Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Ena Murray Omnibus 33
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624054726



Скачать книгу

van daardie mans haar eendag sou wegneem, werklik sou liefkry en met haar trou, het met elke verbygaande jaar vervaag. “Dankie vir ’n wonderlike aand. Ek soek jou beslis weer op wanneer ek kan,” was al waarop sy kon hoop.

      En die geld wat so swaar verdien is, word nie meer nie. Dit rol weg tussen woonstel en winkels en ’n beeld waaraan verbete gebou moet word. En dit word ál moeiliker om al die kritiese oë tevrede te stel.

      Net gisteraand het Mevrou met skerp oë gevra: “Wanneer laas het jy ’n ondersoek gehad, Zia? Jy lyk nie vir my heeltemal gesond nie.”

      Haar antwoord was ontwykend, met ’n koudheid in die hart: “Ek makeer niks … voel net ’n bietjie grieperig.”

      Mevrou was nie tevrede nie. “Ek verwag van my meisies om te straal. En jy straal lankal nie meer nie.”

      Iets in haar wou breek. Sy wou die skynheilige vrou voor haar aan die nek gryp en dit uitskreeu: Verwag jy ek moet elke aand soos ’n jong, onskuldige bruidjie lyk … ék … ék wat al tien jaar lank nag vir nag langs ’n man slaap?

      Haar antwoord was bedees: “Ja, Mevrou.”

      “Wil jy miskien ’n rukkie met vakansie gaan?”

      Die koudheid het gegroei en ’n soliede ysberg binne haar geword. Ander het ook al met vakansie gegaan … en moes uitvind hul plekke is intussen deur jonger, stralender meisies ingeneem.

      “Nee, Mevrou. Dankie. Ek is … reg.” Sy het opgewek probeer glimlag. “Ek sal môre dokter toe gaan en iets vir die verkouetjie kry.”

      Die oë op haar was koud. Opsommend. “Doen dit gerus, my meisie. ’n Siek mens kan nie werk nie.”

      Sy was van plan om vandag dokter toe te gaan. Iets het haar vertel dit sal nie help om die besoek langer uit te stel nie. Maar toe kom Vegter hier aan … en sy sien haarself die eerste keer in jare deur sy oë … en in haar eie spieëlbeeld.

      Toe hy van sy suster se woonstel wegstap, weet hy nog nie hoekom hy haar opgesoek het nie. Hy wil eers genoeg geld vir homself inpalm voordat hy Midas Hammond vertel waar – en wie – sy dogter is. As die koning van Babel een kyk na sy enigste dogter gegee het, is Vegter seker hy sal nie bereid wees om een sent vir haar te betaal nie. Maar diep in sy hart ken hy die antwoord, eien hy die vreemde soeke wat deesdae in hom is. ’n Behoefte aan iemand om mee te praat, groei ál sterker in hom. Maar sy suster is nie daardie persoon nie.

      Vir ’n oomblik verskyn ’n paar betraande oë voor hom. Sy het soos ’n klein hondjie gelyk wat ’n onverdiende skop ontvang het. Sy het hom soos ’n boef laat voel. Maar hy is dit ook. Sy moet hom uitlos. Wat sukkel sy met hom? Hulle behoort tot verskillende bendes. Dit moet sy tog weet. Sy het hom gevra om na die koffiekamer of daardie huis te gaan as hy hulp nodig het. Maar hy sal nie. Wat sal hy by ’n ander bende wil gaan soek? Hulle kan hom niks meer bied as sy eie mense nie. Want die Jesus-bende werk verniet. By The Bats kry hy darem nog ’n deel van die inbrake en dwelmhandel se opbrengs. Hy moet geld in die hande kry, want hy wil wegbreek. Maar hy wens hy kon net met haar praat, ontslae raak van al die opgekropte emosies.

      Maar hy kan nie na haar gaan nie. Sy sal vir hom preek, weer wil oorhaal om na haar bende oor te loop.

      Hy steek sy hande diep in sy broeksakke. Dis nogal jammer. Hy dink hy en hierdie meisie het iets om vir mekaar te gee.

      Hy staan reeds in die telefoonhokkie voordat hy dit besef. Lank kyk hy na die telefoon, vroetel dan in sy sak vir kleingeld. Hy sal Midas Hammond bel. Dis iemand om mee te gesels. En hulle hét dinge om oor te praat.

      Maar Midas Hammond is oorsee, hoor hy. Hy sal eers oor drie dae terug wees. Hy sit die gehoorbuis onvergenoeg terug.

