Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Ena Murray Omnibus 33
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624054726



Скачать книгу

méér is nodig nie.

      Maar Midas Hammond het ook te laat na sy dogter begin soek. Sy is te ver op die pad van verderf. Om in dié stadium uit te vind dat die rykste man in Suid-Afrika haar pa is, bied haar nie meer veel nie. Al Midas Hammond se skatte kan die wurms wat haar van binne verteer, nie vernietig nie. Hy stap na die deur.

      “Jy moet ’n dokter gaan spreek.”

      “Wat bedoel jy? Dink jy ek makeer iets?”

      “Jy is siek, Zia … en jy weet dit. Tot siens.”

      Die deur gaan toe en sy staar verdwaas daarna, stap dan eindelik na die venster en trek die gordyne styf toe. Haar nag begin wanneer ander met hul dagtaak begin.

      Sy gaan lê op die bed, maak haar oë toe. Sy moet slaap. Oor ’n paar uur begin nog ’n lang nag … nie in ure afgebaken nie, maar in getalle. Want getalle is belangrik. Hoe hoër die getal, hoe meer geld … en ’n paar rand ekstra vir spesiale gunsies. ’n Eindelose nag, soos die duisende wat verby is …

      Maar hoeveel duisend gaan daar nog wees? Sy roer rusteloos. Sy het netnou die skrif teen die muur in haar spieël gelees. Die tekens van aftakeling is daar. Die innerlike verrotting begin na buite deursyfer. Word jy nie soms bang nie?

      ’n Klamheid slaan op haar vel uit en sy spring op, gaan krap in ’n laai. Die vingers bewe toe sy die pille sluk. Dis al manier om op te hou dink … Sy gaan lê weer.

      Maar vanoggend wil die pille nie soos gewoonlik hul werk doen nie. Die paniek groei. Sy móét slaap! Hoe gaan sy anders deur die lang nag kom? En hoeveel eindelose nagte lê nog voor? Dis iets waaraan ’n vrou soos sý nooit dink nie. Jy dink nie verder as vandag nie. Die toekoms bestaan nie … waar dit eendag gaan eindig, nog minder. Al wat van belang is, is die nag wat voorlê.

      Maar waar gaan dit eindig? Hoeveel nagte gaan sy nog ’n speelding vir mans wees? Sy is siek. Iets is verkeerd. Sy weet dit. Maar ná ’n lang nag het sy nie krag om ’n dokter te gaan spreek nie. En sy is bang om te weet wat verkeerd is. Sy kan nie bekostig om een nag van die werk af weg te bly nie. Daar is baie wat maar te gretig is om haar plek in te neem. Sy is reeds nie so gewild nie. Die beste klante word nou aan ander, jonger meisies gegee. Hulle wat nog kan deurgaan as gesellinne sonder dat die waarheid op hulle geskryf staan. Een kyk na haar en hulle weet wie en wat sy werklik is.

      Word jy nie moeg daarvan nie? Ja, sy is moeg. Tot sterwens toe moeg. As sy, soos almal in dié beroep, nie die vermoë ontwikkel het om net af te skakel die oomblik as haar liggaam die laken raak nie, sou sy dit nooit kon volhou nie. Want die soort mans met wie sy in die klub te doen kry, verskil wesenlik niks van dié wat sy op die skepe in die hawe as vyftienjarige leer ken het nie. ’n Man is ’n man: in die dokke of die nagklub, in sy duur sportmotor of weeldesuite. Vegter was weer eens reg. Die vername here van die stad se innerlike is net so vuil soos dié van die naglopers in die agterstrate. Met een verskil – die een kan dit onder ’n duur pak klere, geleerdheid en ’n titel wegsteek. Die ander kan nie.

      Daarom is hulle wat op straat werk soek, in die dokke die skepe inwag, hoere. En dié wat dieselfde werk in die nagklubs doen, prostitute. En sý, ’n geselskapsdame in ’n gesellinklub … ’n “professional”. Uiteindelik is daar hoegenaamd geen verskil nie – soos in die geval van die mans.

      Sy grynslag. Vegter was darem in een opsig verkeerd. Sy was vyftien toe sy voltyds begin werk het. Toe sy die eerste skoolgeld daarvoor begin betaal het, was sy maar elf …

      Sy het weggeloop van ’n ma wat ’n dwelmslaaf was. Hul pa was ’n bullebak, altyd dronk. Toe Vegter op twaalfjarige ouderdom na ’n verbeteringskool gestuur is, kon sy dit nie langer alleen by die huis uithou nie. Sy het by ’n jeugbende aangesluit en voordat sy twaalf was, ’n faset van die lewe leer ken waarvan baie volwassenes onbewus is.

      Waarheen loop ’n kind van elf, twaalf weg? Hoe bly sy aan die lewe? Wat het sy anders om te bied as haar jong, kinderlike liggaam? Maar dit was nie mans wat die jong liggaam aanvanklik onteer het nie. Dit was die taak van heelwat ouer meisies en vroue op die uitkyk vir sulke gevalle.

