meer sien nie. “Ek sou dit nie gekoppel noem nie,” sê hy ligweg. “Ek het met ’n meisie hier aangekom, maar sy het klaarblyklik iets beters ontmoet, want sy was heelaand nog nie naby my nie en toe ek haar laas gesien het, was haar hand op ’n meer begeerlike man se bors.”

      Jenny lag rinkelend. “Meer begeerlik as jy?”

      “Dis ’n kwessie van persoonlike smaak, is dit nie?” Hy voel ’n tinteling in sy bloed. Skielik is hy nie meer verveeld nie, die ou bekende jagtersinstink het wakker geword net toe hy gedink het dis dood. “Wat van jou? Jy het tog nie alleen gekom nie?”

      “Ja, ek het. Petro het gesê sy het meer as genoeg alleenlopers genooi en dis hoog tyd dat die bestaande paartjies ’n bietjie geskommel word.”

      “Dan is dit my gelukkige dag,” glimlag hy vir haar. “Net voor ek kombuis toe is, het ek oor die kamer gekyk en besef ek het al met elke meisie in die plek uitgegaan. Dis ’n bedrukkende gedagte. Geen nuwe gesigte meer nie.”

      Hy word bewus van ’n geluid êrens naby hom en kyk om. Langs die bank is ’n leunstoel waarin ’n baie intense paartjie saamgedruk sit, diep in gesprek en onbewus van hom. Hy skud sy kop en draai weer na Jenny.

      “Foeitog,” terg sy hom, ’n vonkeling in haar oë. “Dit moet swaar wees om so in aanvraag te wees. Maak dit jou nie ydel nie?”

      “Ek kan dieselfde vir jou vra,” terg hy terug. “So ’n mooi meisie soos jy.”

      “Ek het darem nog nie met elke man in die kamer uitgegaan nie,” sê sy.

      “Dis uitstekend,” sê hy. “Ek hou van onbedorwe meisies.”

      “Stout,” sê sy en swaai haar vinger voor sy neus. “Dubbele standaarde.”

      “Ek kan dit nie help nie. ’n Mooi meisiekind bly ’n mooi ding en ’n mooi ding moet verower word.”

      Sy lig haar glas vir hom. “So maklik, nè? En wie sê ek gaan so sonder slag of stoot verower word?”

      Hy maak ’n gevatte opmerking wat haar laat lag, maar in sy hart hoor hy ’n siniese stemmetjie wat hom daaraan herinner dat verowering nie ’n probleem is nie, dis bloot ’n kwessie van hoe gou dit geskied – die eerste aand al of eers na twee of drie afsprake?

      Sy sê iets, maar sy aandag word afgelei deur dieselfde geluid en hy draai weer sy kop, ’n frons tussen sy wenkbroue. Dié keer kyk hy af. Tussen die bank en die leunstoel is ’n driehoek en in hierdie beperkte spasie sit die meisie van vroeër ingedruk, haar bord voor haar op die vloer.

      Sy vang sy oog, druk haar bril op teen haar neus en kyk vinnig af sodat haar hare vorentoe val en haar gesig bedek.

      Hy voel vaagweg geïrriteerd. In die sekonde voor die vroumens afgekyk het, was hy bewus van ’n paar groot grys oë wat hom spottend aangekyk het.

      “En die frons?” vra Jenny speels.

      “Dis niks nie,” sê hy en dwing sy aandag terug na haar, maar dit duur ’n sekonde of twee voor hy weer op dreef kom en voortgaan met die spel wat hy al in sy slaap kan speel.

      “Jy’s wragtig ’n haan,” sê sy beste vriend en vennoot, Kerneels, ten minste een keer per week vir hom. “Daai storie van: jy lig net jou vinger en die meisies val voor jou, is in jou geval absoluut een honderd en tien persent waar. Dis ongesond.”

      “Ek kan jou verseker dis nie,” spot hy altyd terug. “Dis uiters gesond.”

      “Ek praat nie van jou fisieke gesondheid nie, ek kwel my oor jou ego. Dit moet teen hierdie tyd die grootte van ’n lugballon wees.”

