Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux

Читать онлайн.
Название Christine le Roux Omnibus 2
Автор произведения Christine le Roux
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798153317



Скачать книгу

om in die beskuldigdebank te staan as hy so na haar kyk nie. Hy sal haar so bang maak dat sy alles sal erken.

      “Nicky was dus ’n moederlose kind van sy geboorte af,” sê sy.

      “Ja.” Hy vou sy hande op die blad; hierdie onderhoud verloop glad nie soos hy dit beplan het nie. “Dit was baie onverwags. My vrou het skielik teen die einde van die swangerskap komplikasies gekry. Hoë bloeddruk en …” Hy maak ’n gebaar. “Sy is dood aan ’n trombose, twee dae na sy geboorte.” Hoekom hy dit vir haar vertel, weet hy nie, hy het dit nie vir die ander applikante gesê nie.

      Olivia se gesig is vol simpatie. “En wie op aarde het na die pasgebore baba gekyk?”

      “My suster.”

      Hy voel sterker as vantevore dat hierdie onderhoud verkeerd verloop. Die ander vroue het nie hulle monde oopgemaak behalwe om hulle kwalifikasies af te rammel nie, en hier sit hy nou al twintig minute lank oorkant hierdie meisie en sy vra al die vrae. “Ek kon dit nie langer van haar verwag nie,” antwoord hy tog. “Sy was ongetroud toe Nicky gebore is, maar sy het ’n man ontmoet, ’n boer en … dit sou bitter onregverdig wees om te verwag sy moet by my kom bly net om na die kinders te kyk.”

      “Dit moes moeilik gewees het vir haar,” mymer Olivia. “Om Nicky net so af te gee.”

      “Dit was, ja. Sy wou hom saam met haar neem en Jaco, haar man, was meer as gewillig, maar …” Hy druk sy lippe opmekaar, vasbeslote om die trant van die gesprek nou met mening te verander.

      “Nee,” sê sy beslis, onbewus van sy besluit. “Dit sou ook nie gewerk het nie. Sy moet haar huwelikslewe op haar eie begin en buitendien sou dit onregverdig wees teenoor Emma.”

      “E … ja,” sê hy oorbluf.

      “Sy is seker baie lief vir haar boetie,” gaan sy voort. “Om hom weg te vat en haar te los, sou wreed wees. Of wou jou suster albei vat?”

      “E … nee.” Hy skud sy kop, haal diep asem en kyk haar doelgerig aan. “Juffrou Joubert, kan ons nou oor u praat? Ek wil graag ’n paar vrae vra, as u nie omgee nie. Ek het nou al twee bloutjies geloop en kan nie bekostig om verder so aan te gaan nie. Kan u vir my sê –”

      “Bloutjies?” val sy hom belangstellend in die rede. “Watse soort bloutjies?”

      “Vorige applikante. Die een het so reg gelyk tot dit blyk dat sy my drankkabinet meer geniet as die kinders, en die ander een wou weer liewer Franse kos maak as kinders oppas.”

      “Ek kan nie kook nie,” sê sy dadelik.

      “Dis ook nie nodig nie. Ek het ’n dierbare huishulp wat al jare by my werk – van voor Emma se geboorte af – en sy doen al die huiswerk. Ek het haar amper verloor toe ek die Franse kok daar gehad het, want Katie is eenvoudig uit die kombuis geboender elke keer wat …” Hy bly stil. Hier antwoord hy al weer die vrae!

      “Ek kan ’n eier kook of bak of roer,” sê sy. “En tee of koffie maak, maar moenie my vra om iets deftigs te maak nie.”

      “Dis glad nie ’n vereiste nie,” neem hy weer beheer oor. “Soos ek pas gesê het.”

      “Wat wel ’n vereiste is, is dat die kinders nou vastigheid kry,” sê sy beslis. “Dis regtig ’n baie slegte toedrag van sake. Om mee te begin, moes Nicky …” Sy kyk op na hom. “Hy is seker na u vernoem? Nicky is seker net die verkleining van Nicolas.” Sy gee ’n laggie. “Mens kan kwalik ’n pasgebore baba Nicolas noem.” Sy rol die naam oor haar tong, laat dit swaar en vernaam klink.

      “Ja,” sê hy desperaat. “Hy is na my vernoem en ek na my oupa. Dis ’n familienaam. Kan ons nou voortgaan?”

      “Ja,” sê sy en hy is seker sy skiet ’n ondeunde blik in sy rigting. “Waar was ek nou weer? Dis reg, by die behoefte aan vastigheid, kontinuïteit. Dit moet baie sleg wees vir die kinders om elke paar dae of weke of maande iemand anders te kry. En elke keer daardie persoon te verloor nes hulle aan haar gewoond geraak het.”