      Hy stap weer aan, sien weer ’n ander prentjie: een van rus en vrede. Hy wonder hoe dit moet voel om ’n ordentlike huis te hê, ’n motor, ’n goeie werk, ’n deugsame vrou … een met sagte oë – nie daardie hardheid wat al soos ’n tweede vlies in sy suster se oë lê nie. Om ’n vrou te hê wat kan huil – regte trane omdat sy oor jou bekommerd is … Jesus, om so ’n vrou te kan hê … Jesus? Jesus …

      “Jy is terug! Vegter, waar was jy? Hoekom lyk jy so?”

      Die bendelid met wie hy ’n kamer in die agterplaas van die huis deel, spring van die bed op toe hy hom in die deur sien staan. Vegter gaan sit, laat sy kop tussen sy hande sak.

      “Jy is ge-carry on, nè? Wie se werk was dit?”

      “Wie s’n dink jy?”

      “Mac … Mac en sy garde!” Vegter knik net, hou sy oë vasgenael op die stowwerige vloer. “Jy moet versigtig wees, ou maat. Mac het sy mes in vir jou. Hy gaan jou nog doodmaak en hy soek ’n rede om jou uit die bende te kry. Hy sal nie ophou voordat hy jou nie dood het of voëlvry kry nie.”

      “Hoekom?”

      “Jy weet hoekom. Mac wil graag ’n big shot wees. Hy wil die boss word. Maar hy weet jý sal dit word as hy jou nie uit die pad kry nie.”

      “Ék wil nie die boss wees nie. Hy kan hom die moeite spaar.”

      “Maar jy gaan dit wees, tjom … en Mac hou nie van die idee nie.”

      “Spike, ek stel nie belang om die boss te wees nie.”

      Sy maat kyk hom fronsend aan. “Jy is mal, man. Almal wil graag.”

      “Nie ék nie.”

      “Hoekom nie? Magtig, hy het dit die lekkerste van almal. Deel net bevele uit, kry die grootste aandeel van alles, maak en breek en doen soos hy wil …”

      “Ek stel nie belang nie.”

      “Hoekom nie?” Hy kry nie ’n antwoord nie en Spike frons, kyk die ander ondersoekend aan. “Jy was nog nooit chicken nie. Wat gaan met jou aan?”

      Steeds geen antwoord. Na ’n rukkie kom die vraag: “Spike, het jy al van Jesus gehoor?” Spike kyk hom onthuts aan en Vegter herhaal sy vraag: “Het jy al van Jesus gehoor?”

      Spike frons, knip sy oë ongelowig. Genugtig, dit lyk vir hom hulle het ou Vegter heeltemal kis geslaan. Waarmee val hy nou uit? “Natuurlik. Wie het dan nog nie van Jesus gehoor nie?”

      “Wat het jy van hom gehoor?”

      “Wel …” Spike moet ver terugdink. “Dit was jare gelede … in die skool en, ja, ek was in die Sondagskool ook. Daar het hulle ons mos van Jesus vertel. Waarom vra jy?”

      “Ek praat nie van daardie tyd nie. Hulle het my ook toe allerhande dinge van Jesus vertel.”

      “Ja, en by die huis het my ma ook, ek onthou dit nou. Maar sy is toe dood en my pa het nooit met sulke goed gelol nie. Hy het net in dop en perde belang gestel. Maar ek onthou Ma het …”

      Vegter soek ook in sy verlede rond, kry niks. Daar is nooit oor Jesus in sy ouerhuis gepraat nie. Die naam is wel baie genoem. Dit was Ma se geliefkoosde vloekwoord, veral as Pa dronk by die huis kom … en die oggend daarna wanneer sy voos geslaan uit die bed klim. Dit onthou hy goed. Hy kan haar dit so duidelik hoor skreeu: “Jesus weet, ek gaan hom nog vrek maak!”

      Wel, Pa is toe doodgemaak, maar een van sy eie drinkebroers het haar voorgespring. Daar was weer ’n bakleiery oor geld wat op perde verwed was. Pa is deur sy beste dobbelvriend in die bors gesteek. Hy onthou nog baie goed Ma se reaksie toe die tyding hulle bereik: “Jesus, wat ’n verligting!” Hy het heelhartig met haar saamgestem.

      Nie dat dinge daarna juis verbeter het nie. Pa het, hoewel min, tog geld in die huis gebring. Ma moes uitspring, maar sy het nie. Sy het besluit om in haar huis te bly en tuis te werk. Nie hy of Zia, toe nog baie jonk, het presies geweet wat Ma nou eintlik daarmee bedoel het nie – of wat die mans wat elke aand aangeklop het, by haar kom koop het nie. Een ding het hulle geweet, hulle het niks van Ma se werk gehou nie. Nie net is hulle dadelik in die kamer toegesluit wanneer ’n “customer”, soos Ma hulle genoem het, verskyn het nie, maar moes ook met ’n leë maag gaan slaap. Die tuiswerkery moes later ook die wind van voor begin kry het, want sy het nie meer so