Название | Eiland van drome |
---|---|
Автор произведения | Malene Breytenbach |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624065029 |
Haar ma kyk ’n oomblik nadenkend na haar. “Julle het aanvanklik so goed saamgewerk toe jy nog onder hom geswot het. Hy het genoeg van jou gedink om saam met jou artikels te publiseer oor navorsing. Ek dink ek weet waarom hy jou nou so stief behandel.”
“Waarom dan?”
“Die man is eenvoudig jaloers op jou. Jy publiseer dalk meer as hy, of jy het oorspronkliker navorsing om te bied. Toe jy nog sy student en mindere was, was dit orraait, maar nou trek jy te veel aandag.”
Irene frons en skink vir haar nog wyn. “In die soetste wyn is ’n druppel gal,” spot sy. “Ek weet ek is te fyngevoelig en word maklik kwaad en opstandig, maar ek kon daardie man al vermoor het. Dis lyk asof hy net onnodig hare kloof. Soek gedurig fout in wat ek skryf.”
“Jy hoef natuurlik nie saam met hom oor jou navorsing te skryf nie. Jy het mos ’n keuse. Jy is nou in ’n praktyk en lankal nie meer sy student nie. Jy doen dit tog net vir erkenning … ”
Irene moet haar irritasie onderdruk. “Erkenning, ja, maar mense in ons veld moet tog van nuwe navorsing en verwikkelinge bewus gemaak word. Ek wil nie verstok nie.”
“Ja, ja,” paai haar ma. “Maar erken tog jy is soms te ambisieus.”
Irene sug innerlik. Dis waar. Sy kan so verbete wees, sy gee almal seker ’n pyn.
“Wel, as dokter Barton my hier wil wegneem, sal hy met ’n vervlakste goeie aanbod moet kom.”
2
Irene het die Maandagoggend pas by haar spreekkamer ingestap en haar sak neergesit, toe haar sekretaresse en ontvangsdame grootoog daar inkom.
“Ons heer en meester, dokter Nicholas Barton, is hier op besoek, dokter. Die hele kliniek is in rep en roer. Hy kom mos selde Kaapstad toe. Hy het pas gebel en gevra dat ek vir dokter ’n afspraak met hom moet reël.”
Irene is effens oorbluf. Uiteindelik gaan sy dié skim van ’n weldoener persoonlik ontmoet. Waarom wil hy haar nou sien? Gaan hy haar tog vra om in Griekeland te kom werk, of wil hy haar maar net uiteindelik ontmoet? Sy is hom en sy familietrust soveel verskuldig.
“Goed, reël dit vir so gou moontlik, Monica. Sommer vanoggend nog, as dit hom pas. Indien nodig, kan ons pasiënte se afsprake skuif.”
Sy moet hom nie laat wag nie en buitendien kan sy haar nuuskierigheid skaars bedwing.
Elfuur op die kop meld sy aan by die klein konferensiekamer waar Nicholas Barton mense ontvang. Die hoofbestuurder, dokter Harfield, kom by die deur uit toe sy aanmeld.
“A, dokter Basson, ons gaan vanmiddag ’n vergadering van ons personeellede hou waar dokter Barton met ons sal praat, maar hy het spesifiek gevra om jou te ontmoet voordat ons vergader. Julle het mekaar nog nie ontmoet nie, sê hy. Ek kan dit byna nie glo nie. Hy praat met soveel lof van jou.”
Irene glimlag verleë. “Ons het al oor die jare heelwat gekommunikeer maar ek het hom nog nooit gesien nie. Ek het al baie gewonder watse soort mens hy is.”
“Formidabel, maar ’n groot filantroop en baie bekwaam. Nes sy oorlede pa. Gaan in, hy wag vir jou.”
Sy is nogal opgewonde toe sy inloop. Die man wat daar met ’n skootrekenaar sit, staan op en kom haar tegemoet. Amper snak sy na haar asem. Hierdie man oortref die beeld wat sy haar voorgestel het ver.
“Aha, dokter Basson, uiteindelik ontmoet ons mekaar,” glimlag hy, en steek sy hand na haar uit.
“Ja, uiteindelik,” sê sy en neem sy hand, wat groot, warm en sag is, en hare ferm druk.
Hy is langer as wat sy verwag het en sy kyk op in skerp, intelligente donker oë onder swaar swart wenkbroue. Hy is bruingebrand soos ’n buitelugmens en sy vel is soel en vlekloos, sy gesig hoekig. Die kakebeen is eintlik té sterk en langs sy mond en oë is lagplooie. Sy tande is spierwit en reëlmatig. Sy swart hare met hier en daar ’n vlekkie grys is dik, blink en mooi gesny. Onder sy wit baadjie is sy skouers breed en sy lyf lenig.