      “Kan ek dit help? Dis nie asof ek die meisies dwing nie. Ek kan jou met my hand op my hart belowe dat ek nog nooit, ooit ’n meisie gedwing het om van my te hou of saam met my uit te gaan nie. Ek verlei hulle ook nie met slinkse praatjies nie; ek stel myself voor en ons begin gesels en as ek haar uitnooi, sê sy ja.”

      “Ja,” knor Kerneels dan. “Dis daai filmstergesig en die feit dat jy nou ook nie eintlik ’n boemelaar is nie. Hoekom het jy nie rugby gespeel op skool sodat iemand jou gesig ’n bietjie kon verniel het nie?”

      “Pennie vir jou gedagtes?” Jenny kyk hom gemaak droewig aan. “Verveel ek jou klaar?”

      “Nooit!” lag hy galant. “Dis net ’n bietjie benoud hier, vind jy dit nie? Waar bly jy – sal ons nie ’n stiller plek gaan opsoek nie?”

      Onwillekeurig kyk hy af na die vloer, maar die meisie met die bril het haar bord neergesit en sit nou en lees.

      Lees! dink hy verstom. Hoekom kom sy na ’n partytjie en sit dan en lees?

      “Waar bly jy?” vra Jenny en dwing sy aandag terug.

      “In hierdie gebou,” vertel hy. “Ek en my vennoot het hierdie kompleks ontwerp en dit was so presies wat ek self wou hê dat ek die dupleks op die end self gekoop het.” Hy kyk oor die kamer en soek na hulle gasvrou. “Dis hoe ek Petro leer ken het. Ons was die enigste twee wat dieselfde tyd soggens ons vullisblikke uitgestoot het.”

      “Haai,” sê Jenny, haar oë groot van bewondering. “Het jy dit regtig ontwerp?”

      Voor hy kan antwoord, praat die meisie op die vloer.

      “Ek sou die sitkamers ruimer gemaak het en die ventilasie laat veel te wense oor.”

      “Wat?” sê hy ergerlik en kyk af na haar, maar sy is verdiep in haar boek en hy wonder of hy hom net verbeel het. “Sal ons op ’n ander plek gaan sit?” vra hy vir Jenny.

      “Nee,” pruil sy. “Hier is so baie mense, ons sal nie weer sitplek kry nie.”

      “Wat van jóú woonplek?”

      Sy lag tergend. “Nee, wag, jy is te vinnig. Buitendien, ek het ’n woonstelmaat en sy is nogal preuts.” Sy kyk na hom van onder haar wimpers. “Maar ek sal jou my telefoonnommer gee en jy mag my enige tyd bel.”

      Flink haal hy ’n sakboekie uit sy binnesak en skryf die nommer neer.

      “Ekskuus tog,” sê ’n beleefde stem langs hom.

      Dis die lesende meisie. Sy het haar boek teruggesit in haar groot skouersak en stoot versigtig verby hom. Dis nie maklik nie, daar is orals mense op die vloer, op die leunings van meubels, selfs op die koffietafel. Hy skuif sy bene eenkant toe en kyk haar agterna.

      Sy is langerig en baie skraal. Wat sy hier maak, kan hy nie dink nie, sy praat met niemand nie en sy is definitief nie aangetrek soos die ander nie. Sy dra ’n dun, lang donkerblou rok met ’n wit kantkragie en sy vleg haar pad deur die mense, die dansers en die groepe voor die deur en verdwyn dan uit sig.

      “Wat is dit?” vra Jenny.

      “Niks nie.” Hy staan op. “Kom ons dans?”

      Sy staan gewillig op en vat die hand wat hy na haar uithou. “Daar is so min plek,” protesteer sy toe hy haar teen hom vastrek.

      “Dis die bedoeling,” sê hy speels.

      Die gedreun in die kamer is so hard dat hulle omtrent nie die musiek kan hoor nie, maar dit lyk nie asof dit iemand pla nie, paartjies wieg in mekaar se arms, die meisies se koppe teen hulle maats se skouers, arms om nekke gestrengel.

      “Dit ís warm,” sê hy skielik.

      “Ek het nie gekla nie,” sê Jenny.

      Hulle bly op die dansvloer tot die partytjie begin opbreek. Mense begin