      “Presies.” Hy leun vooroor oor die lessenaar en dwing die blou oë om na hom te kyk. “Dis waarom ek gedink het ’n middeljarige dame, miskien ’n weduwee, sal die geskikste wees. U is ongetroud en net vier en twintig jaar oud. Die kanse dat –”

      “Middeljarig is nie goed nie,” val sy hom in die rede. “Ons praat van twee klein kinders hier. Kinders wat wil speel en stout wees en dinge doen. Om net dopgehou te word, is nie goed genoeg nie. Hulle moet vermaak word.”

      “’n Middeljarige dame sal ten minste baie jare kan bly. Die kanse dat sy sommer iemand gaan ontmoet en besluit om te trou en ’n gesin van haar eie te begin, is skraal, terwyl ’n jong, ongetroude meisie heel waarskynlik iemand gaan ontmoet en besluit om te trou.”

      “O nee,” sê sy ernstig. “Dis presies wat ons nie wil hê nie. Dis dan wat ek nou net gesê het: ’n verdere ontwrigting vir die kinders, ’n volgende trauma. Hulle moet opnuut aanvaar dat die mens hulle verlaat het.”

      Hy is so oorbluf dat hy seker is sy mond hang oop en hy is bly toe sy sekretaresse inkom om koffie te bedien. Sy kyk hom vraend aan, maar is te goed geleer om hom te herinner aan pligte wat wag.

      “O, lekker,” sê Olivia en vat die koppie by hom aan. “Ek was al so dors, want daar was regtig nie vanoggend tyd om eers vir my koffie te maak nie.”

      Nicolas vang sy sekretaresse se geamuseerde oog. “Sê vir meneer Walters ek bel hom vanmiddag,” sê hy onderlangs en wag tot sy verdwyn het en die deur geruisloos toegeklik het. “Juffrou Joubert,” sê hy streng. “Wat u sopas gesê het …”

      “Wat – oor die lekker koffie?”

      “Nee! U het genoem dat ’n jong, ongetroude meisie nie ’n goeie idee sal wees nie omdat sy enige tyd weer kan loop.”

      “Ja,” bevestig sy, haar oë groot oor die rand van die koppie. “Wat daarvan?”

      “U is ’n jong, ongetroude meisie. U is dus nie geskik nie.”

      “O nee, ek het dit nie gesê nie. Ek het maar in die algemeen gepraat. Ander jong meisies. Ek wil nie trou voor ek ten minste dertig is nie en teen daardie tyd is die kinders groot en het hulle nie langer ’n oppasser nodig nie.” Sy skud haar kop. “O nee. Ek wil nog baie dinge doen, glo my. Ek is nie van plan om my te bind aan een man en sy ou sakies nie. Nee dankie. Sokkies was en klagtes oor die vleis verbrand is en hoekom het ek nie onthou dat die loodgieter kom nie en hoekom het ek sy geliefkoosde trui laat krimp in die was en …”

      Nicolas voel hoe die onderhoud weer uit sy hande getrek word, maar voor hy sy mond kan oopmaak, praat sy verder.

      “Hoekom trou u nie weer nie? Dis mos die logiese oplossing,” sê sy half vraend en kantel haar kop skuins.

      “Ek wil nie … Ek bedoel, dis nie iets wat ’n mens sommer …”

      “Ek kan daarmee ook help,” sê sy. “Ek het dosyne vriendinne wat nie soos ek voel nie; al wat hulle wil doen, is trou. Is dit nie vreemd nie? As u wil, kan ek hulle opkommandeer en een na die ander voorstel en dan kan u kies. Ten minste een van hulle moet geskik wees en die meeste is baie lief vir kinders, so dis nie ’n probleem nie.”

      “Juffrou Joubert!” bulder hy.

      Sy knip haar oë en sit haar leë koppie neer. “Ja?”

      “Hou op praat. U is hier sodat ék ’n onderhoud met u kan voer, nie andersom nie.”

      “Goed,” sê sy inskiklik. “Ek het net gedink …”

      Hy hou sy hand in die lug “Ek wil nie hoor nie. As ek wil trou, sal ek self die meisie kies. Ek het nie hulp nodig nie, dankie. Ek het ’n goeie … e … vriendin en as ek …” Hy bly stil en maak keel skoon. Hoekom verduidelik hy vir haar wat sy planne is? “Mag ék nou ’n paar vrae vra?”

      “Sekerlik,” sê sy en glimlag stralend.

      “Dankie.” Hy voel gedaan. “Mag