Sy kan nie glo dat die man wat sy net op foto’s gesien het in die werklike lewe so oorweldigend is nie. Eintlik gans te aantreklik.
Sy skud haar kop effens. Ruk haarself reg. Hy moenie sien hoe beïndruk sy is nie. Vroue val natuurlik links en regs vir hom en sy wil nie lyk of hy háár voete ook summier onder haar uitgeslaan het nie. Vir so ’n man moet mens dubbeld versigtig wees. Hy sal waarskynlik ydel en arrogant wees.
“Kom sit, dokter Basson,” nooi hy.
Sy gaan sit oorkant hom, meteens selfbewus. Skielik oorbewus van haar eie voorkoms, haar netjiese haarstyl, haar min grimering, haar pogings om professioneel onopgesmuk te lyk. Sou hy dié voorkoms goedkeur? Hy dink natuurlik van lankal af dat sy ’n opperste bloukous en professionele enkeling is. Arm grootgeword en derhalwe honger. Sy leefwêreld en ryk familie stel hom natuurlik aan die mooiste vroue bloot. Watter vangs sou hy nie vir hulle wees as hy nie reeds verbind is nie, en watter wye keuse sal hy nie hê nie. Buiten dat hy aantreklik is, is hy natuurlik gesofistikeerd, hoogs intelligent, professioneel suksesvol. Boonop uit ’n ryk familie. Hy verskaf werk aan hoogs opgeleide mense.
Die man is in ’n ánder klas.
“Ek vra om verskoning dat ons nou eers kennis maak,” sê hy. “Jy is egter nie die enigste persoon wat ons deur beurse gewerf het en wat vir ons kom werk het nie. Ek bly op die agtergrond, maar ons kommunikasie was tog gereeld en volledig. Ek hoop jy sien dit so. Ek hoop jy het nooit afgeskeep gevoel nie.”
“Inteendeel, ek het altyd gevoel asof daar ’n Big Brother is wat my ondersteun. Ons het genoeg gekommunikeer. Die Nikos Trust het my soveel gehelp met my studie en loopbaan dat ek skaars weet hoe om dankie te sê. Julle het my pad gelyk gemaak.”
Hy glimlag. Wys weer die volmaakte tande. “Ek is bly om dit te hoor. Sedert my pa hierdie kliniek in die sestigerjare begin het, het ons trust nog altyd presteerders geïdentifiseer en gewerf. Jy was een van dié op wie ons lankal gefokus het. Jy het fenomenaal goed gedoen: Dux-leerling van jou hoërskool, MBChB met lof geslaag, die beste finalejaarstudent. Jy het ons belegging in jou dubbel en dwars verdien en terugbetaal. Sedert jy gekwalifiseer het, lewer jy uitstekende werk.”
“Dankie.” Sy voel gevlei, oorstelp. Hy lyk opreg.
“Ek weet nie of jy al van ons nuwe kliniek gehoor het nie,” sê hy. “Dis eintlik nog ’n geheim. Ek gaan dit vandag by die personeelvergadering aankondig.”
“Ek hét al iets gehoor. Daar loop ’n storie rond oor dié nuwe kliniek in Griekeland.”
Hy skud sy kop meewarig. “Ai tog, dis moeilik om iets geheim te hou. Die kliniek is reeds voltooi, op die eiland Manos. Ons moet natuurlik personeellede aanstel en ek het reeds begin. Jy is een van ons beste dokters en ek het gehoop dat jy jou daar by ons sal wil aansluit. Ek sal min of meer heeltyds daar wees. Die kliniek is nie baie groot nie. Ons wil die inname van pasiënte beperk tot hoogstens tien op ’n slag. Ons akkommodasie vir die personeel is taamlik luuks en die omgewing is mooi. Kom jy soontoe, sal dit vir jou bevordering en ’n hoër salaris beteken.”
Hy kyk in ’n lêer wat bo-op ’n hopie ander lê. “Jy verdien tans ’n redelike salaris, maar as jy daar vir ons wil kom werk, sal ons dit aanpas.” Hy noem ’n bedrag wat haar verstom, bykans dubbel wat sy tans verdien.
Hy hou haar noukeurig dop. Sy voel asof sy onder ’n kollig is.
Sy huiwer egter voordat sy antwoord. Sy wil nie gretig voorkom nie. “Ek werk lekker hier en ek is lief vir Kaapstad. My weduwee-ma woon in Stellenbosch en ons is na aan mekaar. Dit sal vir my moeilik wees om weg te gaan … ”
“Jy sal dikwels gratis met ons vliegtuig heen en weer kan vlieg. Die Nikos Trust het nie net ’n skeepsredery nie, maar drie private vliegtuie en