Reën oor die Serengeti. Connie Luyt

Читать онлайн.
Название Reën oor die Serengeti
Автор произведения Connie Luyt
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798153799



Скачать книгу

      En wat steek sy nóg vir hom weg? Beskou sy hom ook, soos sy pa, as iemand wat nie vertrou kan word met geheime nie?

      Nadat Christine hom dit vertel het, het hy weggebly van Pam. Tot een nag toe hy iewers in ’n safaritent wakker gelê het terwyl ’n olifanttrop verbybeweeg. Hy het gehoor hoe die ma’s se rammelende gerusstelling aan die kalfies op die nagstilte aangedra word en gewonder oor die verantwoordelikheid van ouerskap. Hy het gewonder of die weerloosheid wat hy daardie eerste aand in Pamela gesien het, dieselfde weerloosheid is wat in hom is. Terug in Nairobi het hy haar weer gebel en hulle vriendskap het voortgegaan.

      Eers lank daarna het hy haar oor haar ma uitgevra – nadat hy besef het hulle loop dieselfde paadjie. Want het hy nie dieselfde ontnugtering ervaar toe hy agterkom hy is ook nie wie hy gedink het hy is nie? Het hy nie ook ’n skans om hom gebou om te sorg dat niemand te naby kom nie?

      “Hoekom het jy my nie vertel nie?”

      “Want ek weet nie wie ek is nie.”

      Hy het haar lank vasgehou. “Kom ons soek haar. Daar moet rekords wees.”

      “Ek het aan die hospitaal geskryf, maar hulle het nie meer die verslae nie. Ek sal nooit weet hoe ’n mens my regte ma was nie.”

      “Toemaar, ek ook nie.”

      Maia se stem bring hom terug na die hotel se eetkamer. “John? Jy is so ver weg?”

      Dis net hulle twee aan die etenstafel oor. En Tom van Breda, wie se teenwoordigheid soos ’n onsigbare klipmuur tussen hulle staan.

      Buite op die stoep sit Christine en Craig met Simon en gesels, koffiekoppies in hulle hande. Pamela en die kinders speel op die gras.

      “Ek wil graag met jou praat,” sê Maia, “oor jou ma.”

      Hy skrik; dis asof sy sy gedagtes kon lees. “Wat van haar?’

      “Ek het vir jou ’n foto gebring wat ek destyds geneem het. Ek het dit laat vergroot.”

      Lank kyk hy na die outydse sepiafoto van die vrou. Sy staan by ’n trekker, die wind in haar hare. In die langbroek en hemp wat sy aanhet, lyk sy lank en skraal, hoekig gebou, amper soos hy.

      Wat vertel haar effense glimlag? Het sy toe al ’n verhouding met Tom van Breda gehad? Is dit skuldgevoel wat maak dat sy haar oë met haar een hand versluier, of is dit maar net om die son uit te hou?

      Hy voel geen verbintenis met haar nie.

      “Toe die Mau-Mau haar man en drie kinders so wreed vermoor het, het ons almal verwag sy sou teruggaan Engeland toe. Maar sy het gebly. Geboer. Soos ’n man op die trekker gery, skape gedip, lande geploeg. Ek is seker sy was bang in daardie huis. Al het ons almal ingespring en dit nuut uitgeverf, moes die fluisterstemme van haar kinders haar snags soms wakker gehou het. Maar sy het nooit iets gewys nie. Sy het besluit om ’n sukses te maak van die plaas, en sy het ook.”

      Maia draai haar kop weg, maar haar sagte laventelgeur bly in die lug hang. Buite lag klein Gracie, en in die kombuis klater skottelgoed. John weet nie of hy kans sien om verder hierna te luister nie.

      “Agterna het Tom my vertel dat Emily die sterkste mens was wat hy ooit geken het. Sy het die ergste wat met ’n vrou kan gebeur aan haar lyf gevoel en dit oorleef, en daarna het sy vir niks geskrik nie. Hy kon met haar praat oor die verskriklike dinge wat hy in daardie tyd beleef het. ‘Ek kon dit nie met jou bespreek nie, Maia,’ het hy gesê, ‘en iewers moes ek praat.’ Dis hoe die ding tussen hulle begin het.”

      “Ek weet nie of ek wil weet nie.”

      Haar oë kyk skerp. “Jy móét weet, anders sal jy nooit verstaan nie.”

      Wat is daar om te verstaan? Sy pa het ’n kind gemaak by ’n ander vrou. Maar hy was te oneerlik om te erken dat dit sy kind is. Of om sy regte vrou en kinders te gaan soek. Wat kan daar nog wees?

