Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Ena Murray Omnibus 33
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624054726



Скачать книгу

enigeen van ons belangriker kan wees as vir Hom nie, want Hy het immers sy lewe vir hulle gegee.”

      “Dit is so.”

      “Maar nie elke Elise en Vegter kom tot inkeer nie, Pieter! Wat as …”

      “… Vegter nie gered word nie?” Dis stil. “Dis wat jy eintlik wil weet, is dit nie, Elske? Jy is diep bekommerd dat Vegter nie vir die ewige koninkryk gewen gaan word nie?”

      Weer kan sy net instemmend knik. “Ja.”

      “Maar jy is nie só vreeslik bekommerd oor Elise en die baie ander Vegters nie?”

      Eerlikheid is ’n mes wat skoon, maar diep sny. Sy knik weer, kyk dan met traannat oë op. “Is dit baie verkeerd van my, Pieter?”

      “Nee. Jy het ’n heilige kommer oor almal. Maar by Vegter kom menslike kommer by, want jy weet dit gaan jou persoonlik raak as hy nie tot inkeer kom nie.”

      “Ja.”

      “Is jy baie seker wat dit is, Elske? Is dit nie miskien net ’n uitdaging vir jou om juis hierdie bendelid vir God te wen nie? Miskien, net miskien, ’n klein, klein bietjie sug na eie eer en selfvoldaanheid?”

      “Nee! Glad nie! Ek het hom lief.”

      “Hoe kan jy so seker wees? Hoe lank weet jy nou al van hom? Hoeveel keer het jy hom al gesien, met hom gepraat?”

      “Ek weet, Pieter. Ek weet wat jy vir my probeer sê, maar … ek weet ook wat in my hart vir hom lê.”

      “En jou begeerte om hom tot inkeer te bring? Weet jy presies waaroor dit gaan, Elske?”

      “Wat bedoel jy?”

      “Is jou grootste hartsbegeerte dat Vegter gered word, geanker in die moontlike redding van sy siel, of die moontlikheid van ’n toekoms saam?”

      Sy frons, kyk hom geskok aan. “Pieter!”

      Hy sug. Dis nie sy bedoeling om haar seer te maak nie. Hy wil haar beskerm, maar of haar jong hart dit kan verstaan, weet hy nie.

      “As iemand siele probeer wen met persoonlike motiewe, voer hy ’n verlore stryd, Elske. Jy kan dan selfs ’n struikelblok in die pad van sy redding wees. God sal nie toelaat dat sy versoeningsdood in genade vir ons eie, menslike begeertes gebruik word nie. Watter aandeel het jý aan sy kruisdood gehad, Elske?” Hul oë ontmoet en hy knik, sê sag: “Nee, jy het nie een druppel van jou bloed namens Hom gestort nie, my meisie. En jy kan op geen manier, nie met al die druppels bloed in jou liggaam, ’n stukkie van die ewige lewe vir Vegter koop nie. Christus het reeds betaal.”

      “Maar as dit dan regtig verkeerd en sondig om nie net ter wille van Vegter te hoop en te bid dat hy tot bekering sal kom nie, maar ook ter wille van myself, van óns toekoms?”

      “Ek weet nie, Elske. Ek kan jou nie sê of dit verkeerd of sondig is nie. Ek weet dis menslik. Baie, baie menslik.” Hy glimlag, neem haar hand in syne. “En ek weet dat Hy baie meer begrip vir ons menslikheid het as wat ons sou dink. Ek besef, nes jy, daar is nou geen deur na ’n toekoms vir jou en Vegter saam nie. Maar dit kan ook wees, liewe kind, dat wanneer God in sy genade die deur na die hemel vir Vegter ontsluit, daar nie noodwendig ’n deur vir julle twee saam op aarde sal oopgaan nie. Hou dit net in gedagte …”

      Hy sien die vertwyfeling, skok en hartseer in die groot oë en streel haar hand, vervolg teer: “Ons weë is nie sy weë nie. Ons maak die planne, maar Hy rig die voetstappe. Jou pogings om Vegter tot bekering te bring, moet uitsluitlik tot God se eer strek. Daarna … daarna sal Hy julle lei.”

      Hy het nog lank agter sy lessenaar bly sit toe Elske uit is. Om ’n kind van God te wees is nie maklik nie. Dit verg offers … en Elske sal nie die eerste Christen wees wat ’n offer moet bring as Hy dit so bestem nie. Maar hy weet dat daar altyd ’n volmaakte rede is en dat Hy met elke offer ook die krag stuur. Daarom kan hy die Christenmeisie en die bendelid gelowig aan Hom opdra en afsluit: “Nie ons wil nie, Heer, maar laat u wil geskied.”

