Louisa du Toit Omnibus 7. Louisa du Toit

Читать онлайн.
Название Louisa du Toit Omnibus 7
Автор произведения Louisa du Toit
Жанр Короткие любовные романы
Серия Louisa du Toit-omnibus
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624057901



Скачать книгу

besef jy wat jy gesê het? Waar kom jy daaraan?”

      “Ek weet nie,” antwoord hy verslae. “ ’n Oomblik het ek geweet dat sy dit gesê het. Dit het sommer net in my kop opgestoot, ek weet nie waarvandaan nie.”

      “Dan het jy ’n moeder, Deon.”

      “Tensy die ooievaar my uitgebroei het, natuurlik.” Hy kan die sarkasme nie uit sy stem weer nie. “Jy weet, Irma,” vervolg hy, “ek het elke besoeker dopgehou, vyftien, sestien jaar lank.”

      Sy kan hom sien as jong seun wat met intense gesig hoopvol uitkyk, dag na dag, jaar na jaar, vir ’n kind ’n leeftyd. En hy het altyd voorgegee dat hy nie omgee nie.

      “Dan was jy nie so danig klein toe jy inkom nie,” verklaar sy ferm. “En dan moet jy nie op Wernersdal sit nie. Jy moet op ’n soektog gaan. Ek sal jou help, Deon. ’n Kind word deesdae gehelp om sy biologiese familie te vind.”

      Hy skakel die motor aan. “Dan bly ek liewer by die antie. Mens weet wat jy het, maar jy weet nie wat jy kry nie. En soos jy sê, sy bak lekker brood.”

      Hy glimlag skeef en bestuur ’n rukkie in stilte. “Ek het vergeet om jou te sê dat ek Don Johan toe ontmoet het.” Sy stem is weer neutraal, ongevoelig, die openbaring van sy gevoelens iets wat tot die verlede behoort. So was hy altyd, onthou sy. By tye kon hy so openhartig sy gevoelens voor jou blootlê, dan skielik weer soos ’n oester toeklap.

      “Ek weet. Tant Bets sê jy het vir my iets te drinke gebring toe ek al slaap. Het die demonstrasie jou grootliks geamuseer?”

      “Ek het gevoel soos ’n indringer.” Dan, as sy na ’n rukkie geen kommentaar lewer nie: “Jy moet baie erg oor hom wees. Dis duidelik dat jou gedagtes nooit langer as ’n kwartier van hom af weg is nie. Selfs wanneer jy met my praat, is jou kop elders.”

      Sy swyg omdat sy dit nie kan ontken nie en nie wil erken nie. Hy merk haar verleentheid aan die bekende wyse waarop sy haar onderlip vasbyt.

      “Sal ons na tant Bets toe gaan?” vra hy. Sy skud haar kop en hulle dink albei aan dieselfde moontlikheid: hospitaal toe.

      “Ek is bang om na Tillie toe te gaan,” erken hy pront.

      “Sy het ons nodig.” Die woorde is eenvoudig, maar veelseggend.

      Hy stuur die motor in die rigting van die hospitaal. Dieselfde suster van ’n paar uur gelede is aan diens. “Ek is jammer ek was vanoggend so effens stug, juffrou De Wet,” maak sy opreg verskoning. “Ek was nie bewus van wat aangaan nie. Dokter Buys het gebel en gevra dat julle twee by haar toegelaat word. Binne perke, anders wil … álmal daar boer.”

      “Dankie, suster,” antwoord hulle albei tegelyk, begrypend.

      Terwyl hule vootstappe dof in die gang opklink, fluister Irma: “Deon, wat Bennie Martin betref, sou hy al hier gewees het?”

      Hy trek sy skouers op. “Ek glo nie; maar ek dink dit sal haar tot op die rand van wanhoop dryf as hy heeltemal sou wegbly.”

      “Kan ons nie met hom gaan praat nie?” vra sy.

      “Ons sal. Sommer vanmiddag. Dalk het hy aanmoediging nodig. Of sal ek sê begeleiding … beskerming?” Daar is effense spot in sy stem.

      Hulle gaan saggies binne. Tillie draai haar kop na hulle. Hulle buk albei en soen haar om die beurt. Na ’n rukkie sug Tillie liggies; dis iets soos ’n snik van verlorenheid: “Ek moes nie uit daardie wrak gekom het nie.”

      Hulle begryp dadelik en vermy mekaar se oë.

      “Nog ’n paar rolle van die kar … en dan was alles nou verby,” vervolg sy toonloos.

      Versigtig kies Deon sy woorde: “Bly daar dan so min oor?”

      Tillie kyk hom reguit aan, met oplaaiende emosie in haar oë: “As jy bedoel Bennie Martin, dan is my antwoord: Ja, so min.”