      “Ek het haar gehaat, John. Want ek kon sien Tom kom te veel daar – jy kan self dink. Maar ek het haar gerespekteer. Almal het. En daarom wil ek jou vertel van haar, want jy moet haar ook respekteer. Op ’n dag hoor ons sy is terug Engeland toe. Sommer net so. Sy het geweet sy kon nie hier bly en Tom se kind verwag nie, en toe neem sy weer ’n besluit waarvoor ’n mens haar moet eer: sy kies om alleen te wees, eerder as om my seer te maak.” Trane blink in Maia se oë.

      “Maar toe kom sy tog terug.”

      “Sy het kanker gekry. Sy het geweet as sy in Engeland sou bly, sou jy na ’n weeshuis moes gaan – daar was nie familie wat vir jou kon sorg nie. Ek dink die besluit om terug te kom na Kenia was seker die moeilikste wat sy ooit geneem het.”

      “Chai, memsaab?” vra ’n kelner.

      Maia neem die koppie tee by hom. “Asante.”

      “Ek sal Emily altyd dank verskuldig wees,” gaan sy voort, “vir die manier waarop sy Tom versorg het nadat hy uit die bos gekom het. Maande lank.”

      “En toe gaan sy self dood.”

      “Die lewe is nie altyd regverdig nie, nè?” Agter haar glimlag lê pyn.

      Sy skuif effens sodat sy hom in die oë kan kyk. “John, ek kan sien jy glo nie in die liefde nie. Jy is bang. Maar ek wil graag hê jy moet weet hoe wonderlik dit is, en hoe leeg jou lewe daarsonder sal wees. Onthou dit, liewe John. En onthou altyd hoe verskriklik lief Tom jou gehad het.”

      Bitter gal stoot in sy keel op. Die stoel kras oor die houtvloer.

      “Verskoon my, Maia, ek moet gaan.”

      Die kwaad is terug in sy binneste.

      ·3·

      Ek is kwaad vir myself. My verbeel ek is terug in Oos-Berlyn, waar ek konfyt geraak het om my te versteek sodat ek skelm foto’s kon neem van moontlike vyande van die staat.

      Maar hier! Myself aan gevaar en potensiële vernedering blootgestel by ’n begrafnis – in ’n bos op ’n plaas ver van als! Wat het my besiel? As John my gekonfronteer het, hoe sou ek kon verduidelik?

      Selfs die pragtige uitsig kan nie my ontsteltenis laat bedaar nie. Ver ondertoe loop ’n trop kameelperde verby, statig soos poppe op stelte, onverstoorbaar elegant. Twee voëls koggel mekaar bo in ’n boom; die lug ruik na stof en blare. Deur vernoude oë kan ek in die namiddaglig die presiese tydsduur vir die ontwikkeling van die perfekte foto skat.

      Kan ek niks meer raaksien sonder om afstandelik daarna te kyk nie? Altyd verskans deur die kamera voor my gesig, altyd besig om die omgekeerde beeld te absorbeer, die negatief voor my geestesoog te ontwikkel?

      Selfs hier, voete op die muurtjie van die stoep voor my luukse hotelkamer in die Nakuruwildtuin, glas bier in die hand, bly ek bewus van my omgewing – nie van wat ek, Gretchen, ervaar nie, maar eerder van wat Gretchen Schmidt, fotograaf, filmmaker, kenner van ligmeters en lense, voel. Iemand wat wegkruip vir die samelewing deur te skuil agter ’n kamera. Al manier hoe sy die wêreld om haar kan beheer en oormaak. Herskep. As sy wil.

      Agter die rolprent in my kop van die dag se gebeure, lê ’n donker, hartseer ondertoon. Was dit die treurige gesigte om die graf wat dit veroorsaak het, of die gedagte aan onkel Willi?

      Sy beeld verskyn soos ’n vel fotopapier wat in ontwikkelingsvloeistof lê. Grys hare, groot neus, hartseer oë, sagte mond. Dan sy krom skouers, die skeefgetrekte rug omdat een been korter is as die ander een. Ek sien hoe hy my optel in die amber skemerte van die donkerkamer in sy winkeltjie in Behrensstrasse. Hy laat my die nat velle papier vasknip aan ’n draad.

      Sy gekromde vinger wys hoe daar geleidelik beelde uit die mis opdoem en vorm aanneem. Kyk, Gretchi, daar’s jy met jou wilde bos hare. En jou mutti wat in haar boek skryf, tante Gertrud met haar breiwerk.

      Ongelooflik. Towery.

      Ek was onmiddellik verslaaf.

      Dáár het Gretchen Schmidt, bekroonde fotograaf, begin.

      Die ou man wie se woljas na tabak en sweet