      Die elfjarige meisie was honger en haweloos. Sy moes êrens iets te ete kry, êrens slaap. En die ouer vrou, so vriendelik en gasvry, kon haar kos en beskerming gee. En ’n vreemde soort vertroeteling wat sy nie verstaan het nie … tot later. Later was reeds te laat. In die donker wêreld van die lesbiërs, die jeugbendes en die straatvroue word jy gou wys … gou ryp. Toe sy twaalf geword het, het sy reeds met almal kennis gemaak … en alles begin verstaan. Maar vir Zia was dit nog steeds beter as om terug te gaan huis toe na haar ouers, twee duiwelaanbidders.

      Die jong liggaam, vroeg tot oorrypheid gedruk, het gesorg dat sy ’n gewilde “fem” by die manliker “butch” in die lesbiërgarde geword het. Haar lewe het bestaan uit dwelmorgies, lesbiese verhoudings en groepgevegte. Nie dat sy daaraan deelgeneem het nie. Maar sy moes baie staan en toekyk hoe die manlike lesbiese meisies wreedaardige gevegte met kettingknuppels hou.

      Sy was dertien toe sy haar broer een nag die eerste keer in ’n paar jaar op straat raakgeloop het. Vegter het haar nie dadelik herken nie. Hy het haar vertel hul pa is dood. Sy weet tot vandag toe nog nie wat haar besiel het om huis toe te gaan nie, want liefde het sy nooit vir haar ma gevoel nie. By die huis het die polisie haar vasgetrek en sy moes vir die eerste keer kennis maak met die spesiale inrigtings waarvandaan sy gereeld sou dros en waarheen sy gereeld sou moes teruggaan.

      Nagte in opsluitkamers was haar voorland. Dan die uitbreekkans, die klein rukkie van vryheid waarin drank, dwelms en orgies hoogty gevier het – totdat sy weer gevang is. Dit het ’n dodelike kringloop geword.

      Totdat sy daarin geslaag het om vir goed te ontsnap. Later het sy by Vegter gehoor dat hul ma dood is. Sy het deel van die hawe se naglewe geword. Die matrose het haar beskerm en weggesteek. En sy was mooi.

      Sy het besef sy kan met so ’n liggaam en gesig heelwat meer verdien en het ’n nagklubprostituut geword. Daar het dit beter gegaan. Met haar pragtige figuur en mooi gesiggie kon sy kies. Nog later het sy besluit sy kan makliker en meer geld verdien as een van die gesellinne by ’n klub.

      Sy was twintig toe sy die dag by die gesellinklub se deure ingestap het om haarself aan te bied vir die ryk mans met hul blink motors. Dié klub het ’n goeie naam, is sy verseker. Meisies word teen vergoeding vir ’n aand gehuur om mans te vergesel. Dit moet die nuwe aansoekster goed verstaan. Daarvoor betaal die man, of die klant, ’n vasgestelde bedrag waarvan die werknemer, die meisie, ’n sekere persentasie as vergoeding ontvang. Ook Zia is dit baie duidelik op die hart gedruk dat niks immoreels van haar verwag word nie, en dat sy onder geen verpligting is om meer as net daardie diens te lewer nie.

      Zia moes teken dat sy ongetroud is. Want dis belangrik. Mevrou neem nie getroudes in diens nie. Dis ’n beginselsaak. Die feit dat byna honderd persent van die klante getroude mans is, het haar beginsels nie aangetas nie. Zia moes haar ook bereid verklaar om roetine mediese ondersoeke te ondergaan.

      Maar toe die veteraanmeisie van twintig die kantoor verlaat met die opdrag om dieselfde aand nog gereed te wees om te begin werk, was daar ’n mislike gevoel op die krop van haar maag. Te oordeel na die uiterlike is “Mevrou” alles wat sy wil voorgee om te wees: opgevoed, sjarmant, ’n dame. Binnekant is sy vrot – so voos as die slegste straatvrou. Want wat is die ergste: om jou eie liggaam te verkoop om geld te maak, of dié van ander?

      Die skynheilige voorhangsel voor die ingang van die gesellinklub het Zia nie gebluf nie. Maar dit was deel van die mooi, gepleisterde grafsteen waaronder dit krioel van die wurms.

      Want nie een gesellin glo aan die onskuld waarmee haar werk voorgestel word nie. Elke meisie wat by daardie deur instap, weet presies wat verwag word. Die betaling is bysaak. Daarvan alleen sal ’n ambisieuse meisie nie kan bestaan nie. Selfs die gewone straatvrou kan dalk meer as dit op een aand verdien. Dit gaan nie om die betaling nie, maar dat jy met mans in aanraking kom wat kan betáál. Die eintlike geld steek in die bykomende diens wat die slagaar van die sake-onderneming is.

      Vier, vyf jaar het ongemerk verbygegaan. Dit het met haar goed gegaan. Sy was gewild en het gou geleer. Die meisie wat so ’n intelligente gesellin kon wees, so foutloos kon grimeer en smaakvol