      “Hy is nog self in die bed,” lieg Deon pront. “Hy sal kom sodra hy opstaan.”

      “Dankie dat jy my gevoelens probeer spaar, Deon. Die verpleegsters verseker my dat hy niks makeer nie.”

      “Hy sal nog kom,” probeer Deon haar opnuut verseker. “Hy ly tog sekerlik aan skok.”

      “Nou goed. As hy kom, sal ek dit vir hom makliker maak. Ek sal my rug op hom draai.”

      “Tillie, sussie. Kan ons nie iets vir jou doen nie?” roep Irma gesmoord uit, geknel deur hulle magteloosheid teenoor die hopelose lewensmoegheid van die beswaarde figuurtjie.

      “Julle kan, Irma. Julle kan belowe om my nooit te probeer troetel of paai, of jammer te kry nie; nooit vir al die jare wat ek in die rolstoel sal sit nie.”

      “Wie praat nou al van rolstoel?” Magteloos kyk Deon oor die bed na Irma.

      “Werk saam met die fisioterapeut,” maan Irma. “Maar nou moet jy eers rus. Ons sal weer vandag kom.”

      “Ek wil nie ’n fisioterapeut hê nie. Ook nie ’n neuroloog nie. Die dominee was hier en hy wil die maatskaplike werkster stuur om met my te praat. Ek soek niemand nie. Net vir julle, asseblief. Julle twee.” Dan, asof sy tog wil probeer verduidelik, fluister sy in ’n flou stem: “Dis die enigste manier waarop my lewe draaglik onder Ma sal wees. As ek my aan my lot onderwerp.”

      Toe hulle by die hoofingang uitstap, sê Irma: “Dit beteken nou niks, al ons woorde nie. Sy moet eers in haarself tot duidelikheid kom.”

      Gelyktydig sien hulle haar pa, Matilda en tant Bets oor die parkeerterrein aangestap kom. “Tog nie nou nie,” sug Irma moedeloos. “Dis die laaste ding wat Tillie nodig het.”

      “Hoe sal ons haar kan weghou? Dis haar kind,” bespiegel Deon.

      “Julle kan ons gerus op hoogte van julle kom en gaan hou,” sê Matilda koud toe sy by hulle kom.

      “Hulle het ons maar moeilik toegelaat,” probeer Irma so oortuigend moontlik jok.

      “Dis nonsens; dis besoektyd,” protesteer die vrou ontsteld.

      “Hulle sê sy is slaperig, en dis buitendien tyd vir haar inspuitings as hulle haar wakker genoeg kan kry,” volhard Irma. “Ons het maar tou opgegooi.”

      Tant Bets kyk ondersoekend na Deon en vang sy oog. “Nou ja …” sê sy en draai om. “Dan moet ons haar maar in vrede los.” Huiwerig volg die ander, met Matilda ’n halwe tree agter en omkykend asof sy die hospitaal met haar blik wil deurpriem. “Gaan jy niks doen nie?” vra sy haar man.

      Vader is nou nog meer van ’n marionet as ooit tevore, dink Irma geïrriteerd toe hy net sy skouers ophaal. Hy word deur sy vrou geleef en sy glo dat hy selfs deur Matilda dink.

      “En verder,” vervolg Deon toe die drie in die motor wil klim, “ek en Irma was by die dokter.”

      “Jy is baie dapper vandat Maria hier is, Deon,” val Matilda hom kortaf in die rede. “Dit lyk vir my julle wil nou ons ouerskap oorneem.”

      “Dokter meen dat sy baie rus en stilte moet hê,” gaan Deon kalm voort. “Haar verlamming kan van oorspanning wees. Ek stel voor ons gaan terug plaas toe en kom haar beurt-beurt net so een keer per dag besoek.”

      “Julle kan gerus plaas toe gaan. Maria kan vir julle sorg. Sy kan nie vir ewig haar huislike pligte vryspring en my alleen vir haar pa laat sorg nie.” Die streng lippe sluit dig.

      Vader krimp voor die affront, maar steek sy gevoelens soos gewoonlik weg. “Ek dink die seun is reg, vrou,” praat hy onverwags.

      Vyandig swyg Matilda, gee dan tot almal se verbasing toe met ’n trae: “Nou toe dan …” Sy klim voor langs haar man in en ’n hete wrok teen die komplot om haar van haar eie kind af weg te hou, stoot in haar op.

      Nog altyd was dit vir haar ’n bitter pil om te sluk dat Tillie haar van die begin af so aan Irma geheg het. En nou maak die meisiekind asof sy skeepsreg het, net omdat sy twee jaar in Sodom deurgebring