      In ’n ander deel van die stad sit ’n meisie en luister hoe ’n doodsvonnis oor haar gevel word: “Ek is jammer om jou dit te moet sê, juffrou, maar jy het vigs.”

      In nog ’n ander deel van die stad stap ’n man na ’n telefoon. Oomblikke later hoor hy die bekende stem: “Midas Hammond hier.”

      7

      In die week wat volg, is drie mense in ’n stryd met hulself gewikkel.

      Daar is Elske wat elke aand straat toe gaan met haar Bybel in haar hand en ’n gebed in die hart: Vanaand sal sy hom raakloop. Hy sal vannag sy belofte nakom en koffiekamer toe kom. Dalk sal hy vannag of môre in die vroeë oggendure by Trovato kom aanklop … Haar oë soek angstig op elke sypaadjie en in elke nagloper se gesig.

      Groot is die vreugde en dankbaarheid wanneer een van die soekers na ’n staanplek in die lewe inwillig om saam na die koffiekamer te gaan. Maar die teleurstellings bly nie uit nie.

      “Hoekom het die man so hewig aan die vloek gegaan nog voordat ons behoorlik met hom kon praat?” wil sy weet toe die twee wat hulle genader het, vinnig wegstap.

      “Hulle is duiwelaanbidders. Die naam Jesus Christus ontstel hulle. Hulle hou nie daarvan om dit te hoor nie. Hulle is die moeilikste van almal om te bearbei,” verduidelik haar maat terwyl hulle voortstap. “Hulle verseël hul lewens met bloed aan Satan. Wanneer hulle ’n lid van sy kerk word, ontvang hulle dertig silwerlinge in die vorm van tiensentstukke. Hulle hou nagmaal, ’n bespotting van die heilige instelling van Jesus by die Laaste Avondmaal. Hulle kou brood, spuug dit op die grond uit en trap dan daarop met hul voete. Wilde seksorgies gaan met hul rituele gepaard. Elke vroulike lid van dié kerk se ideaal is om geboorte te skenk aan die Antichris.”

      “Kobus …” Elske skud haar kop in verbystering en afgryse. “Jy weet, ek dink nie die gewone mens het die vaagste benul wat alles om hom aangaan nie. O, almal weet daar bestaan iets soos duiwelaanbidding. Maar dis tog iets onwerkliks. Vandat ek straatwerk doen en in nouer aanraking met hierdie gruweldade is, het ek al dikwels gewonder: Hoe kan God ons nog duld? Ek weet nie eens ’n agste van wat werklik aangaan nie, en ek sidder. Kobus …”

      Hy knik. “Ja. ’n Mens voel so. Maar dit bewys net weer wat ’n wonderlike, onbeskryflike God Hy is. Net ’n volmaakte, almagtige God kan sulke dinge duld, steeds oneindige genade aan ’n verrotte mensdom betoon. Maar die professieë moet vervul word. In die Bybel staan geskryf: ‘Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.’ Kom ons kyk nou hoe die nuwe vertaling dit stel.”

      Hulle gaan staan onder ’n lamppaal en slaan hulle Bybels oop en dis Elske wat hardop lees: “Wie kwaad doen, moet voortgaan om kwaad te doen, en wie vuil is, moet vuil bly; maar wie doen wat reg is, moet voortgaan om reg te doen, en wie heilig is, moet heilig bly.” Agter hul rûe aarsel ’n vrou, luister terwyl Elske voortgaan.

      Die vrou draai om en stap stil weg, onopgemerk deur die twee jong straatwerkers. Sy stap doelloos aan sonder om iets om haar raak te sien.

      Doodsangs het haar vannag straat toe gejaag. Haar woonstel het te klein geword, kleiner as die kajuit in ’n boot waar sy begin werk het. Want sy het vanaand nie gaan werk nie.

      Verlede nag het sy ingegee. ’n Ontevrede klant het haar teruggebring na Mevrou, hoogs ontstoke oor die soort waarde wat hy vir sy geld gekry het. ’n Ander meisie het onmiddellik haar plek ingeneem. Mevrou was woedend. Die man is invloedryk, kan Mevrou dalk nog handig te pas kom – veral noudat die regering en polisie so in hierdie soort klubs begin rondkrap. Baie van die welgestelde en invloedryke mans wat haar klub besoek, gebruik skuilname. Hulle sal egter ontsteld wees as hulle moet weet dat Mevrou sorg dat sy weet met wie haar meisies uitgaan. Dié soort kennis het haar al in die verlede gered.

      Toe die gekalmeerde klant met ’n bloedjong dingetjie van sewentien daar weg is, het Mevrou nie doekies omgedraai nie. “Was jy dokter toe? Wat makeer jou?”

      Zia